Jeugverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Saphira hou die swartkop seuntjie dop wat rondhardloop met sy klein boog en koker vol pyle. Hy’s nogal goed daarmee – vir ‘n klein monster.
‘Kyk, Saphira! Ek gaan jou op jou wit vlek skiet!’ skree hy parmantig en mik vir haar.
Sy gluur vir hom. Niemand – niemand – hou ‘n wapen na haar gerig en kom daarmee weg nie. En sy sou hom dalk ingesluk het as dit nie was dat hy haar beskermling is nie.
‘Kael Campbell! Sit daardie boog neer onmiddelik!’ gil Maudé – sy peetma – histeries.
‘Nee!’
‘As jy jou sesde verjaaarsdag wil maak, sal jy doen wat ek sê!’ gil sy en kyk bekommerd na Saphira.
Eindelik! Dink Saphira tevrede. Iemand wat behoorlike vrees en respek het vir my as Feetjie Hond.
‘Dis môre – Saphira sal nie dat iemand my seer maak nie,’ sê die klein monster met ‘n breë glimlag.
‘Maar as jy haar raak skiet,’ Maudé kyk verskonend na Saphira, ‘dan kan sy jou nie veilig hou nie.’
Dit dring deur na sy klein breintjie en hy laat sak die boog.
‘Kom, dan ry ons perd!’ gil hy en hardloop weg.
Die Feetjie Hond het geen keuse as om agter hom aan te hardloop nie. Sy voel ‘n storm van emosies in haar kolk en druk dit weg van die oppervlakte.

‘Is hy nie die oulikste sesjarige wat jy al ooit gesien het nie?’ vra Eolande met saamgeslaande hande terwyl Kael almal vermaak met sy boogskietery.
‘Ek sal nie weet nie,’ sê Saphira. Sy weet enigiets negatiefs sal net geïgnoreer word. Volgens die rakker se ouers, kan hy net niks verkeerd doen nie.
‘Hy’s veronderstel om vandag op sy eerste jagtog te gaan,’ sê Eolande onrustig.
‘Die krygers sal hom veilig hou,’ sê Saphira. Sy voeg nie by dat sy ook saam gaan of hulle daarvan hou of nie.
‘Angus en ek het gepraat…’ die jong vrou kyk rond om seker te maak niemand luister hulle af nie. Haar silwer oë, identies aan die klein monster s’n, kyk pleitend na die Feetjie Hond. ‘Dit sal beter wees as jy en Kael alleen gaan. Daar’s geen groter eer as om ‘n eerste jagtog te hê met ‘n Feetjie Hond as jou jagmeester nie.’
As dit nie onvanpas was nie, sou Saphira die half-Fee oopmond aangegaap het.
‘Asseblief?’
Net die vorige dag wou hy háár gejag het. Nou moet sy alleen saam met hom gaan jag.
‘As hy iets oorkom –’
‘Niks sal hom oorkom nie, Saphira,’ lag Eolande, ‘jy sal dan saam met hom wees om hom veilig te hou.’
‘Die woud is gevaarlik. Daar’s geen sekerheid nie. Veral nie met ‘n laaitie op sy eerste jagtog nie.’ Sy kyk stip in die silwer oë met die hoop dat sy verstaan dat die klein snuiter heel moontlik weer gaan weg dwaal.
‘Jy’s ‘n Feetjie Hond. Ek verwag dat jy my seun oppas soos dit jou soort betaam.’ Sy wip haarself en loop weg.
Saphira kyk haar agterna met ‘n swaar gevoel wat sy nie kan plaas nie. Nie dat dít vreemd is nie – meeste van haar gevoelens is vreemd vir haar. Miskien is die koninging van die Feetjie Honde reg om haar in die mense-wêreld te los waar sy nie te veel skade kan verrig nie.

Kael spring op en af van opwinde soos hulle loop van die kasteel oor die heide en na die woud. Saphira kan nie glo dat so ‘n klein seuntjie so baie energie het nie.
Wit wolke vlieg vinnig bo hulle verby. Sy weet dat as hulle besluit om saam te pak, gaan dit te donker in die woud wees. En dit gaan nie help as sy die jagtog aanhelp met haar toorkrag nie – almal verwag dat Kael se eerste jagtog die hele dag gaan vat. Enigsins vinniger en hulle sal dadelik onraad merk.
Sy sug saggies en lei die klein monster die woud in.
Kael gryp haar stert en sy byt hom amper. Hy loop heel gelukkig met sy boog in sy een hand en die Feetjie Hond se stert in die ander. Saphira kners op haar tande. Hy’s soos ‘n donker wolk wat haar treiter.
Voëls word stil in die woud en sy wonder of hulle ook wag vir die storm om te breek.
‘Kyk,’ fluister sy.
Kael loop saggies tot langs haar.
‘n Haas kou salig aan wortels wat dit opgegrawe het.
Kael glimlag breed en kry sy boog reg.
Saphira maak haar oë toe. Die haas het hom gehoor toe hy gretig sy asem ingetrek het. Sy weet dat die haas gaan vlug. En dat Kael agter hom gaan aan hardloop.
Sy maak haar oë oop en die haas wip weg in die onderbos in. Die seuntjie langs haar spring agter die bos uit en sit sy prooi agterna. Saphira volg stadig. Sy wil nie die haas vang nie; sy wil net Kael onder oë hou.
Sy los hom om self die haas se spoor te probeer volg. Alhoewel sy weet dat die ander by die kasteel verwag dat sy hom moet lei, voel sy dis beter vir hom om self te jag. Dis hoe elke Feetjie Hond leer.
Haar hare kom orent – soos voor ‘n groot storm. Sy snuif die lug en haar oë word wyd.
‘Kael! Stop!’
Hy waai net vir haar en gaan voort.
Sy vlieg oor die grond soos sy hardloop om by hom uit te kom.
Twee skerp kloue gryp Kael voordat sy by hom is. Die seuntjie probeer dit af veg. Maar ten spyte van wat hy glo, is hy maar net ‘n klein seuntjie.
‘Los hom!’ bulder Saphira vir die half-voël half-vrou Fee wat haar beskermling gegryp het.
Die harpy kêkkel lekker.
‘Ek’t hom eerste gevang, Feetjie Hond! Hy’s mý aandete.’
Alles word stil om Saphira. Al wat sy kan sien is Kael se bang gesiggie. ‘n Ander herinnering probeer deurbreek, maar sy’t oor die laaste paar jaar geleer dat hulle nooit bly nie. In elk geval nie lank genoeg dat sy hulle kan sien en dalk onthou nie.
Al haar woede, al haar seer breek los in ‘n storm wat sy al lank verwag.
Sy’s nie eens seker of sy besluit het om dit te doen nie. Die Feetjie Hond spring deur die lug en takel die harpy na die grond. Die seuntjie het sy klaar veilig een kant toe laat sweef. Die voël-Fee se oë pop amper uit haar kop voordat die lig dit verlaat. Saphira spoeg die vleis en bloed uit haar mond. Sy’t die harpy se strot uitgeruk.
Verskrik tree sy terug. Die reën is so sterk dat dit deur die bome beur.
Sy kyk sywaarts en sien die klein seuntjie verskrik aan ‘n boom klou. Sy sien die vrees in sy oë. En dis als vir haar.
Die reën was die bloed van haar pote en bek af. Sy laat dit haar mond ook skoon was.
Iets binne haar breek en sy begin te huil.
Sy’s nie bevoeg om ‘n kind te beskerm nie. Sy wéét wat sy mag en nie mag doen voor kinders nie. En om hom so bang vir haar te hê… Vroeër die dag sou sy dit dalk nog geniet het. Nou weet sy dat dit belangriker is dat haar beskermling haar vertrou as vrees.
Sy draai haar kop weg en voel hoe snikke deur haar ruk. Dit wil vir haar voel of sy al van tevore so gehuil het, maar sy kan nie onthou nie.
Die Feetjie Hond koninging moes ‘n beter straf uitgedink het vir haar nadat sy na Elfie-liedjies geluister het en van haar herinneringe verloor het.
Skielik voel sy sterk arms om haar vou.
‘Alles gaan okay wees, Saphira,’ hoor sy Cian se stem.
Sy ontspan in die arms van haar vriend. Sy’s nie heeltemal seker hoe hulle ontmoet het nie, maar sy is seker dat sy hom absoluut kan vertrou.
Sy voel beter en haar lyf hou op ruk met snikke. Cian sê ‘n towerspreuk en die harpy verdwyn.
‘Sy’t ontsnap uit die Donker Reik,’ verduidelik hy.
Saphira verstaan dat dít die rede is hoekom hy in die woud is.
‘Kom, dan vat ek julle huis toe.’ Hy buk langs Kael en tel hom op. Die seuntjie klou aan hom.
Soos hulle deur die woud loop, begin Saphira ‘n bietjie beter te voel. Sy kyk mistroostig na die swaar wolke en die storm wat steeds op die heide woed – sy hou regtig nie daarvan om natgereën te wees nie.
‘Ek hoor jy treiter die Feetjie Hond wat jou moet beskerm, Kael Campbell,’ sê Cian vir die seuntjie in sy arms. ‘Dis nie slim om iemand so sterk en magtig se siel uit te trek nie.’
‘My mamma en papa raas nie so met my nie,’ sê die seuntjie met ‘n bietjie van sy gewone parmantigheid.
‘Jou ouers besef seker nie dat Saphira jou heel kan insluk nie – wat gebeur dan met jou familie? Jy gaan hulle volgende leier wees, of hoe?’
Kael frons.
‘Hulle almal gaan doen soos jy,’ voeg Cian by.
‘En as hulle vir haar lag soos die monster…’ Kael kyk verskrik op na Saphira wat hulle dophou. ‘Dan gaan sy hulle almal stil maak. Vir altyd. En dit sal my skuld wees omdat ek hulle nie beter leer nie.’ Sy frons verdiep.
‘Jy’s klaar wys, klein Campbell,’ sê Cian beïndruk. ‘Pas vir Saphira mooi op. Sy’s die beste vriend wat jy ooit voor kan vra.’



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Saphira se storm
Baie dankie vir jou pragtige bydrae tot die WOLK / STORM projek.
3 jaar 11 maande 4 weke 23 ure oud


Saphira se Storm
Hierdie is storie sestien van Die Avonture van Saphira die Feetjie Hond.
Nog avonture van Saphira die Feetjie Hond gaan volg.
3 jaar 11 maande 4 weke 1 dag 16 ure oud



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar