Jeugverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Saphira loop buite die kasteel rond bo-op die berg waarin deel van die kasteel geleë is. Die swart-en-bruin Feëtjie Hond het gehoop dat die vars lug haar beter sou laat voel. Maar dit help nie. Haar kop klop – Feëtjies kry nie sommer hoofpyn nie. Feëtjie Honde kry nooit hoofpyn nie.
Maar dan, om deel van die hondetrop te wees laat hulle toe om mekaar se krag te deel. En sy is nie meer deel van haar trop nie; nie nadat sy ‘n Feëtjie Kat in haar huis verwelkom het nie.
Saphira sug en gaan sit teen ‘n sonwarm rots. As dit sou gehelp het sou sy haar kop daarteen gestamp het totdat die pyn verdwyn het.
Die laatmiddag son laat alles anders lyk met nuwe skaduwees en donkerder kleure. Al die groen en pers word een in die alewige nattigheid. Selfs die grys rots smelt saam in die vreemde pallet. Die berge is altyd besig om te verander in die lig, al bly dit eintlik dieselfde.
Behalwe daardie bult, dink sy skielik.
Haar gunsteling berg, wat afgeplat is bo waar wolke gereeld saampak en die son bo-oor klim voordat dit behoorlik in die oggend skyn, het skielik ‘n bult in die middel.
Saphira krap die bolaag van die grond voor haar weg. Sy druk haar poot diep die grond in en maak haar oë toe. Sy voel die grond, die berg, die dal. Sy luister na die insekte en die plante. Êrens halfpad deur die dal word dit absoluut stil. Iets is lelik verkeerd: insekte hou nooit op met skarrel en skuif nie.
Sy kyk na die berg voor haar. As dit nie vir die nuwe bult was nie, sou sy nooit na die grond geluister het nie. Watookal aan die gang was, dit was bínne die grond aan die gang.
Saphira staan op. Sy’t nodig om in die kasteel in te gaan en Jade te raadpleeg. Net magiese kragte kan só ‘n uitwerking op die grond hê.

‘Hoe bedoel jy dis in die grond?’ vra die pikswart Feëtjie Kat.
‘Net dit: die berg se vorm het verander en daar’s geen inseklewe vanaf die middel van die heide nie.’
‘Dis defnitief Feë.’
‘Hoe weet jy?’
‘Somtyds gebruik mense insekte wanneer hulle hul towerkrag sterker maak. Sekere Feë…’ Sy skud haar skouers asof sy iets aakligs wil afgooi. ‘Hulle gebruik offerhandes om hul towerspreuke sterkter te maak.’
‘So mense doen dit nie?’ vra Eolande nuuskierig.
‘Natuurlik doen hulle. Gewoonlik gebruik hulle diere of ander mense om –’
‘Jade! Dis onvanpas,’ sê Saphira streng.
‘Ag, kom nou, Saphira. Ek is nie meer daardie klein dogtertjie wat jy moet oppas teen als nie.’
‘Weet jy wat hulle doen?’ vra Saphira vir Jade en ignoreer Eolande.
‘Nee. Maar ons kan gaan ondersoek instel. As jou kop nie te seer is nie.’
Saphira kyk skerp vir Jade.
‘Ek’s ‘n kat: ek weet wanneer ander ly. Jou hoofpyn is so duidelik vir my soos Eolande se verstomming dat jy fisiese pyn kan ervaar.’
‘Waar sal ons moet gaan?’
‘Binne die berg self. Saphira: die drukking gaan so erg wees dat jy hoofpyn van dit gaan kry. Ek dink dat saam met wat jy alreeds het, dit kan maak dat jy dalk kan flou val van die pyn.’
‘Ek’s ‘n Feëtjie Hond,’ sê Saphira verontwaardig.
‘En selfs jy is nie immuun teen ‘n migraine nie,’ sê Jade rustig. ‘Hoekom dit waag wanneer dit nie nodig is nie?’
‘Jy’s seker?’
‘Ja. Ek sal vinnig in en uit wees. Belowe.’

‘Jy moet regtig sleg voel as jy haar toelaat om op haar eie te gaan,’ sê Eolande in die kombuis. Vir ‘n verandering laat die huiskabouters toe dat hulle daar eet in plaas van die formele eetkamer.
‘Sy’s ‘n kat. Sy’s heeltemal bevoeg om op haar eie dinge te doen,’ sê Saphira sonder om regtig te antwoord.
‘n Koue kom die kombuis binne en Saphira kyk skerp op.
Jade strompel die kombuis binne. Die swart kat se hare lyk soos ‘n kraaines en sy lyk verward. Maar die ergste is haar oë: hulle vlieg wild oor als en is gevul met vrees.
‘Wat –’
Die huiskabouters omsingel die kat en sit haar op die tafel. Net ‘n paar weke tevore het hulle weggehardloop as die kat net beweeg in die kasteel en nou…
‘Dis dwerge,’ sê Jade in ‘n sagte, bewende stem.
‘Wat?’
‘Hulle het iets vreeslik donker en sterk wat hulle nog sterker maak.’ Die kat krul op en verloor haar bewussyn.
‘Sy’s gevries,’ sê Eolande en trek haar hand vinnig weg van die kat.
Dadelik spring die huiskabouters bo-op die tafel en omsingel die kat. Saphira is nie bekommerd oor watookal hulle doen nie: sy weet hulle sal nie die kat beseer nie.
‘Wat nou?’
‘Nou kort ons hulp. Dwerge is nie soos die knorrige dwergies wat hierdie kasteel gebou het nie. Hulle hou van baklei en hulle wil alles in hul pad besit. As hulle in die mense-wêreld is, beteken dit dat hulle die hele berglande gaan oorneem. Maak nie saak wie of wat in hulle pad staan nie.’
Eolande kyk haar stom aan. Wat Saphira nie gesê het nie, was dat meeste dwerge ‘n donker hart besit. En met ekstra krag van iets donker… Dit kan net meer moeilikheid veroorsaak.
En as hulle die mense-wêreld gaan probeer oorneem… Dit kan oorlog beteken.
‘Pas jy vir Jade op, Eolande. Die huiskabouters weet hoe om haar gesond te maak, maar sy het iemand nodig wat langs haar bed gaan sit en haar dop hou.’
Saphira se beskermling knik en volg die huiskabouters die vertrek uit waar hulle vir die Feëtjie Kat dra.
Die Feëtjie Hond loop doelgerig diep die kasteel in wat ver onder die berg geleë is.

‘Wel,’ sê Cian se beeld in die waterpoel, ‘die enigste manier om hulle te stop, is om hulle in een bergreeks vas te keer. Jy en Jade sal dit saam moet doen as hulle ‘n donker voorwerp gebruik om hulself sterker te maak.’
‘Hoe?’
‘Jade sal weet.’ Hy sug. ‘Weet jy watse voorwerp hulle het?’
‘Nee. En dit bekommer my. As hulle iets soos draakbloed het, staan ek en Jade nie ‘n kans nie.’
‘Ek sal probeer uitvind. Moenie iets doen totdat Jade herstel het nie. Julle moet al julle krag gebruik om suksesvol te wees.’
Oomblikke later verdwyn hy uit die poel en Saphira weet dat sy hom nie sommer weer in die hande gaan kry nie. Tyd vloei anders in Feërie en dit maak gesprekke soos dié kort en moontlik gevaarlik.
Saphira se kop klop steeds. Sy wens sy’t geweet wanneer die pyn gaan ophou. ‘n Dag? ‘n Week? ‘n Maand? Sy sug en loop weg van die poel diep in die berg.

‘Natuurlik weet ek hoe. Die probleem –’
‘– is die donker voorwerp.’
Die hond en die kat kyk stil vir mekaar. Hulle albei weet dat dinge lelik skeef kan loop as die dwerge se donker voorwerp sterker as hulle is.
Dis dae sedert die Feëtjie Kat self gaan soek het vir die oorsaak van die bult op Saphira se gunseling berg. En in al daardie tyd het die Feëtjie Hond ‘n hoofpyn wat skrik vir niks. Selfs om vir die kat op die tafel te kyk maak haar kop seer. Gelukkig het die eetkamer nie veel lig nie. Dit help ‘n bietjie.
‘Cian is hier!’ sê Eolande opgewonde by die deur voordat sy verder beweeg.
‘Jy’t steeds hoofpyn, né?’ vra Jade toe die swart-en-bruin hond opstaan om haar beskermling te volg.
‘Nog die hele tyd,’ erken Saphira sag.
Die kat knik en staan op van die glansende hout tafel.
Die twee Feëtjies volg vinnig vir Eolande deur die kasteel. Hulle haal die half-Fee meisie by die biblioteek in. Saphira kan Cian se energie binne voel. Hy staan aan die ander kant van die muur wat die biblioteek van die res van die kasteel skei.
Voor hom op die muur, hang ‘n groot skildery. Dis nuut. Op dit is ‘n paar spierwit eenhorings met goue maanhare en hoewe. Dit sal nie baie vat om hulle te sien beweeg nie.
‘Wow, Cian! Dis pragtig,’ sê Eolande.
‘Ek’s bly jy hou daarvan.’
‘Het jy iets uitgevind?’ vra Saphira.
‘Jou maniere het nie verbeter nie,’ sê Cian.
‘Ons het nie tyd nie.’
Hy word ernstig. ‘Het jy hoofpyn, Saphira?’
‘Hoekom gaan almal daaroor aan? Is dit nie genoeg dat ek ly nie?’ vra sy gefrustreerd.
‘Dis belangrik,’ sê Cian.
‘Ja. My kop voel of dit wil ontplof.’
‘Dis die horing,’ sê Cian sag.
‘Wat?’ vra Jade. Haar stem klink nie goed nie. Dis vol afgryse, woede en pyn.
‘ ’n Silwer eenhoring… Hulle gebruik dié se horing om hulself te versterk.’
‘Nee,’ sê Saphira sag. Sy kan dit nie glo nie.
‘Dan was die insekte net moord…’ Jade klink of sy stik aan haar woorde.
‘Ek verstaan nie,’ sê Eolande.
‘Eenhorings,’ sê Cian en beduie na die skildery, ‘is baie spesiaal. Hulle verpersoonlik alles wat goed en reg in die wêreld is; mens of Feë. Om hulle dood te maak is ‘n groot sonde. En tog is daar dié wat dit doen. Hul horings is die sterkste deel van hulle. Die oomblik wat dit verwyder word van die dier, word dit ‘n donker voorwerp wat gebruik kan word om towerkragte sterker te maak.’
‘Al manier om die krag te verwyder, is om die eenhoring uit sy lyding te sit,’ sê Saphira en sluk ‘n knop weg wat in haar keel gevorm het.
Die drie Feë kyk vir mekaar.
‘Ek sal die horing soek,’ sê Jade.
‘Nee – ek en Saphira sal. Haar hoofpyn sal erger word hoe nader aan dit ons beweeg. Vind jy die eenhoring. Roep my dan…’
‘Ek sal self die eenhoring help,’ sê Jade vasberade.
‘As jy hulp nodig het, weet jy waar ek is.’
Die kat knik styf.
‘Jy beter in die kasteel bly, Eolande. Die dwerge sal nie huiwer om jou van kant te maak nie,’ sê Cian ernstig.
Saphira hou nie van die idee dat sy soos ‘n padkaart na die horing gebruik gaan word nie, maar weet dis die plan wat die vinnigste resultate gaan lewer. En net dalk is sy sonder ‘n hoofpyn voordat die son weer sak.

Die Feëtjie Hond loop traag deur die berggang saam met Cian. Die lang Fee wat lyk soos ‘n kryger loop langs haar en kyk orals rond asof hy enige oomblik ‘n aanval van die dwerge verwag.
Saphira wens sy kon rond kyk. Maar haar kop is so seer dis moeilik om een voet voor die ander te sit.
Wat seker ‘n goeie teken is: hoe nader sy aan die horing beweeg wat die dwerge van ‘n eenhoring gesteel het, hoe seerder word haar kop.
Skielik verskyn daar ‘n groot skaduwee voor hulle in die donker gang.
Die groot, gesette dwerg se baard hang tot by sy midderif. Hy gluur vir Saphira en Cian. ‘n Groep van sy makkers omsingel hulle.
‘Ek ken jou: jy’s die Feëtjie Hond sonder ‘n trop.’
Al die dwerge lag vir haar in vertraagde aksie. Met haar hoofpyn voel hul spotlag erger as wat dit sou.
‘Praat van bewe… Ek bewe van die lag!’
Hulle lag harder.
Cian doen iets en hulle almal word in ys gehul.
‘Nou kan hulle bewe soos hulle wil,’ sê hy met ingehoude woede.
Hulle loop tot waar die gang eindig in ‘n grot. Op ‘n voetstuk in die middel van die grot staan die eenhoring se gesteelde silwer horing. Saphira snak na haar asem. Nie net omdat die horing so asemrowend is nie, maar as gevolg van die pyn wat dit haar kop veroorsaak.
Cian reik uit om dit te vat en ruk sy hand terug asof hy gebrand het.
‘Wat nou?’ vra Saphira. Haar bene gee onder haar uit van die pyn.
‘Is jy okay?’ vra Cian besorg.
‘Ek sal leef. Ek’s ‘n hond,’ sê sy. Al het sy nog nooit sulke fisiese pyn in haar lang lewe ervaar nie, gaan sy nie swakheid voor enige Fee wys nie. Nie eens een van haar beste vriende nie.
‘Nou moet ons wag dat Jade haar deel doen. Al beteken dit ek moet jou vir ‘n tyd los…’ Sy woorde sterf weg en nie een wil regtig dink wat dit beteken om vandag suksesvol te wees nie.
‘My hoofpyn is weg,’ sê Saphira verdwaas.
Die horing blink in die halflig waar dit op ‘n vreemde rots-kontrepsie vasgeklem is.
‘Jade,’ sê Cian sag.
Saphira weet dadelik dat die Feëtjie Kat die eenhoring gevind het en uit sy lyding gesit het.
‘Wat nou?’
‘Nou vat ons die horing saam met ons. Dit kan in Eolande se biblioteek wees as ‘n waarskuwing,’ sê Cian grimmig.
Saphira knik. Onder die nuwe skildery sal dit altyd as ‘n herinnering dien om te doen wat reg is en nie wat maklik is nie. Eenhoring horings hou vir ewig. Dus sal dit vir altyd in die biblioteek wees. En hopelik sal Eolande se nageslag ‘n les daaruit leer. Een wat hulle almal nou baie duur te staan gekom het.

Saphira gebruik haar towerkragte om die silwer horing te laat sweef deur die lug na die pers fluweel kussing. Dit land sag. Sy vorm ‘n glas kas om dit om dit veilig te hou.
Haar oë brand. Hierdie eenhoring moes nog so gelukkig soos dié in die skildery bo dit gewees het. Die spierwit eenhorings met goue hoewe en horings lyk of hulle lekker speel in die grasgroen veld. Veral die een wat met goue oë stip na hulle kyk.
Die dwerge is vasgevang in die berg waarin hulle almal was. Met die dood van die eenhoring het Jade dit verseker. Dit was nie heeltemal wat hulle beplan het nie, maar dit was wat die eenhoring wou gehad het.
Saphira is nie seker wat om oor Eolande te dink nie. Sy het nie een keer gehuil nie. Wat vreemd is vir iemand wat huil as dit net lyk of ‘n dier beseer is. Dit bekommer die Feëtjie Hond, maar sy weet nie wat sy daaromtrent moet doen nie.
Cian het nog boekrolle saamgebring wat haar beskermling besig hou. Hopelik werk sy self deur watookal haar pla.
Die stilte binne die berg hou vir Saphira rustig. Al is die stilte een van hartseer.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Saphira en die Dwerge in haar Berge
Hierdie is storie agt in Die Avonture van Saphira die Feetjie Hond.
4 jaar 1 maand 4 dae 8 ure oud


Dwerge
Baie dankie vir jou pragtige bydrae tot die BERGE projek.
4 jaar 1 maand 2 weke 1 dag 13 ure oud


Saphira en die Dwerge in haar Berge
Nog avonture van Saphira die Feëtjie Hond gaan volg.
4 jaar 1 maand 2 weke 2 dae 7 ure oud



Jesus Beter en Beter

deur Lynie van Westfort

'N digbundel deur God geinspireer. Geskryf deur 'n verloste vrou. Baie diep het Hy my uitgehaal.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar