Jeugverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Saterdag, die dag van die perdewedren, het uiteindelik aangebreek. Tomie is baie vroeg by die hotel weg. Nadat Tomie almal gekrimp het, het Kraai hulle na die wedrenbaan gevlieg. Daar het Tomie, nog voordat enige van die staljonge wakker geword het, vir Sokkie in ‘n stal toegemaak. “Sokkie, jy moet niks eet of drink wat enigiemand, behalwe ek vir jou gee nie. As hulle uitvind dat jy aan die wedren gaan deelneem, sal hulle sekerlik pogings aanwend om jou te verhinder.”

Koninkie, Snippie en Kraai moet by die wegspringplek bly tot dit hul beurt word om tot die arrestasie van die bendebaas en sy trawante by te dra.

* * *

Oom Arno en die drie vroue moet sukkel om tussen al die mense wat stoot en druk, ‘n sitplek te kry vanwaar hulle ‘n onbelemmerde uitsig op die wedrenbaan het.

Die aankondiger kondig die deelnemers in elke wedren aan en gee dan genoeg tyd sodat mense hul laaste weddenskappe kan plaas, voor die wedren begin.

Rika geniet dit om na al die mense te kyk wat om hulle sitplek gekry het. Haai, maar dis mos hul twee kamerbediendes wat net hier voor haar sit. Sy buk vorentoe en trek hul aandag. “Kom julle op die perde wed of kom kyk julle net?” vra sy.

“Ons wou al ons geld op Semel, die buiteperd kom verwed, maar toe vergeet ons sowaar ons beursies by die huis. Gelukkig het ‘n gawe jongman, met donker hare, groen oë en ‘n moesie op sy linkerwang ons penarie gesien en aan ons genoeg geld vir ons toegang geleen – anders moes ons huis toe gaan. Ons kan nie wed nie, nou kyk ons maar hoeveel ons sou gewen het.”

* * *

“Die volgende wedren word oor drie duisend meter beslis.” word dit aangekondig. “Daar is ‘n wysiging op die program. Daar is ses deelnemers in plaas van vyf. Die sesde deelnemer is Sokkie wat behoort aan Pureman en gery word deur Tomie. Die volledige veld is Kroon, Septer, Fiemies, Skoor, Semel en Sokkie.” Die aankondiger se stem klink soos iemand wat in ‘n leë blik praat.

Daar is ‘n doodse stilte wat op die skare daal. Dit gebeur nie dikwels dat daar ‘n laat inskrywing kom nie. Niemand het al ooit van die nuwe perd gehoor nie!

* * *

Rika kom meteens agter dat sy van angstigheid haar vuisies so styf bal dat sy hul amper nie kan oopkry toe sy daaraan dink om vir Tomie styf duim vas te hou nie.

Sy wonder of daar iets fout is, want sy sien hoe ‘n kapkar met drie insittendes op volle vaart in die rigting van die wegspringhokke jaag. Sy hoop nie dis Sokkie wat vir Tomie afgegooi het nie.

Toe die kapkar agter die wegspringhokke verdwyn, gaan die hekke oop en die ses deelnemers beur met brute krag vorentoe.

* * *

Tomie hou vir Sokkie in sodat hy die ander vyf perde met hul jokkies goed in die oog kan hou. Semel hardloop met gemak in die tweede plek. Die gunsteling, Kroon, lyk of hy belangstelling in hierdie wedloop verloor het, want hy lê in die tweedelaaste plek, net voor Sokkie.

Na sowat vyfhonderd meter neem Tomie vir Sokkie vinnig vorentoe, maar soos hy dit te wagte was, keer die ander deelnemers hom om verby te kom. Hulle beweeg opsetlik voor hom in en stamp teen Sokkie dat sy amper van balans geruk word. Tomie besef dadelik dat die klomp te alle koste vir Semel wil laat wen. Hulle is ervare jokkies wat ‘n seuntjie geen kans sal gee om hierdie wedren te wen nie.

Semel het intussen die voortou geneem en Tomie trek weer vir Sokkie in die laaste plek in. Daar kom skielik woorde oor Tomie se lippe so asof die betekenis daarvan in die wind verdwyn. ‘n Siddering gaan deur die vyf perde kompleet asof ‘n onsigbare hand beheer oor hulle geneem het. Semel se spoed neem oombliklik af en die ander vier moet hul perde dadelik inhou, anders steek hulle hom verby. Semel se jokkie probeer alles in sy vermoë om spoed uit Semel te kry, maar dis alles tevergeefs. Die ander verminder hul spoed sodat Semel steeds voor bly. Kort-voor-lank kan sy jokkie niks meer as ‘n stap uit Semel kry nie. Die ander hou hul perde in om agter Semel aan te loop. Semel bly voor!

Skielik draai Semel om en begin in die rigting van die wenpaal retireer. Die ander vier sien wat gebeur en swaai ook hul perde om om agteruit in die rigting van die wenpaal te loop. Hulle besef dat hulle in die verkeerde rigting kyk. As hulle wil sien wat gebeur, sal hulle hulle in hul saals moet omdraai. Soos een man draai hulle om om agterstevoor in die rigting van die wenpaal te kan kyk. Semel is amper daar! Hulle wil hul hande in die lug gooi om hom aan te moedig, maar helaas, hul hande is aan hul perde se sterte vasgeknoop en voor hul oë skuif Sokkie voor Semel by die wenpaal verby!

Die toeskouers raas en skree. Sulke drama het hul nog nooit beleef nie! Dan wys een in die rigting van die wegspringplek. Daar is drie donkies wat uit die wegspringhokke op pad na die wenpaal is en elkeen het ‘n ruiter op sy rug. Rika kan ‘n man met rooi hare en ‘n dikke van ver af sien. Die derde het blonde hare. Die donkies skop agterop, spring in die lug en probeer hul bes om hul ruiters af te gooi. Dit lyk of daar is iets snaaks omtrent hierdie ruiters is. Sowaar, hulle is agterstevoor op die donkies se rûe vasgemaak!

* * *

Die polisie het die jokkies wat aan die knoeiery skuldig was, gearresteer en toe die donkies met hul vrag by die wenpaal kom, het die polisie op die rug van die bendebaas ‘n brief gekry met die adres waar die gesteelde goed gekry kon word. Die bendebaas en sy trawante is dadelik gearresteer en na die selle geneem waar hulle op hul verhoor moes wag.

* * *

Niemand het gewonder wat van die drie donkies geword het nie. Hulle het ook nie gemerk dat ‘n kraai met ‘n gekras die lug in is en ‘n brakkie en ‘n kat soos ou vriende agter ‘n klomp perdevoer gaan skuil het nie.

Die koerante het vir dae aanmekaar oor die Agterstevoorbende met hul agterstevoorbaas en agterstevoorlede berig.

* * *

Oupa het nie ‘n woord gerep oor die diere wat nie by die huis was nie. Tomie het die idee gekry dat Oupa verstaan – veral toe Rika vir Oupa vertel hoe dapper hy hom daar tussen die skurke gedra het!



D I E E I N D E



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

VuurWerke

deur die Posman

n versameling liefdes gedigte wat die stormagtige verhouding tussen man en vrou uit beeld, en ander gedigte.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar