Jeugverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Saphira hardloop saggies, maar vinnig, deur die fynbos hoog bo die see. Sy is oppad strand toe. Daar is nie baie plekke waar sand en see ontmoet nie. Meesal is dit maar kranse waarvan selfs ‘n Feëtjie Hond soos sy seer sal val see toe.
Saphira stop skielik. Sy haal vlak asem. Sy is seker dat die voetspore wat voor haar uitreik dié van die vorige koningin is. Nie net lyk dit soos hare nie, die reuk is onmiskenbaar haar ma…
Dit kan nie wees nie! Sy is dood, dink Saphira hartseer.
Die swart-en-bruin Feëtjie Hond kruip nader aan die spore. Haar oë vlieg rond om seker te maak dat sy alleen is. Haar hart klop so vinnig soos ‘n hoender s’n. Haar asemhaling is hortend.
Daar is klein voetspore langs die grotes.
Hoe?
Sy snuf die klein spore en tree onwillekeurig terug.
Onmoontlik!
Dis háár spore; háár reuk.
Dik mis vorm oral om haar. Dit word onmoontlik om enigiets verder te sien. Net die voetspore in die wit-geel sand met die paar groen bossies daarom is nog duidelik. Selfs met haar skerp sintuie sal sy verdwaal en dalk by ‘n krans afvoeter.
Saphira gaan sit met ‘n groot sug. Die wit al om haar is erger as enige donker tonnel. Sy weet daar is soveel meer om haar as net die spore voor haar in die grond.
Die nattigheid gaan sit soos blink kristalle op haar pels. Dis nie normaal vir mis om in die middel van ‘n sonskyn dag net skielik te verskyn nie.
Saphira ruk haar kop op en snuf die lug.
Natuurlik!
Haar verlange na haar ma het gemaak dat sy haar towerkragte onwetend gebruik het.
Sy het haarself teruggeneem in tyd.
Die voetspore wat deur die fynbos na die strand lei ís hare en haar ma s’n. Van baie lank gelede, toe sy nog ‘n klein hondjie was…
Die mis beweeg en sy kan ‘n groot Rottweiler en ‘n klein enetjie sien loop na die strand. Sy knyp haar oë toe.
Sy onthou daardie dag nog goed. Dit was een van die min kere wat haar tweeling sussie nie by was nie. Soos sy en haar ma geloop het, het sy haar pote gemeet in die groot spore wat haar ma gelos het. Sy het so graag gewens dat sy sulke groot pote soos haar ma kon hê.
Haar ma het net geglimlag en gesê: ‘Jy moenie jou kindwees weg wens nie, Phiri. Eendag gaan jy groot en sterk wees. En wens jy kan nog speel.’
Sy maak haar oë oop. Die mis is weg. Sy kan die geskree van meeue hoor. Die son bak haar swart pels en die mis druppels verdamp.
Haar oë brand. Sy kyk af na die grond. Die voetspore het verdwyn. Sy kners haar tande. Sy weet sy is terug in haar eie tyd. Die pyn is net te erg om binne te hou.
Sy tjank hartverskeurend, kop gelig na die son.

Saphira lê plat op die sand, haar kop rustende op haar voorpote. Sy het haarself moeg gehuil. Sy was nog nooit een om sommer net te huil nie – sy sal eerder baklei. Maar daar was niemand daar om mee te baklei nie.
Haar maag grom. En daar was nie iemand dadelik daar met haar kos nie. Sy sal self moet jag om te kan eet. Haar lewe was nou soveel anders as tevore. Nog altyd was jag net vir pret en kompetisies. Dit was moeilik vir haar om dinge nuut te sien.
Tot ‘n paar weke terug was sy dolgelukkig in Feërie waar haar ma as koningin van die Feëtjie Honde regeer het en sy en haar tweeling sussie kon doen net wat hulle wou.
Nou was haar sussie koningin en sy voel asof sy geen tuiste meer het nie. Dis hoekom sy nou in die mense-wêreld rondloop in die berglande van Skotland.
As dit nie was vir die Koningin van die Feë wat haar ma persoonlik gevra het om iets te doen nie, was haar ma nog lewendig. En sou sy nie nodig gehad het om op hierdie simpel plek haarself te soek nie.
Woede dreig weer om haar oor te neem. Dit sal verskriklik dom wees om die Koningin van alle Feë aan te val. Veral wanneer niemand anders, nie eens haar sussie, ook dink dat die Koningin verantwoordelik gehou moet word vir haar ma se dood nie.
Sy maak haar oë toe. Sy kan nog in haar gedagtes die voetspore van haar en haar ma sien waar dit saam-saam deur die fynbos af na die strand gaan.
Sy weet met groot pyn in haar hart dat daar van nou af net een ry gaan wees. Sy moet nou ‘n groot hond wees wat self haar pad moet vind en loop.
In haar verbeelding kan sy haar voetspore oral oor die mense-wêreld sien waar sy nog nooit kon gaan nie. Dit is asof ‘n groot, swaar baadjie van haar afval. Om nie meer ‘n prinses te wees nie is dalk nie so ‘n slegte ding nie. Sy het nou ‘n kans om dinge te doen wat ‘n prinses nooit toegelaat sou gewees het om te doen nie.
Sy kan altyd die herinneringe van haar ma saam met haar dra. En wanneer sy terug kyk, kan sy net-net haar ma se ligte voetspore sien waar sy dinge saam met haar beleef het in hierdie nuwe wêreld.
Saphira weet dat sy dalk nog vir lank kwaad gaan wees vir die Koningin van alle Feë, maar sy kan nou begin om aan te gaan met haar lewe.
‘n Nuwe reuk word na haar gedra in die wind. Die laat middag son maak dat die see amper rooi lyk. ‘n Bok – nie te groot vir ‘n ete vir een Feëtjie Hond nie – is besig om te wei aan die gras wat langs die strand groei.
Met ‘n glimlag waar al haar tande wys, hardloop Saphira met lang hale windgat af na die strand om haar aandete te vang.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Saphira die Spoorsnyer
Hierdie is storie twee in Die Avonture van Saphira die Feetjie Hond.
4 jaar 6 maande 1 week 4 dae 1 uur oud


Saphira die Spoorsnyer
So wonder 'n mens soms wat in hul gedagtes aan gaan, baie goed verwoord.
4 jaar 7 maande 3 weke 5 dae oud


Spoorsnyer
Nog avonture van Saphira die Feëtjie Hond gaan volg.
4 jaar 7 maande 3 weke 6 dae 7 ure oud



Voedsel vir die Siel

deur Snuffelgids

Hierdie digbundel is Voedsel vir die Siel. Dit bevat elke emosie se leemtes en na die lees voed dit jou tot in die dieptes van jou siel. Geen emosionele leemtes sal ooit weer kop uit steek nie.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar