Kortverhale

Titel: CARPE DIEM
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ons sit in die koffiewinkel met stomende koppies voor ons.
Sy neem versigtig ‘n slukkie en sê dan opgewonde “Ai, ek is so bly ons kon mekaar weer opspoor, Marita!”
Ek kyk na haar: die oë wat deur ‘n ronderaambrilletjie na my kyk, steeds donker en passievol, die blas vel steeds met die dowwe merke van tieneraknee daarop, die donker hare, nou met spatsels grys daarin, steeds in ‘n los bolla op die kop. Die korterige vingers met die vierkantige punte wat om die koppie vou, is steeds bekend, alhoewel die tekens van die tyd op die rugkante van die hande wys.
Ek het Heloise in ons jare as kunsstudente bewonder. Sy was twee jaar voor my en was amper alles wat ek, die ordinêre plattelandse meisiekind, nie was nie: intens, interessant, wêreldwys, met ‘n eie blyplek en ‘n motor. Ek, daarenteen, was ‘n koshuisbrak wat met die bus moes regkom en nog nooit eers ‘n sigaret tussen my lippe, wat sê nog ‘n glas rooiwyn in my hand gehou het nie.
“Ja, ek ook, Heloise! Onthou jy hoe lekker het ons saam gekuier daardie jare in Pretoria? Ai, waar is ons jong jare tog…”
Heloise was voortdurend midde-in die een of ander krisis – as dit nie ‘n geveg met die dosent was nie, was sy besig om haar polse af te kou oor ‘n mislukte verhouding. Maar sy het oor ‘n soort innerlike vryheid beskik wat my oneindig gefassineer het. Sy was vir my die toonbeeld van die ware kunstenaarsiel. Sy het met oorgawe geskilder, geweef, gedig, gedrink en gerook - alhoewel die twee laasgenoemde aktiwiteite my nooit getrek het nie. By terugskoue besef ek dat Heloise, ten spyte van haar talent, nie gefokus was nie en gedurig heen en weer geslinger was deur haar emosies.
Soos dit dikwels maar gaan, het ons al hoe minder kontak gehad na die voltooiing van ons studies en mekaar later heeltemal verloor.
Nou sit ek hier en ten spyte van sekere bekendhede, kan ek nie my oë glo nie: voor my sit ‘n gepoleerde, blinkoogvrou! Weg is die donker kyk in die oë, die effens-siniese trek om die mond, die vae reuk van ou sigaretrook wat haar omgewe het. Heloise teug rustig aan haar tee en kyk na my.
“Ja, Marita, die lewe het intussen ver paaie met ons geloop. Wat het in jou lewe gebeur vandat ons mekaar laas gesien het?”
Ek kan nie my ore glo nie: die ou Heloise het die graagste oor haarself en haar nuutste krisisse gesels.
“Ag wat Heloise, niks regtig groot of opwindend nie – klaar geswot, getrou, kinders gekry, grootgemaak, deur studies gehelp, man het afgetree, en nou hier. Vertel my liewer van jou lewe en hoe dit gekom het dat jy ook hier by die see woon?”
Sy maak haar oë ‘n klein rukkie toe, haal diep asem en begin vertel.
“Jy onthou seker dat ek maar ‘n baie “troubled kid” op universiteit was.”
Ek kan nie help om my kop bevestigend te knik nie. Sy glimlag effens.
“Ja, die lewe loop soms snaakse paaie met ‘n mens. En as my niere my nie tot in my spore tot stilstand geruk het nie, ys ek om te dink waar ek dalk nou was!”
“Maggies, Heloise, wat bedoel jy?”
Sy glimlag weer en ek dink hoe anders sy lyk: daar is ‘n innerlike lig wat daar beslis nie dertig jaar gelede by haar was nie.
“Ek het mos as kind nefritis gehad.”
“Ja, ek onthou dat jy my vertel het.”
“Wel, later jare het ek baie met my niere begin sukkel. So vyftien jaar gelede het my niere begin ingee en ek moes gereeld vir dialise gaan. ‘n Nieroorplanting was al uitweg.”
“’n Nieroorplanting! Sjoe, Heloise! En om die regte skenker te kry, was seker nie so maklik nie, né?”
“Sowaar! Een nag, toe dit weer baie sleg met my gegaan het, het ek besef: ek het my lewe gemors. Ek het gelewe asof die lewe my iets skuld en ek geen verantwoordelikheid teenoor my eie liggaam het nie.”
Heloise beduie na die kelnerin vir nog ‘n koppie tee. Ek onthou dat sy vroeër net sterk, swart koffie gedrink het.
“Ek het my Skepper om vergifnis gevra en belowe dat ek anders sal lewe as ek weer ‘n kans kon kry. Die volgende dag het die hospitaal laat weet dat hulle geskikte skenkerniere het. Dit was my tweede kans….”
Ek luister met stomme verbasing, kan dit die Heloise wees wat ek geken het? Sy wat altyd so ongeërg en sinies was?
Sy merk my verbasing en sit bietjie vorentoe.
“Ek sien jy is verstom, Marita. Ek kan dit verstaan, want jy ken mos net die ou Heloise.”

Ek sien in my geestesoog die jong Heloise wat net effekleur swart en bruin klere gedra het, waarskynlik ‘n weerspieëling van haar chronies-donker gemoed. Nou lyk sy boheems, interessant en anders in ‘n helder, uitbundig-bont uitrusting.
“Na die nieroorplanting het ek besluit om die leuse “carpe diem” myne te maak.”
“Wat beteken dit, Heloise?”
“Dit beteken ‘gryp die dag’. Ek gryp al tien jaar lank elke dag met albei hande: ek gee kunsklasse vir minderbevoorregte kinders en skryf kinderboeke. Ek kon ongelukkig nie kinders hê nie, maar omring my met ander mense se kinders en geniet elke oomblik.”
Ek skud my kop. “Dus sê jy vir my teëspoed het jou verander van Heloise kind-van-die-donker na Heloise die sonneblomvrou!”
“Man, as jy dit nou so wil stel, seker ja.” Sy lag, ‘n helder vrolike geluid. “Snaaks - wanneer mens gevaar loop om iets te verloor, gaan jou oë vir die waarde daarvan oop.”
“Weet jy Heloise, ek het jou destyds in my jonkheid vreeslik bewonder: die eksentrieke kunstenares wat doen net wat sy wil, waar sy wil, wanneer sy wil.”
“Haai sowaar, Maita? Ek het dit nooit geweet nie.”
“Ja sowaar! Ek het net self nooit die moed gehad om jou voorbeeld te volg nie, ek het maar net buite gestaan en met verwondering deur die venster van jou lewe gekyk. Nou kyk ek weer deur die venster na ‘n heeltemal ander prentjie, een waarvan ek graag deel sal wil wees.”
Heloise sluk haar laaste bietjie tee weg, sit die koppie stadig in die piering neer, gooi haar arms wyd oop terwyl sy na my kyk met ‘n glimlag.
“Nou maar Marita, kom gerus binne, hier gaan ons nog lekker kuier!”



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Skat van die Seerower

deur Rachelle du Bois

Dit is die jaar 1845. Twee jong vroue is op 'n belangrike sending per skip van Frankryk af na Engeland op pad. Een het ’n kosbare skat in haar besit wat veilig in Engeland besorg moet word. Dis egter nie so maklik nie, want hul skip, Du Vent, word deur twee Franse edelmanne onderskep in ’n poging om te keer dat die skat in Engeland beland, want dit is die eiendom van die Le Veque-familie. Die mans is vasbeslote om dit terug te neem na Chateau le Veque in Nantes, Frankryk. Sal die pragtige dames die sending suksesvol voltooi ten spyte van ʼn storm op see, ontvoering, misverstande, bedreigings en allerhande ander ontberings en noue ontkomings? Of gaan die twee Fransmanne sorg dat die skat terug besorg word waar dit hoort?



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar