Jeugverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Hoofstuk 1

Zyda sit wydsbeen oor die rand van die skip. Sy tel haar langloopgeweer op en mik. Sy sal net een skoot met hom kan skiet. Daar is nie tyd om te herlaai nie. Sy sal skiet, neergooi, en haar pistool uitruk. As sy haar pistool klaar afgevuur het, bly net haar swaard oor. Sy kan twee vinnige doodskote gee, maar dan sal sy saam moet begin veg. Man teen man, al is sy ʼn meisie van sestien. Dit het haar nog nooit afgesit nie. Sy kan enige man ore aansit met ʼn swaard. Die meeste van haar teenstanders weet dit maar al te goed. Hulle gee soms liewer oor as om gedood te word. Die Franse Galjoen wat hulle nou binneval is anders. Hulle veg tot die dood toe!

Sy sien hoe ʼn Fransman vir Japtrap omstamp. Hy staan oor hom met sy dolk omhoog. Sy korrel en skiet. Die langloop speel mooi saam. Die Fransman steier tot teen die mas waar sy oë onmiddellik glaserig word. Sy gryp haar pistool en skiet Njummies se opponent dat hy drie keer in die rondte tol, voor hy omval. Sy raak ook van die pistool ontslae en trek haar swaard uit sy skrede. Sy merk dat ʼn Franse soldaat vir Flinkdink op sy agterstewe skop dat hy doer trek. Hy draai laggend om om verder te baklei, maar Zyda druk die punt van haar vlymskerp swaard onder sy keel in. Sy kyk vas in sy mooi laggende blou oë en dink vir ʼn oomblik lank dat dit nogal jammer sal wees om so ʼn mooi gesig te moet skend. Voor sy haar kan kry, staan sy ontwapen voor hom, en hy hou haar swaard in sy hand. Iemand stamp haar vooroor en sy val met haar linkerskouer in haar eie, eie swaard. Sy onthou vlugtig dat sy nie so jonk wou sterf nie, en verloor haar bewussyn. . . .

Met ʼn angswekkende gil word Zyda wakker. Soos jy sê “slagmes” staan haar hele bemanning in haar kajuit rondom haar slaapbank. “Wat is fout, Skat?” vra Skerpkyk, en voel bekommerd aan haar voorkop. Kaptein Zyda Skat sug diep en swaar: “Dit was ʼn nagmerrie!” sê sy saggies. “Ek het net gedroom. Ek is jammer as ek julle almal wakker gemaak het. Julle kan maar weer gaan slaap. Nag almal!” Hulle staan almal nog en wonder, maar dan knik Skerpkyk met sy kop na die deur se kant toe. “Nag Kaptein!” brom hulle ongelyk, en gaan weer terug na hulle hangmatte, in die vooronder van hulle skip.

Skerpkyk sleep ʼn stoel nader en gaan voor Zyda se bed sit. Hy neem haar hand en streel dit vaderlik. “ Okey, Skatjie, vertel vir vader Skerpkyk wat jy gedroom het. Hy frons dat sy oogklap skeef sit en skuif dit weer reg. Hy is nie regtig haar vader nie, maar haar oom. Haar pa is ongeveer ʼn jaar gelede deur Kaptein Swartbaard in die Karibiese See vermoor. Zyda frons ook, en begin dan stadig weer glimlag: “Ag Skerpkyk, ek is sommer laf. Ek het van almal van ons gedroom. Ons was besig om ʼn vyandelike skip in te neem!” Skerpkyk weet wat volgende gaan kom: “En wie sterf hierdie keer in jou droom?” Zyda sug diep: “Ek, Skerpkyk. ek sterf hierdie keer!” Skerpkyk los haar hand asof dit ʼn slang is: “’n Spook!” skree hy, “Ek praat met ʼn spook!” Zyda lag uit haar maag uit vir Skerpkyk se simpelgeit. Hy probeer maar grappies maak, maar hy weet goed hoedat hierdie drome haar ontstel.

Skerpkyk lag saam en gaan sit dan weer by Zyda se bed.
“Jy weet dat die drome niks beteken nie!”
“Ek weet, Skerpkyk, maar soms wonder ek tog . . .”
“Waaroor wonder jy?”
“Oor my lewe . . .”
“Hoe bedoel jy nou?”
“Ons kry net te doen met oorlog en bloed!”
“Ja, maar dis hoe ons ons goud verdien . . .”
“Goud is nie alles nie!”
“Vir ʼn seerower is goud alles, Skat. Wat anders kan vir ʼn seerower belangrik wees?”
“Aag, ek weet nie. Partymaal verlang ek maar . . .”
“Na wat, Skat?”
“Na die mooi dinge in die lewe!”
“Goud is die mooi dinge in die lewe! Jy moet ophou om jou deel van die buit onder die manne te verdeel, Skat. Dis waarom jy die nagmerries kry. Jy’s natuurlik bang jy sal dan met niks sit nie!”
Zyda lag: “Ag nee wat, Skerpkyk. Ek het klaar te veel!”
“Mens kan nooit te veel goud hê nie!”
“Maar mens kan te min hê. Almal het altyd te min!”
“Jy moet net sê, dan gee ons jou deel terug!”
“Ek praat nie van goud nie!”
“Nou wat dan?”
“Van die mooi dinge!”
“Ek sê mos goud is die . . .”
“Nee, Skerpkyk. Ek praat van musiek en kuns. En ʼn mooi kasteel. O ja, en van ʼn balletuitvoering.”
Skerpkyk snork liggies. “Wat’s fout skat? Is jy ongelukkig, dat jy na al die dinge in jou boeke begin verlang?”
“Nee. Ek wonder net soms. Ek verlang maar ʼn bietjie na sulke goed. In my droom het ʼn mooi man my doodgemaak. Wat as ʼn mooi man my eendag wegvoer, en laat woon in sy paleis? Ek sal skop en skree, maar ek sal nou nie so hard skop en skree dat ek uit sy arms uitval nie!”
“O, jy droom oor ʼn romanse.”
“Ja, okey! Ek erken dit. Miskien wil ek eendag ʼn huis, ʼn man en kinders hê.”
“Nee man. Seerowers is rof en grof en onbeskof. Ons het goud en letsels en oogklappe en avonture en houtbene en ʼn harde lewe. ʼn Seerower het nooit ooit ʼn huis, ʼn vrou en kinders nie!”
“Ja, maar miskien wil ek dit hê!”
“Wil jy ons dan verlaat?”
“Nee. Ek wil julle ook hê. Ek sal nooit van julle kan weggaan nie. Ook nie van die see en die skip nie. Ek skat ek wil seker maar altwee lewens hê!”
“Wel, daarvan het ek nog nooit gehoor nie.”
“Ek ook nie. Maar miskien . . . Net miskien kan mens dit hê!”
“Okey, slaap nou maar weer. Ons het ʼn harde dag more. Nag Skat!”
“Nag Skerpkyk!”

Zyda slaap maklik, maar bevind haar weer in dieselfde droom. Die een met die Franse soldaat met die mooi gesig. Weer gryp hy haar swaard. Weer stamp iemand haar om. Weer val sy in haar eie swaard. Weer verloor sy haar bewussyn, maar hierdie keer herwin sy dit darem weer. Sy kyk vas in die mooi blou oë van haar aanvaller. Hy glimlag en voer haar sop. Sy is lank ylend en siek, maar word tog gesond. Hy neem haar na die bodek en wys vir haar sy kasteel waar sy skip kom vasmeer het. Hy dra haar na sy kasteel. Sy diensmeisies help haar om haar trourok aan te trek. As die son sak, trou hulle op die dek van sy skip, en vaar in die sonsondergang weg na ʼn tropiese eiland vir hulle wittebrood!

Kraai skree haar wakker. Nee, wag, hy kraai haar wakker. As die son opkom, kraai die verdomde ding mos soos ʼn haan. Sy maak haar een oog oop, en sien sy lê nog in haar eie kajuit. Sy is so teleurgesteld, dat sy nie besef hoe laat dit al is nie. Sy knyp haar oog vinnig weer toe, en probeer haar slaap en haar droom weer terugkry. “Kraai, hou op raas jou hoender!” snou sy hom toe. “Staan op, staan op!” skree Kraai. “Die son skyn op jou kop!” gaan Kraai voort. “Ag Kraai!” skree Zyda ook saam. “Die dag word al later,” gaan Kraai verder tekere “en Skerpkyk word al kwater!” “Skerpkyk se groottoon!” roep Zyda en gooi Kraai hard met haar kussing. “Skerpkyk het nie ʼn groottoon nie!” lag Kraai. Hy het die kussing sien kom en trek al by die deur.

Zyda sit regop. Sy is nou helder wakker. As sy daai Kraai kry, word hy vanaand kraaipastei. Sy wil ook maar nie erken dat die simpel voël eintlik reg is nie. Dit is al laat. Sy spring uit haar bed, en maak haar trommel oop. Al haar klere is vuil. Sy vat die skoonste vuil broek en hemp en trek dit aan. Dan bind sy ʼn serp om haar kop. Sy besluit om haar pa se oorbel vandag in haar oor te druk. Kaptein Jan Skat het na sy dood alles aan sy dogter, Zyda Skat, bemaak. Sy skepe, sy eilande, sy bemanning, sy goud, sy juwele, sy skatkaarte – alles! Maar wat vir Zyda die waardevolste is, is hierdie kajuit vol boeke. Sy kan haarself verloor in haar pa se boeke. Daarin leer sy dinge waarvan haar dierbare, maar soms erg eenvoudige manne niks weet nie. Zyda kyk na haar beeld in die klein spieëltjie teen haar kajuitmuur. Met haar bruin oë en rooi hare wat amper wil-wil krul, lyk sy nou wel glad nie soos haar pa nie, maar sy het ander belangrike eienskappe by hom geërf. Sy het dieselfde liefde vir die see, vir syfers en vir uitdagings. Verder het sy ook net soos haar pa ʼn slag met diere, en ʼn uitstekende sin vir rigting. “Behalwe Kraai, natuurlik.” korrigeer sy haarself kliphard. Kraai het ʼn manier om haar altyd kwaad te maak.

Buite op die dek skyn die son helder: “Aandag! Aandag!” Skree Kraai, “Kaptein op die bodek!” Meteens los Zyda se bemanning alles wat hulle doen, en kom tree aan. Hulle staan voor haar op aandag. Skerpkyk skree die inspeksiebevel: “Bemanning gereed vir inspeksie, Kaptein!” “Dankie, Skerpkyk.” antwoord sy hom beleefd soos altyd. Zyda begin hulle van ʼn kant af deurkyk:

SKERPKYK staan soos altyd een tree voor die ander. As onderkaptein is hy vir haar goud werd. Met sy dik rooi snor, is hy streng, maar regverdig. Sy een oog kyk dwarsdeur ʼn mens. So erg, dat dit vir jou voel asof hy dit met twee oë doen. Hy is altyd in ʼn blou uniform, met swart stewels geklee. Slaap selfs in die klere. Tot met sy skoene. Hy loop nie kaalvoet nie. Hy sê dis barbaars, al is hy die onderkaptein van hierdie Hollandse Galle – “Die Honger Barbaar” Hy het sy oog verloor toe sy pistool in sy gesig ontplof het.

RAAKVAT is uitgevat in ʼn netjiese rooi uniform. Dit is nie ʼn militêre uniform soos Skerpkyk s’n nie, maar die uniform van ʼn lyfwag, met kantkraag en alles. Hy is verbasend handig vir ʼn ou met net een hand. Sy hak hand het ʼn knyptangetjie voor aan, wat werk soos ʼn krap se klou. Hy het dit self ontwerp en gemaak. Die hak is van blinkgevryfde metaal, en het stukkies goud en een groot diamant in. Raakvat is so ʼn deftige man, dat jy nie sou kon droom hy is ʼn seerower nie. Behalwe natuurlik vir sy hoed. Sy swart driehoekhoed het ʼn kopbeen voor op met ʼn groot geel volstruisveer in die band. Verder dra hy ʼn oorbel in elke oor en drie ringe aan sy enigste hand. Dis waar ja, hy dra ook drie ringe aan sy hak hand. Hy gee nie regtig om om sonder ʼn hand te wees nie. Al wat hy vra is ʼn plek om sy ringe te dra, en nou het hy dit! Ja okey, hy is ʼn bietjie fyn vir hierdie harde lewe, maar wat help dit ʼn mens steel soveel skatte, as jy dit nie so nou en dan darem ook self kan dra nie. Buitendien het mens so ʼn handige ou soos hy, bitter nodig op ʼn boot soos hierdie. Sy hand was krokodilkos, jare gelede al.

JAPTRAP het ʼn houtbeen. Raakvat werk nog aan ʼn houtvoet, met ʼn enkel wat kan buig. Toe hy klein was, het sy boetie sy been met ʼn geroesde sekel raakgekap op die plaas. Daar het ontsteking in gekom, en die been moes net onder die knie afgesit word. Hy is vandag ʼn seerower want hy kon nie ander werk kry nie.

NEGE se middelvinger lê in ʼn haai se maag, ring en al. Hy word nou nog wasbleek van woede as iemand net daarvan praat. Dit was glo ʼn ring wat ʼn Russiese Tzar vir sy oupagrootjie gegee het. Nege was baie trots op daai ring. Al word Nege ook hoe kwaad vir ʼn haai, wys hy darem nie meer vir hulle vinger nie.

FLINKDINK is dom. Kort. Fris. Rooi krulhare. Dun snor, en dom. Dis al. (Hy was altyd dom. Hy het nie sy verstand in ʼn bisarre ongeluk verloor nie.)

NJUMMIES het die punt van sy tong verloor. Niemand weet hoe nie, want hy kan nie praat nie. Omdat hy nie kan praat nie, glimlag hy altyd.

FREGAT het net een boud. Hy sit-lê maar altyd aan die ander kant. Hy het by ʼn ander man se meisie gaan kuier. Haar liefie het hom in die boud geskiet toe hy weghardloop. Die slagter het die koeël uitgekry, maar eers na hy omtrent die hele boud weggesny het.

SNUFFELS kan regtig baie goed ruik, al het hy nie meer die voorpunt van sy neus nie.

SKOTTEL het net een oor. Hy het die ander een in ʼn tweegeveg met ʼn bobbejaan verloor. Nadat die bobbejaan Skottel se oor afgekap het, het Skerpkyk besluit om die bobbejaan aan boord te neem. Hy is nou nog hulle beste swaardvegter, en hulle het hom Petrus genoem. Hy kan ook die touwerk klim en seile span. Skottel haat vir Petrus, maar dit kan seker verstaan word. Skottel en Snuffels is ʼn tweeling. Hulle is albei blond, maar Snuffels se baard is blond en Skottel s’n donker. Hulle dra altwee die rooi musse wat hulle oorlede ma vir hulle gebrei het. Snuffels is ʼn grapmaker en terggees. Skottel is altyd kwaad. Soms vir Snuffels, maar meestal vir Petrus.

PETRUS is tog maar baie bang vir Skottel. Hy weet Skottel gaan nog eendag wraak neem oor daai oor. Hy het al baie gedreig om Petrus se stert af te kap. So as Skottel naby Petrus kom, hou Petrus altyd se stert vas. Skottel noem hom ook nie ‘Petrus’ nie. Skottel noem vir Petrus ‘stomstert’. Petrus staan vandag ook vir inspeksie. Dis die eerste keer. Zyda glimlag en skud sy poot, soos wat sy ook met al die ander gemaak het.

“So-ja, manne,” begin sy met vandag se toespraak. Maar dan besef sy iets is fout. Haar oë gaan weer oor die manne en in haar kop hou sy role call: SKERPKYK, RAAKVAT, FLINKDINK, JAPTRAP, NEGE, NJUMMIES, FREGAT, SNUFFELS, SKOTTEL EN PETRUS. Skielik besef sy, Petrus staan in Diepkyk se plek. “Waar’s Diepkyk?” vra sy kwaai. Die manne kyk skuldig rond, maar antwoord nie. “Skerpkyk?” vra sy hom direk. Skerpkyk trek sy skouers op. Japtrap sê vinnig: “Hy’s siek Kaptein!” “Wha-ha-ha, siek?” lag kraai. “Dis die waarheid!” sê Japtrap. “Wha-ha-ha, WAARHEID?” lag kraai nog harder. Zyda kyk skerp na Flinkdink. Sy weet hy kan nie jok nie. “Hy’s dronk, kaptein!” kom die waarheid so reguit as wat Zyda gehoop het om dit te kry. “Hy voer die visse!” grinnik Japtrap, maar Zyda kyk hom kwaai aan.

“Gaan haal hom!” beveel Zyda streng, en Skottel en Snuffels draf na die agterstewe waar Diepkyk in sy kouse staan en oorboord braak. Hulle sleep-dra hom tot by Zyda se voete. “Dronk aan diens né?” sê Zyda kwaai. “Skerpkyk, wat sê die artikels van dronk aan diens?” Skerpkyk aarsel ʼn oomblik voor hy antwoord: “Ons kielhaal hom, Kaptein!” Zyda knik bevestigend. “Reg! Sommer nou dadelik! Jy kan toesig hou!”

Hulle weet hulle kaptein het ʼn sagte hart, maar daar is twee dinge wat sy nie kan vat nie: LIEG EN DRONK AAN BOORD! “Maak dit ʼn halwe kielhaal!” verander sy skielik van plan. “Trek hom af tot onder die skip, en aan dieselfde kant weer op!” Zyda besef natuurlik dat hy in hierdie toestand sal versuip.

Skottel en Snuffels maak hom stewig aan die tou vas. Die kielhaaltou loop onder die skip deur van bakboordkant tot stuurboordkant. Skerpkyk het die tou spesiaal daar laat vasmaak om oortreders mee te kielhaal. Wat Zyda nie besef nie, is dat hulle hom nie aan die kielhaaltou vasmaak nie, maar aan die skattou. Dit is die tou waarmee hulle die skatte in die water laat hang. As hulle kollegas hulle beroof, bly hulle buit veilig, want die vyand kry dit nie op die skip nie.

As hulle Diepkyk aan die kielhaaltou vasmaak, sal hy teen die kant van die skip getrek word. Daar sit altyd skulpe aan die kant van die skip vas, en kan mens lelik sny. Nou sal hulle vir Diepkyk reguit onder toe laat sak, en weer uithaal. Dis bietjie meer genadig.

Toe Diepkyk water slaan, skree hy so, dat hulle hom net sowel kon kielhaal. Hy spartel en spook toe hy onder die water verdwyn. Snuffels knik vir kraai, en kraai vlieg in die lug in op. “Haai, haai!” skree kraai. Dit klink nie soos ʼn waarskuwing nie. Dit klink asof hy vir die haai hallo sê. “Haai!” skree Fregat en Nege gelyk. Almal gryp die kielhaaltou om vir Diepkyk te red. Hulle trek verwoed. Tot Zyda kom help, maar Diepkyk kom nie te voorskyn nie. Naderhand trek hulle ʼn rou stuk vleis uit die water. Zyda gil en druk haar hele vuis in haar mond.

Skottel en Snuffels trek alleen aan die skattou waaraan die waardevolle skat regtig vasgemaak is. As hulle die halfverdrinkde Diepkyk aan boord help, kyk Zyda hulle kwaai aan.

“En nou? Wat gaan hier aan?” Snuffels sien dat sy eintlik verlig is. “Kom nou, Skat, jy kan mos sien hy het sy les geleer!” Zyda glimlag as sy sien hoe nugtergeskrik Diepkyk lyk. Dan bars almal aan boord uit van die lag omdat hulle vir Zyda geflous het. “Lekker gevang Skat?” vra Snuffels ondeund. “Sies Snuffels. Ek is nog nie eens mooi wakker nie!” kla sy. “En ek is nog nie eens mooi dronk nie. Hoe lyk dit, Skat. Ek is mos nou klaar gestraf. Nou kan ek mos maar gaan drink.” verduidelik Diepkyk ʼn dronk man se wysheid. “Pasop vir jou Diepkyk. Ek voer jou persoonlik vir die haaie!” waarsku Zyda. “Haai, Haai!” groet Kraai weer vrolik.

“En wie lê hier?” vra Zyda en stamp aan die stuk rou vleis. “Aandete!” antwoord Raakvat. “Ek het gedink die vleis sal langer hou in die soutwater. Lyk my ek was reg.” Die vleis lyk eintlik nog heeltemal vars en bloederig. “Lekker geskrik skat?” vra Japtrap en maak asof hy bekommerd is oor haar. “Jy het regtig gedink dis Diepkyk wat so bebloed op die dek lê.” Nege lag: “Dis natuurlik wat die haai gelok het.” Diepkyk skrik skielik: “Raakvat, hoe kan jy ʼn stuk vleis in die water laat hang, as jy weet julle gaan my daar afsak? Jy weet mos dit sal haaie lok!” Maar Raakvat lyk nie te bekommerd nie. “Ag ontspan, Diepkyk. Geen haai sal aan jou hap nie, tensy die haai ʼn alkoholis is.” “Honger haaie is gewoonlik vir elke hol lus!” is Nege se skerp antwoord. Almal lag. Net Diepkyk dink nie dis snaaks nie. “Haai, Haai!” sluit Kraai hierdie insident finaal af.

“Ek het ʼn aankondiging om te maak.” sê Zyda onverwags. “Vandag se skattejag is gekanselleer!” Hulle kyk almal verbaas na haar. “Maar Skat . . .” begin Skottel beswaar maak. “Geen gemaars nie, Skottel, ek het klaar besluit. Ons gaan ʼn bietjie vakansie hou. Ons, ek, julle en ons geliefde skip, Die Honger Barbaar, gaan ʼn bietjie rus!” Hulle kyk haar geskok aan. “Wat van die skat, Skat?” vra Skerpkyk. “Ons het genoeg skatte. Ons gaan rus en uitspan. Julle kan julle geld en goud gaan tel, sodat julle kan besef hoe baie julle eintlik het.” “Maar ons skatte is nie hier nie. Dis by Die OOG.” herinner Raakvat vir Zyda. “Dis presies waarheen ons gaan.” antwoord Zyda beslis. “Ek wil buitendien my klere gaan was. Ek het niks om te dra nie.” Die rowwe, growwe, amper ongeskikte (Nee, eintlik is hulle maar lekker ongeskik) vuil klomp seerowers skud almal hulle koppe heen en weer. As hulle na mekaar kyk dink hulle almal dieselfde ding: “Tipies vroumens!” maar nie een van hulle waag dit om dit te sê nie!

Die OOG is hulle tuiste. Dis ʼn klein eilandjie tussen Zanzibar en Dar Es Salaam. Dit is seker omtrent so groot soos ʼn wildsplaas. As seemanne dink Mauritius is die paradys, sou hulle gesê het Die OOG is die beloofde land, maar hulle doen dit nie, want niemand anders waag dit om ʼn voet daar te sit nie. Die eiland het ʼn uitgediende vulkaanberg. Van die see se kant af is daar ʼn seegrot wat tot binne-in die vulkaanberg loop. As die gety inkom, stoot die see hoog genoeg in om tot by die sytonnels van die riviergrot te kom. Dan stoot die golwe die water vinnig in die sygrotte in terwyl die water lug agter die golf vasvang. Vir ʼn paar sekondes bly die water dan daar, maar dan druk die lug weet terug, en gee die water met ʼn kotsgeluid vir die see terug. Omdat daar ʼn hele paar sulke grotte is, skep dit nogal die alleraardigste kreun en kotsgeluide met elke hoogwater. Dit gebeur juis omdat die berg nie meer lawa spoeg nie, maar gas produseer. So nou verstaan julle seker hierdie wetenskaplike verklaring. Die lug wat in elke grot vasgevang word, word vinnig meer, en dit is waarom die lugkolom die water elke keer weer terugdruk in die see in.

Nou-ja, dis hier waar die Skatbende hulle goud en ander skatte bêre. Dit is VREESLIK veilig. Geen seeman sal ooit sy voete daar sit nie. Sien, dis mos nou maklik om vir enige bygelowige seeman te oortuig dis bose geeste en goed wat so kreun en kots, kreun en kots, kreun en kots as dit hoogwater word. Mense wat nie bang is nie, glo weer vas dat dit die vulkaan is wat weer wil uitbars. Nou sal ek graag wou spog dat hierdie Skatbende te dapper en vreesloos is om enige een van hierdie stories te glo, maar dit is nie heeltemal waar nie. Skerpkyk se pa, die eerste Jan Skat, die een wat eers Jan Taks was, die belastingman, het dit by ʼn man gehoor wat hy in die skeepsruim ontdek het. Eintlik moes hy die ou aan die kaptein gaan uitlewer. Hulle het so ʼn ou sommer maklik in die see gegooi omdat hy op hulle skip wegkruip as hy oorsee wil gaan. Ou Jan Skat, wat eers Jan Taks was, het die ou jammer gekry toe hy so smeek, en hom beter weggesteek. Hy het die ou kos gegee en gesorg dat niemand hom daar kry nie. As beloning het Moses (Dis ʼn naam wat Jan Taks hom gegee het) hom hierdie geheim vertel.

Moses was ʼn drenkeling wat op Die OOG uitgespoel het. Hy het dankbaar die grond gesoen toe hy op die droë grond uitkruip, en vir ʼn paar uur gelukkig daar gelewe. Dis nou totdat dit hoogwater word en die see so begin kreun en kots en kreun en kots vir omtrent twee ure, en dit gebeur elke dag twee keer. So het Moses in vrees en bewing geleef. As hy die krag gehad het, sou hy na ʼn nabygeleë eiland toe geswem het, maar hy was heeltemal te swak en keelvol vir seewater. Na ʼn maand of so grbeur dit weer vir twee dae, en na drie maande hoor jy dit nie eers meer nie. Na nege maande gaan kyk jy dan nou maar wat dit is wat so maak. As jy in die helder seewater induik en sien hoe die vulkaanrots borreltjies in die see maak, skrik jy jou die eerste keer poegaai, want jy aanvaar sommer dis giftige gasse. Tog trek nuuskierigheid altyd swaarder as vrees, en jy gaan maar altyddeur weer terug. Jy het in elk geval niks anders om te doen nie. Jy kom agter dat daar baie vis in daardie water is, en dat hulle vet, mak en lui is. En jou gesonde verstand skop in. As die gas giftig is, sal die visse mos daar wegbly.

Moses was nuuskierig. Hy het proefnemings begin doen. Eers het hy ʼn waterskilpad gevang en in daardie water gaan los om te sien of die ding benoud wegswem. Hy het nie. Inteendeel: Hy het net daar gebly en ook lui en vet geword. Hy het ʼn voëltjie gevang en mak gemaak. Later het hy die mak voëltjie ook saam met hom geneem na die watergrot toe. Die voëltjie het niks oorgekom nie. Hy het net die mooiste liefdesliedjies begin sing. So het Moses ontdek die grotte is goed vir mens en dier.

Moses het eendag ʼn skip sien aankom, en na ʼn nabygeleë eiland toe geswem, om van daar af ʼn rooksein te stuur, om gered te word. Toe die bemanning oor die vulkaaneiland uitvra, het hy gemaak asof hy nie daar was nie. Al wat hy gesê het is: “Dit is DIE OOG van die aarde en die MOND van die aarde. As dit nie vulkaanvuur spoeg nie, brom hy soos ʼn onaardse dier. Moet asseblief nie daar verbyseil nie!”

Jare later het Moses gehoor dat die Hollanders ʼn wetenskaplike gaan stuur om die vulkaaneiland te ondersoek. Moses het dadelik gaan aanmeld vir diens. Hy is ook aanvaar vir die span toe Dr. Van Holgrein hoor dat hy lank daar naby gestrand was. Moses het aangebied om vooruit te loop toe hulle na die seegrot gaan kyk. Hy het eers die ou man bang gepraat, en toe aangebied om te gaan kyk of alles veilig is. Hy het ʼn hele paar denamietkerse in die water laat ontplof, en die ou man gaan roep om te kom kyk hoe die visse met pense na bo in die water ronddryf. Dr. Van Holgrein sou nie die ontploffing kon hoor nie. Daar is te veel grotte en gangetjies wat gelyk kreun en kots. Moses het verskrik na die dooie visse gewys, en so het dit gekom dat tot die wetenskapboeke glo dat die vulkaanberg giftige gasse afgee!

Nadat Jan Taks, Jan Skat, en toe die kaptein van Die Honger Barbaar geword het, het hy dadelik vir Moses gaan soek om by sy bemanning aan te sluit. Die Oog het hulle hoofkwartier en hulle tuiste geword. Daar het hulle ʼn sloep, ʼn hoeker en ʼn Chinese Jonk. Hulle het nog ander skepe ook al gebuit, maar kan nie alles bêre nie, so hulle verkoop dit maar, of steek dit aan die brand. Dis nogal pret. Die rook en vlamme laat almal glo dat die vulkaan weer uitgebars het. Soms maak hulle selfs ʼn groot ontploffing as hulle weet daar is ʼn skip in sig wat dit kan sien en hoor!
Susan Greyvensteyn ©
Hangmatte – ‘n seeman se bed.
Vooronder – heel voor, onder die dek is slaapplek vir die bemanning.
touwerk - ‘n groot net wat van geknoopte toue gemaak is.
seile span – die seile van ‘n seilskip waarmee die skip wind skep om te vaar.
Kielhaal – ‘n strafmetode vir ‘n seerower.
kielhaaltou - Die tou loop onder die skip deur en bly sommer daar om gou te kan straf.
Bakboordkant – linkerkant van die skip.
Stuurboordkant – regterkant van die skip.
Skattou – ‘n tou wat in die water hang om skatte aan vas te maak en weg te steek.
ʼn sloep, ʼn hoeker en ʼn Chinese jonk – name van verskillende soorte skepe.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

seerower
Lekker gelees dankie.
6 jaar 5 maande 2 weke 3 dae 2 ure oud


*
Het my nou so laat terugdink aan toe ek 'n kind was en hoe mal ek oor die seerower-jeugverhale was. En later Elmar Steyn se liefdesverhale! Lekker gelees, Susan! Baie oulik geskryf!
6 jaar 5 maande 2 weke 3 dae 17 ure oud



Geweeg

deur Manie Jackson

Gedigte van skooldae af , die tyd toe ek geweeg is, tot ek getrou het.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar