Jeugverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Die oggendson skyn flou deur sy woonstel se venster. Hy loer stadig onder die kombers uit na die koppie wat langs sy bed staan. Hy kom stadig orent en sluk die koue koffie af wat nog in die beker oorgebly het van die vorige aand. Die vloeistof is koud en bitter in sy keel. Dan tel hy sy voete van die bed af. Die koue van die teëls stuur rillings teen sy ruggraat op. Deur die slaap loop hy na die badkamer, raak ontslae van sy nagklere en draai die krane van die stort oop. Die water is warm en vul vinnig die klein vertrekkie met stoom. Hy raak geleidelik wakker terwyl hy afdroog en sy tande borsel. Hy kleë homself in ’n denim en ’n gemaklike hemp. Hy gooi vlugtig ’n trui oor sy skouers. Die tyd het hom bietjie ingehaal vanoggend, soos elke ander oggend. As hy nie drie keer die wekker dood gedruk het nie, sou hy dalk vir eens betyds op kantoor gekom het. Hy sluit sy woonstel se deur en klim vinnig in sy bakkie. Hy plaas die sleutel in die aansitter en draai. Die bakkie maak drie proes geluide en vrek dadelik.

“Vervlaks!” Daniël klim uit die bakkie en maak die enjinkap oop. “Alweer die battery!”

Hy haal sy selfoon uit sy broeksak en stuur ’n sms vir sy kollega, Kaz, wat net onder in die straat bly.

-Kaz, kan ek dalk lift vang saam met jou tot by die kantoor? Bakkie se battery gevrek.-

Die antwoord kom onmiddelik terug.

-Reg. Sien jou nou.-

Hy sit sy selfoon terug in sy sak en gaan hurk langs die groot laventelbos wat in die bedding langs die oprit groei. Hy het iewers gelees dat feëtjies in sulke bosse bly. Nie dat hy daarin glo nie, dis maar net ’n interessante brokkie mitologie wat hy met sy vriendin, Sonja sal deel. Hy pluk ’n pers blommetjie en ruik ingedagte daaraan. Die reuk het ’n kalmerende effek op hom en die son wat op sy gesig skyn voel ekstra warm. Dit is laat winter en die lente is om die draai, maar dis asof daar iets vreemd is aan die tempratuur vandag. Hy kyk na sy horlosie, dis tien voor nege. Hy het nege uur ’n vergadering met die bestuurder en hoop nie Kaz vat lank om hom op te tel nie. Kaz is in sy vroeë twintigs en het die vermoë om altyd laat op te daag vir alles, insluitend werk.

Daniël kyk op toe ’n voël skielik skree. Op die dak van sy woonstel sit ’n pikswart kraai. Die voël se ogies lyk kraalagtig en dood.

“Zoei!” Daniël maak ’n figuur met sy arms, met die hoop dat die voël sal wegvlieg, maar in plaas daarvan dat die kraai padgee, vlieg hy af en kom sit gerieflik op die groot geboude man se skouer. Daniël skrik en gee ’n flou gilletjie. Dadelik kyk hy rond of iemand hom dalk kon gehoor het, maar sug verlig toe hy niemand in die omtrek sien nie.

“Kwaa, Kwaa.” Maak die swart voël met sy krakerige stem. Hy draai sy koppie skuins, amper asof hy iets vir Daniël probeer sê. Daniël steek sy vinger stadig uit na die voël en vryf oor sy koppie.

“My naam is Lodewyk.” Sê die kraai in ’n kras stem. Daniël skrik so groot dat hy plat op sy boude land teen die tuinmuur.

Die voël vlieg op en kom weer te lande langs Daniël waar hy in die klam tuingrond sit.

“Ek is só besig om die klits kwyt te raak.” Sê Daniël vir homself. Hy vryf met sy groot hande deur sy bos krul hare en skuif sy bril reg op sy neus. “’n Pratende kraai?”

“Jy het reg gehoor.” Sê die Kraai. “My naam is Lodewyk.”

“My naam is Daniël.” Sê Daniël en voel bietjie simpel oor hy praat met ’n kraai.

“Ek weet wie jy is.” Sê Lodewyk. “Kwaa!”

“Hoe weet jy?”

“Ek weet alles van jou, Mannetjie.” Sê die kraai en kyk stip na Daniël met sy dooie kraal ogies.

“Pffft! En jy dink ek gaan jou glo, Kraaitjie?” Die man met die donker oë en snor voel skielik asof hy sweef. Hy kyk af na sy hande en sien dat hulle verskriklik beef.

“Ek het gedink dis tyd dat ek en jy ’n bietjie gesels, Mnr. Le Roux.” Lodewyk klim op Daniël se knieg. “Jy het my lank genoeg geïgnoreer.”

“Please! Ek het nie eens van jou bestaan geweet voor vandag nie.” Daniël gee ’n sarkastiese laggie. “En waarom sal ek wil gesels met ’n kraai?”

“Klim op my rug.” Sê Lodewyk en spring van Daniël se knieg af, terwyl hy sy vlerke klap.

“Is jy crazy, Kraaitjie? Ek sal jou plat sit.” Daniël lag.

“Sukkel jy altyd om ander mense te vertrou? Klim op my rug.” Die kraai klap sy vlerke vinnig. “Kom nou!”

“Ek vertrou ander mense. Maar jy is ’n kraai. ’n Pikswart kraai.”

“As jy nou wil begin met hoe swart kraaie slegte voorbodes is, het ek nuus vir jou. Klim nou op my rug.” Lodewyk hou sy vlerke stil.

Daniël kyk versigtig rond, dan staan hy stadig op en gaan staan wydsbeen bo-oor die kraai. Skielik begin die wêreld draai en draai en draai. Hy gee ’n effense gilletjie toe hy besef hy is skielik kleiner as die kraai.

“Wat!” Hy gryp styf vas om Lodewyk se nek toe die kraai skielik in die lug op vlieg. “Waarheen vat jy my?”

“Sit stil. Ons is oppad na Koning Trudonis.” Daniël klou vir lewe en dood.

“Wie?”

“Koning Trudonis Haman, die Derde.” Lodewyk vlieg vinnig deur die boomtakke en tussendeur die berge.

“Ek voel nie lekker nie.” Daniël voel skielik naar. Hy gryp sy maag vas met een hand en klou aan die blinkswart vere met die ander.

“Jy gooi net nie op nie. Ek moet jou so gou moontlik kry by die koning. Weet jy hoe lank vat dit my al om jou aandag te trek?” Vra Lodewyk.

“Nee, en ek let gewoonlik baie minor details op. Jy het seker net nie hard genoeg probeer nie.” Hy wonder meteens wie Koning Trudonis Haman is en wat hy by hom, Daniël Le Roux, sal wil hê?

“Hou vas!” Roep Lodewyk. Hy daal skielik neer op ’n oop stuk veld.

“En nou?” Vra Daniël terwyl hy van die kraai se rug afklim.

“Ek het iets blink gesien. Kaa!” skree die kraai met sy swart kraal ogies en pik met sy snawel in die dor grond.

“Seriously?!” Daniël gaan sit op sy hurke en kyk op na die kraai wat nou ’n hele paar sentimeter bo om uitsteek. “Terwyl jy nou soek na wat ook al jy gesien het, kan jy my asseblief inlig oor Koning Trudonis Haman, en wat hy van my wil hê? Ek het nog nooit eens van hom gehoor nie.”

“Koning Trudonis Haman. Die magtigste koning in al die wêrelde. En jy wil my sê jy het nog nooit van hom gehoor nie?” Lodewyk draai sy koppie skuins en kyk die man met die baard in ongeloof aan.

“Nee, ek het nie.” Daniël trek sy vingers deur sy bos krul hare.

“Wel, ek sal jou met graagte inlig.” Lodewyk tel ’n klein blink papiertjie op wat lyk soos ’n stukkie tin foelie. Dan rol hy dit in ’n balletjie met sy snawel en bêre dit knus tussen sy vere. “Koning Trudonis Haman, die Derde is die magtigste koning in al die wêrelde. Hy regeer die land; Laboraro.”

“Okay? So, wat soek hy by my?”

“Wel, gerugte loop dat jy die beste kunstenaar in al die wêrelde is. Die koning is ’n wewenaar en sy enigste dogter is vervloek. Sy’s verander in ’n standbeeld deur die wrede heks van die weste. Nou wil hy die wêrelde deurkruis, opsoek na ’n middel om die vloek te breek. Maar hy wil graag ’n prentjie van haar saam met hom dra, vir ingeval daar iets slegs met hom gebeur en hy haar nooit weer sien nie.” Lodewyk se stem is kraakerig en hy klap weer sy vlerke.

“Belaglik! Waarom neem die koning nie net ’n foto van haar nie? En hy is ’n koning. Ek is seker daar is mense wat gewillig sal wees om ’n kuur vir hierdie vloek te gaan soek.” Daniël lag.

“’n Foto? Wat is dit? En die koning voel dat dit sy plig is om sy dogter en sy koningkryk self te red.” Hy wink Daniël nader. “Kom, ons moet gaan.”

“Daniël klim weer op die kraai se rug. Hulle vlieg deur die lug, oor bomtoppe en tussendeur berge. Die wind is verfrissend teen Daniël se vel. Hy verkyk hom aan die mooi landskappe onder hom. Na wat voel soos ’n ewigheid, daal Lodewyk neer.

“Ons is hier.” Kondig hy aan.

Daniël se oë kam deur die skares mense wat soos bye saamkoek. Almal is gkeleë in grys jurke en almal praat gelyk. Hulle beweeg stadig deur die kakefonie na’n rooi tapyt wat ly na die ingang van ’n groot kasteel. Weerskante van die rooi tapyt staan mans gekleë in blou uniforms en trompet speel. ’n Kort mannetjie met rooi hare kom hulle tegemoet voor die kasteel se deur.

“Dag, Lodewyk. Is dit nou Daniël Le Roux, die berugte kunstenaar?” Die mannetjie se stem is fyn en hy praat met ’n aksent.

“Inderdaad.” Kraai Lodewyk. “Kaa! Kaa!”

“Welkom in ons land; Laboraro. Ek is Gertjie Grobbelaar.” Die koddige mannetjie maak ’n buig beweging.

“Hi. Ek is Daniël Le Roux.” Daniël steek sy hand uit na die kort rooikop mannetjie, maar trek dit terug toe hy voel hoe almal se oë ongemaklik op hom rus.

“Die koning sal jou graag wil spreek. Maar ek stel voor ons doen eers iets aan jou voorkoms.” Gertjie kyk na Lodewyk en dan weer na Daniël. “Jy kan nie in hierdie uitrusting verskyn voor die koning nie.”

“Wat is fout met my klere?” Daniël trek selfbewus aan sy denim wat sakkerig aan sy lyf hang.

“Niks. Dis net nie gepas vir ’n koninklike ontmoeting nie. Kom saam met my.” Gertjie Grobbelaar lei Daniël na die verste punt van die kasteel. Hulle gaan in by ’n klein hout deurtjie. Die klein vertrekkie is gevul met broeke, hemde, hoede, stewels en oorpakke. Tussen die mengelmoes klere sit ’n ou vroutjie en werk verwoed op ’n naaimasjien.

“Tant Anna. Kleë asseblief vir Meneer Le Roux, sodat hy gepas sal wees om te verskyn voor die koning. Maar haas, ons is redelik haastig.” Gertjie Grobbelaar maak ’n paar hand bewegings en dui aan dat hy buitekant sal wag tot Daniël gereed is.

Die ou vroutjie se gesig is geplooi en sy haal ’n pak klere af van ’n baie hoë rak. Sy stof dit af en Daniël nies. Dan druk sy die bruin leerpak in sy hande en sê in ’n oumens stem: “Trek aan, jongman. As Gertjie sê hy is haastig, dan is hy haastig.”

“Hier?!” Daniël kyk verleë na die ou tannetjie wat met dowwe oë voor haar uitstaar.

“Ag, seun. Ek is blind, maar sal buite wag saam met Gertjie Grobbelaar terwyl jy aantrek, as dit jou beter sal laat voel.” Tant Anna skuifel tot by die deur en maak dit hard agter haar toe.

Daniël voel skielik simpel oor hy nie eens opgelet het die ou vroutjie is blind nie. Hy verkleë in die noupassende leerbroek en leer baadjie. Die uitrusting word afgewerk met ’n leer strikdas. Nie ’n baie omgewingsvriendelike wêreld nie, dink Daniël by homself terwyl hy die leerstewels aantrek wat skerp puntig van vorm is. Hy maak die houtdeurtjie oop en knyp sy bondeltjie klere onder sy arm vas. Hy kan homself net voorstel hoe hy moet lyk in hierdie eienaardige pakkie klere.

“Spiekeries!” roep Gertjie Grobbelaar uit toe hy Daniël buite sien verskyn. “Laat ons dadelik vertrek na die koning.”

Daniël loop gedweë agter die kort rooihaar mannetjie aan. Die paadjie is stowwerig en hulle loop agterom die kasteel, terug na die groot rooi tapyt wat lei na die hoof ingang. Die manne in hul blou kostuums speel weer op hul trompette en Daniël voel heel belangrik terwyl die skare hom toe juig. Toe hulle binne in die kasteel kom, let Daniël op dat die atmosfeer baie bedruk is. Die skoonmakers is ook almal gekleë in die grys jurke wat die mense buite aan het. By die troonkamer staan twee wagte met groot swaarde.

“Gertjie Grobbelaar, hier vir Koning Trudonis Haman, die Derde.” Gertjie maak ’n buig beweging. Die wagte knik hul koppe en kyk dan agterdogtig na Daniël.

“Dis Daniël Le Roux, die kunstenaar.” Gertjie stamp Daniël in die ribbes dat hy ook moet buig. Die donkerkop man skuif sy bril reg op sy neus en maak ’n effense buig.


Die groot yster deure gaan oop en Daniël loop versigtig in by groot saal. In die middel op ’n verhoog staan ’n groot goue stoel. Op die stoel sit ’n man. Hy het ’n lang swart baard en ’n welige snor. Sy hare hang glad teen sy gesig af tot op sy skouers. Die kroon op sy hoof is versier met smaragte en edelgesteentes. Sy skerp neus is effens rooi en sy vet wangetjies blink in die flou lig.

“Goeie dag, Gertjie Grobbelaar!” Die Koning se maag skud soos hy lag. “Ek is so bly julle kon hom opspoor.” Hy loop na Daniël en sit sy hand op sy skouer. “Ek is Koning Trudonis Haman, die Derde.”

Daniël verwonder hom aan die groot koning wat met ’n statige stem praat.

“Ek Is so bly jy kon dit maak. Ek is seker Lodewyk het jou al ingelig, waaroor hierdie besoekie gaan.” Koning Trudonis vryf oor sy baard. As hy grys hare gehad het, het hy nes Vader Kersfees gelyk, dink Daniël.

“Jy is seker uitgeput en honger na die lang reis! Kom deur na die eetsaal. My diensmeisies het vir jou ’n feesmaal voorberei!” Hy neem Daniël aan die hand en lei hom na die eetsaal. “Sit gerus!”

Daniël gaan sit huiwerig langs die groot tafel. Dit lyk vir hom asof dit meters en meters aanhou. DIe tafel kreun onder al die lekker kos. Daar is skaapboud, varkkop, aartappels, groente en bakke vol vrugte. Die eetgerei is van egte goud.
Hulle eet en gesels en drink soetwyn uit egte goue kelkies.

“Goed Daniël, as jy gereed is sal ek jou graag my dogter gaan wys. Gertjie Grobbelaar het reeds al die toebehore aangeskaf wat jy sal benodig om die skildery te kan maak. Onthou asseblief dat ek dit sal moet kan opvou en bêre in my sak.” Koning Trudonissluk die laaste bietjie wyn uit sy kelkie.

“Dankie, u Majesteit. Die gereg was waarlik baie lekker. Ek sal geëerd voel om u dogter te sien.” Daniël staan op en wag dat die koning hom begelei na sy dogter.

“Sy word gehou op die derde vloer in die verste vleuel van die kasteel. Ons het haar kamer so ingerig dat u haar gemaklik sal kan skilder.” DIe koning se mantel swaai heen en weer terwyl hulle in die lang gange van die kasteel afloop en op by twee stelle trappe.
“Hier is sy. My geliefde dogter, Prinses Katarina Haman.” ’n Traan rol oor die Koning se wang toe hy die swaar hout deur oopstoot. “Sy is al hoop wat die koninkryk het, Daniël. Sonder haar het ek geen opvolger vir my troon nie en sal die wrede heks van die weste beslis oorneem.”

“Ek verstaan.” Knik Daniël. “Ek al haar skilder, in die fynste detail, sodat u haar na aan u hart kan dra op u reis. Ek wil graag weet; wanneer beplan u om te vertrek?”

“Ek sal graag oor twee dae in die pad wil val. Ek het gehoor van ’n meermin wie se trane glo enige vloek kan breek. Maar sy bly in die sewende oseaan van die land Albatros. En dis ’n redelike entjie van hier af. Seker so ’n week en ’n half te perd.” Die koning loop tot by die bed waar sy dogter versteen lê. “Daar in die hoek staan al jou benodighede. Indien jy enige iets ekstra kort, lui maar net die klokkie en een van my diensmeisies sal jou te hulp wees.” Die koning gee sy dogter ’n soen op die voorkop, dan gee hy die klein goue klokkie vir Daniël. “Ek los jou nou.” Hy trek die deur agter hom toe.

Daniël gaan nader aan die groot bed. Hy kyk na die meisie wat op die bed lê. Haar oë is wawyd oop, dis die groenste groen wat hy nog ooit gesien het. Haar neusie is fyn en wip effens op. Haar lippies is dun en rooskleurig. Hoë wangbene rond haar vierkantige kakebeen mooi af en die swart hare wat om haar gesig vou laat lyk haar wange nog pienker. Die fyn silwer kroon op haar kop is versier met fyn diamante. Sy het ’n lang oranje rok aan en aan haar voetjies is skoentjies van glas. Haar arms lê reguit langs haar lyf af.

“Shame.” Sê Daniël. “Dit kan nie gemaklik wees om so te lê nie.” Dan gaan hy na die hoek van die vertrek en sleep die esel nader. Hy maak die verf en kwasse staan op die tafeltjie langs die esel. “Kom ons begin, dat jou pa ’n kuur kan gaan kry.”

Hy begin eers deur die buitelyne van haar gesig te skets op die wit doek voor hom. Die potlood maak grys hale op die doek en toe hy ’n rowwe beeld voor hom het begin hy die verf te meng. Hy het nog nooit in sy lewe so ’n mooi meisie gesien nie. Dit lyk omtrent of sy uit ’n feëverhaal uit kom. Hy verwonder hom aan haar perfekte karaktertrekke terwyl hy elke detail van haar gesig inkleur. Elke voutjie, plooitjie en dimpel skilder hy noukeurig. Hy sukkel om haar oë die lewendige groen te kry op die skildery, soos dit in die werklikheid is.

Hy besluit om ’n breek te vat en gaan sit saggies langs die versteende prinses op die bed. Hy bewonder haar gesig. Hoe gaan hy die perfekte groen gemeng kry?
“Sjoe, meisie. Jy het werklik waar die mooiste groen oë wat ek nog ooit gesien het.” Hy voel sy hartklop in sy keel. Hoe kan hy ’n standbeeld so aantreklik vind. Dis waarlik die vreemdste dag wat hy al ooit beleef het. Hy voel moeg en uitgeput en besluit om net so ’n paar minute op die groot egte leer rusbank te gaan lê. Hy maak sy oë toe en skuifel ’n bietjie rond. As hy maar net in sy eie gemaklike klere kon wees sou hy soveel beter gevoel het. Dan raak hy weg in ’n diep slaap.

Daniël skrik wakker toe die son skielik skerp op sy gesig skyn. Hy spring verward op en besef dat dit seker al die volgende dag moet wees. Hy moet by die kantoor uit kom, maar waar is hy? Hy raak angstig en kyk om hom rond. Hy is in ’n groot vertrek wat uitkyk oor ’n vallei. Daar is ’n groot bed met goue koepels en ’n beeldskone vroulike figuur op die bed. Hy raak yskoud toe hy die vorige dag se gebeure onthou. Dit was nie ’n droom nie, dit was die werklikheid. Hy raak bietjie rustiger en smag na ’n koppie koffie. Dan onthou hy van die goue klokkie wat die koning die vorige middag vir hom gegee het en lui dit verwoed. ’n Vaal mesietjie met ’n grys jurk kom amper dadelik die vertrek binne.

“Hoe kan ek u tot hulp wees, meneer die skilder?” Die meisie maak ’n buig beweging. Daniël skat haar nie veel ouer as twintig nie.

“Dame, kan jy asseblief vir my ’n koppie koffie bring?”

“Sekerlik. Moet ek dit vir u hier bedien of wil u dit geniet in die eetsaal?” Die diensmeisie se hare is in ’n netjiese vlegsel.

“Bring dit asseblief vir my hierheen. Ek wil nog ’n bietjie werk aan die skildery.” Daniël beweeg na die esel en bekyk sy werk wat hy tot dusver gedoen het. Dis een van sy bestes sover, al moet hy dit self sê. Vandag moet hy nog net die prinses se oë afrond en haar mond klaar skilder. Toe hy weer na haar kyk, voel hy ’n snaakse beweging in sy borskas. Sy is werklik baie mooi.

“Jy is beeldskoon, Prinses Katarina Haman.” Hy gaan sit weer langs haar op die bed en streel oor haar wang. Dis yskoud onder sy vingers. Die gladde gevoel van die standbeeld stuur ’n rilling teen sy ruggraat af en hy bejammer die mooi mens uit die diepte van sy hart. “Niemand verdien om in ’n standbeeld verander te word nie. Veral nie as jy so mooi is nie.” Hy skrikk toe die kamerdeur skielik oopgaan.

“U koffie, Meneer.” Die vaal diensmeisietjie sit die skinkbord bewerig neer tussen al die verf en kwasse op die klein tafeltjie. “Enige iets anders?”

“Dankie.” Daniël glimlag. “Ek sal laat weet indien ek nog iets kort.”

Die meisie verlaat die vertrek en Daniël skink die koffie uit die silwer koffiekan. Dit ruik heerlik en hy sluk die swart bitter vloeistof vinnig af. Dan val hy weer weg met die skildery. Hy kry dit reg om haar oë se groen lewendig te kry en toe hy haar rooskleurige lippies begin verf kan hy nie wonder hoe dit moet voel om hulle te soen nie. Die perfekte kontoere van haar fyn lippies is so mooi. Met die gedagte daaraan voel hy vlinders in sy maag.

“Ruk jou reg, Daniël! Dis ’n standbeeld. En al was sy nie van klip gemaak nie, sy is ’n prinses.” Hy trek sy verf besmeerde hand deur sy hare en skuif sy bril reg op sy neus. Die pienk verf maak klein pienk strepies in sy kuif. Hy werk onverpas voort en toe hy tevrede is met hoe die skildery lyk, draai hy ewe die esel om sodat die prinses kan sien.

“Hoe lyk dit vir jou?” Hy glimlag en gaan sit weer langs haar op die bed. Dis asof haar verstarde oë hom binne nooi. Sy maag slaan weer bollemakisie en hy vryf weer saggies oor haar koue wang. “Jy is beeldskoon.”

Dan voor hy hom kan keer buk hy vooroor en sy lippe raak die van die yskoue standbeeld. ’n Rilling trek deur sy hele lyf soos ’n elektriese golf en hy skrik toe hy ’n harde kraak geluid hoor. Hy trek sy kop terug en spring verbaas op toe hy sien hoe die meisie haar oë knip en orent kom.

“Dankie! Dankie baie!” ’n Traan loop oor Prinses Katarina se wang. “O!”

Sy gryp Daniël om die nek en soen hom passievol.

“Kom! Ons moet die goeie nuus aan my vader gaan vertel.” Die maer meisietjie spring op en gryp Daniël aan die arm. Hulle huppel deur die kasteel se gange tot by die troonkamer van Koning Trudonis Haman. Die wagte kyk verbaas na die prinses wat opgewonde beduie dat sy haar vader wil spreek. Hulle maak die swaar deure oop en sy sleep Daniël opgewonde agter haar aan tot voor haar pa se troon.

“Katarina?” Koning Trudonis Haman is bleek en hy kyk ongelowig na sy dogter wat voor hom staan. “Is dit werklik jy?”

“Vader! Die vloek is verbreek! Daniël het die vloek gebreek!” Sy omhels haar pa en albei is in trane van blydskap.

“O, Daniël! Wat kan ek doen om jou te vergoed?” Die Koning kyk dankbaar na Daniël wat ongemaklik rondtrippel.

“Ag, u Majesteit. Dit was eintlik maar net toeval.” Daniël is effens ongemaklik met die idee dat die koning uitvind hy het sy enigste dogter gesoen.

“Hoe het jy dit reggekry?” Die Koning se stem is bewerig van emosies en hy druk nogsteeds sy dogter styf teen sy bors vas.

“Wel, ek…” Daniël hakkel. “E..ek..”

“Hy het my gesoen, Vader!” Prinses Katarina draai na die krulkop man wie se gesig bloedrooi is. “Hy is my held!”

“Jou gesoen?” Die Koning kyk na Daniël. “Dit beteken net een ding.”

“O, ek weet! Hy is my ware liefde.” Die beeldskone Prinses kyk na Daniël met oë vol bewondering.

“Daniel Le Roux, sal jy my die eer doen om my dogter se hand in die huwelik te aanvaar?” Die Koning se stem is statig.

Daniël voel duislig en deurmekaar. ’n Koning wil hom as ’n skoonseun hê? Wel, hy sal nie omgee om elke oggend langs daardie pragtige gesig wakker te word nie, maar wat van sy werk? En Kaz? Sal hulle hom soek? Wil hy ooit hê hulle moet hom kom soek? Dis dinge waaroor hy later kan bekommer. Hy kyk na Prinses Katarina wat vol verwagting na hom kyk.

“Dit sal vir my ’n groot voorreg wees, u Majesteit.” Hy maak ’n buig beweging voor die koning.

Koning Trudonis Haman roep vreugdevol uit:

“Ons hou bruilof! Laat weet asseblief onmiddelik vir Gertjie Grobbelaar hy moet so gou moontlik al die reëlings tref!”








Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Happily ever after
Dankie, ek glo daaraan dat gelukkige eindes nog bestaan. ;)
4 jaar 3 maande 10 ure oud


labotato
Pragtig gepen. Dankie vir die deel en "so they lived happily ever after" slot
4 jaar 3 maande 1 dag 8 ure oud



Toe Snoeks nog Snoekie was

deur Manie Jackson

“Toe Snoeks nog Snoekie was” Is ‘n storie wat vertel word deur die klein malteser, Snoekie. eindlik is die storie vertelle my ma , Babs Lourens. Dit is die storie van al haar mense en die ander diere wat op die kleinhoewe net buite Pretoria saam met haar gebly het. Dis werklike gebeure en mense, dit begin ongeveer in 1995 – oor ‘n tydperk van ongeveer 6 jaar, geen fiktiewe karakters nie, net die gebeure uit die jong hondjie se oogpunt.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar