Jeugverhale

Bladsye:
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Op 'n klein plattelandse plekkie het daar 'n baie arm gesin gewoon. Hulle was so arm dat daar nie aldag iets te ete was nie, hulle het ook nie mooi klere gehad om aan te trek nie en die huisie waarin hulle gewoon het, was niks beter as 'n pondokkie nie.

Die huisie het aan oom Toom, Tomie se oupa behoort en Tomie het saam met sy mamma en sy sussie Katryn by sy oupa in sy huisie gewoon.

Tomie se oupa was al baie oud en kon nie meer werk nie. Hy het altyd op die stoep gesit en vir Tomie storietjies van konings en knegte, skone prinsesse en dapper prinse vertel. Tomie het baie van hierdie storietjies gehou, omdat hy wat Tomie is, hom sommer maklik in die hoofrol kon in dink.

Oupa het vas geglo dat daar op sy erf 'n skat begrawe is. Smiddae na skool het hy vir Tomie en Katryn gaan wys waar hulle moet soek. Tomie en Katryn was so moeg van arm wees dat hulle met groot ywer gat op gat gegrawe het, maar sonder om iets te vind.

Oupa se erf was aan die einde van die dorp en eenkant sodat hulle nie bure gehad het nie. Dit was maar baie eensaam vir Tomie, so sonder maatjies! Dit was ook baie ver om skool toe te stap.

Tomie se mamma het vir 'n baie min geldjies in die dorp se bakkery gewerk, maar sy was darem toegelaat om wanneer sy gewerk het 'n brood en vier stukkies gebakte vis huis toe te neem.

Al was hulle so arm, het Tomie se mamma altyd gesorg dat hulle skoon gewas en aangetrek was. Katryn het altyd inspeksie van Tomie se ore gehou en as hy vergeet het om sy ore te was, dan het sy met haar sakdoekie in sy ore geboor. Dit het ook nie gehelp dat Tomie probeer weghardloop het nie, want Katryn was baie ouer as Tomie en kon vinniger hardloop!

Hulle huis het nie 'n badkamer gehad nie, ook nie water wat in pype na die huis toe aangelê was nie. Die water is uit 'n boorgat met 'n handpomp in 'n emmer gepomp wat in die huis ingedra is, op 'n tafeltjie neergesit en met 'n netjiese doekie toegegooi is. Langs die emmer is daar 'n blikbeker waarmee water vir huisgebruik geskep kon word.

Die kombuisie was ook as badkamer gebruik omdat die badwater in groot blikke op die koolstoof warm gemaak moes word. Dit was dan gerieflik om die water in die sinkbad te gooi. Dit was altyd baie moeilik om die bad se water uit te gooi. Tomie moes maar die bad na buite sleep, waar hy die bad kon omkeer om die water uit te gooi. Met die geslepery het die bad later deurgesleep en begin lek. Toe was dit 'n gedoente om die vloer op te droog! Tomie het gou 'n plan gemaak en die binnekant van die bad met saggebreide seep toegesmeer. Toe was sy probleem op 'n einde!

Daar was ook diere op Tomie-hulle se erf. Snippie sy hondjie, Koninkie die kat, Witkous die melkkoei en natuurlik Kraai, die kraai wat hom op die erf tuisgemaak het om 'n oorblyfseltjie uit die ander diere se kosbakke te aas.

Tomie en Snippie was onafskeidbaar. Waar Tomie gaan, het Snippie saamgegaan - behalwe skool toe, want dit was vir hom te vervelig daar!

Koninkie en Snippie is nie toegelaat om in die huis te slaap nie, maar as mamma in die oggende oopsluit, glip Koninkie vinnig by haar verby om net vir 'n ou klein rukkie by Tomie op die bed te kan lê. Dan spin daardie kat darem van lekkerte!

Dit is Tomie se werk om vir Witkous te melk en te versorg. Die melkery moes in die oggende voor skool afgehandel en Witkous dan na die dorpskamp geneem word waar sy dan kan wei tot hy haar weer in die laatmiddag gaan haal om weer te melk.

Van Witkous se oorskietmelk het Tomie-hulle ook botter gemaak, want die room wat bo-op die melk gedryf het, het hulle versigtig met 'n lepel afgeskep en in 'n vrugtefles bymekaar gemaak. As die fles amper vol is, moes Tomie daardie bottel skud tot die room botter word. Oupa het die karringmelk met 'n botterspaan uit die botter gevryf, die botter gesout en dan was dit gereed vir gebruik.

Tomie is baie lief vir botter en oupa het altyd aan tafel vir hom gesê: "Thomas, jou oë is alweer net op die botterpot!" Tomie het hom nie veel daaraan gesteur nie - die botter was vir hom te lekker.

Dit was nie vir Tomie lekker om skool toe te gaan nie. Dit was ver om skool toe te loop, want Tomie was al dorpskamp toe en terug om Witkous te versorg. Party dae het dit gereën, of was dit koud, of die wind het gewaai! Dorings het in sy kaalvoete gesteek en sy tone was gedurig teen klippe stukkend gestamp! Daar was ook nog die skool se boelie, ou Kieriebeen, wat altyd kleiner kinders afgeknou het! Tomie was juis ou Kierie se teiken!

So het die dae verby gegaan tot eendag.... toe gebeur daar dinge!!



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


    Geborg deur :

    Van ons ander lede

    Die Skree van Stilte

    deur Alex Fan Moniz

    37 spesifieke gedigte gekies uit ‘n versameling van oor 300 wat ek oor die afgelope 25 jare gedig het, wat ek graag met julle wil meedeel, daar is ook ‘n paar nuwe gedigte spesiaal vir die bundle gepen.



    picture

    Kompetisies

    Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

    picture

    Nuusbriewe

    Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

    picture

    Winkel

    Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar