Jeugverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende



Rommel en Ninja is twee opgeleide polisiehonde. Rommel is bruin en goudkleurig en Ninja is spierwit. Altwee is herders honde. Die polisie gebruik graag herders honde want hulle is baie slim. Ninja is Rommel se vriend en hy help baie graag vir Rommel om die kindertjies te beskerm teen kwaaddoeners.

Op ‘n dag draf Rommel in die pad af. Daar naby is ‘n speelparkie vir die kinders. Dit is ‘n baie lekker parkie. Al die ou kleintjies gaan hou tog te graag daar partytjie want die bome is vol voëltjies wat sing, die dammetjie vol eentjies wat swem en daar is sommer baie plek waar hulle kan hardloop en speel. Dit is vandag een van die maatjies se verjaarsdag en sy mamma het ‘n groot tafel onder die boom in die parkie, vol lekkernye gepak. ‘n Groot verjaarsdag koek met kersies op. Koeldrank, lekkers, skyfies en nog baie ander eetgoed vir die maatjies. Op die punt van die tafel is vrolike ballonne vasgebind, vir elke maatjie een. Agter die tafel, onder die boom is ‘n digte struik vol spierwit blomme en alles lyk te mooi en feestelik.

Terwyl Rommel so draf, hoor hy skielik ‘n snaakse geluid, dit klink soos iemand wat sy lippe aflek! Honde kan mos baie beter as mense hoor, ruik en sien. Rommel steek vas en draf nader. Wat sien hy? Onder die struik met die wit blomme, steek ‘n snaakse ding uit. Dit is so ‘n lang harige ding. Hy stap stadig nader, snuif snuif so aan hierdie snaakse grys ding wat soos ‘n harige slang lyk. Rommel is half skrikkerig, sy nekhare rys sommer so hoog en hy knor en wys sy tande, want so iets het hy nog nie voorheen gesien nie. Nee, besluit hy dit kan nie ‘n slang wees nie, slange is mos nie harig nie. Hy buk vorentoe en ruik aan die ding. Haai dit ruik dan na wolf! Hy tree ‘n entjie terug, bekyk die snaakse ding wat nou so effens in die grassies roer en jou waarlik, dit ís wolf se stert wat hier onder die bos uitsteek.! Rommel blaf :” Wolf, wat en maak jy hier? Jou nare ding, dit lyk vir my jy wil die kinders bang maak en as almal weghardloop, wil jy al die koek en lekkers alleen opvreet! Dit is hoekom jy jou lippe lê en af lêk! Wolf skrik baie groot, want hy lê al van vroeg oggend af, nog voordat die son opgekom het, hier onder die mooi struik in die parkie en wag. Hy het gister by die skooltjie gehoor die kinders praat van die lekker partytjie wat hulle vandag in die parkie gaan hou, en toe het
sy maag al begin grom van die honger. Hy was so lus vir die heerlike eetgoed dat hy besluit het om hier te kom wegkruip, die kinders bang te maak en sodra hulle weghardloop, al die heerlike lekkernye op te vreet.

Rommel is nou so kwaad vir die skelm wolf dat hy vinnig vorentoe spring. Hy byt wolf se stert styf tussen sy skerp tande vas en begin sleep hom agteruit onder die struik uit. Wolf skreeu soos ‘n maer vark: “Eina eina, los my”, maar wat sleep is ou Rommel. Die stofwolke staan later soos wolf vorentoe beur en Rommel hom dan weer aan sy stert agteruit sleep. Dit is omtrent ‘n gedoente. Die kindertjies het nou ook al nader gehardloop om te sien wat aangaan. Hulle skreeu vir Rommel: “Mooi Rommel polisiehond, mooi, byt die wolf want hy wou ons partytjiekos skelm kom opeet”. Rommel ruk al harder, heen en weer en skud die wolf se stert soos ‘n vrot vel. Die geraas is vreeslik en Ninja, Rommel se vriend wat ‘n entjie verder die gedoente gestaan en bekyk het, hardloop nou nader om vir Rommel te help want die wolf is groot en vet. Hy gryp wolf aan sy nek en Rommel en Ninja ruk en pluk vir wolf vir ‘n vale, vorentoe, agtertoe, vorentoe, agtertoe. Skielik is daar ‘n harde klapgeluid en jy sien net hare spat. Oeps, daar staan Rommel met wolf se stert in sy bek! Van die harde geruk vorentoe en agtertoe het wolf se stert afgebreek! Ninja los wolf se nek om te sien wat nou gebeur het. Die kinders hou hulle magies vas soos hulle vir wolf met sy af stert lag! Toe wolf voel Ninja los sy nek, spring hy om, gryp sy stert uit Rommel se bek en begin hardloop. Hy hardloop so vinnig dat sy agterpote amper aan sy ore raak. Die kinders gaan sit plat op die grond, nou lag hulle eers vir wolf, want hy lyk baie snaaks met sy stomp stert. Rommel en Ninja laat nie op hulle wag nie, hulle is mos vinnige polisiehonde en begin vir wolf te jaag. Hulle jaag vir wolf sulke wye draaie dat die stofwolke so staan, tot by ‘n digte bos en toe verdwyn die drie.

‘n Rukkie later kom Rommel en Ninja teruggehardloop, hulle het vir wolf tot diep in die bos gejaag. Wolf sal nie maklik weer die kinders in die parkie kom pla nie, hy het vandag les opgesê met die polisiehonde. Die kinders is baie bly dat Rommel die nare wolf betyds gewaar het, want as hy nie vir wolf met sy skelm plan uitgevang het nie, was daar nou niks vir hulle oor om mee partytjie te hou nie. Hulle klap almal vir die twee polisiehonde hande. Dit was nou goeie werk!

Almal bedank vir Rommel en Ninja en waai vir die twee polisiehonde toe hulle wegdraf om ander skelms te gaan uitsnuffel. Toe begin hulle heerlik eet aan al die lekkernye op die tafel en het tot laat die middag in die parkie gespeel. Daardie aand het hulle vir almal vertel wat ‘n dapper hond Rommel is en hoe sy maat Ninja hom gehelp het.










Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Jesus, die Doper met die Gees

deur Christo Nel

In die taal en idioom van Afrikaanssprekende mense neem Christo gelowiges na die sowat 319 verse in die Bybel waarin daar direk na die Heilige Gees verwys word.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar