Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende



Hermanus staar sy skoonma peinsend aan. Haar skerp tong herinner hom aan die fyn geel bossiedorings in sy kaalvoet kinderjare. Voete sleep sleep om die fyn bytende doringsplinterjies af te vee. Warm soel aande, naald in die hand om die afgebreekte pendoringpunte eina eina uit die diepte van die voetsole te krap.

“Hermanus wil julle tee hê?” Hy kyk haar onderlangs aan, hoekom vra sy nie liewer of hulle ‘n bier wil hê nie. Tee? “Nee dankie Ma”. Ella kyk hom skerp aan. “Ja as ek nou drank aangebied het was jy en jou pa weer voor in die koor. Waarom ‘n man altyd moet suip as daar vleis gebraai word, weet nugter alleen?” In sy gedagte dink hy : “jaaaaaaa maaaaa, as ek pa Steyn was het ek al lankal as boemelaar die pad gevat na nêrens” ‘n Ou doppietjie is mos sonde by jou. Hy wonder of dit sal werk as ‘n mens ‘n kermende ou skoonma met een van die braaitange net so liggies van agter brandmerk. Hy sien pa Steyn krap maar geduldig nog ‘n paar stukkies hout in die vuur. Sy eie vuur oor die jare heen halfpad geblus met die kywende alleswetende vrou. Skoonma Ella is ‘n meester manupuleerder en dan volg ‘n verwytende tranedal as sy nie haar sin kry nie. Sy is soos een van die kameeldoringboom pendorings, steek diep en sit vas!

“Julle moet roer met die braaiery ons wil nie middernag eet nie! Ma Ella stap terug kombuis toe om weer die volgende stel bevele daar uit te deel. Sy moet altyd in beheer wees en dit grief Hermanus tot in sy siel.” Hy hoor haar sê “Ek gaan sout en peper solank die vleis, want julle mans neuk mos altyd al wat ‘n gemors van kruie en speserye is oor die vleis sodat geen mens dit kan inkry nie” Hy sien skoonpa knipoog vir hom, wys met sy kop na die garage se kant toe en hy kry die boodskap. Hy stap kombuis toe. “Ma ek gaan vir my en pa bietjie koue gemmerbier ingooi” “Nou hoekom het jy nie gepraat nie Hermanus ek het mos gevra of jull tee wil hê. Jy kon net sowel vir my gesê het julle wil gemmerbier hê! Tipies, solank iets klink na drank is dit beter as tee!” Hy grinnik onderlangs. “Nee wat, Ma het Ma se hande vol ek sit sommer gou handjie by. Ma weet mos ma maak die beste gemmerbier in die land”. Nou speel hy so reg in haar hand, sy hou van komplimente. “Ja hierdie is nog my oorlede oumagrootjie se resep en ek deel dit met niemand nie.” Hermanus voel die stout terggees in sy binneste kriewel. “Het ma darem so ‘n bietjie ekstra vars gemmer ingesit?” Uit die kant van sy oog vang hy vir Trudie sy vrou, sy het daardie “Hermanus jy is nou aspris” glimlag om haar mond, sy ken sy gekorswil ook al baie goed. “Toe jong, uit is jy, vat die vleis saam en moet nou nie die goed gaan verbrand nie” Hy neem die bak met vleis buite toe, gee dit vir skoonpa, knipoog en gaan haal die twee glase gemmerbier. Skoonma is nog steeds op die onderwerp van hoe goed haar familie was met die vleisbraaiery en waar sy haar kundigheid aangeleer het. “My oorlede pa ……..” Haar stem vervaag toe hy by die agterdeur uitloop, reguit garage toe. Oppad gooi gou die helfte van die gemmerbier uit die glase. Skoonpa hou die fort. Agter die petrolkan van die grassnyer haal hy ‘n botteltjie Vodka uit en maak die glase vol. Daar is onder skoonma se wakende oog nie maklik weer kans om by die voggies uit te kom nie. ‘n Man moet gooi en klaarkry.!

Die sissende klank van vleis wat braai, heerlike geur van die wors en gedokterde gemmerbiertjie is ‘n wenresep. Hy sien hoe skoonpa Steyn ontspan. Om gedurig in jou pasoppens vir ‘n vrou te wees kan op die langeduur nogal aan ‘n man se nerwe kou.

“Steyn…… is die vleis al gaar? Die kinders is honger, wat draai julle so?” Skoonma Ella se stem ontstel nou nie meer vir skoonpa Steyn nie. Hy is rustig. Daar is so ‘n gemmerbier kalmte oor hom. “Nou nou moeder amperkiesjh reg” Ella kom fronsend by die agterdeur uit. “Steyn, wat het jy gedrink, jy klink gesuip!” “Nooit my liefste, net daardie heerlike sjemmerbier van jou dit ish sjeker die vars sjemmer wat die duwweltjiesh innie bier ingegis het” Hierie ish ‘n juweel van ‘n familie resjep, die beste nog!




Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

***
Vol punte, sjowaar!
6 jaar 11 maande 4 weke 11 ure oud


Gemmerbier...
.....,eish maar ek het dit nou geniet en heerlik gelag! Ja-nee so 'n gekyf kan g'n mens uithou nie!
6 jaar 11 maande 4 weke 12 ure oud


sjemmer
schwemmer gemmer..
6 jaar 11 maande 4 weke 13 ure oud


Gemmerbier
Lekker gelees dankie en ja dit gebeur as dit bietjie te veel gis nê?
6 jaar 11 maande 4 weke 15 ure oud



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar