Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ffeerg xuorel se skrywe oor Bokslagters, Damduikers en Dermdraaiers verdien lof en meer.
Hierdie benaming dui eintlik op twee groepe mense,
Daar was die regte Bokslagters. Hulle het regtig bok geslag en wild, baie wild gelewe; die Delports, die de Bruins, almal wat uit armoede (en slegtigheid) moes veg vir ’n stukkie brood en die kinders het hulle lewens-griewe op die beter klas Bokslagter uitgehaal met baklei.

Dus was daar nog ’n groep maar die was ’n effe beter groep wat ’n hoog lewenstandaard gehandhaaf het, goeie werke gehad het en beter af van verstand.
Hulle was in wese ook maar Bokslagters al het hulle nie werklik bokke geslag nie, het hulle net so wild gelewe, na werk hotel se straatkroeg toe gegaan en daar gesuip, rugby gespeel en mekaar se kakebene aldaar afgeslaan, dronk tuisgekom en die vrou tot in die hospitaal geslaan omdat die kos k@k was.

Hierdie is my familie onder beskildering, synde my oorle skoonpa die Kaptein van Klerksdorp se Bokslagters, en Elandsheuwel straat die kern van die Bokslagter valley was.
Alsó is my storie : NONNADRAAI juis voortspruitend oor die Klooster wat in die straat is en Anita as rebel, na die Klooster se kleuterskool geneem is, maar geen swart rok of heining kon haar keer nie.
As pa by die huis kom is die kleine meisiekind ook daar.
Unie skool, die Bokslagters se Laerskool het ‘n onderwyser gehad wat kinders verstaan het en sy het haar laerskool aldaar voltooi.

Lor van Zyl se huis was die bymekaarkomplek van die leiersfigure: Zak Buitendag, Verster Coetzer en andere en dan ‘n enkel loper ou Frik Freislich wat op die Myn-bore gewerk het.

Sy kop was nie lekker nie en hy en Lor was bloedbroers ( groot pelle) en Frik wil trou.
Alles is reg en die prosessie loop en die Kerk is vol en die ritueel is afgehandel en Lor staan as ‘best man’ voor langs ou Frik en die Dominee het sy ding gedoen: “Kom ons gaan teken die register.”
En Frik moet teken en hy staan terug: “ Kom Lor, laat jy teken!”
“Nee, Frik, dis jy wat trou, jy moet teken.”
En dis hierrie kant toe en dis daarie kant toe en ou Frik se kop haak finaal uit en hy loop die Kerk uit. Op Die manier is ou Frik ge-Kerk maar nooit getroud nie.
Nou word vroulief moertoe kwaad as ek sê: “Julle was ook maar Bokslagters!”

Sosiaal en polities het hulle regeer en met stemdag stemmers aangery na die stemlokale wat onder hulle beheer was en also is ek as vryer van ou Lor se dogter, ook aangery van die een stemlokaal na die ander om te stem, dan as Verwey, dan as de Bruin, dan as Delport, want hulle het die kieslyste gehad en het geweet wie is weg, het getrek en wie’s se naam is oop. Kry jou briefie en stem!
En geen party het enige kans gehad om die Nasionale Party uit te stem nie, Bokslagter Valley was Nasionale party; uit en klaar.

En boekdele later – die vreeslikste drama denkbaar – oorwin die liefde en ons twee staan op troue.
Sy is in die Kaap by haar ma ( Ou Lor het vir Ina met die vuis uit die huwelik geneuk) en ek telegram: “Ek trou die 12 de Augustus – as jy by is, trou ek met jou.”
En sy was by.
Ek slaap en trek aan by ’n groot mater van my, Frik en Emmie Nel en ons paartie. Trou, is ’n gebeurtenis wat nooit vergeet moet word nie en ons maak seker daarvan. En Anita trek aan by haar huis en haar stiefma; Irene so ’n halwe Duitser (Schaffernecker – of iets) maar ’n langbeen haarkapster wat vir ou Lor gevang het, reël die trou paartie by die huis.
Dit is hoe dinge gedoen word, nie Sale en onthale nie, sommer in die sitkamer - groot paartie want net die intieme vriende en familie word genooi.

Ou Frik Nel was my groot maat en ‘best man’ en hy hou my regop in die kerk. En ek sien die mooie Engel wat ou Lor in die paadjie afbring en aan my oorgee en ek hoor net ou Frik fluister vir haar: “Staan maar styf en hou hom – ons het heelnag gekuier.”
Ek onthou niks van wat daai ou daar bo van die stellasie afgepraat het nie. Dit het my ook nie gebodder nie, want ek wil net my vrou wettig hê. Dit was maar moeilik daai staan en die Breedkant het dit ook gesien, want as ek so begin waggel en vorentoe steier, gryp Anita en bring my weer terug. Maar die vent kry nie sy praat klaar gepraat nie.

Wel, maande later is Anita vêr by die lyf met die eersteling en ons wil Ficksburg toe om vir my ma-hulle te gaan kuier en gaan net huis toe om te groet.
Irene staan voor die stoof en kook jem. Lor en sy maat, deurmekaar Frik Freislich, sit by die kombuistafel en suip. Anita het nou stief Boetie en twee sussies en die laaitie is al so opgeskote en speel buite saam met die bokkies met die windbuks en ons wil groet om te ry want Ficksburg is meer drie ure vêr maar ons maak eers ’n dop.
Toe kom die duiwel tussenbeide:
Willem ( Anita se stiefboetie) skiet met die windbuks. Daar was ’n argument tussen hom en die ander bokkies en Willem is ’n getroue bokkie en hy sort die ander bokkie maklik uit: Skiet hom met die windbuks deur die voet.
Konsternasie.
Almal storm uit die kombuis na die ding hier buite en die groot pot jem word nie geroer nie en begin oorkook en Irene storm terug en hoekom Anita in die hoek loop staan het, weet ek nie maar sy gee net een skree en kyk af.
En haar water het gebreek.

Op die foon – Bel vir Suster de Vries. Sy is die mobiele Kraam Suster en sy vang die bokkies se babas. En Suster de Vries is nie haastig nie, sy ken haar jop en vang eers gou nog ’n ander bokkie se baba en kom so teen skemer met haar Beetletjie en laai Anita op: “ Ry saam, ons gaan vang gou nog een.”
In die kombuiswerk Irene oortyd om die jem gebottel te kry want die groot pot moet terug stoof toe vir die kookwater en die kraamkamer en lappe en doeke en slop-emmer vir na-geboorte en ou Lor trek nog ’n bottel nader en nog mense kom. Kleintjie-kry is ’n héúglike gebeurtenis.
En ek stres. Waar is my vrou en waar is Suster de Vries en sterk donker trek die Volla in en die lotte is kamer toe en Lor is na die buitekamer en hy sit die graaf so teen die kombuismuur neer en hy beduie vir my die perskeboom en ons gooi die dop.
En ons hoor die geskree van die kleintjie en Irene bring die nuus en opdrag:
“Willem, kom sien jou meisiekind.” En ek staan op en Frik staan op en sit sy tienrandnoot op die tafel, stap uit en ry weg – Dit is Frik se gewoonte; Tien Rand per kleintjie, en ek stap kamer toe en gaan deur my emosies en Irene gee die Slop- emmer en ek loop deur en vat die graaf, loop uit en begrawe die na-geboorte onder die perskeboom.
Dit is hoe dit werk.
En toe alles weer gelyk loop en dinge is rustiger en Anita lê met kleine Marlene aan die bors in die bed, loop Irene kamer toe en gaan haal en bring nader.
Netjies, duursaam verpak in die boks met deurskynende plastiek vir mooi sien. Die Trou-pop.
Dit is die gebruik. Irene gee die dure geskenk. Marlene het dit vandag nog. Steeds onoopgemaak en duursaam verpak in die boks.
Ek weet nie wat is die pop werd vandag nie.

Bokslagters en hulle dinge het ek al in boekdele vasgelê.

Willie F van Tonder
2013/03/27



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

bokslagters
Willie hierdie is uitstekend geskryf! Beter kan niemand dit beskryf nie!
6 jaar 5 maande 3 weke 4 dae 13 ure oud


***
Baie interessant en so uitstekend vertel -- sommer lekker gelees!
6 jaar 5 maande 3 weke 5 dae 8 ure oud



Plek van die Flaminke

deur Rachelle du Bois

Delia Kriel is mede-eienaar van die vakansieoord Zeesig. Haar eerste ontmoeting met Alex Vorster, haar sexy nuwe buurman, laat haar hare rys. Hy jaag haar kat die skrik op die lyf en hy jaag haar die harnas in. Kortom, hy pla haar, vreeslik, aanhoudend. Hy het haar rustige bestaan hier op Zeesig kom versteur en sy is vies, baie vies. Alex se broer, Xander, is die diep een, die stil musikant wat sy hart op Delia se vriendin, Madeleen, verloor het. Hy is koppig en hy weet wat hy wil hê, maar sy is versigtig vir die liefde, want net 'n donkie sal twee keer oor dieselfde klip struikel. En sy is nie 'n donkie nie. Hy is egter die ideale model vir haar beeldhouwerk en haar kunsuitstalling lê voor . . .



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar