Jeugverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

"Mamma!" roep Tomie "Daar's 'n geluid in die hangkas wat maak dat ek nie kan slaap nie! Ek is al so vaak dat ek aanmekaar gaap, maar net soos ek wil slaap kom die geluid, dan skrik ek wakker en dit hou al lank so aan!"

Tomie se mamma kom by Tomie op die bed sit en blaas die kers dood. So wag sy en Tomie in die donker vir die geluid. Grrrrr...grrrr...grrrrr... Tomie ruk soos hy skrik en gryp sy ma se arm vas.

"Dis 'n muis wat in die kas wil nes maak, nou knaag hy aan die kas om lekker sagte knaagsels te kry waarin hy sy kleintjies wil grootmaak. Ons sal hom moet vang, anders vreet hy alles gate in. Gaan kry asseblief vir mamma die slagyster op die rak in die kombuis en bring sommer vir ons 'n stukkie brood wat ons as aas kan gebruik om die muis na die val te lok"

Tomie is in 'n japtrap terug en kyk nuuskierig toe hoe sy mamma eers 'n stukke brood op die sneller laai en dan die slagyster oorhaal en baie versigtig onder die kas instoot. "As die muis met sy bekkie aan daardie brood raak, sal die slagyster toeslaan en hom vang. Tot dan moet ons net geduldig wag. Probeer nou rustig slaap, my kindjie." sê sy, gee hom 'n drukkie en vou die komberse om hom toe.

Tevrede dat dit sekerlik nou die einde van sy probleem sal wees, raak hy gou-gou aan die slaap.

* * *

Tomie word met 'n ruk wakker geskud. Dit is gedoriewaar al Koninkie wat by mamma verby geglip het en nou by hom op die bed kom lêplek soek het. Mamma is dus al op en oupa seker ook. Hy sal moet wikkel as hy nie laat wil wees nie. Hy het baie take om te verrig voor hy skool toe kan gaan. O, gaats, val dit hom by, hy het ook nog spelwoorde om te leer! Meneer slag hom sekerlik vandag af!

Soos 'n blits is Tomie gewas en aangetrek! Hy gryp die melkemmer met louwater daarin wat oupa al vir hom gereed gekry het, maar nie voor hy eers onder die kas gaan inloer het om te sien of die muis al gevang is nie. Die muis is nog nie gevang nie, maar daar is nie tyd om hom verder daaroor te kwel nie! Witkous moet gemelk en dorpskamp toe gejaag word!

Op pad dorpskamp toe dink Tomie daaraan dat hy wat Tomie is, nie lief is vir droë brood nie en die muis seker ook nie. Hy moet vir mamma vra om 'n stukkie brood met botter op as lokaas te gebruik!

Nadat Tomie met al sy takies klaar is, is sy mamma al werk toe en Katryn is ook al skool toe. Hy sê gou vir oupa totsiens, gee vir Snippie en Koninkie elkeen 'n vryf oor die kop, gryp sy boeksak en haal sy spelboek sommer so in die draf uit om sy spelling te leer. Daar's groot moeilikheid as hy nie vandag sy spelling ken nie! Meneer vat nie nonsens nie!

"Al weer nie huiswerk gedoen nie, Slak!" Tomie voel hoe sy moed in sy skoene sak - al het hy nie skoene aan nie! Dis Kieriebeen wat Tomie se boek uit sy hande gryp.

"Asseblief Kerneels," dis Kierie se regte naam. "gee my boek terug" smeek Tomie tevergeefs. Ou Kierie hou daarvan as hy iemand in sy mag het en ken geen genade nie.

"Jy kan jou boek vanmiddag na skool kry, maar nie voordat jy gekry het wat jou toekom nie." Tomie weet wat dit beteken en smeek nie verder nie. Hy kyk ou Kierie wat al om die hoek verdwyn mismoedig agterna. Vandag is die dag dat hy wat Tomie is, gaan les opsê. Hy gaan op die muurshoop langs die pad sit en vryf in gedagte met sy regter wysvinger oor die moesie op sy linkerwang.

"Tomie, ek het gesien wat ou Kierie nou net met jou gedoen het." hoor Tomie en toe hy opkyk staan Rika, 'n dogtertjie in sy klas, langs hom. "Ek sal vir meneer gaan sê." sê sy. "Hy kan nie vir altyd met sy streke wegkom nie."

"Moet dit asseblief nie doen nie, Rika. Meneer sal dit nie as verskoning aanvaar nie, omdat ek die spelwoorde al gister moes geleer het."

"Dan leen ek my boek vir jou. Of nog beter, ek kan jou so terwyl ons loop die spelling vra, dan sal jy nog vinniger leer."

Sy haal haar spellingboek uit haar tas. Rika vra en Tomie spel en toe hulle by die skool kom, ken Tomie al die woorde uit sy kop, selfs beter as wat hy uit sy eie boek sou geleer het!
Tomie het dit baie geniet, want hulle het lekker gelag elke keer as Tomie 'n dom fout gemaak het.

"Baie dankie Rika, ek skuld jou hoor." sê Tomie dankbaar aan die mooi dogtertjie met haar blou ogies, donker haartjies en kuiltjie in die ken.

Tomie het volpunte vir sy spelling gekry en meneer was baie ingenome daarmee, het Tomie geweet. Toe meneer sy toets teruggee het, het meneer sy hare deurmekaar gevryf!

Tomie het sy boek na skool teruggekry, maar nie voor ou Kierie hom voor 'n klomp ander kinders rondgestamp en 'n taai klap gegee het nie. Tomie het hom soos 'n man gedra en die geboelie gevat want hy wat Tomie is, is nie 'n lafaard nie!

* * *
By die huis gekom, het Tomie eers gou 'n draai by die slagyster gemaak. Daar was nog geen muis in die val nie en die stukkie brood het maar erg uitgedroog en hard gelyk. Mamma sal verseker vanaand 'n ander broodjie met botter op die sneller moet sit, anders vang hulle nooit die muis nie!

Oupa het 'n bietjie gaan rus en Katryn het met haar huiswerk doenig geraak, Snippie lê onder die appelkoosboom en slaap en Koninkie is nêrens te sien nie.

Tomie is erg verveeld en stap na die gat waar hy en Katryn vir oupa se skat soek. Hy spring in die gat wat al so diep is dat sy kop net bo die rant van die gat uitsteek. Hy skep die losgrond met die graaf en gooi dit op die wal. Dit is harde werk vir 'n klein seuntjie, want dit vat nie lank voordat sy rug, arms en hande lam word nie, dan moet hy regop kom en asem skep. Tomie haal sy sakdoek uit om die sweet uit sy oë te vee, toe sien hy dit voor sy oë op die wal lê! Hy moes dit flussies met 'n graaf vol grond op die wal uitgegooi het! Dit lyk na 'n beeldjie nie veel groter as Tomie se duim nie.

"Dis wraggies 'n beeldjie!" sê Tomie vir homself. Hy tel die beeldjie op en begin sommer dadelik die grond en stof met sy sakdoek van die beeldjie afvee. Dit lyk of die beeldjie van goud gemaak is. Tomie sit die beeldjie op die wal voor sy gesig neer en bekyk hom goed. Sou dit oupa se skat wees?

"My naam is Raanewot," sê die beeldjie en Tomie slaan amper agteroor van die skrik.

"My goeiste hoe laat jy my skrik!" Tomie probeer vir al wat hy werd is om nie vir die beeldjie te wys hoe groot sy skrik was nie.

"Ek is Tomie, partykeer noem my oupa my Thomas." sê Tomie wat ongemaklik voel om met 'n klein beeldjie te praat, terwyl hy nog so van die skrik bewe!

"Ek weet, Tomie, want ek ken jou al baie lank. Elke keer as jy hier na jou oupa se skat kom soek het, het ek jou beter leer ken. Ek weet jy is eerlik, pligsgetrou, hardwerkend, onverskrokke en as jy voor 'n probleem te staan kom, kan jy gesonde oordeel aan die dag lê. Ek het iemand nodig om 'n baie belangrike taak te verrig, maar eers moet jy nog deur 'n toets gaan, voordat ek baie besonderse magte aan jou gaan gee. Onthou jy sal self moet oordeel wat jy met die magte mag doen, as jy die toets geslaag het. Niemand mag ooit van ons ontmoeting weet nie! Nou moet jy my weer in hierdie gat begrawe. Maak gou dat niemand my sien nie!"

"Aggenee, Raanewot, ek wil jou nie weer begrawe nie. Ek wil hê dat jy my maatjie moet wees, iemand met wie ek kan gesels."

"Ek sal sorg dat jy maatjies kry met wie jy kan gesels" sê Raanewot en Tomie kan sien dat hy haastig is dat Tomie sy opdrag moet uitvoer.

Tomie draai Raanewot in sy sakdoek toe en plaas hom versigtig onder in die gat. Tomie kan nie verstaan waarom die vriendjie van hom na al die soekery nou weer begrawe moet word nie. Hy voel sommer hartseer!

Toe Tomie klaar die gat toegegooi het, gaan bêre hy die graaf, want oupa hou nie daarvan as die gereedskap buite rondlê nie.

Toe Tomie terugkom met 'n blommetjie wat hy gepluk het om op die beeldjie se graffie te sit, was hy baie verbaas - hy kon nie 'n teken van die graffie vind nie, want orals het die gras welig gegroei!



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Inge

deur Rachelle du Bois

Inge Bergh is ‘n suksesvolle sakevrou. Sy besit en bestuur haar eie teetuin in die Bergh Kwekery. Sy is gelukkig en tevrede solank sy net genoeg tyd kry om te verdwyn na haar spesiale hoekie by die fontein. Tot haar skok en ontnugtering vind sy een aand iemand anders daar. By haar plek. Wat soek die stil en teruggetrokke buurman, André Grobler, snags in hulle tuin by haar fontein? Hoekom is hy hier waar sy is, nag na nag? En hoekom kan sy nie wegbly nie – wat is dit wat haar snags hierheen bring, net om hom hier te kry? Sal sy ooit verstaan wat dit is wat hom dryf? Sal sy kan verklaar hoekom sy aan die bewe gaan by die blote gedagte aan die aantreklike man met die versluierde oë?



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar