Jeugverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Dolf het by die polisiestasie nie veel moeite ondervind om Gert, wat in aanhouding is, te siene te kry nie.

“Gert, die Baas wil weet wat gebeur het. Hoe is dit moontlik dat ‘n man, vrou en drie kindertjies julle aan die gereg kan oorhandig? Die Baas kan dit nie vat dat julle ten aanskoue van die hele stad, agterstevoor op jul perde ingebring is nie. Julle is die oorsaak dat daar van sy organisasie ‘n bespotting gemaak word en hy soek ‘n verduideliking.” fluister Dolf sodat niemand anders wat moontlik luister, kan hoor nie.

“Jy sal dit nie glo nie, Dolf,” fluister Gert terug “ek het so iets nog nooit gesien nie. Die een oomblik wag ons nog die kapkar in en die volgende oomblik praat iemand agter ons. Ons het hom nie gesien of gehoor nie – hy was net daar! Voordat ons na wapens kon gryp, het hy ons so vasgebind dat ons ons nie kon roer nie! Dit het kompleet gelyk of die toue uit die niet verskyn en ons vanself vasgewikkel het. Hy sê sy naam is Pureman. Ek sê jou reguit, Dolf, ek wil niks met daardie man te doen hê nie – hy is gevaarlik. Jy moet die Baas waarsku!”

* * *

Kraai vlieg van sitplek tot sitplek aan die oorkant van die straat waarin Arno en Esmè beweeg en hou hul goed in die oog. Dit is nie lank nie of hy kom agter dat hulle deur ‘n netjies geklede man agtervolg word. Die man bly so twintig-dertig meter agter hulle. Wanneer hulle stop om na iets in die winkelvenster te kyk, stop hy ook en wanneer hulle in ‘n ander straat afdraai, draai hy ook daar af. Hy stap doodluiters en dis duidelik dat dit nie sy eerste agtervolging is nie – hy is dit gewoond!

Na so ‘n rukkie vlieg Kraai ‘n bietjie nader om hom beter te kan sien sodat hy hom goed aan Tomie kan beskryf. Hierdie knaap lyk sommer gevaarlik en Tomie-hulle sal moet lig loop. Die man se welige bos rooi hare, sy regter bakoor en ‘n litteken op sy neus, staan uit.

* * *

Doors staan geduldig en wag dat Arno en Esmè hul besigheid by die bank voltooi. Hy is salig onbewus daarvan dat hy met ‘n valkoog deur Kraai dopgehou word.

Hierdie twee mense wat hy agtervolg, lyk soos twee gewone mense wat ‘n bietjie verlief op mekaar is. Beslis nie soos geheime agente nie! As hulle is, dan is hulle goeie toneelspelers. Hy is seker deur hulle te agtervolg sal hy niks agterkom nie. Dit sal nie moeilik wees om in hul hotelkamer te kom en hulle van aangesig tot aangesig te ontmoet nie. Hy ken die kamerbediendes in die hotel en vir ‘n fooitjie sal hulle amper enigiets doen.

Toe die twee uit die bank kom, het Doors hulle doodluiters tot by die hotel agtervolg.

* * *

Die kinders het na hul slapie saam met die grootmense in oom Arno se kamer bymekaar gekom. Terwyl oom Arno-hulle gesels het, glip Tomie ongesiens uit om te hoor wat sy spioen tewete gekom het.

Kraai wag al vir Tomie en brand om die nuus te vertel. Tomie luister aandagtig na Kraai se beskrywing van die gebeure en die agtervolger. Hier is beslis iets aan die broei!.

“Kraai, hou asseblief die agtervolger goed dop. Volg hom, maar sorg dat jy na slapenstyd hier is. Ons moet vlieg – ons het ons hele span nodig.”

* * *

Tomie hoor die klop aan die deur van oom Arno se kamer langsaan. Hy loer by hul deur uit en sien dadelik die man, geklee in ‘n kamerbediende-uniform. Hy het ‘n bos rooi krulhare, ‘n bakoor en daar is ‘n litteken op sy neus.

Oom Arno maak die deur oop.

“Ek is die kamerbediende, Meneer. Kan ek u handdoeke omruil?”

Tomie volg hom na binne en sien dat niks sy oë ontglip nie. Hy neem alles in, net soos iemand wat spioeneer.

* * *

Later het Kraai, Tomie se eie spioen, die man met die rooi hare na ‘n huis in die voorstede agtervolg waar ‘n groot vet man die deur vir hom oopgemaak het. Hy het die vet man Baas genoem!

Toe moes Kraai hom haas, want Tomie het planne vir vanaand!












Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Waarheen met die nuwe wyn

deur Christo Nel

Dr Christo Nel skryf hier oor die nuwe wyn-waarhede in die Bybel wat sy en ander se lewens verander het.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar