Jeugverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Tomie hoor die voorhekkie oop -en toe gaan en sy mamma se voetstappe in die paadjie tot by die voordeur. Daar is ‘n paar oomblikke stilte, dan draai sy die deurhandvatsel, stoot die deur oop en kom die huis binne. In haar een hand hou sy die brood en vis en in haar ander hand ‘n mandjie wat oorlaai is met pakkies. Sy sit alles op die kombuistafel neer en draai haar na Oupa.

“Pa, ek het hierdie mandjie op die voorstoep gekry. Ek wonder wie dit gebring het. Het Pa nie iets gehoor nie?”

“Nee my kind,” sê oupa, ”ek het niks gehoor nie en Snippie het ook nie geblaf nie.”

“Mamma, kan ons kyk wat in die mandjie is?” vra Tomie en Katryn gelyk.

“Julle twee moet nou nie neul nie. Ons swaarkry is seker geen geheim nie, maar ek voel ongemaklik as mense ons bejammer. Ons weet egter nie wie dit gebring het nie en daarom kan ons dit nie terugstuur nie. Kom staan maar nader julle twee, dan kyk ons wat alles in die mandjie is.”

Mamma maak die pakkies een-vir-een oop. Daar is dadels, rosyntjies, gedroogte vye en - perskes, daar is vars druiwe en aarbeie, waatlemoenstukke, ’n blik appelkooskonfyt, daar is ook koesisters, melktert en selfs’n pak winkelbotter en ‘n groot stuk kaas!

Die kinders kan hulle oë nie glo nie en Mamma lyk verwonderd. Hulle is nie aan soveel oorvloed gewoond nie. Om Oupa se mondhoeke huiwer daar ‘n glimlaggie so asof hy meer weet as wat hy wil sê.

“As ons klaar ons brood en vis geëet het, sal ek vir ons die melktert sny, want dit sal eerste bederf. Die ander goed pak ek in die kas. Toemaar Tomie ons kan vanaand van die winkelbotter op ons brood smeer.” lag Mamma toe sy sien sy oë is op die winkelbotter vasgenael.

“Vanaand is ek maar bly dat ons nie so wel-af is nie. Daar sal sekerlik plek in die kas wees om hierdie klomp goed weg te pak.” Mamma stap en maak die kas se deur oop. Sy deins terug en hou haar hande voor haar oë. ”Hier gebeur vanaand vreemde dinge!” roep sy uit.”Die kas is stampvol kruideniersware en groente. Daar’s nie ‘n plek vir ‘n muis nie!” Sy val op die naaste stoel neer en gaan van skok aan die bewe. Haar hele lyf ruk en sy hou haar hande voor haar oë.

“Bring gou vir jou ma ‘n bietjie suikerwater, Tomie. Sy ly aan skok.” sê Oupa wat naderstaan en sy arm liefdevol om haar skouer sit. ”Jy moet sterk wees my kindjie,” sê hy vir haar, ”hier gaan nog baie dinge gebeur wat jy nie sal verstaan nie, maar, dis dinge wat moet gebeur.” Tomie se mamma het al geleer dat sy nie vir haar pa moet vrae vra nie. Op sommige vrae gee hy nooit reguit antwoorde nie.

Nadat Mamma die suikerwater by Tomie geneem en gedrink het, het sy onmiddellik beter gevoel en vir Katryn gehelp om die tafel vir aandete te dek.

Daardie aand was die vis en die brood met die winkelbotter vir Tomie ekstra lekker. Selfs Katryn wat gedurig haar figuur dophou en nooit genoeg eet nie, het goed weggelê. Mamma het die melktert vir nagereg bedien en hulle vier het die hele tert opgeëet. Almal het gebabbel en gewonder oor die wonderwerk, behalwe Oupa wat af-en-toe in die rigting van Tomie gekyk het. Tomie het niks gesê oor Raanewot en sy vriende nie.

Na ete het Tomie gou uitgeglip om vir Snippie en Koninkie ‘n lekkernytjie uit Mamma se oorvol koskas te gee, maar net Snippie was buite en geen spoor van Koninkie nie.

“Ek weet nie wat daardie Kat nou weer aanvang nie. Ek raak regtig bekommerd, maar bewaar jou siel as jy dit vir hom sê, Tomie.” sê Snippie saggies.

“Nooit as te nimmer sal ek jou geheim uitlap nie.” lag Tomie. ”Lekker slaap Snippie.”

“Nag Tomie.” sê Snippie en hardloop ‘n draai agter ‘n bos in.

Tomie was so moeg dat hy dadelik aan die slaap geraak het. Hy het skoon van die slagyster vergeet en glad nie die muis se geraas gehoor nie.






Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Bertha se Stories

deur natasha dutton

"...my issues is maar soos joune, my vrese gegrond op ervarings, dinge waarvoor jy ook bang is. Die enigste verskil is, ek is 'n stort mens, geen badprop wat my geparfumeerde water in toom kan hou nie. Die lewe is nie 'n bad vol foam bath nie, nee jong, so maklik is dit nie. Die poepwalms laat jou verstik, nie eers te praat van die vloeistowwe nie! Maar dis die lewe." Wel, nou weet jy wat om van hierdie boek te verwag...



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar