Jeugverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Die swart-en-bruin Feetjie Hond haal diep asem soos sy die koel woud binne tree. Dit het ‘n daaglikse oefening geword om woud toe te kom. As die lus eers vir Eolande beetkry, moet Saphira maar gaan jag.
Nie dat sy omgee nie. Haar beskermling is swanger en het ‘n gesonde aptyt. As sy moet wag vir enigiemand anders om te jag waarvoor sy lus is, dan gaan sy lank wag. Saphira darenteen kan einge prooi uitsnuf, vang en kasteel toe vat binne die uur. Al wat die honger vrou dan voor moet wag is vir die kos om voorberei te word.
Die Feetjie Hond glimlag. Sy’t ‘n lekker lewe.
Sy snuif die lug en vind waarvoor sy gestuur is: ‘n haas is nie te ver van waar sy is nie. Hierdie jagtog gaan nog vinniger as die ander oor wees.
Sy beweeg geruisloos deur die woud. Al die gewone reuke wat in die bos hoort het ‘n kalmerende uitwerking op haar. Sy kan amper okay daarmee wees dat sy ‘n nuwe beskermling eersdaags gaan hê.
Totdat sy iets ruik wat nie in hierdie woud hoort nie. Bloureën. Die blommetjies kom nie natuurlik daar voor nie. Maar sy weet van iemand wat hulle konstant in blom om haar het: die Koningin van alle Feë.
‘n Ontstelde grom laat haar koers kies na die oorsprong van die reuk. Steeds geruisloos kom sy af op haar nuwe prooi. Die rooikop lyk verward soos sy om haar heen kyk. Verder lyk sy presies dieselfde as wat sy gelyk het toe Saphira haar laas as ‘n jong Feetjie Hond gesien het.
Woede bou in haar op. Hierdie Fee het haar ma se dood veroorsaak. Sonder om mooi daaroor te dink, spring sy agter die onderbos uit en laat die Feë Koningin skrik.
‘Ken ek jou?’ vra die rooikop, haar rok ritsel oor die grond soos sy draai.
‘Jy herken my nie?’ vra Saphira oorbluf. Vir jare nou kan sy die vrou voor haar se gesig nie uit haar geestesoog kry nie – ‘n vrou wat haar nie eens ken nie. ‘Natuurlik nie! Jy’t nie genoeg omgegee om self jou medelye met ons te kom deel nadat jy ons ma se dood veroorsaak het nie. Waarom ek gedink het dat dit jou soveel moes pla soos vir my, weet ek nie.’
Herkenning vat vlam in die Koningin se blou oë.
‘Jy’s Saphira, suster van die nuwe koningin van die Feetjie Honde.’
Hulle kyk vir mekaar.
‘Jy moet weet dat ek nooit kon dink dat jou ma se dood die gevolg sou wees van my bevel nie.’
‘Jy’t geweet in hoeveel gevaar daardie Feë was en tog het jy net één Feetjie Hond gestuur! Selfs die beste is sterker in ‘n trop. Jy het besluit om haar alleen te stuur – jou bevel het haar dood veroorsaak.’
Die Feë Koningin kyk hartseer na Saphira. Die Feetjie Hond hyg na haar asem in ontseltenis.
‘Glo my wanneer ek sê ek’s jammer sy’s dood. Agate was ‘n goeie vriendin.’
Saphira gluur vir die Feë Koningin. Dit het haar jare gevat om hierdie geleentheid te kry. En nou kan sy nie eens haar ma wreek nie. Cian het haar laat belowe dat sy nie die Feë Koningin te lyf sal gaan nie.
Omgekrap, draai sy om en loop weg. Sy hoor hoe die rooikop vrou hard sug voordat sy in die niet verdwyn.

Ontstig dwaal Saphira deur die woud. Sy weet sy het al wat dier is verskrik met haar woordewisseling met die Feë Koningin. Sy maak ook nie dinge beter deur so te marsjeer deur die woud nie.
Maar dit maak nie saak nie. Eolande kan ‘n bietjie wag. Hierdie woede, hierdie hartseer, moet eers ‘n behoorlike uitlaat kry voordat sy kan terugkeer na die kasteel in die berg.
‘n Bekoorlike lied lok haar om die oorsprong daarvan te soek. Die lied verdring alle gedagtes. Saphira het ‘n oorweldigende nood om die oorsprong van die note te vind wat haar so lig en vry laat voel.
In ‘n opening in die woud sien sy hulle dans in ‘n sirkel. Die Elfies speel op verskeie fluite en snaarinstrumente terwyl hulle lag en dans.
Die Feetjie Hond kan haarself nie verhelp nie – al sê ‘n lastige stemmetjie in haar kop ook wat – sy moet saam met hulle gaan dans. Die lied pols deur haar bloed en sy sluit aan by die spierwit Feë met hul punterige ore en katoë.
Die stem in haar kop sê dis nie reg nie, sy moet ophou luister en vlug. Maar hoe meer sy dans, hoe sagter word die stem totdat die heeltemal weggaan en Saphira nie kan onthou hoekom sy bekommerd was nie.

Saphira word wakker in die donker woud. Sy’s alleen. Die deurdringende reën het haar wakker gemaak. Sy kan sien dat baie voete die gras en onderbos vertrap het. Sy sit regop.
Dadelik flits beelde deur haar kop, maar sy kan nie aan een lank genoeg vashou om dit te probeer herken nie.
Haar hele lyf bewe en haar kop pyn. Sy weet sy moet terug na die kasteel in die berg.
Sy haal diep asem en staan op. Haar pote klop en sy kan die bloed ruik.
Nog beelde flits deur haar kop – vinniger as vroeër – maar sy doen haar bes om dit te ignoreer sodat sy uit die woud kan kom.
Dit voel asof sy deur die woud dwaal; alles lyk vir haar dieselfde. Hoe meer beelde deur haar kop flits, hoe seerder word haar kop. Trane skiet in haar oë in.
Bewend sak sy ineen net buite die woud. Die reën hou aan om neer te sif op haar. Sy’t nie die energie om verder te beweeg nie.
Die pyn is so erg dat sy haar bewussyn verloor.

‘Dis al wat sy onthou,’ sê die Feë Koningin,
Die gesigte van Saphira se geliefdes is vol kommer. Sy verstaan dit, sy is ook bekommerd oor die Feetjie Hond. Alles wat Saphira gevoel het, het deurgesypel na die Feë Koningin soos sy haar gedagtes gelees het om uit te vind wat met haar gebeur het.
Sy hoop dat dit nie te laat is om haar te red nie. Sy’t gehoop dat toe sy haar buite die woud gevind het en na Castle Campbell toe gebring het die ergste verby was. Maar wat die Feetjie Hond oorgekom het is veel erger as wat sy gedink het.
‘Wat, presies, het met haar gebeur?’ vra Eolande.
‘Saphira het my gered,’ sê die Feë Koningin. ‘Die Donker Feë wat sy ontmoet het, het eintlik vir my gewag. Dis duidelik dat die toorlied vir iemand sterk bedoel was. Voordat Saphira my gevind het en gekonfronteer het, was ek in ‘n dwaal. Eers terug in my eie reik, het ek besef wat gebeur het. Ek’t dadelik teruggegaan om Saphira te red. Maar ek was te laat.’ Sy kyk hulpeloos na die Feetjie Hond wat uitgestrek lê op ‘n tafel in die biblioteek.
Die biblioteek onder die berg maak die Feë Koningin ongemaklik. Sy weet dis juis alles wat haar ongemaklik maak wat dit ideaal maak om Saphira te red. Die sterk band met Feërie deur die tonnel wat na Amber en die res van die Feetjie Honde lei pols met ‘n sagte lig agter die skildery oor hierdie magtige Feë. Die Koningin ril soos die toorkrag van die biblioteek oor haar rol – toorkrag wat dit het na ‘n eenhoring se dood. Sy kyk rond om haar aandag af te lei van alles wat sy voel, maar die boeke en ander kennisryke goed in die biblioteek het hul eie lig. Die donker voelers van die mense-wêreld trek-trek aan haar.
Die biblioteek is uniek en absoluut perfek vir wat hulle nou moet doen – dit bind Saphira aan alles wat sy is.
‘Jy’s seker jy’s okay hier?’ vra Cian.
Die Feë Koningin kyk verbaas op. Sy’t nie gedink dis so opvallend dat sy ongemaklik daar is nie. Sy sug toe sy besef hy’t vir Eolande die vraag gevra. Dit krap haar ‘n bietjie om, maar sy ignoreer dit.
Die half-Fee knik. ‘Ek sal waag om weer soos ‘n feeks op te tree as dit help om Saphira te red.’
Cian laat vier toue – een goud, een silwer, een brons en een van saffier – om Saphira en die tafel waarop sy is bind. Hy plaas ‘n swart-en-bruin kers op elke hoek van die tafel.
‘Hou jou hand oor haar hart, Eolande. Jy gaan haar emosionele anker wees,’ sê Cian.
‘Ek verstaan nie,’ sê die half-Fee met trane in haar silwer oë.
‘Die Elfies het met haar kop gesmokkel. Om haar van waansin en dood te red, moet ons haar herinneringe terug op hul plek sit. Maar dit gaan baie toorkrag vat. So jy moet haar aan haar emosies anker. Sy’s lief vir jou, al sê sy dit nie sommer nie,’ verduidelik Amber.
‘Ek sal lei – stuur net jul krag na my,’ sê die Feë Koningin. Sy weet dat van Saphira se herinneringe óf verander óf verwyder moet word afhangende van hoe ver die infeksie gesprei het. Dis gevaarlik, dit kan Saphira verander in maniere wat nie voorspel kan word nie, maar dis al manier om haar te red.
Die ander knik en hulle begin.
Die kerse vat vlam soos energie na die Feë Koningin pols en sy deur die Feetjie Hond op die tafel se herinneringe sif en doen wat sy moet.
‘n Groot skildery vorm op die oop muur van die biblioteek wat dieper in die berg in lei. Op die skildery dans spierwit Feë met punterige ore en katoë in ‘n sirkel. Hulle speel fluite en snaarinstrumente. ‘n Feetjie Hond wat nes Saphira lyk, dans saam met hulle.
Die Feë Koningin ril. Hoekom die biblioteek voel dis nodig om dit te dokumenteer weet sy nie. Sy kyk weg en gaan aan met haar operasie op die Feetjie Hond se herinneringe.

Weerlig verlig die kamer vir ‘n oomblik. Saphira slaap nog steeds. Sy lê op haar bed in haar kamer. Sy kan nie weer die biblioteek ingaan vir baie lank nie – haar brein moet eers genees na alles wat aan dit gedoen is. Die toorkrag in biblioteek kan dalk die wonde oopkrap.
Die reën het nog glad nie opgehou sedert dit die vorige dag begin het nie. Die Feë Koningin behoort te weet: sy’t nog glad nie geslaap nie. Sy’s nog die hele tyd by Saphira.
Dit was uitputtende werk om die toorlied se effekte te probeer terugdraai, maar sy gaan nie rus totdat sy weet dat die Feetjie Hond wat haar gered het okay is nie. Sy lees Saphira se gedagtes om seker te maak dat alles nog goed gaan met die genesing.
Die weerlig flits so helder dat die vertrek al sy kleur verloor vir ‘n oomblik.
Saphira maak haar oë oop. Sy sien die Feë Koningin wat langs haar bed sit en kan dit nie verstaan nie. Hoekom sal hulle so naby aan mekaar wees? Hulle kan mekaar dan nie veel nie.
Sy ruik iets en dit vat haar gedagtes weg van die vreemde omstandighede. Sy’s in die mense-wêreld. Hoekom? Saphira maak haar oë toe en konsentreer. O-ja. Sy doen die geswore diens van ‘n Feetjie Hond – al kan sy Feë, half-Feë en mense nie verdra nie.
Sy draai haar rug op die Feë Koningin en slaap verder.
Die Koningin van alle Feë hou haar hand voor haar mond om alle klank terug te hou wat sy sou gemaak het. Iets het lelik skeef geloop toe hulle Saphira probeer red het. Die Feetjie Hond is onherroeplik verander. Trane loop sag oor die Feë Koningin se wange soos sy treur oor haar vriendin se kind.

Saphira loop onvergenoegd deur die berglande. Sy weet wat met haar gebeur het. Alhoewel die storie wat Eolande haar vertel het nie heeltemal reg sit met haar nie.
Hoe kon iemand die kasteel gevloek het, talle dood laat val het én haar herinneringe gesteel het sonder om gevang te word? En die deel waar die biblioteek se towerkrag al die vloek se krag opgesuig en opgesluit het klink net te goed om waar te wees.
Sy voel bitter oor dit als. Dit laat haar koud optree teenoor die swanger Eolande wat sy skaars herinneringe oor het ten spyte daarvan dat sy haar beskermer vir meeste van haar jong lewe was. Sy’s ook onverdraagsaam teenoor die ander Feë in Castle Campbell.
Dit maak dat almal haar begin vrees. En nie net omdat sy ‘n Feetjie Hond is nie. Die deel van haar wat aanvaar wil word, maak dat sy hard en gemeen word.
Sy gluur af na die kasteel in die berg. Sy’t iets daar verloor wat sy nooit weer gaan terugkry nie. Sy is nie eens seker wat sy als verloor het saam met haar herinneringe nie.
Maar sy’s seker dat die aanhoudende reën onnatuurlik is. Groen weerlig maak strepe oor die lug en donderweer weergalm deur die berge soos Saphira na Castle Campbell hardloop opsoek na regte antwoorde.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Z
As jy my aandag so vasgevang het met hierdie storie dink net wat jy met 'n kind kan doen.
Jy het my gebind van begin tot einde.
4 jaar 5 maande 1 week 1 dag 10 ure oud


saphira
Ek ditto vir Anze, jy het hier 'n wenner beet. Dankie vir die deel.
4 jaar 5 maande 2 weke 3 dae 18 ure oud


Saphira en die toorlied
Lekker gelees.. jy moet dit regtig oorweeg om jou Saphira reeks in n boekie uit te gee!
4 jaar 5 maande 3 weke 2 dae 15 ure oud


Saphira en die Toorlied
Hierdie is storie veertien van Die Avonture van Saphira die Feetjie Hond.
Nog avonture van Saphira die Feetjie Hond gaan volg.
4 jaar 5 maande 3 weke 3 dae 10 ure oud



Stromateia: 'n Lappieskombers van Gedigte

deur Vesting

Op aandrang is die gedigte van Vesting wat op Woes gepubliseer is, in boekvorm uitgegee (A5, slapband, 28 pp). Navrae: 072 4078561



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar