Jeugverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Die swart-en-bruin Feëtjie Hond slaak ‘n sug van verligting toe hulle haar beskermling se kasteel binnestap. Eolande lyk vir haar uitgeput na hul rondswerwinge deur die berglande. Net Cian lyk asof hy nog verfris is. Maar dan, Saphira is nie seker watter tipe Fee hy is nie. Sy ken hom al vir maande en steeds weet sy nie veel van sy verlede nie. Tog, sy vertrou hom absoluut.
Hulle het skaars Eolande se kasteel binne getree toe word hulle omsingel deur die huiskabouters. Die klein Feëtjies kloek om hulle en maak seker dat selfs Cian ‘n warm bad en skoon klere kry voordat hulle hul tuiskom maal kan nuttig.
‘Ek het ‘n groot fout begaan,’ sê Saphira terwyl hulle eet. Sy weet nie eens wat die huiskabouters vir hulle gemaak het nie; alles proe soos saagsels.
Die klein huiskabouters skarrel om die tafel, elk met ‘n groot bak, bord of pot met ‘n ander dis. Hulle kompeteer saggies met mekaar om die drie wat aan tafel sit te bedien. Die houttafel blink onder die kerslig van die kandelaar. Saphira weet nie hoekom hulle in die hoofeetkamer moet eet nie. Hulle drie lyk maar na ‘n eensame groepie in die reuse vertrek met ‘n tafel wat maklik twee dosyn of meer mense by kan sit.
‘Wat bedoel jy?’ vra Eolande verbaas. Sy lyk verfris na haar bad. In die liggroen rok lyk sy ook nie meer so hartseer soos die laaste paar maande nie. Saphira weet die dood van haar ma is ‘n hartseer wat sy vir altyd saam met haar gaan dra. Maar die lewe gaan aan.
‘Omdat ek geen benul gehad het – of eens gestop en gevra het – wat die seeheks mee besig was nie, het ek amper die mense-wêreld vernietig in my haas om jou te red.’
‘Ek weet jy voel sleg daaroor, Saphira, maar dis gedane sake,’ sê Cian en eet verder.
Eolande kyk stil, haar oë groot met verbasing en nuuskierigheid, na Cian en Saphira.
‘Ek wil nooit weer myself in ‘n situasie bevind waar ek nie al die kante van ‘n saak kan sien nie.’
‘Dan stel ek voor jy los jou Feëtjie Hond mentaliteit en leer meer oor ander Feë en die verskillende soorte toorkragte wat in gebruik is,’ sê Cian terwyl hy ‘n huiskabouter toelaat om vir hom nog kos in te skep.
‘Sal jy my leer, asseblief?’ vra Saphira ernstig.
‘Ek? Sekerlik. Maar jy sal iemand anders ook moet kry. Iemand wat tussen ander Feë al gewoon het.’
Saphira eet in stilte verder.
‘Ek weet van iemand wat ons daarmee kan uithelp,’ sê Cian misterieus en eet sy kos sonder om weer op te kyk.

‘Waarnatoe gaan ons?’ vra Eolande vroeg die volgende oggend.
‘Na die enigste wese wat alles weet,’ antwoord Saphira terwyl sy wag dat haar beskermling haarself in ‘n mantel toewikkel.
‘Wie?’
‘Die Draak van die Caledoniese Woud,’ antwoord Cian.
‘’n Draak?’ vra Eolande opgewonde.
‘Ons sal iets moet saamvat om te ruil vir sy kennis,’ sê Saphira. ‘Wat versamel hy?’
‘Kennis. Gewoonlik in boek-vorm,’ antwoord Cian.
Saphira sug. Waar gaan hulle ‘n boek kry? Dis verskriklik raar. Daar’s spasie in hierdie kasteel vir ‘n biblioteek – daar’s klaar rakke en als – maar daar’s geen boeke nie.
‘Ontspan. Ek het gisteraand klaar iets gekry om dit te dek,’ sê Cian misterieus. ‘n Groot huidsak gaan met ‘n band oor sy bors en hang langs sy sy.
Hulle loop vinnig oor die heide na waar die woud begin. Mis klou nog aan alles so vroeg in die oggend. Saphira hoop dat Cian weet waarheen hy oppad is.
Die bome is oud – ouer as enigiets wat natuurlik in die mense-wêreld groei. Saphira weet instinktief dat dit die draak se towerkrag is wat deur die bome vloei. Al die onderbos, selfs die varings, het dorings. Saphira gluur vir die plante wat wil-wil uitreik na haar beskermling.
Eolande kyk rond in verwondering. Saphira kan haar nie blameer nie: die oerwoud is iets wonderliks en magies.
‘n Klomp bome groei dig teen mekaar en mos groei oor hulle. Selfs met haar ekstra skerp visie, kan Saphira nie die bome van mekaar onderskei nie. Hulle groei so hoog dat hulle die illusie skep dat hulle die hoogste wolke kan raak. Dis defnitief die draak se houplek.
‘Waar’s die ingang?’ vra Eolande.
‘Daar is nie een nie,’ sê Cian en haal iets uit die sak wat hy saamgebring het. ‘O, Draak van die Caledoniese Woud: ons is hier met ‘n groot versoek. Ons bring ‘n offering van kennis met die hoop dat jy ons kan help. Ek is Cian en met my is Saphira van die Feëtjie Honde.’
‘n Opening verskyn vir hulle om in te gaan. Cian knik vir hulle en loop voor.
Die draak is groen soos ‘n edelsteen. Hy het vier bene wat oortrek is met skerp skubbe en dorings. Hy het twee horings op sy kop. Sy vlerke lyk soos ‘n vlermuis s’n en eindig met twee skerp dorings op die tippe. Al wat die baie groen verbreek is die bruin-oranje oë wat intelligent vir Saphira dophou. Oë soos ‘n Feëtjie Hond s’n.
Eolande bly agter Saphira staan. Die Feëtjie Hond is bly dat haar beskermling haar opwinding in toom kan hou. Die draak ignoreer die feit dat hulle ‘n half-Fee in sy houplek gebring het.
Rakke, wat lyk of hulle uit die bome self groei, is vol boeke en boekrolle en perkamentrolle. Saphira het nog nooit so baie kennis saam gesien nie. Sy wens die biblioteek in Eolande se kasteel was nie so leeg soos dit op die oomblik was nie. Hier gaan die boeke ver op; ver verby wat die fakkels verlig; ver bo die draak se kop; seker tot by die dak wat in duister gehul is.
‘Dis goed om jou weer te sien, Cian,’ sê die draak met ‘n stem van gruis en vuur.
Saphira is nie verbaas dat die twee mekaar ken nie.
‘Dis goed om jou ook weer te sien.’ Hy grou in die sak wat hy nog die hele tyd saamdra.
Saphira kan die diervel ruik die oomblik wat Cian die perkamentrolle uit die huidsak haal. Nou verstaan sy hoekom hy die huidsak in die eerste plek gebruik het. Nie dat sy ‘n probleem daarmee het dat die vel van diere gebruik word om op geskryf te word of gedra word nie. Sy weet daar’s ander Feëtjie Honde wat wel ‘n probleem daarmee het: hulle voel hulself een met diere. Nie sy nie. Sy’s ‘n Feëtjie; maak nie saak in watter vorm sy is nie.
Die sak was vol perkamentrolle. Saphira wonder waar Cian dit gekry het en of iemand dit nie gaan mis nie.
‘Wat is dit?’ vra die draak nuuskierig.
‘Die kronieke van Feërie vir die laaste tweehonderd jaar. Die laaste inskrywing is gemaak net ná die mislukte halfeeufees,’ sê Cian.
‘Dis waardevolle kennis,’ sê die draak. Hy vat die perkamentrolle en plaas hulle op ‘n rak wat ooghoogte vir hom is. Hy draai na Saphira.
‘Wat presies wil jy van my hê, Feëtjie Hond?’ vra die draak.
‘Ek het nodig om alles omtrent ander Feë te leer. Ek het nodig om nie weer dieselfde fout te begaan nie.’
‘A,’ hy draai weg. Dit lyk asof hy die titels van sy boeke lees.
‘Cian het aangebied om my te leer. Maar hy sê sy kennis is nie genoeg nie,’ voeg sy by.
‘Jy kort ‘n kat,’ sê die draak.
‘Wat?’ Saphira verstaan nie. Katte en honde is vyande. Was altyd en sal altyd wees.
‘’n Feëtjie Kat om presies te wees. Hulle gaan orals. Meesal ongesiens. En hulle word oral verwelkom,’ sê die draak.
‘Ek dink nie dit gaan gebeur nie. Jy weet hoe my soort oor hulle voel. Ek sal uit my hondetrop verban word,’ sê Saphira sag.
‘Dink daaroor. Dis ‘n moeilike keuse,’ sê die draak. Oomblikke later verskyn ‘n berg boeke voor Saphira. ‘Tot dan, gebruik hierdie om jou te help.’
‘Hierdie boeke gaan die begin van ‘n wonderlike versameling wees,’ sê Eolande opgewonde. ‘Baie dankie, meneer draak,’ sê sy vir die reuse wese en maak ‘n kniebuiging.
‘Jy’s baie welkom, jongedame.’
Cian en Eolande tel al die boeke op. Van hulle vind hul pad in die huidsak wat Cian rondra.
‘Sterkte met jou keuse, Saphira,’ sê die draak.
‘Dankie. Vir alles.’
Hy buig sy kop en hulle verlaat sy houplek deur die ingang wat hulle vroëer gebruik het.

‘Waar het jy die perkamentrolle gekry?’ vra Saphira vir Cian oppad terug kasteel toe.
‘Ek het ‘n ruk terug al afskrifte van die oorspronklikes bestel. Daar’s Feë wat dit so presies oorskryf dat daar nie ‘n verskil van die oorspronkike gesien kan word nie.’
Saphira is verlig. Vir ‘n oomblik het sy gedink hy’t dit gesteel.
‘So, hoeveel afskrifte het jy laat maak?’ vra Eolande.
‘Daar’s ‘n stel in jou biblioteek vir jou,’ sê hy met ‘n skewe glimlag.
Eolande gil skril van opwinding. ‘Dankie!’
‘Solank ek dan en wan van jou biblioteek gebruik kan maak, sal ek soveel goed vir jou bymekaarmaak om daar te hou as wat ek kan.
‘Natuurlik!’
Vir die res van die pad terug na die kasteel is dit genadiglik stil. Cian is op sy hoede; Eolande is vertrengel in haar dagdrome; en Saphira moet besluit wat sy gaan doen.
‘Wat gaan jy doen?’ vra Eolande voordat hulle by die kasteel in gaan.
Saphira stop en kyk vir Eolande en Cian. Dis moeilik vir haar om te sê, maar sy’t die hele pad soontoe hard gedink.
‘Ek gaan ‘n Feëtjie Kat vir ‘n mentor aanskaf. Ken jy een wat dit sal doen, Cian?’
‘Ja. Ek sal onmiddelik vir haar ‘n boodskap stuur.’

Die swart kat sit op die eetkamertafel. Haar stert wip op en af. En haar grasgroen oë kyk stip vir Saphira.
Die huiskabouters het weggekruip die oomblik toe die Feëtjie Kat die kasteel se poort deurstap. Saphira blameer hulle nie: die kat laat haar kriewelrig voel.
‘Ek’s Jade. Cian sê jy’t my hulp nodig. Ek’s nie seker of ek dit glo nie. Maar ek’s nuuskierig.’
‘Van nuuskierigheid is die tronk vol en die kerk leeg. Ek’s seker daar’s ‘n meer gepaste gesegde wat praat van nuuskierige katte is dooie katte of iets.’
‘Mm. Maar ek’s ‘n Feëtjie Kat.’
Hulle kyk vir mekaar.
‘So – weet jy wat die verskille tussen die verskillende Feë se towerkragte en tradisies is? Op so ‘n manier wat nie eens Cian regtig weet nie?’ vra Eolande reguit.
Die kat kyk vir die half-mens meisie.
‘Natuurlik. Ek’s ‘n kat.’
‘Is jy bereid om jou kennis met Saphira te deel?’ vra Cian.
‘As sy bereid is om ‘n uitgeworpene van haar eie soort te wees,’ antwoord die Feëtjie Kat.
Saphira kan voel hoe opgewonde Eolande is. Dit het seker meer te daarmee te doen dat ‘n kat en ‘n hond in vrede kan saamwerk as wat dit te doen het met Saphira wat haar kennis gaan verryk.
‘Reg. Waar begin ons?’ vra die Feëtjie Hond.

Saphira skrik wakker. Slegs die vuur in die kaggel verlig die kamer wat sy al vir jare met Eolande deel. Iets het haar slaap versteur. Dit kan nie die huiskabouters wees nie: hulle het die hasepad gekies toe die Feëtjie Kat intrek.
Sy spring op. Iemand is oppad in die kasteel in.
‘Bly waar jy is, Eolande,’ sê sy toe haar beskermling begin opstaan.
‘Jade!’ roep sy af in die gang.
Oomblikke later daag die kat op.
‘Pas haar op.’
‘Natuurlik,’ sê die kat ernstig en verdwyn die kamer in.
Saphira beweeg vinnig deur die kasteel na die geselskapsaal waar sy voel Cian en die onverwagte gas is.
‘Ruby. Wat doen jy hier?’ vra sy die Feëtjie Hond wat vir Cian staan en gluur.
‘Die koningin van alle Feëtjie Honde het my gestuur,’ antwoord die Feëtjie Hond belangrik.
‘En?’ vra Saphira verveeld.
Ruby vernou haar oë. ‘Skokkende gerugte loop deur Feërie.’
‘Regtig?’
‘Ja. Dat jy – ‘n Feëtjie Hond van die vorstehuis – ‘n Feëtjie Kat bevriend het.’
‘En?’
‘Dis waar?’ vra die ander Feëtjie Hond geskok.
‘Om ons werk in die mense-wêreld te doen – rég te doen – het ek meer kennis nodig. Dis iets waarmee die kat kan help.’
‘Ongehoord!’
‘Maar nodig,’ sê Cian.
‘Jy ondersteun dit?’
‘Absoluut. Ek self leer vir Saphira alles wat ek weet. Die Draak van die Caledoniese Woud is ook hiervoor.’
Verskeie emosies hardloop or die gewoonlik geslote gesig van die ander Feëtjie Hond. Saphira kan haar amper jammer kry.
‘Jy weet jou keuse los ons koningin sonder een?’ sê-vra Ruby.
‘Ek weet,’ sê Saphira sag.
‘As die stem van die Feëtjie Hond koningin, verban ek jou – Saphira – van die Feëtjie Hond trop. Van vandag af is jy nie meer welkom tussen ander Feëtjie Honde nie. Ek’s jammer,’ sê Ruby sag voordat sy wegloop.
Saphira bewe innerlik. Sy’t geweet dat dit die gevolg van haar keuse sou wees. Net… Sy’t nie geweet dit sou so séér wees om afgesluit te word van haar familie nie.
‘Jy okay?’ vra Cian met ‘n hand op haar skouer.
‘Nee. Maar ek sal seker eendag wees.’
‘Ek moet Feërie toe gaan,’ sê Cian ‘n paar oomblikke later.
‘Hoekom?’ vra Saphira ontstoke.
‘Ruby gaan moeilikheid maak onder al die Feë. Iemand moet daar wees om ander jou kant te laat kies. Wie beter as ek?’
Sy knik. Sy weet dat haar keuse verreikende gevolge gaan hê.
‘Ek gaan jou mis.’
‘Jy gaan nie tyd hê om my te mis nie. Leer als wat jy kan van Jade – ek sal die leemtes kom invul. Tot dan, hou die biblioteek dop vir verrassings.’
‘Jy gaan goed sommer net deurstuur?’ vra sy verbaas.
‘Sien, jy’t nog baie om te leer oor ander se towerkragte,’ sê hy met ‘n skewe glimlag voordat hy wegloop.

Eolande was tranerig toe Saphira vroeg die volgende oggend vir haar vertel dat Cian koers gekies het. Dit het haar nie lank gevat om die Feëtjie Hond te kry om haar na die huiskabouters te vat nie.
‘Ek belowe dat die kat julle nie gaan eet of iets nie,’ sê Eolande vir die groepie huiskabouters, ‘kom terug huis toe.’
‘Katte veroorsaak net moeilikheid,’ sê een.
‘Saphira is daar om die kat besig te hou.’
Die huiskabouters bespreek dit onder mekaar. Dadelik stem hulle in om saam met hulle terug te gaan.
Waar Saphira deur die kasteel sluip, kan sy skaars glo dat hulle so vinnig oorreed was. Die Feëtjie Kat het vir haar gesê sy moet soos ‘n kat – en nie ‘n hond nie – dink.
Jade het vir haar verduidelik hoe om na alles te kyk; dis heeltemal teen haar natuur om te kyk wat sy kan steel, maar sy doen dit in elk geval. Cian vertrou die kat. En sy vertrou Cian.
Sy weet dat geen Feëtjie Hond haar ooit weer gaan vertrou nie. Maar sy’t haar keuse gemaak. Om ‘n beter beskermer vir Eolande te wees; en vir haar nageslag. Sy kan nie meer als in net wit en swart sien nie.
Saphira kom tot ‘n stop voor die reuse dubbeldeur van die biblioteek. Sy kyk na die kerfwerk daarin wat niks regtig beteken nie. Sy maak die deure oop met haar towerkrag en stap die biblioteek in. Sy weet daar’s nie regtig iets daarbinne nie. Maar sy moet dink soos ‘n kat.
Voordat sy werklik die bibilioteek binne gaan, vang iets haar oog op die muur wat die biblioteek van die res van die kasteel skei selfs na die deur. ‘n Groot tapisserie waar die kleure so eg soos op enige skildery is, hang op die muur.
Dis ‘n portret van die vorige koningin van die Feëtjie Honde. Dis ‘n portret van Saphira se ma.
‘n Nota is met ‘n speld daaraan vasgesteek. Met haar towerkragte verwyder sy dit sonder om die kunswerk te versteur.
Die nota lees:
‘Ek gaan nog vir ‘n onvoorsienbare tyd in Feërie wees. Ek hoop jou studies vorder fluks.’
Saphira glimlag hartseer. Sy maak die deure agter haar toe. Met ‘n sug gaan sit sy op die steenvloer en kyk na haar ma wat meer as lewensgroot vir haar terug kyk.
Dinge is nou anders, maar hopelik gaan die toekoms beter wees.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Saphira se Onmoontlike Keuse
Hierdie is storie sewe van Die Avonture van Saphira die Feetjie Hond.
4 jaar 2 maande 1 week 1 dag 17 ure oud


keuse
heerlik gel;ees aan hierdie lekker jeugverhaal
4 jaar 2 maande 2 weke 6 dae 22 ure oud


Saphira se Onmoontlike Keuse
Nog avonture van Saphira die Feëtjie Hond gaan volg.
4 jaar 2 maande 3 weke 1 dag 1 uur oud



Gister se Onthou

deur borrels

ek pluk 'n klompie letters van 'n laning woord-bome af dan bou ek 'n vers daarmee die trand daarvan soms bietjie laf maar die woorde van die verse kom diep hier uit my hart dit skets die liefde van die lewe soms met pienk en soms met swart



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar