Jeugverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Saphira sit op die kasteel, wat half deel van die berg is, se dak. Dis donker nag en sy weet dat Eolande al lankal vas aan die slaap is. Om die waarheid te sê, almal slaap behalwe sy.
Die Feëtjie Hond sug. Die maan is groot en geel, maar maak geen lig nie. Sy haat dit. Aande soos díé loop Feëtjies rond in die mense-wêreld want hulle dink niemand kan hulle sien nie. Dis gevaarlik vir almal. Veral met die halfeeufees van vrede tussen mens en Feë wat eersdaag is.
Waar sy sit, weet sy dat niemand haar kan sien nie. Haar donker pels is perfekte kamoeflage om kwaaddoeners skrik op die lyf te jaag. In die tien jaar wat sy vir Eolande beskerm, het sy nog net ‘n handvol kere nodig gehad om stoute Feëtjies terug na Feërie te stuur.
Hulle mors nie sommer met haar nie: sy is ‘n magtige Feëtjie Hond wat hulle sommer direk na haar koningin stuur.
Amber, koningin van die Feëtjie Honde en haar tweeling sussie… Saphira sug verlate. Sy mis haar suster vreeslik baie.
Beweging in die halfdonkerte maak haar kriewelrig.
‘Wie is daar?’ vra sy hardop.
‘n Skadu maak homself los van die gitswart kasteelmuur en loop nader. Saphira kan sy reuk nie plaas nie. Hy’s defnitief ‘n Feëtjie, maar nie ‘n tipe wat sy al ooit ontmoet het nie. Tog is daar iets omtrent hom wat bekend ruik.
‘Ek bring ‘n boodskap van die koningin van die Feëtjie Honde.’ Sy stem is net so donker en geheimsinnig soos die nag.
‘En jy is?’
‘Cian.’
Saphira bewe innerlik. Sy het daardie naam al so baie gehoor. Gewoonlik in verband met iets aakligs wat die Koningin van alle Feë laat gebeur het.
‘Saphira, jou suster wil hê jy moet weet dat sy beïndruk is met jou werk hier. Wanneer Eolande trou, kan jy ‘n breuk vat in Feërie terwyl ‘n ander Feëtjie Hond vir jou invul.’
‘Dis nie amptelik nie. As dit was, sou jy nie die een gewees het wat die boodskap oorgedra het nie.’
‘Nee.’ ‘n Glimlag pluk-pluk aan sy mondhoeke. ‘Dis halfamptelik. Net so goed.’
‘Voorwaardes?’ Sy hou nie daarvan dat sy hom nie regtig kan sien nie.
‘Die halfeeufees. Dit gaan gehou word op die oewers van die Loch Ness. Baie naby aan hierdie kasteel.’
‘En jou punt is?’
‘Dit moet seepglad verloop. Jou suster én die Koningin van alle Feë hou jou persoonlik daarvoor verantwoordelik.’
‘Wat! Ek is klaar verantwoordelik vir Eolande. Julle kan níé verwag dat ek nog vrede tussen almal kan hou op my eie níé! Weet jy hoeveel lawwe Feë het ek al terug Feërie toe gestuur?’
‘Ja. En jy gaan níé alleen wees níé. Ek gaan jou help.’
Saphira gluur vir hom waar hy nog halfdeursigtig staan. Sy hou glad nie van hierdie idee nie. Dit klink soos ‘n halfgebakte plan deur sy koningin – nes die een wat haar ma se dood veroorsaak het.
‘Hoe is ek seker ek kan jou vertrou?’ vra Saphira.
‘Jy kan. Nes jy albei jou koninginne vertrou.’
In ander woorde: halfpad, dink Saphira wrang.
‘Sien jou weer,’ groet Cian en verdwyn in die halfdonkerte.

Moeg en geïriteerd, stap Saphira deur die halfoop deur die kamer wat sy al vir jare met Eolande deel in.
‘Wat dink jy?’ vra die jong vrou wat voor die spiëel haar rok swaai.
Saphira sug hartseer. ‘Jy lyk pragtig.’
‘Dis wat jy áltyd sê,’ lag Eolande. ‘Lyk ek volwasse?’ vra sy ernstig.
Sy het haar halflang rompe vir vollengte rompe verruil. Dis haar agtiende verjaarsdag. En dit gaan ‘n groot affêre wees. En so naby aan die halfeeufees kan alles katastrofies wees.
‘Ek’s net nie seker watter een om na die fees te dra en watter een na my partytjie nie,’ sê Eolande besluiteloos terwyl sy na vier pragtige rokke kyk wat op haar bed uitgestrek lê.
‘n Sy rok van die ligste pers met klein wit pêreltjies om die moue, kraag en romp se onderste soom vasgewerk trek dadelik Saphira se oog. ‘n Donkerpers rok van ‘n glimmende materiaal wat lyk of dit intensioneel gekreukel is laat haar op haar tande kners. Die groen rok lyk of dit uit jade geëts is en dalk net so styf en ongemaklik kan wees. Die donkerblou rok is ‘n eenvoudige snit – maar die halslyn is genoeg om Saphira die horries te gee. Nie eens ‘n halsnoer van halfedelstene in dieselfde kleur kan dit toemaak nie. Daar is nie ‘n manier wat sy gaan toelaat dat haar beskermling uitgaan in ‘n rok wat as onsedelik beskryf kan word nie. Wanneer Eolande eendag groot en getroud is – en dus iemand anders se probleem is – kan sy dit dra met soveel saffiere soos sy wil.
‘Dra die lila een vir jou verjaarsdag. Dis een van jou familie-kleure en sal jou pa vreeslik gelukkig maak sou hy dit bywoon,’ antwoord Saphira eindelik. ‘Die pers een is perfek vir die fees – dis ‘n donker kleur wat almal daar sal verseker dat jy oud genoeg is om daar te wees en dis ‘n familie-kleur wat almal daar sal herinner wie jy is.’
‘Wat van die ander twee? Hulle is só mooi.’
‘Daar sal nog baie ander geleenthede vir jou wees om hulle te dra.’
‘Soos wanneer?’ vra Eolande nukkerig.
‘Soos wanneer jy met ‘n Campbell trou – hul kleure is blou en groen.’
Eolande gooi Saphira met ‘n kussing en hulle lag. Albei weet dat die Campbells té ver weg woon vir so ‘n verbintenis om ooit te gebeur of te werk.

Eolande se agtiende verjaarsdagpartytjie voel soos ‘n voorloper vir die halfeeufees. Die geselskapsaal is gevul met mense en Feëtjies. Almal is jolig en Saphira kners haar tande om hulle nie almal uit te gooi nie.
Foalan MacKeltar daag op met al die prag en praal wat Saphira verwag het. Hy lyk nes hy tien jaar terug gelyk het toe hulle hom laas gesien het. Wat sy nie verwag het nie was die geskenk wat hy vir Eolande gee. ‘n Halfedelsteen – ‘n ametis – geset in platinum op ‘n platinum kettingtjie.
As jy nie weet wat dit is nie, lyk dit soos ‘n oulike duur geskenk; met die pers halfedelsteen as net nog ‘n bewys dat Eolande ‘n MacKeltar is.
Maar Saphira weet van beter. En Eolande se wydgestrekte oë nadat Foalan vir haar iets gefluister het, laat Saphira hond se gedagte kry.
Daardie hangertjie gaan nog baie moeilikheid veroorsaak want niemand is veronderstel om ‘n direkte lyn na Feërie te hê as hulle in die mense-wêreld is nie. Dis moeilikheid soek.
‘Los dit.’
Sahphira kyk om en sien vir Cian. Hy is steeds deel van die skadu’s om hom. Sy’s seker dat geen van die gaste hom al gewaar het nie.
‘As daar moeilikheid kom sal hy alleenlik verantwoordelik gehou word. Jy het my woord.’
Saphira knik. Feëtjies kan nie lieg nie. Dit beteken nie dat hulle nie stories en waarheid kan verdraai om hulle te pas nie. Maar dis skaars om iemand soos Cian te ontmoet. Sy’t al baie van hom gehoor. Sy woord is sy eer.
Saphira loop weg van hom af en verdwyn so half in die skare in om bietjie te luister wat hulle dink oor die partytjie.
‘Halfbloed. Dis wat sy is en ons vier haar agtiende verjaarsdag?’ die Feëtjie spoeg sy wyn terug in sy beker.
Sy kom tot ‘n stop en grom diep in haar keel. Dis duidelik dat hy daardie neerhalende woord gebruik om Eolande te beskryf.
‘Sy is ‘n belangrike Fee se dogter,’ paai sy vriend. ‘Al is sy half swak mens ook…’
‘Bog. Die Galno dink net hulle is belangrik omdat die Koningin van alle Feë hulle haar uitverkorenes het hierdie eeu. Wanneer sy verveeld raak met hulle – en geskiedenis is vol van Feë waarmee sy verveeld geraak het – dan sal die Galno net so belangrik soos fungi wees.’
‘Klink lekker. Maak ons dit dieselfde manier gaar?’
Hulle kekkel lekker oor hul vriend se grap.
Saphira beweeg weg van hulle af voordat sy hul katoë uitkrap of dalk hul puntige ore afbyt.
‘Feëtjies is onnatuurlik en heelmoontlik boosaardig. Kyk net daai oë!’ sê ‘n man terwyl hy in die rigting kyk van die Feë wat Saphira nou net van weggeloop het. Sy kan die mens se punt insien.
‘Hoekom vier ons die verjaarsdag van ‘n halfbloed? Sy én haar ouers moet liefs gestenig word om ander te ontmoedig om dieselfde te doen.’
Saphira kners op haar tande en loop weg. Sy weet dat niemand dom genoeg sal wees om nou nonsies aan te jaag nie. Maar steeds… Dit laat ‘n wrang smaak in haar mond agter wanneer sy sulke haat en onnoselheid hoor. Sy gaan staan naby aan Eolande. Nie té naby om haar beskermling se pret te bederf nie, maar naby genoeg om haar ten volle te beskerm.

Eolande lyk pragtig in haar lila rok. Tussen al die gaste wat donker kleure aan het, staan sy uit soos ‘n vars lente blom.
Saphira probeer uit die pad bly en steeds haar beskermling in sig hou sodat sy haar teen enigiets kan beskerm.
‘Ontspan. Dis haar verjaarsdagpartytjie, nie ‘n diplomatiese missie nie,’ sê Eolande se ma langs haar.
‘Met al die mense en Feë hier, voel ek verskriklik ongemaklik. Hoe is dit dat jy so rustig is?’
Die mensvrou haal haar skouers op en glimlag misterieus.
‘Ek’s bly jy’t haar oorreed om die ligpers rok te dra. Die ander wat sy laat maak het is net té volwasse vir haar.’
‘Sy gaan die donkerpers een op die feesdag dra,’ sê Saphira sonder om ‘n antwoord te verwag.
‘Ek voel onrustig oor die feesdag. Ek wil nie hê sy moet gaan nie.’
Saphira kyk verbaas op. ‘Wat pla jou?’
‘Ek weet nie. Dis net ‘n gevoel.’
Die Feëtjie Hond kyk rond na almal in die geselskapsaal. Gewoonlik as iets gaan gebeur – goed of sleg – kry sy ‘n voorgevoel. Maar sy het geen emosie oor vanaand nie. Sy kyk weer na die mensvrou.
‘Ek was onrustig oor my ma se missie wat die Feë Koningin haar gegee het. Sy het dood gegaan,’ sê Saphira sag en ernstig.
‘Dink jy dis wat ek aanvoel? Eolande se dood?’ vra die mensvrou bang, met trane wat skielik in haar oë inskiet.
‘Ek sal haar ekstra versigtig oppas,’ sê Saphira. Sy weet nie wat die mensvrou aanvoel nie, maar sy gaan geen kanse waag nie. ‘Dalk moet jy vir haar sê. Sy is nou groot genoeg om na rede te luister.’
Die mensvrou glimlag wrang. ‘Jy hoop vir baie.’
Tenspyte van haar woorde loop sy in haar dogter se rigting. Saphira volg uit nuuskierigheid uit.
‘Eolande, ek dink nie jy moet die feesdag bywoon nie,’ sê haar ma.
‘Wat? Nee, ek gaan dit bywoon. Ek’s nou groot genoeg. En ek het ‘n perfekte rok daarvoor.’
‘Ek dink nie dis ‘n goeie idee nie,’ volhou haar ma.
‘As sy dit wil bywoon, kan sy mos. Ek gaan ook daar wees,’ sê Foalan MacKeltar.
Saphira voel lus om sy kop met een hap te verwyder.
‘Sien? Jy hoef nie te gaan as jy nie wil nie,’ sê Eolande asof die saak afgehandel is.
Haar ma sug en loop weg. Saphira weet uit ervaring dat niemand hulself aan haar mening steur nie. Sy sal maar net ekstra waaksaam moet wees.

Dik mis hang oor die hele vallei. Nie eens die berg pieke kan gesien word nie. Saphira het wakker geword met haar hare wat penorent staan. Sy hoop rêrig nie dat dit beteken dat sy moeilikheid moet verwag nie. Die halfeeufees begin op die middaguur en gaan aanhou tot middernag toe. As dit onsuksesvol is, gaan sy nooit weer Feërie sien nie.
‘Kan jy glo dis vandag die Halfeeufees?’ vra Eolande opgewonde.
‘Skaars,’ antwoord Saphira en draai weg van die venster af.
Haar beskermling se swart hare lyk soos ‘n kraaines en haar gesig het slaap kreukels. Maar haar silwer oë blink opgewonde. Saphira sug. Hoe kan sy vir die opgewonde meisie sê sy kan nie die fees bywoon nie?
Nadat sy al die gesprekke gehoor het by Eolande se verjaarsdagpartytjie en die mensvrou se voorgevoel dat dinge nie goed gaan gaan vir Eolande nie… Sy sal liewer ‘n nukkerige meisiekind onder haar sorg hê as ‘n beseerde, of erger: dooie, een.
Saphira luister na al die hartkloppe in die kasteel. Eolande se ma het toegelaat dat die Galno en Cian daar bly vanaf die verjaarsdagpartytjie ‘n paar aande tevore. Die Feëtjie Hond skud haar kop. Sy self sou nooit so gasvry gewees het nie. Dit vat ‘n sekere temperament om, tenspyte van ‘n nare voorgevoel, ander hul pret te gun.
Dit pla haar dat die mis so dik hang. Dit pla haar veral omdat Eolande se ma ‘n slegte voorgevoel het oor die fees. Wat as sy nie genoeg is om haar beskermling veilig te hou nie?
Maar aan die ander kant, sy het Cian daar en selfs Eolande se eie pa met sy gevolg van vegters om haar veilig te hou. Hoekom haar pret bederf ooor ‘n voorgevoel wat nie eens hare is nie?
Vier klein kabouters in pers rokkies kom die kamer binne met ‘n stomende bad. Saphira draai weg en luister na Eolande wat die huiskabouters vergal met haar kletsery oor haar verwagtinge oor die fees. Die Feëtjie Hond is beïndruk met die huiskabouters wat nie boe of ba sê nie en net Eolande se woorde oor hulle laat spoel soos water.
‘En? Wat dink jy?’ vra Eolande kort voor die middaguur.
Saphira draai om. Die huiskabouters dra die bad uit die kamer uit. Hulle het goeie werk met Eolande se voorkoms gedoen. Sy lyk sommer meer volwasse as met haar verjaarsdagparty.
Die ametis hangertjie lyk pragtig saam met Eolande se donkerpers rok. Selfs in die daglig skitter sy. Saphira is nie seker of sy dit kan goedkeur nie.
‘Jy lyk geweldig pragtig. Ek dink nie ek kan jou buite die kasteel toelaat nie,’ antwoord sy ernstig.
‘Komaan, Saphira! Niks slegs kan gebeur met jou aan my sy nie!’
Saphira glimlag halfhartig. Hoe kan sy nee sê vir sulke uitbundigheid?
‘Jy moet die kos proe by hierdie fees. Dis asof almal uit hul pad gaan om net die beste en lekkerste te bedien,’ sê die Feëtjie Hond en lei haar beskermling uit die kamer uit.

Die musiek is soos net Feëtjies dit kan speel. Selfs helder oordag is dit geheimsinnig en grieselrig.
Met Eolande aan haar sy, kyk Saphira na dit als asof sy dit vir die eerste keer sien. Dit bring haar ‘n klein glimlaggie om als so met wonder te aanskou.
Alhoewel meeste mense en Feë ‘n gesonde vrees vir haar as ‘n Feëtjie Hond het en ‘n ompad loop om hulle te vermy, is daar tog dié wat hulle verwelkom in hul midde en die fees vir Eolande opwindend en pret maak.
‘Dans met my?’ vra ‘n aantreklike Fee vir Eolande.
Sy kyk na Saphira asof sy vra of dit in die haak is. Die Feëtjie Hond knik haar toestemming en hou die koperkop Fee stip dop soos hulle dans. Dis ‘n vreemde gevoel om haar beskermling toe te laat om groot te word. Dit was nog altyd vir haar moeilik. Dit word net moeiliker noudat sy eintlik groot is.
Eolande dans met verskeie Feë en mense. Sy lyk verskriklik gelukkig.
Niks slegs gebeur nie. Nie eens die gemor van Eolande se verjaarsdagparty is teenwoordig nie. Saphira kan amper begin ontspan. As dit nie was vir die duidelike ongemak op Eolande se ma se gesig nie. Die Feëtjie Hond kan sommer net sien dat die mensvrou steeds daardie aaklige, droefgeestige voorgevoel van onheil het.
Met Foalan MacKeltar en sy gevolg wat partytjie hou asof môre nie gaan kom nie, is Saphira reg om die eerste moeilikheidmaker heel in te sluk.

Dis asof als in vertraagde aksie gebeur. Die onskuldige bystanders hardloop gillend weg. Die skuldiges val Foalan MacKeltar en sy gevolg aan.
Saphira voel asof sy dit als sien van ver af. Asof sy nie regtig daar is nie. Hoe kon só iets in elk geval gebeur terwyl daar so baie mense en Feë is wat omgee vir Eolande se ma?
Skok hou haar bewegingloos vir ‘n halwe sekonde voordat sy beweeg, vinnig soos net sy kan, en vir Eolande wegruk van almal se bereik.
‘Gee haar vir ons!’ skree die oproerige skare.
‘NEE!’ brul Saphira en beweeg verder weg.
Sy is nie heeltemal seker waarheen om te gaan nie. Hoe langer dit aanhou, hoe meer draai álmal daar teen haar.
Sy kan sien dat die Galno hul hande vol het om vir Foalan veilig te hou. Óf hulle gee nie om oor Eolande nie, óf hulle het volle vertroue in haar as ‘n Feëtjie Hond om die dogter van ‘n Fee veilig te hou. Sy hoop dis die laaste.
‘Ek kan nie sien nie!’ skree een van die omstanders. Skielik is almal daar histeries omdat hulle blind is.
‘Gou! Kry haar hier uit! My towerspel gaan nie lank hou nie,’ sê Cian skuins agter haar.
‘Ek sal haar ma kry,’ fluister hy met ‘n hartseer blik in Eolande se rigting.
Saphira knik dankbaar, gryp Eolande se hand in haar bek en hardloop. Hulle kom nie ver nie, voordat ‘n donker skim voor hulle verskyn.
‘Amber?’ vra Saphira verbaas.
‘Ek kan nie lank bly nie. En niemand kan weet dat ek ooit hier was nie. Maar jy moet weet: doen wat ookal jy moet om vrede te herstel. Jy het my volle vertroue en bystand.’ Sy kyk rond. ‘Ek gee nie om wat jy moet doen nie.’
Saphira knik en haar suster verdwyn.
Oomblikke later verskyn Cian weer aan haar sy. Hierdie keer het hy die lewelose liggaam van Eolande se ma in sy arms.
‘Daar’s net een oplossing: mens en Feë moet van mekaar geskei word,’ sê Saphira vir Cian soos hulle deur die blinde skare vlug.
‘Net as ons onderskeie koninginne dit goedkeur.’
Saphira glimlag hartseer – Amber het klaar toestemming gegee.
‘Myne het gesê ek moet doen wat nodig is.’
‘Dan weet jy wat om te doen,’ sê Cian eenvoudig.
Hulle knik vir mekaar en gaan uitmekaar.
Saphira laat los die towerkragte wat sy vir so lank opgesluit gehou het.
Die rede hoekom alle Feë Feëtjie Honde so vrees, het nie regtig te doen met hoe hulle lyk nie. Alhoewel meeste Feë dit nie weet nie, het Feëtjie Honde towerkragte wat sterker is as selfs die Koningin van alle Feë. Veral Feëtjie Honde met vorstebloed – soos Saphira.
Meeste Feëtjie Honde kan wonderlike goed optoor: soos verslenterde rokke in balrokke en muise in perde verander. Maar Saphira het nie nodig om ‘n pampoen byderhand te hê om ‘n koets te toor nie… Nee, sy kan dit net dink en hardop sê met ‘n bietjie toorkrag daarby en dit sal wees. Dis hoekom sy altyd hard probeer om nie haar towerkragte te gebruik nie. Maar nou moet sy. Nou moet sy seker maak dat vrede weer sal heers.
Sy maak haar oë toe vir ‘n oomblik aan die buitewyke van die fees. Wanneer sy hulle weer oopmaak weet sy hulle skyn helder oranje.
‘Mensdom en Feë sal van nou af mekaar vermy. En vrede tussen hulle sal heers. Mense sal begin vergeet dat Feëtjies bestaan totdat die Feëryk niks meer as net stories en legendes vir hulle word nie.’
Saphria voel ‘n knop in haar keel vorm en sluk dit weg.
‘Ek hoop dis genoeg,’ sê Eolande hartseer langs haar.
Saphira maak haar oë toe en onderdruk weer haar towerkragte. Dis meer as net halfwild, maar sy kry dit tog reg om dit weg te bêre.
Saam vlug hulle na die kasteel wat half in ‘n berg versteek is.

‘Ek is verskriklik jammer,’ sê Saphira vir Eolande waar hulle veilig binne die berg-gedeelte van die kasteel sit. Hulle het haar beskermling se ma klaar in die grafkelder diep onder die kasteel begrawe.
‘Ek ook,’ snuif Eolande hartseer. ‘Hoekom het hulle dit gedoen?’
Saphira kyk hulpeloos na Cian. Sy het nie ‘n idee hoe om vir haar beskermling te vertel dat haar bestaan die rede was nie.
‘Partykeer haat mense en Feë sonder rede en hulle doen bose dinge,’ sê hy.
‘Hoekom my ma?’
‘Want sy was die beste van ons almal. Sy was altyd gasvry en gaaf met almal. Partykeer is dit genoeg vir ander om te haat omdat hulle dit nie self kan doen nie,’ sê Cian.
Saphira weet nie wat om te sê nie. Tenspyte van haar tien jaar as Eolande se beskermer is sy nog halfwild. Haar eerste reaksie toe Amber gesê het sy moet doen wat sy wil was om almal te vernietig.
‘Julle kan weer die kasteel verlaat,’ sê ‘n bekende stem uit die halfdonker gang.
‘U hoogheid,’ sê Cian en buig formeel.
‘Dankie dat jy my suster ondersteun het, Cian,’ sê Amber en loop verby hom. ‘Suster,’ groet sy met ‘n breë glimlag wat al haar tande blootstel.
‘Suster,’ groet Saphira terug.
‘Eolande – jy het mooi groot geword,’ sê Amber en kyk die halfbloed goedkeurend op en af.
‘Dankie, u hoogheid,’ sê Eolande met ‘n formele kniebuiging.
Amber sug en kyk vir Saphira. ‘Al die Feë wat betrokke was – en skuldig, natuurlik – by die fiasko is behoorlik getugtig. Meeste is verban uit Feërie.’
‘Verskoon my, maar gaan dit nie dinge erger maak nie?’ vra Cian met ‘n frons.
‘Dit was nie my keuse nie,’ sê Amber met ‘n veelseggende blik na haar suster.
Saphria weet dadelik dat dit sommer net nog ‘n idiotiese besluit van die Koningin van alle Feë is.
‘Ek is jammer om dit te sê, maar jy vat al die blaam vir die nuwe status quo. Jy kan nie weer Feërie binnegaan nie, Saphira.’ Amber grom. ‘Maar ek werk daaraan om dit ontbind te kry. Jy het almal gered.’
Die koningin van die Feëtjie Honde draai weg van hulle af. ‘Ek het nog werk om te doen. Wees veilig.’ Sy verdwyn weer in die donkerte in so stil soos sy verskyn het.
‘Ek dink nie ek kan hier bly nie. Nie na als nie,’ sê Eolande ‘n paar oomblike later.
‘Dan gaan ons op ‘n toer van die land. Dit het my gehelp na my ma dood is,’ sê haar beskermer.
‘Ek’s nie soos jy nie, Saphira.’
‘Ek weet. Na my ma se dood, het ek baklei en revolusies probeer lei. Eers later het ek gehuil en rondgeswerf om myself te vind.’
‘Die toer deur Skotland klink vir my goed. Ek kom saam – julle kan nie al die pret op jul eie hê nie.’ Cian sê dit lighartig, maar Saphira weet dat hy bekommerd oor Eolande se veiligheid is.
‘Waarvoor wag ons dan?’ vra die Feëtjie Hond.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Saphira en die Halfeeufees
Hierdie is storie vier van Die Avonture van Saphira die Feetjie Hond.
4 jaar 6 maande 1 week 5 dae 5 ure oud


Saphira en die Halfeeufees
Nog avonture van Saphira die Feëtjie Hond gaan volg.
4 jaar 7 maande 1 week 4 dae 6 ure oud



Die Ander Vrou

deur http://www.woes.co.za/

Die boek belig 'n wereld oue situasie uit die perspektief van die "ander vrou"- soos deur die vroue self vertel Die boek sluit ook perspektiewe deur 'n maatskaplike werker en 'n predikant in.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar