Jeugverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Dis ‘n pragtige herfs oggend. Die heide is oortrek met huidestruike wat vol in blom is. Selfs wit en pienk blomme kan tussen die oorweldigende pers gesien word. Dis Saphira se gunsteling deel van die jaar in die berglande. Alles ruik na huideblomme soos dit gebruik word om alledaagse dinge soos besems te maak en selfs op die vuur in die kamer gegooi word om alles lekker te laat ruik.
Die huiskabouters maak gewoonlik die huidestruike bymekaar. Maar die Feetjie Hond het besluit om Eolande ‘n bietjie uit die kasteel te kry. Dis al hoe lank gelede dat sy oorweldig was deur die toorkrag in die biblioteek, maar sy kasty haarself steeds daaroor.
Sy kyk na haar beskermling wat vanoggend ‘n rok en mantel aan het wat haar soos ‘n heideblommetjie laat lyk. Die swart-en-bruin hond kan die hartseer en verlange in die jong vrou se silwer oë sien. Sy’s al lank bekommerd oor Eolande wat geen vriende het nie. En sy weet die half-Feetjie dagdroom oor Cian; dié dat sy so wegkwyn noudat hy weer terug Feërie toe is.
Saphira sug. Dis een romanse wat nooit sal realiseer nie. Nie net omdat hulle in twee verskillende wêrelde leef nie, maar Cian is toegewyd aan die Feë Koningin baie soos wat Saphira aan Eolande is. Daar is net nie tyd vir enige ander verhoudings nie.
‘Kyk! Wat is dit, Saphira?’ vra Eolande bekommerd.
Die Feëtjie Hond kyk stip na waar haar beskermling beduie.
‘Dis ‘n jong man.’ Sy snuif die lug. ‘Hy’s beseer en bewusteloos.’ Sy kyk rond, maar hoor en sien niemand anders nie.
Hulle gaan vinnig na hom toe. Saphira is geskok om sy toestand te sien. Hy’s nog meer beseerd as wat sy kon ruik in die lug.
Die man dra ‘n kilt soos enige berglander met ‘n langmou hemp en kuitstewels. Watter kleur sy hemp en kilt moet wees, kan Saphira nie eens raai onder al die bloed en modder nie.
Sy kan wel sien dat hy nie veel ouer as Eolande is nie; nog veels te jonk om só dood te gaan.
Eolande lyk verlore.
Saphira gebruik haar toorkrag en laat hom deur die lug sweef.
‘Kan jy hom help?’ vra Eolande.
‘Nee. Maar die huiskabouters kan.’
Hulle beweeg vinnig deur die heide terug na die kasteel in die berg. Hulle beweeg nie so vinnig soos wat Saphira kan nie, maar hulle is baie vinniger as ‘n gewone mens. Dit bekommer die Feëtjie Hond dat Eolande se Feë-erfenis so sterk na vore kom na die biblioteek insident. Nie omdat sy duidelik magiese kragte het nie, maar omdat sy nie eens besef dat sy dit gebruik nie. Dit sal dit onmoontlik maak om vriendskap met normale mense te hê as sy nie kan weg steek dat sy spesiaal is nie. Mense hou nie van enigiets vreemd nie. Dis juis daardie simpel houding wat na Eolande se ma se dood gelei het.
‘Kyk net wat dra die hond die huis in,’ sê Jade op ‘n sangerige toon. Die kat spring van die trappe af en snuif die jong man wat nog bewusteloos is. ‘Hy’s nie van hier nie. Defnitief ver van die huis af.’
‘Kabouters!’ bulder Saphira.
Dadelik verskyn ‘n dosyn huiskabouters.
‘Vat hom na ‘n gastekamer en versorg hom. Ek’s seker julle kan hom genees.’
Hulle knik bang en vat die jong krygsman weg. Eolande volg hulle bekommerd.
‘Dink jy dis ‘n goeie idee?’ vra Jade terwyl hulle die huiskabouters agterna kyk.
‘Nie ‘n idee nie.’

Vir dae sien Saphira net vir Eolande wanneer sy haar gaan soek in die siekekamer. Dit het ‘n obsessie by haar beskermling geword om die jong man gesond te kry.
Aan die een kant is Saphira bly: dit het Eolande iets gegee om te doen anders as om oor haar eie sondes en Cian te dink. Aan die ander kant, kan dit haar vreeslik seer maak wanneer die man gesond word en weer weggaan.
Die Feëtjie Hond staan nog in die deur en kyk na die besorgde uitdrukking op haar beskermling se gesig, toe die man in die bed kreun.
Sy tree die kamer binne.
Die donkerkop man maak sy blou oë oop. Saphira kan die wonder daarin gewaar toe hy Eolande bo hom sien.
‘Hoe voel jy?’
‘Beter noudat ek weet dat jy oor my waak.’
Eolande bloos.
‘Wat is jou naam?’ vra hy.
‘Eolande MacKeltar. Jy is in my kasteel.’
Hy knik. Saphira sien hoe hy weer ontspan.
‘Wie is jy?’
‘Angus Campbell.’
‘Word gesond, Angus Campbell,’ sê Eolande sag soos hy weer aan die slaap raak.
Saphira wil lag. ‘n Paar jaar terug het sy gesê dat Eolande die pragtige blou en groen rokke kan dra wanneer sy met ‘n Campbell trou. Hulle het albei geweet dis onwaarskynlik: die Campbells woon te ver weg.
Die Feetjie Hond en haar beskermling kyk vir mekaar. Dis asof hulle aan presies dieselfde gesprek gedink het. En hier is ‘n Campbell nou in hulle kasteel.
Eolande kyk grootoog weg.

‘Wat dink jy so diep?’ vra Jade toe Saphira die biblioteek instap wat die dwergies nuut gebou het in die kasteelmuur. Die son skyn helder deur die glas ruite so hoog teen die dak.
‘Glo jy aan toeval?’
‘Ek’s ‘n Feetjie Kat. Ek skép toeval.’
‘Natuurlik,’ sê Saphira en rol haar oë.
‘Hoekom vra jy?’
Saphira verduidelik die gesprek van so lank gelede en die jong man wat toevallig by hulle uitgekom het.
‘Dis meer as net toeval,’ sê Jade en spring bo-op die naaste boekrak. ‘Ek haat dit om te sê, maar ek het hond se gedagte. Ek gaan ‘n bietjie rondsnuf daar buite en sien wat ek kan vind.’
Die swart kat verdwyn en Saphira is alleen in die biblioteek wat maar min boeke het.

‘Ek hoor hy’s op,’ sê Saphira vir Eolande ‘n paar dae later in die kombuis.
‘Ja. Die huiskabouters sê dis tyd vir hom om weer te beweeg.’
‘Weet jy al hoe hy hier opgedaag het?’
‘Nee.’ Eolande kyk weg.
‘Dan’s dit tyd dat ons praat.’
‘Wag!’
‘Wat?’ vra Saphira by die deur.
‘Wat as hy nie van Feë hou nie?’
‘Dan hoort hy nie hier nie.’
Eolande knik en volg die Feetjie Hond stom die kombuis uit.
‘Tyd om vrae te beantwoord,’ sê Saphira toe sy die kamer in stap sonder seremonie.
Angus se oë rek verbaas. ‘Jy’s ‘n Feetjie Hond,’ sê hy sag.
‘Mooi. So hoe is jy beseer en waarom het ons jou naby die Loch Ness gekry?’
‘Juis omdat ek weet oor Feë,’ sê hy en sit op die bed met ‘n sagte kreun.
‘Verduidelik.’
‘Ek het nie ‘n probleem met die Feë nie. Dwaalligte het my gereeld vergesel wanneer ek deur die woud gedwaal het as seun. My familie, darenteen, is gekant teen als wat net lyk of dit bonatuurlik is.’
‘Hulle het jou beseer?’ vra Eolande sag.
‘Ja.’
‘Hy was nie alleen nie. As hy gewag het, kon ons saam met hom gevlug het,’ sê ‘n man in die deur.
Saphira draai nie eens om nie. Sy’t geweet die oomblik toe die groepie mans saam met Jade die kasteel binne gestap het.
‘Hamish!’ sê Angus verbaas van die bed.
‘Ons soek jou al vir dae!’
‘Om verder te baklei?’ vra Eolande kwaai.
Saphira is aangenaam verbaas.
‘Nee,’ sê Hamish. ‘Om seker te maak hy oorleef sy ballingskap.’
‘Wel, dan moet ons dit vier,’ sê Jade. ‘Ek sal die huiskabouters kry om te kook.’ Sy trippel weg asof sy ‘n hele emmer room gekry het.
‘Toe, dan wys ek julle na die gaste kamers,’ sê Eolande.
Saphira loop ‘n entjie agter hulle en hou die ses nuwe gaste dop. Hulle lyk nes Angus gelyk het toe sy hom gevind het, net minder bloed en modder. Hulle gaan eers behoorlik skoon moet kom as hulle saam met haar en Eolande wil eet. Sy kyk dieper na die krygers en glimlag. As hulle werklik nie gepla is deur Feë nie, kan hulle gerus bly.

Die fees begin lank voor sononder. Wat baie sê met die dae wat korter is. Die geselskapsaal is gevul met die reuk van die verskillende disse wat die huiskabouters gemaak het. Saphira dink nie hulle sou alles gaar gehad het as dit nie vir toorkrag was nie.
Die Feetjie Hond het diep na elke krygsman se hart geluister en glo dat hulle gelukkig tussen die Feë in Eolande se kasteel kan woon. Sy dink net dat dit dalk jare sal vat teen die slakke-pas wat Angus en Eolande beweeg.
Saphira sien hoe Angus en Eolande vir mekaar kyk wanneer hulle dink niemand sien hulle nie. Sy sien ook die blos op haar beskermling se wange.
Sy weet ook dat dit jare gaan vat voordat enige van die twee iets meer sal doen as kyk. Angus het niks om vir Eolande te bied nie: hy’t geen familie, geen huis. En dit sal maak dat hy nooit haar hand sal vra nie. Eolande se Feë-kant sal haar weer keer om meer as net vriende met Angus te wees.
Tensy… Saphira skud haar kop. Sy begin soos ‘n kat te dink. Aan die ander kant… ‘n Klein stoot in die regte rigting kan nie skade doen nie. Met ‘n slinkse glimlag, stuur sy ‘n bietjie towerkrag hulle rigting. Dadelik is hulle gemakliker by mekaar.
Een van die krygers wat saam met Hamish daar aangekom het, begin op sy doedelsak te speel. Die huiskabouters word deel van die fees deur hul Feërie-instrumente deel van die kryger se lied te maak.
Eolande en Angus dans vrolik.
Saphira glimlag breed.
Voor die aand nog verby is, vier almal daar die verlowing van Angus en Eolande.
‘Veels geluk!’ sê Hamish, beker gelig na die gelukkige paartjie. Almal daar lig ook hul bekers.
‘Julle is almal baie welkom om hier te kom woon in die kasteel,’ sê Eolande.
Almal juig en die feesviering gaan voort.

Die volgende oggend verlaat Hamish en die ander die kasteel om al Angus se vriende op te spoor om die komende bruilof te vier. En om ander te gaan haal wat in die kasteel hoort: soos Hamish se vrou.
‘Dink jy my pa sal kom?’ vra Eolande sag terwyl sy en Saphira kyk of haar blou rok of haar groen rok ‘n goeie trourok sal maak.
Die twee rokke het haar beskermling laat maak vir die halfeeufees ‘n paar jaar terug wat op tragedie uitgeloop het. Sy hoop dat dit nie ‘n slegte teken is nie; hulle het nodig om hierdie rokke te gebruik want daar is nie tyd om nuwes te maak as hulle voor die herfs nagewening wil trou nie.
‘Nooi hom. Die ergste wat hy kan doen is om nie te kom nie,’ sê Saphira en kyk weg van die twee edelsteenkleurige rokke.
‘Jy dink nie hy sal Angus beseer of iets nie?’
‘Van die oomblik dat julle verloof geraak het, is Angus ook onder my beskerming.’
Eolande kink. ‘Waar is Jade?’
Saphira grom sag. ‘Die kat is besig met wat katte die beste doen: kattekwaad.’
‘Hoe bedoel jy?’
‘Sy versprei die woord dat jy gaan trou. So hoe vinniger jy jou pa laat weet, hoe beter.’

Die geselskapsaal is uitgevat met huideblommetjies en ‘n paar guirlandes met blomme wat net van Feërie kon kom. Tafels staan reg vir die bruiloffees vir ingeval dit sou begin reën. Hulle gaan die hele affêre buite hou op die heide.
Saphira verlaat die saal. Wat sy gevoel het is nie daar nie.
Sy loop uit, deur die verlate kasteelmuur, na die heide. Al die gaste is klaar bymekaar onder die spesiale blom boom wat pixies laat groei het vir die seremonie. Die Feetjie Hond kan die soet reuk van die wit blommetjies van die kasteel af ruik.
Van heinde en verre het Angus se vriende gekom om saam deel te wees van sy troue met Eolande.
Feë wat Saphira nooit verwag het nie, maak ook tyd om die bruilof by te woon. Soos Foalan MacKeltar – Eolande se pa. Hy en sy Galno gevolg dra hul beste kilts met leerstewels wat blink in die son. Selfs Cian staan in die skadu’s, waar Saphira seker is dat niemand behalwe sy en Jade hom sal raaksien nie. Sy skud haar kop.
Angus en sy krygers dra leerbroeke, wit hemde en hul wol kilts soos serpe. Hul lang hare is gevleg en die wat baarde het, het dit kort gesny vir die geleentheid. Die bruidegom is skoon geskeer.
Die huiskabouters gooi trangerig bomme op die paadjie waarop Eolande na haar bruidegom gaan loop.
Al die Feë gebruik betowering om hul ware voorkoms te versteek. Almal weet dat mense moet vergeet dat hulle werklik bestaan.
Die teenwoordigheid wat sy gevoel het is ook nie hier nie. Sy loop verder af, na Loch Ness. En vind wat sy gesoek het.
Amber.
Die koninging van die Feetjie Honde staan op die oewer van die meer.
‘Suster,’ groet sy Saphira met ‘n breë glimlag.
‘Suster,’ groet die Feetjie Hond met die wit vlek op haar bors versigtig.
‘Ontspan. Ek’s hier sonder dat die ander weet. Ek’t die tonnel gebruik.’
Saphira kan skaars glo dat haar suster die reëls so sal ignoreer en die tonnel wat in die biblioteek gevorm het sal gebruik.
‘Ek’t jou gemis,’ sê die koninging van die Feetjie Honde ernstig.
‘En ek jou.’
‘Geluk met jou beskermling se verlowing. Wel,’ sy lag sag, ‘troue, moet ek sê.’
‘Dankie.’
‘Jy weet jy’s vry om te doen wat jy wil en gaan waar jy wil totdat sy kinders het? Haar man sal haar van nou af beskerm.’ Amber kyk nuuskierig na haar suster. ‘Wat gaan jy doen?’
‘Bly. Ek’t geen begeerte om weer die mense-wêreld te verken nie en amptelik mag ek nie in Feërie wees nie.’
Amber knik. ‘Ek moet gaan.’
Saphira draai om en weet dat haar suster klaar verdwyn het. Sy sug en loop op na waar die seremonie gaan plaasvind.
Eolande kom uit die kasteel aangeloop op die paadjie wat die huiskabouters met soveel sorg vol blomme gegooi het. Sy dra die saffierblou rok wat sy soveel jaar terug al laat maak het. Tog het sy dit verander. Lang, slepende moue van silwer-wit sy en fyn pante van dieselfde materiaal binne die blou wat slegs gesien word wanneer sy loop maak ‘n knop in Saphira se keel sit. Haar hare hang los met ‘n kroon van blomme – eg en juweel – wat keer dat die sagte wind haar hare deurmekaar waai.
Dwaalligte knetter om haar. Huiskabouters met trane wat rol en pixies wat giggel trippel om haar. Ander Feë, in ongemaklike mensgewaad, speel verskeie musiekinstrumente wat trane na die gaste se oë bring.
‘n Ou man, wat almal maar net ken as die bibliotekaris, lei die seremonie.

Na die seremonie gaan almal na die paviljoen wat gebou is by die veld waar al die dag se pret aktiwiteite gaan plaas vind. Verskeie tente en tafels staan agter dit, gevul met kos wat se reuke deur die lug trek en almal se mae laat grom. Voordat die fees kan begin, laat Foalan MacKeltar die bruid en bruidegom voor almal staan.
‘Van vandag af, is my dogter Eolande Campbell. Haar man is nou Laird Campbell. En hierdie kasteel is van nou af Castle Campbell. So is dit geskryf, so word dit gedoen.’
Silwer drade word magies deur al die Campbell kilts geweef. Dis ‘n teken dat die twee huise werklik een geword het.
Almal juig.
En die fees begin met doedelsak musiek.
Teen die tyd wat almal hulself trommel dik geëet het, gaan neem hulle deel aan al die pret aktiwiteite.
Party kyk hoe ver hulle boomstompe kan gooi. Ander neem deel aan kompetisies waar hulle hul vernuf met of die swaard of met pyl en boog wys. Selfs roei kompetisies op Loch Ness word hard toegejuig. Natuurlik, met so baie emosies wat hardloop is daar dié wat uiting daaraan moet gee op die enigste manier wat hulle weet hoe.
Saphira skud haar kop toe die eerste vuishou land. Net die Galno sal ‘n geveg begin – en geniet – by ‘n troue. En hulle is nie alleen nie: Angus se krygers en van die bure neem deel aan die mêlée. ‘n Groep doedel vrolik asof dit deel is van die dag se vermaak.
Niemand breek hulle op nie. Die Feetjie Hond kan skaars glo dat die mense en Feë so optree.
‘Vir lank was dit net ons, Saphira,’ sê Eolande met lag in haar stem, ‘ons is nie gewoond aan, a,’ sy soek die regte woord, ‘speel soos hulle nie.’
Hulle twee loop weg van die veld waar die klomp mans stoei en met hul vuiste praat en gaan na een van die tente waar al die eetgoed soet ruik.
Jade sluit by hulle aan en gaps sommer twee lekkernye op ‘n slag.
Kinders en honde jaag mekaar.
‘Hoekom speel jy nie saam nie, Saphira?’ vra Jade die Feetjie Hond met ‘n grinnik. Saphira gluur net vir haar.
Dis duidelik dat almal die dag se feesaktiwiteite geniet. Selfs die bure wat dit bywoon. En veral die Galno wat deelneem aan alles.
Eolande is verskriklik gelukkig met al die Feë en mense om haar.
En dit maak dit als vir Saphira die moeite werd.
‘Ek weet wat jy gedoen het,’ sê Jade waar sy en Saphira op die kasteel se dak sit en afkyk na die joligheid.
‘Ek weet nie waarvan jy praat nie,’ sê Saphira onskuldig.
Sy kan nie die lag inhou nie en hulle altwee skater terwyl hulle almal dophou wat die kasteel en die gronde om dit vul.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Saphira en die Toevallige Liefde
Hierdie is storie elf van Die Avonture van Saphira die Feetjie Hond.
Nog avonture van Saphira die Feetjie Hond gaan volg.
4 jaar 2 maande 1 dag 10 ure oud



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar