Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Aspoestertjie - (Koffietydstorie)

Ek staan hier by die spuitfonteitjie voor die kafeteria en wag vir Trevor. My hart klop vinnig en ek voel opgewonde-bang. Hy het gesê ons moet mekaar etenstyd hier by die fonteintjie ontmoet. Etenstyd is al amper verby en hy het nooit opgedaag nie. Waar kan hy wees? Kan dit wees dat hy nie gaan opdaag nie? Hy het my Saterdagaand oor en oor verseker dat ek pragtig is en soos ‘n droom kan dans en dat ons saam hoort. Ek moes geweet het dis te goed om waar te wees. My Aspoestertjie-sprokie sou anders eindig.

Saterdagaand het ons die eerstejaarsbal gehad. Natuurlik was die idee dat die eerstejaars die seniors moes onthaal en die dans deel was nie vir ons nie. Ons moes die eetgoed maak en koeldrank en ander drinkgoed skink. Ons moes doodgewoon aantrek; jy is ‘n eerstejaar! Jy mag nie onnodig aandag trek nie. Na afloop van die bal sou ons na maande van ontgroening onthef word, en daarna kon ons in al die studentepret deel.

Ek en Ria, my vriendin, het agter ‘n ry tafels gewerk en hambugers gemaak. Ons het ons gate uit geniet want Ria kon selfs hamburgers maak in ‘n fees omskep met al haar grappe en sêgoed. Ria is blond en mooi met sielvolle goen oë, en sexy met die mooiste balletbene. Ek, daarinteen, het gewone donkerbruin hare, my oë is te klein, en ek is te maer. Nou nie juis ‘n skoonheid nie. Ek het geweet as ek en Ria saam is, ‘n man nie twee keer na my sal kyk nie. By die bokjolle is Ria altyd eerste vir ‘n dans gevra. Nie dat ek omgegee het nie; dit is maar hoe dit gewerk het. Feit is, Ria is baie mooier as ek.

Ons staan nog so en grappies maak en lag toe staan die aantreklikste man voor ons. Die musiek speel in die agtergrond en verskeie seniors is besig om te dans.
“Dis ongehoort dat so ‘n mooi meisie moet staan en werk,” sê die beeld van ‘n man en stap in ons rigting.
Natuurlik is Ria die “mooi meisie” waarvan hy praat. Tot my verbasing stap hy reguit na my toe en tel my met sy sterk arms bo-oor die tafel en lei my na die dansvloer. Ek is nou nie juis die beste danser wat daar is nie, maar hy is ongelooflik goed en stuur my so goed dat ek soos ‘n wafferse “ballroom”-danser oor die vloer gly.

Kan dit waar wees? Kan dit ek wees wat hier in die arms van die gewildste man op kampus oor die dansvloer gly? Dit voel asof ek droom; ek dans soos Aspoestertjie in my prins se arms. Ek wens die dans moet nooit ophou nie. Net soos in sprokies, vra Trevor my dans na dans om met hom te dans en Ria maak alleen hamburgers. Elke dans word net beter en lekkerder; ons dans naderhand buite op die gras en daar soen Trevor my en vra of hy my weer kan sien. Ek is in die wolke. Nog nooit het ek ‘n aand so geniet nie!

Teen elfuur sien ek my broer voor die saal stilhou en ek weet ek moet huis toe gaan. Ek wil nie huis toe gaan nie, ek wil dans en dans en dans… Trevor bied aan om my huis toe te neem, maar ek weet my broer draai my nek om as hy al die pad verniet gery het. Ek en Trevor dans ons laaste dans en ons spreek af om mekaar Maandag etenstyd by die spuitfontein te kry.

Onwillig gaan ek huis toe, en die hele Sondag leef ek in my eie droomwêreld en herleef elke dans. Ek is in die wolke en dolgelukkig. Nog nooit was die wêreld so mooi nie.

Nou op hierdie Maandag lyk alles skielik nie meer so wonderlik nie. Ek kyk op my horlosie. Etenstyd is verby. Miskien is hy opgehou. Ek moet nog ‘n rukkie wag.

Hier kom Ria aangestap, kafeteria toe, ingehaak by ‘n prag van ‘n man. Sy kom eers ‘n draai by my maak en sê agter haar hand, “Jy moes gesien het hoe lekker Trevor en Mandie gedans het toe jy huis toe is. Hulle kon hulle hande nie van mekaar af hou nie.” Met ‘n waai van haar hand haak sy weer by haar vriend in en verdwyn in die kafeteria.

Die res van die aand met Mandie gedans? Het Trevor vir Mandie ook gesê sy is pragtig en dans soos ‘n droom? Het hy haar ook buite op die gras gesoen? Het hy haar ook gevra om hom Maandag êrens te ontmoet? Ek moes geweet het dat die gewildste ou op die kampus nie regtig twee keer na my sou kyk nie.

Dit maak nie saak nie. Vir een aand was ek “the bell of the ball” en dit was wonderlik. Ek dink ek sal vir ‘n lang tyd op die herrineringe aan die aand kan teer. Eendag as ek oud is sal ek ook vir my kleinkinders kan vertel hoe hulle ouma ge”ballroom”-dans het, net soos Aspoestertjie, maar die belangrikste is dat vir een keer het iemand my eerste gevra vir ‘n dans, en nie vir Ria nie! Dit maak op vir die teleurstelling; ek sal dit net nooit vir Ria sê nie.

Kotie





Spaar Geld op Versekering

Kommentaar

Aspoestertjie
Kotie, ook die manier van skryf wat ek kan lees. Kort, kragtig en sê wat jy wil sê.
Dan is daar ook 'n duidelike les en boodskap in jou verhaal wat dit baie belangrik maak.
Hier is ek ook een van jou aanhangers.
Baie dankie
1 jaar 6 maande 3 weke 3 dae 18 ure oud


Aspoestertjie
Ai mooi mans darem! Kotie mooi geskryf ek het dit geniet. Dankie
1 jaar 6 maande 3 weke 3 dae 22 ure oud


Aspoestertjie
Dis so n mooi verhaal, en tog so hartseer met n wonderlike romantiese inslag ek her ook dieselfde gedoen, maar ek was gelukkig om my Aspoestertjie weer te vind en na 31 nog net so dankbaar dat iemand anders haar nie gestel het terwyl ek haar laat gaan het nie, sy is vandag nog my Aspoestertjie, pragtig geskryf
1 jaar 6 maande 3 weke 4 dae 1 uur oud


Aspoestertjie
Aspoestertjie se prins is oppad. Wees net geduldig. Sy sal weer droom van die man met die sterk lyf en hande.
1 jaar 6 maande 3 weke 5 dae 5 ure oud



N VERGANE ERA

deur neels claasen

spoorweg staaltjies en verhale uit die verlede



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar