Kortverhale

Titel: Grondpad
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

DIS BYNA DONKER EN die dominee moet mooi ry om sy kar op die pad te hou. Swaar reën van die afgelope klompie dae het die grondpad erg verniel tot ‘n nat slagveld van diep slote en los grond.
Die pad vurk en hy hou links tot by die plaashek. Smit, lees hy die verweerde naambord in die verbyry.
Daar is siekte aan’t huis hier. Die boer het teen laatmiddag laat weet. Verlangse familie van sy vrou van Duitsland af. “As dominee dalk net ‘n draai kan kom maak,” het oom Smit gevra, “die dokter sê haar kanse is maar skraal.”
Dominee Swart hou stil om ‘n slap draadhek oop te maak, klim dan terug in die kar en ry oor die gekraakte sement by die ingang. Dis ‘n warm aand en hy is verras toe ‘n yskoue wind skielik op hom waai. Hy draai die venster vinnig op. Seker ‘n plaasdam anderkant die heining, dink hy en besluit om die boer later daarna te vra.
Hy het egter min tyd om die saak verder te bedink, want meteens verloor hy beheer en gly sy kar oor die gladde nattigheid tot aan die kant van die pad. Hy wag vir die ergste van die skrik om te bedaar, en wanneer hy weer die petrol trap, bly die kar op een plek sit en skiet die wiele vuil strome bruin water die lug in soos wat die wiele vastrapplek soek.
Hy maak die deur oop en klim uit. “Dammit!” skel hy. Die vlaktes rondom hom is stil en verlate; die grondpad die ene modder. Waaigras staan menshoogte langs die pad. Hy loop om die kar en steek mismoedig in sy spore vas. Die linkerkant van die kar lê diep weggesink in die sagte papperysel. Hy sal moet bel vir hulp, dink hy, maar besef dan dadelik vies dat hy sy selfoon oudergewoonte by die huis laat lê het.
Moet hy die laaste ent sommer loop? Hoe ver is die opstal? Dis moeilik om te sê; hy was lanklaas in hierdie geweste. En wat van buffels en slange en sulke goete? Nee wat, loop sal nie deug nie.
Vlugtig voel hy weer die koue van vroeër, maar dis gou verby.
Hy sien ‘n groot klip aan die ander kant van die pad en loop daarnatoe. Hy klim op en in die laaste lig van die dag probeer hy peil hoe die wêreld om hom lyk. In die swakkerwordende lig is daar egter, behalwe vir uitgestrekte lande vol swyende grasse, weinig om te sien.
Terwyl hy so staan, trek iets sy aandag. Hy frons. Hy weet nie of hy hom verbeel nie, maar dis kompleet asof hy vreemde geluide tussen die grasse kan hoor. Dit klink soos gesmoorde kinderstemme, al laggende en spelende wat kom en gaan asof dit deur die wind rondgewaai word.
Hy weet dit is hoogs onwaarskynlik, maar nogtans roep hy: “Wie is daar?” en later “Goeienaand! Hallo?” Stilte. Seker ‘n uil of ‘n jakkels of so iets, besluit hy.
Hy klim van die klip af. Hy sal geduld moet gebruik. Die boer sal waarskynlik binnekort onraad vermoed en ondersoek kom instel.
Hy loop terug na die kar, klim in en vat ‘n groot sluk uit die waterbottel wat hy agter die sitplek hou. Dan sit hy die radio saggies aan, leun terug en probeer ontspan terwyl die sterre hoog bokant hom een-een begin wink.

Hy moes ingesluimer het, want later word hy wakker van iets wat klink soos voetstappe wat op die grondpad naderkom. Stadig. Grts, grts, grts. Vinnig sit hy regop en vryf sy oë. Dis nou heeltemal donker. Die voetstappe hou op. Waarskynlik ‘n plaaswerker, besluit die dominee. Dis goed so, hy kan ‘n boodskap met die persoon saamstuur.
Hy klim uit. In die donkerte kan hy nie veel sien nie. Hy leun skuins vooroor en skakel die kar se ligte aan. “Goeienaand!” roep hy hard en wag, maar kry geen antwoord nie.
In die verte flits weerlig op die donker horison, gevolg deur ‘n sagte dreuning. Dan begin die voetstappe weer. Al slepende. Een vir een kom dit oor die nat aarde aan. Grts, grts. Te oordeel aan die klank moet die persoon nou reeds digby hom wees, maar nog steeds sien die dominee niks. Dit kan tog nie moontlik wees nie! ‘n Onsigbare mens? Nee, daar moet ‘n logiese verduideliking voor wees.
Hy kyk wild rond en spits sy ore. Hy wonder of sy kort slapie dalk op ‘n manier sy oë aangetas het. Of sy verstand. Vir ‘n kort wyle is dit stil, en dan is dit asof hy weer die kinderstemme van vroeër tussen die grasse kan hoor. Verbeel? Nee, hy kan dit tog duidelik hoor! Die onverklaarbare koue van vroeër kom lê ook weer oor hom, hierdie keer sonder om te wyk.
Hy vou sy arms, en wat hy ‘n oomblik later in die skynsel van die motorligte op die grondpad gewaar, laat hom verskrik agteruit steier: in die nat modder lê daar nou skielik ‘n duidelike klompie vars voetspore bo-oor die spore wat hy self vroeër getrap het!
Hy spring paniekbevange agter die stuur in, draai die sleutel en trap die petrol diep weg. Die kar ruk effens vorentoe maar sink dadelik weer van voor af in die nattigheid weg.
Angstig sluit hy die deure en draai hy die vensters dig toe teen die donkerte. Wat ís daarbuite? Wilde diere, miskien? Dalk ‘n rower wat wag vir die regte oomblik om toe te slaan? Behalwe vir sy oë wat wild rondspring om die wêreld rondom hom sorgvuldig te verspied, sit hy roerloos. Besluitloos. Moet hy liewers uitspring en hardloop vir al wat hy werd is?
Met sy hand op die deur se handvatsel vir die oopmaak en weghol, versteen hy toe hy ‘n mistige gloed, skaars tien treë voor hom in die pad gewaar – vaag en dof, maar met ‘n onmiskenbare menslike vorm. Dit staan aanvanklik stil, maar kom dan geleidelik in beweging om stadig te sweef in die rigting van die kar. Dit kry vorm, mettertyd, soos ‘n vrou in ‘n wit, outydse rok, amper soos dié van ‘n engel. Die verskynsel raak meer en meer solied, en baie gou is die gesig duidelik sigbaar – die oë donker, die mond treurig en die plooie diep en dramaties – en betrag die bleekgesig spook hom swyend van anderkant die windskerm.
Die dominee se hare staan orent. Hy sit versteen en knip sy oë asof in ‘n laaste poging om homself te oortuig dat hy besig is om te droom.
Die spooksel beweeg tot digby die voorpunt van die kar. Met ‘n lang, dun hand wys sy na die voorwiel wat vasgegeval het, haar handpalms oop asof sy daaraan wil raak. Haar waserige gestalte buk tydsaam vooroor, kom weer regop en ‘n oomblik later verdwyn sy – kompleet soos ‘n olielamp wat uitgedraai word.
Met sy hand wat die sleutel draai, trap dominee Swart vir die hoeveelste keer desperaat op die petrol. Die kar skiet rats vorentoe en is uiteindelik los. In sy ywer om weg te kom, laat hy die enjin stol, sluit weer aan en jaag dan bewend met die modderpad langs na die plaashuis toe.

By die opstal aangekom, parkeer hy onder ‘n wye afdak aan die kant van die huis.
“Jammer ek is so laat,” sê hy terwyl hy uit die kar klim en sy hand uitsteek na oom Smit. “Daar was ‘n… ‘n insident langs die pad.”
“Dominee,” begin die boer asof hy nie gehoor het nie, “Helga… Sy het reeds gesterf. ‘n Kort rukkie terug.” Die boer beduie huiswaarts. “Kom binne, asseblief.”
Groot voorstoep en mooi huis. Dominee volg die boer deur ‘n ruim voorportaal en sitvertrek. Die plek is stil en die teenwoordigheid van die dood hang byna tasbaar in die lug.
Hulle loop verby die kombuis in die gang af tot by die eerste slaapkamer aan die linkerkant. Daar is ‘n dowwe lig wat brand. Oom Smit staan eenkant toe sodat die dominee kan instap.
Die lyk lê op ‘n hoë enkelbed aan die ver kant van die kamer. ‘n Wit muskietnet is oor die bed gedrapeer en verleen ‘n ongevraagde spookagtigheid aan die kamer. ‘n Handjievol mense sit eerbiedig teen die oorkantste muur. Hy groet beleefd en stap nader, trek die net versigtig weg. Vir die soveelste maal vanaand stol die bloed in sy are – want die vrou op die bed is een en dieselfde persoon as wat hy sopas op die verlate grondpad teëgekom het!

Later is ds Swart oppad terug huis toe. Die boer se neef het ‘n geleentheid gevra dorp toe. Uit onwilligheid om die duistere pad terug alleen aan te durf, het hy met gretigheid ingewillig.
Die dominee is stil tydens die rit. Die vreemde gebeure van die aand maal deur sy kop opsoek na verduideliking.
“My wêreld, maar hoe koud raak dit dan nou?” merk die neef op toe hulle naby die plek kom waar die dominee vroeër die aand vasgeval het. Hy vryf met sy hande oor sy arms.
“Koud vir die middel van die somer –” begin die dominee en dan steek die woorde droog in sy keël vas.
Kan dit wees, of sien hy sien ‘n dowwe skynsel aan sy linkerkant? Die pad verg al sy aandag, maar nogtans kyk hy vlugtig na die man langs hom. Op die passasierssitplek sit die boer se neef skielik oud en ineengetrek, die vel verkreukel soos ‘n ou pampoen en die gesig diep ingesink soos dié van ‘n lankdood lyk.
Hy ruk sy oë terug na die pad, maar dit is te laat. Die kar tref ‘n heiningpaal waar dit dadelik weer in die nattigheid vasval.
Die dominee storm blindelings die nag in. Deur modder en water hardloop hy, oor slote en gras – en rondom hom, besef hy, is dit vir ‘n somersaand skielik vreeslik koud…



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Uitstekend
Wow, dié een het my aandag gehou. 'n Baie goed-geskryfde spookstorie wat jou intrek...
8 jaar 5 maande 1 week 4 dae 22 ure oud



Mari

deur Rachelle du Bois

Die pragtige Mari Wolmarans vat haar seuntjie en vlug weg uit ʼn gewelddadige huwelik. Sy is die rykmanslewe gewoond, maar nou is sy sonder heenkome of inkomste. Sy gaan woon by haar broer Thinus waar sy die aantreklike kunstenaar Dewald Bosman ontmoet. Sy is geskok en verward toe hy aanbied om met haar te trou ter wille van die drie-jarige Dirkie. Sy is nie gereed vir ʼn tweede huwelik nie, maar sy neem tog sy huweliksaansoek aan ter wille van haar seun. Dit sal egter slegs in naam wees tot sy anders besluit. Maar sal sy? Sal sy vir Dewald kan liefkry soos hy vir haar? Dewald is betower deur die verruklike Mari. Sy het sy voete onder hom uitgeslaan en sy enigste begeerte is om haar lief te hê as sy vrou. Die oulike Dirkie kruip vinnig in sy hart en hy neem hom voor om vir hom ʼn toekoms te verseker, want hy kan en hy wil. Vir Mari en vir Dirkie. Sal hy daarin slaag om haar hart te wen?



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar