Jeugverhale

Bladsye:
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Die swart-en-bruin Feetjie Hond loop ongeduldig op en af in die gang voor die gekerfde dubbeldeure. Deure wat lei na ‘n biblioteek wat sy nie mag binnegaan nie. Vir die beste deel van twee dekades irriteer die feit dat net ‘n MacKeltar die biblioteek mag ingaan haar grensloos. Angus Campbell – Eolande MacKeltar se man – is heeltemal gelukkig daarmee. Na alles is daar die biblioteek in die kasteelmuur wat almal mag gebruik en hy het een van die torings in ‘n leeskamer verander.
Die enigste ander persoon wat die biblioteek onder die berg kan ingaan is Kael – Eolande en Angus se seun.
Die sestienjarige is in die biblioteek. Saphira grom. Sy weet hy gebruik die tyd vir selfstudie om die beste Laird te wees wat hy kan wanneer sy pa eendag uittree, maar hoe moet sy hom beskerm as sy hom nie eens kan sien nie?
Sy maak weer ‘n draai en loop verby die dubbeldeure. Sy’s al gewoond daaraan om nie alles te weet nie – dis al ‘n hele paar jaar sedert sy van haar herinneringe verloor het – en sy raak nie meer ontsteld daaroor nie. Aanvaarding het gekom dat sy deel van haarself verloor het. En dalk is dit goed: Feetjie Honde word baie oud en daar’s ook net soveel plek vir herinneringe.
Die dubbeldeure gaan oop en sy kyk op. ‘n Jong man met kort gesnyde swart hare loop saggies deur die deur. Dit kan sy leer stewels wees wat sy voetval so sag maak, maar Saphira dink dis sy Feë-bloed en al die krygerslesse wat hy sy lewe lank het. Hy glimlag tot in sy silwer oë in toe hy haar sien.
‘Dis so gaaf van jou om vir my te wag, Saphira. Kom, ek moet nou met my wapens gaan oefen,’ sê hy en verwag dat sy hom moet volg.
‘Wat ook al jy sê, Groentekop,’ mor sy.
Hy lag hard. ‘Sien, jy’s tog lief vir my.’
Sy wil stry, maar weet dis presies wat Kael wil hê. Sy volg hom stil deur die kasteel na sy kamer.
Kael se slaapkamer is baie groter as die een wat Saphira vir ‘n tyd op haar eie in geslaap het. Sy weet haar slaapkamer was eens op ‘n tyd haar en Eolande se kamer, maar sy het geen herinneringe daarvan nie.
Swaar pers gordyne hang van êrens teen die dak af. Hulle is vasgemaak teen pilare, maar wanneer dit los hang skei dit die slaapkamer van die res van die vertrek.
‘n Tafel waar Kael kan sit en werk staan naby die venster. ‘n Groter tafel domineer die vertrek as ‘n eettafel. ‘n Vuurherd staan langs die deur. Verskeie houtkaste en kiste staan teen die steen mure. Bo die vuurherd is verskeie skilde vasgemaak teen die muur.
Saphira wag ongeduldig terwyl ‘n skildknaap Kael help om sy wapenrusting aan te trek. Sy kan dit woerts-warts met haar toorkrag gedoen het. Maar Kael wil hê die skildknaap moet leer hoe om alles in volgorde aan te trek en behoorlik vas te maak.
Saphira dink die wapenrusting is onnodig swaar; die helm, borsharnas en kaphandskoene bemoeilik beweging. Maar Kael wil nie enige toorkrag tussen hom en sy krygeroefeninge hê nie. Hy wil veg nes die manskappe wat hy eendag gaan lei.
As ‘n Feetjie Hond, dink Saphira dis sommer net laf dat mans met mekaar veg met oorgroot messe – veral wanneer hulle mekaar nie eens ken nie.

Kael en sy skildknaap verlaat die kamer en verwag dat Saphira moet volg. Kael dra ‘n leerbroek saam met sy skitterende wapenrusting. Sy kilt hang oor sy skouers soos ‘n mantel; dis vasgemaak met ‘n gespe wat ‘n silwer Feetjie Hond kop met amberstene as oë het. Saphira dink dis sommer laf dat hulle nodig het om ander bang te maak met ‘n beeld wat lyk soos haar gesig.
Mens en Fee spat uitmekaar soos hulle die gang afloop, by die trappe af, deur die geselskapsaal en na buite. Hulle het gewoonlik hierdie vreemde optrede wanneer Kael in sy wapenrusting is.
Hulle kom eindelik op die gevegsplein uit. Niemand anders is al daar nie. Kael laat sy skildkneg ‘n hout skild optel en daarmee rondhardloop terwyl hy messe, byle en ander wapens na dit gooi. Die skildkneg val en Kael gooi hom amper raak met ‘n byl.
‘Dis nou genoeg, Krulkool,’ sê Saphira. Sy gebruik haar toorkrag en laat die skild verdwyn.
‘Wat ook al jy sê,’ antwoord Kael en loop na ‘n hout-en-strooipop terwyl hy sy swaard uit sy skede trek. Hy oefen verskeie swaardtegnieke op die pop in volle wapenrusting.
Stadig begin ander vegters die arena binne kom. ‘n Paar toeskouers maak hulself tuis op die paviljoen. Kael hou daarvan om sy vaardigheid as ‘n vegter ten toon te stel.
‘Toe, Saphira. Gaan sit langs my ma. Dis tyd dat ek vir almal wys hoe goed ek is,’ sê Kael laggend. Tog kan sy sien dat daar kommer in sy oë is. Maar sy doen wat hy vra.
Sy gaan sit langs Eolande, wie kil na haar kyk.
Sedert sy kan onthou is sy en Eolande haaks met mekaar. Sy weet dit het baie te doen daarmee dat sy nie die half-Fee kan onthou nie. Miskien as hul rolle geruil was sou sy dieselfde opgetree het. Wie weet? Maar sy hou nie van die manier wat Eolande haar behandel nie: soos ‘n insek wat gevaarlik is en dopgehou en bestudeer moet word voordat dit vertrap moet word. Dit pynig haar. Veral omdat ander haar staaltjies vertel oor hul tyd saam.
Die eerste opponent wat Kael afstaar is ‘n ervare kryger. Skerm, skerm, steek, skild stop. Kael doen goed. Totdat sy opponent sy voete onder hom uitslaan. Hy verloor sy helm, maar hy rol net betyds uit die pad uit soos sy opponent se swaard in die grond inslaan waar sy bors net ‘n paar oomblikke terug was.
Saphira trek haar asem skerp in. Haar hart gallop terwyl Kael al die gevaarlike maneuvers doen. Dalk was Krulkool reg? Dalk is sy tog lief vir hom?
Kael het vinnig sy swaard weer in sy hand en veg sy opponent. Hy glimlag stout vir ‘n oomblik. Saphira weet wat dit beteken: hy het sy opponent se gevegstyl leer lees. Dit vat nie lank vir hom om die kryger te ontwapen daarna nie.
Die skare juig.
Sy volgende opponent is nie naastenby so goed soos die eerste een nie. Kael ontwapen hom in oomblikke en slaan hom per ongeluk uit.
Die skare juig.
Die laaste opponent vir die dag loop selfversekerd in die arena in. Skerm, steek, skerm, skild, skerm. Die volgende oomblik het Kael ‘n swaard in elke hand: syne en sy opponent s’n. Hy hou albei swaarde na sy opponent se bors wat vinnig oorgee. Kael wen weer.
Die skare gaan mal.
Saphira is net bly dat die lawwe vertoning verby is.

Hulle is oppad terug na die kasteel. Skielik kom ‘n stem hard vanaf die poort. Almal gaan nader om te sien. Dis ‘n outydse wapenrusting wat heeltemal van yster gemaak is en nie soos Kael s’n wat van fyn kettingtjies is nie.
‘Ek daag Kael Campbell uit tot ‘n tweegeveg,’ sê die wapenrusting. Niks van ‘n persoon steek uit nie. Dit maak Saphira ‘n bietjie onrustig. Die vreemdeling kan enigiemand wees. Of enigiets.
‘Nee!’ gil Eolande en staan tussen Kael en die gesiglose vreemdeling.
‘Ma, dis iets wat ek moet doen,’ sê Kael en systap haar.
Saphira verstaan dat Kael eergebonde is om dit te doen. Al verstaan niemand anders daar dit nie. Almal probeer tussen hom en die vreemdeling te kom.
‘Dis genoeg,’ sê Saphira met ‘n bietjie toorkrag in haar stem. Almal hou op om Kael te probeer keer. Sy sou presies dieselfde as Kael gedoen het. Sy voel trots op die laaitie.
‘Tweegeveg. Tot die dood toe,’ sê die ridder soos hy sy een kaphandskoen voor Kael neergooi.
Saphira se hart klop vinnig, vinniger, vinnigste.
‘Wie is jy?’ vra Kael die vreemdeling nadat hy die handskoen opgetel het en dus die uitdaging aanvaar het.
‘Maak dit regtig saak?’ vra die ridder in die oudtydse wapenrusting.
‘Ja – veral as ons regtig tot die ridderskode veg,’ sê Kael grimmig.
Eolande haal skerp asem. Saphira verstaan al lankal wat haar beskermling se ma nou eers besef: dis ‘n geveg tot die dood.
‘Ek gaan nie verloor nie, so dit maak nie saak wie ek is nie,’ sê die wapenrusting parmantig.
‘Hy kan jou nie nou veg nie – hy het sopas drie gevegte gehad,’ sê Angus redelik.
Die wapenrusting knik sy kop na die kant. ‘Goed dan. Rus en eet. Ons veg vanmiddag.’ Die vreemdeling draai om en loop weg.
‘Jy kan nie daai ding veg nie,’ sê Eolande vreesbevange.
‘Wat’s fout?’ vra Kael besorg.
‘Ek kry ‘n vreemde gevoel van dit af,’ sê sy met pleitende groot oë.
‘Saphira?’ vra hy.
Die Feetjie Hond sug. ‘Die wapenrusting is defnitief nie wat dit blyk om te wees nie. Maar, jy is ook nie.’ Sy hoop net dat wat Kael is, genoeg is om wat ook al die ridder in die wapenrusting werklik is te oorwin.
‘En soos met enige uitdaging, is dit hoe jy dit aanvaar wat die uitslag gaan wees,’ sê sy eerste opponent van die oggend. Hy slaan Kael se skouer bemoedigend.

Kael stap uit op die heide. Saphira bly reg langs hom. Sy weet hoekom hierdie geveg belangrik is: dit sal almal van Castle Campbell eindelik oorreed dat Kael nou mooi groot is en waardig van sy titel. Sy weet ook dat baie ander sulke gevegte nog gaan volg.
Almal van Castle Campbell is al reeds vergarder op die heide, met ‘n gelyktheid in die middel as gevegsplein. Niemand kan Castle Campbell binnetree sonder dat die Laird of sy vrou hulle innooi nie. En niemand sal Saphira se geskenk (wat sy skaars kan onthou) ooit so in die gesig vat as om iemand wat haar beskermling dood wil hê in te nooi nie.
‘Dis okay, Saphira,’ sê Kael terwyl sy skildknaap sy mantel verwyder. ‘Ek gaan nie verloor nie.’
Sy sluk swaar soos hy van haar wegloop.
‘Die geveg sal tot die ridderskode wees. En tot die dood toe,’ sê Angus voor die geveg begin.
‘Verskoon tog,’ sê die ridder in die oudtydse wapenrusting. ‘Ek dink ons moet dinge ‘n bietjie interessanter maak.’
‘Wat het jy in gedagte?’ vra Angus.
‘As Kael verloor, verloor hy Saphira die Feetjie Hond. As hy wen, kry hy wat Saphira verloor het,’ sê die vreemdeling.
Saphira ril. Sy was reg. Wie ook al in die wapenrusting is, is nie van hierdie wêreld as hulle haar kan weg vat van Kael nie.
‘Ek stem in. Ek sal nie Saphira verloor nie,’ sê Kael ernstig. Vir almal daar klink dit soos arrogansie, maar Saphira sien die staal in sy oë.
‘Begin,’ sê Angus en sit terug.
Kael se opponent dra geen skild nie. Hy kap na Kael, asof hy ‘n boom probeer afkap. Hy skop ook uit na Kael en elmboog hom in die ribbes in die verbygang. Die vreemdeling het ook ‘n langer swaard wat pas by sy oudtydse wapenrusting.
Saphira is baie bekommerd. Kael se opponent is baie sterker as hy – omdat die vreemdeling toorkrag gebruik. Gelukkig is haar beskermling vinnig.
Maar nie vinnig genoeg nie. Sy sien oomblikke voordat dit gebeur hoe die swaard deur Kael gaan skeur. Sy gooi haarself tussen Kael en sy opponent se swaard. Dis haar taak om hom veilig te hou. Ten koste van alles.
‘Saphira!’ gil Kael.
Sy voel skaars die brand wat die swaardwond deur haar liggaam laat vloei.
Die ridder in die oudtydse wapenrusting laat sak sy swaard en hou dit voor hom in die grond geplant terwyl hy na hulle kyk. Skielik verander die wapenrusting in ‘n jong vrou in ‘n wit rok.
Saphira sidder. Sy herken die vrou: sy’s een van die skikgodinne. Hoekom een van die raadgewers van die Feë Koningin vir Kael sou uitdaag tot ‘n geveg weet sy nie, maar dit kan nie goed wees nie.
Die skikgodin hurk langs Saphira en steek haar hand uit. Onmiddelik gaan die brand uit haar lyf uit en haar wond verdwyn asof dit nooit daar was nie.
‘Hoekom?’ vra sy die skikgodin.
‘Ek het dinge heroorweeg. Kael het wel verloor, maar jy het jouself goed van jou taak as beskermer gekwyt. So ek gaan vir Kael iets gee wat ek dink hy nodig het.’
Saphira sidder weer. Die skikgodin sit haar hande weerskante van Kael se kop. Hy gil. En sak af op sy knieë.
‘Jy’t hom gebreek!’ gil Saphira.
‘Nonsens! Hy verwerk net sy nuwe kennis,’ sê die skikgodin.
Saphira kyk bekommerd na Kael. Sy oë beweeg vinnig asof hy lees. Sy lippe beweeg asof hy iets onhoorbaar prewel.
‘Wat het jy aan hom gedoen?’ vra Saphira met skaars ingehoue woede.
‘Net omdat jou herinneringe buite jou bereik is, beteken dit nie dat ons dit nie kan vind en met iemand van ons keuse deel nie,’ sê die skikgodin en die Feetjie Hond ril.
Sy besef dat haar beskermling nou meer weet oor haar as wat sy doen.
Dit gaan alles verander.
Saphira hou Kael bekommerd dop waar hy op die grond lê. Gelukkig het sy oë opgehou om rond te warts in sy kop. Hy lyk asof hy slaap.
Die skare is doodstil. Niemand beweeg nie.
Skielik sit Kael regop. Hy kyk rond. Wanneer hy Saphira gewaar, kyk hy na haar asof hy haar vir die eerste keer werklik sien.
‘Wel, my taak is verrig. Lekker dag verder,’ sê die skikgodin en loop weg.
‘Dis jou skuld dat Kael in gevaar was!’ gil Eolande toe sy by hulle uitkom. ‘Trap, Feetjie Hond! Trap!’
‘Dis nou genoeg,’ sê Kael soos hy op staan. ‘Ek verstaan dat jy bekommerd was, Ma. Maar Saphira het haar lewe gewaag om myne te red. Sy is my beskermer. En sy sal altyd ‘n tuiste hê in Castle Campbell.’
‘Ek dink nie ek moet dit wat ek nou weet, weet nie,’ sê hy so sag dat net Saphira kan hoor. ‘Daar moet ‘n manier wees om dit weg te neem.’
Die Feetjie Hond knik. Sy weet hoe, maar dit gaan gevaarlik wees. Veral omdat hulle die Feëryk sal moet binnegaan en die skikgodinne self moet gaan sien.

Saphira en Kael loop versigtig die grot binne. Dis yskoud. Selfs deur haar dik pels kan die Feetjie Hond die koue voel deurkruip – tot in haar diepste wese in.
Drie vrouens – een jonk, een middeljarig en een silwergrys oud – staan in die middel van die grot en kyk na hulle asof hulle vir Saphira en Kael verwag het. Die jong ene grynslag toe sy hulle sien.
‘Ons het gekom, o skikgodinne, om te vra dat u die geskenk wat u op my geplaas het sal wegneem,’ sê Kael in sy beleefdste toekomstige-Laird stem.
‘Regtig? Geniet jy nie ons guns nie?’ vra die middeljarige skikgodin.
‘Natuurlik nie! Hy’s ‘n kind!’ spoeg die oudste skikgodin met ‘n vuil kyk in Kael se rigting.
Saphira se hare staan skoon regop.
‘Dis nie dat ek dit nie waardeer nie, o wonderlike skikgodinne. Ek voel net dat ek Saphira se privaatheid skend deur dit als te weet. Veral wanneer meeste van die kennis haar ontwyk,’ paai Kael.
‘Pft! Saphira is veels te oud om histeries te raak oor wat ander van haar weet,’ sê die oudste skikgodin.
‘Buitendien, jy gaan eendag Laird wees van ‘n magtige clan. Jy het die wysheid nodig wat jou beskermer met baie bloed en trane gewerf het. Al kan sy nie meer baat daarby vind nie, kan jy,’ sê die middeljarige skikgodin.
‘Dis tyd vir julle om te gaan,’ sê die jongste skikgodin. ‘Voordat julle nie meer die grot kan verlaat nie.’
Saphira en Kael buig effens in die rigting van die skikgodinne en loop vinnig die grot uit.
‘Wel, ons het probeer,’ sê Kael toe hulle weer die son op hul gesigte kon voel.
‘Dankie,’ sê Saphira met gevoel.
‘Ek sal probeer om nie my kennis oor jou uit te buit nie,’ sê hy.
Die Feetjie Hond knik. Saam stap hulle terug deur die vallei wat die Feëryk van die mensewêreld skei.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Saphira
Mooi geskryf hou baie van dit!
1 jaar 8 maande 3 weke 5 dae 23 ure oud


Saphira en die Skikgodinne [Filio (Metta) liefde]
Ek voel soos Corina, sterkte met jou storie.
1 jaar 9 maande 6 dae 6 ure oud


skikgodinne
Ronel ek het die storie baie geniet
1 jaar 9 maande 1 week 1 dag 5 ure oud


Skikgodinne
Ek is 'n baie, baie onentosiastiese fiksie-leser vir baie redes, maar ek moet sê, jy het my aandag gehou tot by die einde van die hoofstuk. Dikwels gebruik fiksieskrywers te veel karakters met uitheemse name en titels en magte en toorgoed ~ toor maak mos alles maklik. Jy trap tot sover nie in daardie strik nie . . .
1 jaar 9 maande 1 week 1 dag 14 ure oud


Skikgodinne
Baie dankie vir jou pragtige bydrae tot die LIEFDE projek.
1 jaar 9 maande 1 week 1 dag 15 ure oud


Saphira en die Skikgodinne
Hierdie is storie sewentien van Die Avonture van Saphira die Feetjie Hond.
Nog avonture van Saphira die Feetjie Hond gaan volg.
1 jaar 9 maande 1 week 1 dag 17 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


    Geborg deur :

    Van ons ander lede

    drafstap deur my gemoed

    deur helna

    ek noem my bundel drafstap deur my gemoed, want ek wil hê jy as leser moet saam my daagliks voel wat ek voel en ek glo ek gaan jou aanraak...



    picture

    Kompetisies

    Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

    picture

    Nuusbriewe

    Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

    picture

    Winkel

    Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar