Kortverhale

Titel: Storieman
Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ek moes mos gewéét het dat die duiwel ook soms met 'n rooimond soen, en die vurk dan van agteraf in jou rug steek. Maar dié spul giggelende meisiematers was onstuitbaar; so, ek rol maar net oë en giggel saam, want bo-op die kombuistafel sit oom Jorrie soos koningkarel op sy troon. En hy glimlag van oor tot oor terwyl hy sy hande ingenome teenmekaar van plesierigheid vryf.

Gina sit haastig 'n beker koffie voor hom neer en Alet, gewoonlik muisstil, stoot van Ma se lekker koffiekoekies wat sy skelmpies uit die groot katjies-en-hartjiesblik uitgehaal het, onder sy hand in. Natuurlik sal dit Ans wees wat reeds haar stoel tot styf teenaan sy hangende bene getrek het. 'Toe-toe!' sê sy opgewonde en wink ons ander om ook nader te kom.

Ma is dorp toe; nie sommer net dorp toe nie: grootdorp toe om die maand se kruideniersware te gaan koop, en met genoeg opdragte om ons klomp hier besig te hou. Die belangrikste natuurlik is hersiening, want die eksamen; dis nou dié grote, begin oor 'n paar dae. Alet is die wiskundige, terwyl Ans ons met 'is & are's' gaan dril. Dit was die plan, maar toe kom trek oom Jorrie sy klein rooi lorrietjie mos by die voordeur net na Ma gery het...

"Nou waa' sal ek begin...?" vra hy aspris, want eintlik weet dié oompie presies waarvan ons wil hoor. Dis mos dié dinge wat die grootmense agterhands van praat, en ook stilraak as nuuskierige rooihakskeen-kinders dalk te naby of in die geselskap van die 'tjie-tjie'-praters kom. Oom Jorrie het hier grootgeword en hy ken van, én weet van elke skandaligheid wat op die dorp en in die distrik gebeur het.

Ans druk nog 'n koekie in sy hand en sê met rooi wange: "Van die.., van die hoer!" Ons ander klomp stamp-stamp aan mekaar en skuif nog nader aan hom. 'Mmm," sê hy, "Dit was mos vir jou 'n yslike turksvy gewees doerie tyd wat dié mêrrem haar besigheid hier op die dorp kom opsit het."

"Vertel ons eers hoe sy gelyk het," waag Alet dit en sit dadelik haar hand voor haar mond. Sy is 'n enigste kind en wat van haar pa geword het, weet niemand op die dorp nie. Die dorpsmense vra nie; nie meer nie, want haar ma is 'n bitterbek en het enigeen wat toe Alet klein was, wou help, in hulle maai gestuur. Ek weet sy's gek oor mooi klere en knipoog vir oom Jorrie:" 'Seblief Oom, vertel van die rooi onderklere, en die...," maar Gina gryp sy hand: "Nee, nee: ek wil van die kêrels hoor wat daar gaan kuier het!"

Ons praat almal tegelyk en oom Jorrie druk sugtend sy ore toe: "Julle is erger as 'n swetterjoel vinkwyfies wat 'n slang sien; 'n mens sou sweer julle ken die stories beter as ek!" Dan los hy sy bom: "Ék, Jorrie Jordaan, het immers selwers daar in haar huisie gekuier!" In die doodse stilte wat volg, is dit net sy bleskoppie wat 'jaa-aa: ék!' op en af beweeg. Van dié deel van die stories het nog nie een van ons ooit eers 'n halwe woordjie gehoor of afgeluister nie. Ons vier asem gelyk saam: "VERTEL!", maar hy klap sy lippe so asof hy erg droogmond is en kyk verlangend na die ketel en die koekieblik.

Dis nou nie dat ek níé die oom wil glo nie, maar dié oompie Jorrie Jordaan kon al amper 'n oupagrootjie wees; dit is as hy nou vrougevat het in sy jongdae. Maar hier op ons dorp staan hy bekend as die kleinbrakkie wat orals wil saamblaf, maar tjou-tjou weghol as hy net 'n halwe omkyk kry. Ma het g'n ooghare vir hom nie, want sy sê altyd hy's die grootste skinnerbek op die dorp, en nog ander goeters ook wat kinderore nie mag hoor nie! Net 'n maand nog, dan is ons vier klaar met wit sokkies en knielengte-jurke, en dan mág ons alles....

Ma se motortjie brul nie meer nie; die uitlaatpyp sou ook vandag reggemaak word en daarom hoor ons haar nie aankom totdat die motor se deur verwoed toeklap nie. Oom Jorrie val-spring verskrik van die kombuistafel af, stamp die stoele voor hom uit sy pad en hardloop met mening met sy kort beentjies voordeur toe.

En dis net hier waar my boesemvriendinne hulle vurke uithaal en wys: elkeen gaan sit-val blitsig in 'n stoel in die sitkamer met 'n voorgeskrewe boek in die hand, skynheilig-rustig aan die leer! Ék staan soos kiepie in die deurmekaar kombuis en ja-Ma, nee-Ma; sallie weer, Ma! Sy blaas en bly raas totdat ek haar van oom Jorrie se bom vertel, en toe lag Ma, en sy lag, en sy lag só lekker soos ek haar jare laas hoor lag het...

Dáárdie storie is die een storie wat, as ek groot is, heel éérste wil hoor!



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Red light district
Oeeee, hoe vat jy my nou terug na wide-eyed tande-tel en aan-lippe-hang dae...

Uit die pen van 'n briljante storie verteller. Heerlik verwoord Rina!
8 jaar 5 maande 6 dae 13 ure oud



Gee my hoop - selfs toe daar geen hoop meer was nie

deur stefan s

Die boek se inhoud gaan hoofsaaklik oor die tema “hoop”. Hoop kan op verskillende maniere of geskep, versterk of vernietig word. Daar word gekyk na faktore wat ʼn direkte of selfs indirekte invloed uitoefen op die hoop wat daar in menseharte bestaan. Die boek is anders as ander deurdat daar aan die einde van elke hoofstuk ʼn gedig van hoop en bemoediging, deur stefan s, geskryf is wat by die tema van daardie hoofstuk aansluit. stefan s is ʼn predikant wat reeds 30 jaar in die bediening staan en in drie gemeentes gedien het. Ek is tans besig met twee afsonderlike kursusse in nood- en traumaberading. Ek is self deur diep waters wat as motivering gedien het vir die skryf van die boek met die spesifieke onderwerp “hoop”.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar