Jeugverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Tomie is skaars by die eetsaal uit, toe kom sluit Pureman hom by oom Arno-hulle aan.

Arno stel hom aan Tomie se mamma en Katryn voor, want hulle het hom nog nie ontmoet nie. Tomie se mamma kry die gevoel dat sy Pureman ken. Dis egter onmoontlik, want sy het hom eergister vir die eerstekeer gesien. Sy merk dat Pureman met sy regter wysvinger oor die moesie op sy linkerwang vryf. Voordat sy verder daaroor kon dink, spreek hy haar aan:

“Mevrou, ek het Tomie se hulp nodig. As u u weg oopsien, sal ek bly wees as ek hom vir ‘n dag of twee kan gebruik. Hy sal heeltemal veilig wees – dit beloof ek.”

“Dis goed so. Ek glo hy sal in jou sorg veilig wees.” Tomie se mamma kom agter dat sy onbewus haar toestemming gegee het. Al wou sy ook, kon sy nie haar toestemming weier nie!

“Ek het hom hier onder met ‘n kat sien speel. Eet julle maar rustig voort, ek kry hom sommer daar.”

Voordat enigiemand iets verder kon sê, het Pureman omgedraai en die eetsaal verlaat.

* * *

Terwyl die staljong vir Sokkie opsaal, kyk Pureman rond of hy vir Kraai kan sien, maar hy is nêrens te vinde nie.

Pureman besluit om in die rigting van die huis in die voorstede te ry. Hy onthou hoe hulle gisteraand gevlieg het om Snippie te gaan aflaai. Miskien het Snippie al iets agtergekom. As hulle nie die bendebaas op heterdaad, of in besit van gesteelde goed betrap nie, sal dit maar moeilik gaan om hom met die bende te verbind.

* * *

Pureman stop onder ‘n boom met heerlike skaduwee aan die oorkant van die huis. Snippie wat al ongeduldig begin raak het, kom hom met ‘n stertswaai tegemoet. Daar is ‘n gefladder van vlerke en Kraai gaan sit op ‘n tak vanwaar hy vir Pureman mooi kan sien. Met die uitsondering van Koninkie, is die hele span bymekaar.

“Die man wat hier bly het twee lyfwagte, Doors en Dolf. Doors het ‘n welige bos rooi krulhare, ‘n bakoor en ‘n litteken op sy neus. Dolf is groot en fris met blonde hare. Hy lyk soos ‘n ou wat nie nonsies vat nie! Albei noem die man Baas en woon in die huis by hom.” Snippie bly stil om asem te skep.

“Agter die huis is daar ‘n groot stoor. Ek is te kort om deur die venster te kan sien en Kraai sê hy kan ook nie sien nie, want daar is gordyne voor. Ek dink daar is baie verskillende goed gebêre, want daar kom baie reuke onder daardie deur uit.” Snippie skep weer asem.

“Ek het gehoor hulle gaan vanmiddag stad toe. Hulle het die jokkies in ‘n perderesies omgekoop om ‘n buiteperd te laat wen. Die buiteperd se naam is Semel. Hulle gaan vanmiddag nog ‘n klomp geld op hom verwed!”

Pureman vryf ingedagte met sy regter wysvinger oor die moesie op sy linkerwang. Die man wat hier bly is die bendebaas! Sy gesig helder meteens op.

“Dit gee my ‘n idee. Ek sal vanmiddag gaan kyk wat in daardie stoorkamer gebêre word. Nou moet ons eers gaan oefen.” sê Pureman met ‘n vonkel in sy oë.

Die een oomblik was hulle nog daar en die volgende, vinniger as ‘n oogwink, vlieg Kraai na ‘n oop stuk veld aan die buitewyke van die stad. Niemand sien dat hy passasiers het nie en niemand sien wat op daardie stuk grond gebeur nie!

* * *

Dis nie die eerstekeer dat die bendebaas en sy twee lyfwagte so’n bietjie ekstra geld op die perde maak nie. Die jokkies eet uit hul hand en wat hulle ookal beveel, dit vind plaas.

Die wedrenbeamptes vermoed al lankal dat iets nie pluis is nie, maar hulle kan nie hul vinger op die oorsaak lê nie. Die jokkies wat deel van die onderduimsheid is, praat nie.

* * *

Snippie maak eers seker dat die bendebaas en sy twee lyfwagte weg is, dan kom haal hy vir Pureman. Hulle loop by die voorhekkie in en dan om die huis na agter toe.

Die stoor is amper so lank as wat die erf breed is. Dit het klein venstertjies wat hoog sit en met gordyne toegetrek is – ‘n teken dat die bendebaas nie wil hê dat iemand daar moet inkyk nie. Daar is dubbel houtdeure wat met ‘n yslike slot toegesluit is.

‘n Vreemde geluid, soos woorde wat geen betekenis het nie, kom oor Pureman se lippe en die slot glip oop toe Pureman daaraan vat.

Kraai hou die pad dop om vir Pureman en Snippie vroegtydig te waarsku as die drie sou terugkeer voor hulle met hul ondersoek klaar is. Snippie draf draaie om die stoor om seker te maak dat uit geen ander oord, gevaar hul kan bedreig nie.

Pureman stap die stoor binne en wag ‘n bietjie dat sy oë aan die skemerte gewoond raak. Hy stap dan dieper tussen kaste wat op mekaar gestapel is, in. Hy breek ‘n kas oop en sien dis nuwe goedere wat na ‘n winkelier versend is. Die winkelier se naam is op die kas aangebring. Dis baie duidelik dat die inhoud van hierdie stoor buitgemaakte goedere is.

As hy hom haas is daar nog tyd om voor sluitenstyd ‘n draai by die wedrenbeamptes se kantoor te maak. Die sukses van sy hele plan hang daarvan af of hy die samewerking van die wedrenbeamtes gaan kry!











Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Sirkeldans

deur Driekie Grobler

Die foto van my boek wys nie op die advertensie wat julle geplaas het nie, kan julle dit asb vervang met hierdie foto. Baie dankie :)



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar