Jeugverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Arno het die kapkar op die wal van ‘n riviertjie gestop om die perde ‘n blaaskans te gee. Hy stuur vir Tomie en Rika om hout, waarmee hy ‘n vuurtjie vir koffiewater wil maak, te gaan optel. Katryn help haar ma om die padkos uit te pak. Daar is genoeg om ook aan die struikrowers iets te ete te gee.

Omdat hulle nie die gevangenes se hande durf losmaak nie, moes Arno en Esmè hul maar met die hand voer. Soos Pureman voorspel het, het die ses nie ‘n woord gepraat nie.

“Tomie, ek is so jammer dat jy daar agter op die bagasie moes sit. Jy het alles gemis. Die struikrowers het so snaaks gelyk toe Pureman hulle agterstevoor op hul perde na ons toe gelei het, kompleet asof hulle skaam was om hul gesigte te wys. Pureman is ‘n held duisend, ‘n superhero!” sê Rika.

* * *

Arno moes die perde nog twee keer laat blaas voor hulle so kort voor sononder die stad binne gaan. Hy weet waar die polisiestasie is.

Die mense op die sypaadjies staar hul oopmond aan. Nog nooit het hulle gesien dat mense agterstevoor op perde ry nie. Dit is klaarblyklik ‘n bende wat gevange geneem is en sommer daar en dan kry hulle die naam van die Agterstevoorbende.

Nog voordat hulle aan die polisie oorhandig is, hardloop ‘n verslaggewer al by sy koerantkantoor in met ‘n berig waarin hy oor die arrestasie van die Agterstevoorbende bespiegel.

* * *

Daar waar Tomie agterop die bagasierak sit, steur hy hom nie aan die oproer wat hulle onder die mense op die sypaadjies veroorsaak nie. Hy verkyk hom aan die hoë geboue wat weerskante van die straat verrys. Dit lyk kompleet of hul toppe na mekaar toe buig. Sulke hoë geboue het hy nog nooit gesien nie. Dis rye en rye vensters, lae op lae van onder tot bo. Hy moet hom inspan om Kraai raak te sien waar hy op een van die toringblokke gaan sit het. Hy wonder hoe dit van bo af lyk. Miskien kan Kraai hom eendag gaan wys.

* * *

Die konstabels in die Aanklagkantoor is uiters verbaas om die bende agterstevoor op hul perde vasgemaak, te ontvang. Daar is gou vasgestel dis die berugde bende wat die polisie gereeld ontglip. Hulle is al vir jare met hul bendebedrywighede besig.

Nadat Arno ‘n verklaring afgelê het, vertrek hulle om verblyf vir ‘n paar dae te soek.

* * *



Dit was nie moeilik om verblyf te kry nie, want sommer by die eerste hotel waar hulle navraag doen, word hulle gehelp. Oom Arno kry twee kamers langs mekaar – een vir hom en Rika en die ander vir Tomie se ma, Katryn en Tomie.

‘n Portier neem hul bagasie na hul kamers en oom Arno gee hom ‘n fooitjie en vra dat hy moet reël vir die versorging van die kapkar en die perde.

Die kinders word aangesê om te gaan bad en skoon aan te trek, want hulle gaan in die hotel se eetkamer eet en ‘n mens moet skoon en netjies wees as jy daar toegelaat wil word!

* * *

‘n Kelner, met sy wit baadjie en swart strikdassie, ontvang hulle by die eetsaal se deur en neem hulle na hul tafel. Hy trek die stoel vir Tomie se mamma uit en sy gaan sit. Oom Arno en die kinders neem hulle plekke in.

Tomie en Katryn vergaap hulle aan die baie messe, vurke en lepels wat vir hulle gedek is. Dit het hulle nog nooit gesien. Tomie se mamma sien hul verbasing. Haar kinders het nog nooit in ‘n restaurant of hotel se eetsaal geëet nie!

“Ons eet vanaand van ‘n spyskaart af. Daar is verskeie geregte op die spyskaart waarvan ‘n mens kan kies.” sê Mamma “Vir elke gereg word daar skoon eetgerei gedek. Mens eet met die eetgerei soos dit gedek is, van buite na binne, dan sal jy nie deurmekaar raak nie.” Mamma gaan voort en lees die spyskaart wat op die tafel gedek is vir hulle voor. Daar is sop, ‘n vis voorgereg, vleis en groente hoofgereg, nagereg, kaas en beskuitjies, koffie of tee en vars vrugte. Met so‘n oorvloed eetgoed, dink Tomie, het Raanewot die goue kabouter, seker ook hier ‘n hand in die paai gehad.

Tomie, Katryn en Rika kon nie verder as die visgereg met die spyskaart vorder nie, toe moes hul stop om plek vir die nagereg te hou. Tomie het darem vir hom ‘n skeppie van die soetpatats geneem, want naas botter was soetpatats sy gunsteling.

Tomie het nie vergeet om ongemerk vir Kraai ‘n heerlike ete kamer toe te neem nie. Kraai het al lankal gesien waar Tomie se kamervenster is en hom op die vensterbank tuisgemaak. As Tomie hom nodig sou kry, is hy sommer byderhand.








Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kruispad

deur Manie Jackson

Toe Luzette en Manie se paaie gekruis het, en die lewe daarna.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar