Jeugverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Haar pa was nog skaars by hulle voordeur, toe hardloop sy en gryp hom om die lyf.

“Waarom is jy vandag so bly om my te sien, Rika? Jy gee my skaars tyd om in die huis te kom!” lag hy. Vandat haar ma twee jaar gelede oorlede is, het daar ‘n besondere band van liefde en vertroue tussen hulle ontwikkel. Hulle was net op mekaar aangewese vir vertroosting en begrip, want elkeen het die gemis van die ander geken.

“Pappa,” val sy met die deur in die huis, ”hulle het Tomie se mamma gearresteer. Sy is onskuldig en ek het belowe dat Pappa vir hulle sal help, want Pappa sal weet wat om te doen.”

“Ja, my Skat, ek het dit reeds gehoor. Ek het ook gehoor dat die getuienis teen haar verdoemend is. Mens kan probeer om haar op borgtog vrygelaat te kry, maar hulle is so arm dat hulle gewis nie geld vir die betaling van die borg sal hê nie.”

Rika hardloop na haar kamer en na ‘n gevroetel kom sy terug met haar spaarvarkie wat sy na haar pappa toe uithou. ”Al die geldjies wat Mamma altyd vir my gegee het en ook die van Pappa het ek in my varkie gespaar vir wanneer ek dit nodig sal kry. Hy is amper vol en ek het die geld nou nodig om Tomie se mamma se borg mee te betaal.”

Arno vat die spaarvarkie en draai vinnig om sodat sy dogtertjie nie sien dat sy oë in trane swem nie. ”My Kindjie, ek is baie trots op jou. Ek sal my beste vir hulle doen.” is al wat hy kan sê.


* * *

Arno stap die Polisie-kantoor binne en vra dat hulle asseblief vir ‘n borgverhoor moet reëlings tref. Dit beteken dat die Landdros moet besluit of hulle Rika se ma kan vertrou om nie te vlug as sy tot die hofsaak moet voor kom, vrygelaat word nie. Hy wil ook met sy kliënt, die dame wat van inbraak en diefstal aangekla word, gesels. Almal ken vir Rika se pa en daar word flink aan sy versoeke voldoen. Hy neem agter ‘n lessenaar in ‘n kantoor plaas en wag dat die beskuldigde ingebring moet word. Daar is ‘n klop aan die deur.

“Kom binne.” sê Arno en staan op. Die deur gaan oop en dan staan sy voor hom. Wat ‘n pragtige mens met ‘n sagte glimlaggie om haar mond en weemoed in haar oë!

“My naam is Esmè, Meneer.” sê sy.


* * *

Die betoog is gou afgehandel. Daar is geen gevaar dat die beskuldigde nie vir haar verhoor sal opdaag nie.

“Wat bied die verdediging vir borg aan?”vra die Landdros.

“Die inhoud van hierdie spaarvarkie, Edelagbare.” Arno wys na die spaarvarkie voor hom.

“Behoort dit aan die beskuldigde se seun?”

“Nee Edelagbare, aan my dogter, Rika.”

“Die borg word net so aanvaar. Die Spaarvarkie word nie oopgebreek nie, tensy die beskuldigde haar borgvoorwaardes verbreek. Dit is die bevel van hierdie Hof.” Die landdros kap met die houthamer op die Bank, staan op en stap uit.


* * *

Tomie-hulle het klaar geëet. Daar was vanaand nie brood en vis nie. Katryn het uit die vol koskas al die bestanddele gekry om vir hulle ‘n heerlike ete voor te berei. Die kos was baie lekker, maar niemand was juis honger nie. Al drie het net voor hulle gestaar en niks gesê nie.

Die voordeur gaan oop en Mamma en Rika se pappa kom in. Tomie en Katryn storm op hul ma af en omhels haar en sy druk amper hul wind uit van blydskap om weer tuis te wees.

Arno loop op Oupa af en steek sy hand uit.”Ek is Arno, Rika se pa, Oom.”

“Thomas,” sê Oupa, ”noem my maar oom Toom, almal maak so.”

Daardie aand het hulle net oor die aanklag teen Tomie se mamma gepraat. Tomie het nie alles verstaan nie, maar hy het dit vir homself uitgemaak dat daar net een van drie moontlikhede is. Sy ma gaan tronk toe, of hy vertel alles van Raanewot en dan is hy nie eers seker dat hulle hom sal glo nie, of hy moet die regte skelms gaan soek. Hy het sowaar die oplossing gekry! Dan sak sy moed in sy skoene. Waar moet hy begin?



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

KIEKIES

deur Kiekies

'n Potpourri van aardse en menslike insidente, wat wissel van skreeusnaakse humor tot hartroerende tragedie.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar