Jeugverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Na skool loop Tomie stadig en swaarmoedig huis toe. Hy is baie onseker en bang oor wat hy daar gaan vind. Hy loop en skop-skop na die grashalms wat oor die voetpaadjie hang en kom nie agter dat Rika agter hom loop en hom dophou nie.

“Deksels,” sê Tomie, hardop. ”Hoe gaan ek haar ooit oortuig dat ons nie skelms is nie?” Hy gee so’n woeste skop na ‘n grassaad dat hy amper agteroor tuimel.

Rika lag ‘n klokhelder laggie: ”Amper het jy nou op jou jis gaan sit. Vir wie wil jy oortuig dat julle nie skelms is nie? Vir my hoef jy nie te oortuig nie, ek weet julle is nie!” Rika gee Tomie se arm ‘n drukkie. ”Ek is nou jou maatjie en maatjies is maatjies vir ewig. As jy wil hê dat iemand moet help, sal ek my pappa vra om te help. Hy is ‘n prokureur en weet altyd wat om te doen.”

“Dankie Rika, ek sal dit onthou. Jy is reg, maatjies is maatjies vir ewig!” Hy sukkel om ‘n knop in sy keel weg te sluk.

Net verby die miershoop draai Rika af na hulle huis toe en Tomie loop verder, baie meer gerus omdat hy nou ‘n maatjie het wat in hulle onskuld sal glo as hulle van diefstal beskuldig word. Tomie is vas oortuig dat dit sal gebeur. Die getuienis teen hulle is ooglopend en oortuigend genoeg!

By die nuwe hekkie stap Tomie in en Snippie kom hom tegemoet.

“Hier is vandag groot moeilikheid,” sê hy, ”daar is vreemde mense in die huis. Hulle het jou ma vroeg van die werk-af gebring, sy is ook daar binne en hulle vra haar aanhoudend vrae wat sy nie kan antwoord nie. Ek het my skoon vir die vet vent vervies en as Oupa my nie gekeer het nie, het ek hom sowaar ‘n byt gegee wat hy nie gou sou vergeet nie.” Snippie gee ‘n harde grom om te wys hoe ernstig hy was.

”Jy sal seker bly wees om te hoor dat die kat terug is." Gaan hy voort. "Hy is daar onder die appelkoosboom en as jy my vra, lê hy en drome droom. Hy sê hy is moeg want hy het ‘n moeilike tyd agter die rug. Ek het hom vertel dat jy nou dieretaal kan verstaan en toe is hy baie bly. Hy het kwansuis belangrike nuus vir jou.” Tomie kan sien dat Snippie bly is dat Koninkie ongedeerd by die huis aangekom het.

Tomie gaan by die kombuisdeur in en luister na die stemme in die voorkamer.

“Mevrou, as jy nie nou kan verduidelik waar julle so skielik aan al hierdie welvaart kom nie, sal ons geen ander keuse hê, as om jou te arresteer nie.” Sê ’n growwe mansstem. Tomie hoor iemand anders sagter iets sê. Hy hoor Oupa kug en Katryn saggies huil.

Tomie glip stilletjies by die agterdeur uit. Die moeilikheid wat hy verwag het, is hier! ”Kom Snippie, ons moet nou dadelik na Rika-hulle toe gaan. Sy het belowe dat sy haar pa sal vra om ons te help. Ons het nou hulp dringend nodig.”

* * *


Uitasem verduidelik hy aan Rika dat sy ma gearresteer word en dat hulle nie weet wat om te doen nie. Rika beloof om haar pa om hulp te vra sodra hy van die werk af kom. Sy verseker hom weereens dat haar pa sal weet wat om te doen. Tomie sê niks van Raanewot nie.

* * *

Terug by die huis is almal weg, net Oupa en Katryn is daar. Oupa het sy arm vertroostend om haar skouers en sy snik saggies.

“Waar was jy, Tomie? Jou ma is so pas gearessteer oor al die dinge wat hier by ons huis gebeur het.” sê Oupa.

“Ek weet Oupa, daarom het ek vir Rika gaan vra dat haar pa ons asseblief moet help. Hy is ‘n prokureur.” Tomie draai om en stap by die agterdeur uit appelkoosboom toe. Daar lê Koninkie nog uit soos ‘n kers!

Saggies vryf hy oor Koninkie se pels. Koninkie draai op sy rug en rek hom behaaglik uit. “Ai, Tomie, jy weet darem net hoe om ‘n kat lekker wakker te maak!” En hy gee ‘n spin om dit te benadruk. ”Nou moet ek eers iets te ete kry – ek sterf van die honger!” Koninkie staan op en loop na sy kosbak toe.



.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Alles-in-een-toerustingspakket

deur Christo Nel

Wat Joyce Meyer gedoen het in Engels, doen Christo Nel nou in Afrikaans! Hier voor jou het jy iets unieks in Afrikaans. Leer om in Jesus se Naam mense te bedien, met behulp van die Alles-in-een- Potpouri-toerustingspakket uit die Nuwe Wyn-kelder!



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar