Kortverhale

Titel: Waansin
Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Die heuwels op die horison het in die grys newels van die reën, wat in strome begin neerstort het, verdwyn. Die pad was niks meer as ‘n papperygetrapte swart turfstreep wat tussen die groen gras deur gekronkel het nie. Langs die pad, in die lang gras, leun die oorblyfsels van ‘n halfverbrande muilwa skeef na die een kant toe. Gras wat krom gebuig gestaan het onder die gewig van die reëndruppels. Die wa se een voorwiel was gebreek en die disselboom se punt was in die geskeurde grond begrawe. Die man in die leerjas sjoeg-sjaf moeisaam met sy stukkende soldatestewels deur die dik klewerige modder. Hy’s moeg, sy lang swart hare in slierte oor sy voorkop en sy hande diep in die jas se sakke. Oor sy een skouer hang ‘n verweerde leersak, waarin hy dit wat oor is van sy persoonlike besittings,bêre. Daar is ook ‘n haas in wat hy vroeër in die dag gejag het. Hy moet uit die reën uit kom, maar hy weet goed dat die mense wat hierlangs geboer het, lankal reeds deur die geweldpleging van hulle plase af gedryf is. Die huise is destyds van alles, wat nog op die een of ander manier bruikbaar was, geplunder – dit wat oor was is eenvoudig aan die brand gesteek. Hy verwag ook nie om vandag nog mense op die pad teë te kom nie. Die weer is eenvoudig te sleg om dit buite te waag. Die dorp is nog vêr en hy twyfel of hy dit voor donker sal maak.

Op die ingewing van die oomblik neem hy ‘n tweespoorpad wat na links afdraai. Die watergevulde spore lyk hier effens varser – dalk was daar onlangs mense hierlangs gewees. Hy kan die toppe van bome vanagter ‘n klipperige rand sien uitsteek.

Die huis en buitegeboue, oftewel dit wat daarvan oor was, het agter die klompie bome weggesteek gestaan. Die strooidak was wonderbaarlik nog plek-plek heel, en daar was rook in een van die skoorstene. Hy het nadergestap en dit, wat diens gedoen het as ‘n voordeur, oopgedruk. Voordat hy binnegaan, stamp hy die modder, op die plat klip voor die opening, van sy stewels af. Genadiglik is dit droog binnekant. Daar is ‘n vuur in die oop herd waaroor ‘n pot en ketel aan kettings hang. Uit die reuk in die vertek is dit duidelik dat daar ‘n bredie in die pot aan die prut was.

Hy sit die leersak op die vloer neer. In die donkerte van die vertrek merk hy die beweging agter hom te laat op en die volgende waarvan hy bewus word is die arm om sy nek en die mes teen sy keel.

“Wie is jy en wat soek jy hier?” Die stem klink jonk en effens onseker. Die arm wat om sy nek geklem is, is gekleed in een van daardie ruwe woltruie wat die boere gewoonlik dra.

“’n Moeë reisiger wat skuiling soek teen die reën.” Hy kan loskom as hy wil, maar hy verkies om vir die oomblik saam te speel.

“Is jy ‘n soldaat?”

“Almal van ons was in hierdie tyd op die een of ander stadium ‘n soldaat. Ek is op pad terug na my huis toe.”

“Waar’s jou huis?”

“Ciemnar-zeka.”

“Jy’s altevol vêr van die huis af.”

“Dis die oorlog. Ons moes gaan waar ander ons beveel het om te gaan.”

“Waar’s jou geweer?”

“Die kolf het gebreek en ek moes dit agterlaat. Buitendien was my kruit nat en my koeëls gedaan.”

“Watse soort soldaat is jy om jou geweer te laat breek, jou kruit te laat natword en nie vir ekstra koeëls te sorg nie?”

“Ek’s ‘n boer, nie ‘n soldaat nie.”

“Vir wie het julle geveg?”

“Prins Bartosik . . .”

“Die man wat hulle ook die swart prins noem?”

“Genoem het - hy’s dood. Sy nek gebreek toe sy perd geskrik en hom afgegooi het.”

“Waar’s jou perd? Is dit hier buitekant?”

“Luister, wie jy ookal is. Dis ongemaklik om al jou vra te beantwoord met die mes hier teen my keel. Ek bedoel nie kwaad nie, ek wou net bietjie uit die reën uit kom en het gehoop dat ek kan warm word. Jy kan gerus maar die mes bêre.”

Hy voel ‘n huiwering in die arm wat hom om die nek beet het. Die mes druk ook nie meer so skerp teen sy keel nie. Maar, die persoon los hom ook nie. Wie dit ookal is wil seker iets bewys of ‘n punt probeer maak.

“Die perd? Is die perd hier buite?” Die stem begin vir hom soos dié van ‘n vrou te klink wat hard probeer om nie soos ‘n vrou te klink nie.

“Ek het nie ‘n perd nie.”

“Jy’s wragtig ‘n nuttelose soldaat. Geen geweer nie, geen perd nie . . “

“’n Perd maak mens baie kwesbaar. Mense is al vermoor vir hulle perde. Op hierdie stadium voel ek veiliger sonder ‘n perd.”

Die oomblik toe die persoon die arm weer effens verslap, glip hy behendig uit die greep uit en vat die arm, wat die mes vashou, stewig vas. Dit is toe al die tyd ‘n meisie, hy skat haar in haar vroeë twintigs. Sy’s lank vir ‘n vrou en sy spartel woes om los te kom.

“Haal jou pote van my af, jou stinkende vark!” Hy kan sien sy’s woedend.

“Stadig met die beledigings, meisie. Dit was jy wat eerste jou arms om my gegooi het. Ek probeer net keer dat jy onverskillig raak met hierdie mes van jou. Buiten dit, is daar absoluut niks wat ek van jou wil hê nie, net ‘n paar oomblikke by die vuur om droog te word en miskien ook ‘n geleentheid om my kos gaar te maak. As dit nodig is, sal ek nog hout ook gaan soek in die ander dele van die murasie.” Hy is bewus daarvan dat sy minder aggresief teen hom baklei.

“Dit is wat julle almal sê. Julle mans is soos verdomde diere. Elke vroumens binne sig word mos soos ‘n teefhond op hitte geklim. En veral julle wat van die front af kom, julle is nog erger . . .”

“Nie almal nie, meisie, nie almal nie. Jy veralgemeen afgryslik. Net omdat jy waarskynlik slegte herinnering het aan iets wat in jou lewe gebeur het, maak nie dat alle mans wat jy teëkom dieselfde aan of met jou gaan doen nie. Los nou die mes dat ek myself voor die vuur kan kry en my haas kan afslag.”

“Jy’t ‘n haas?” sy laat die mes onwillig los. Hy vat dit by haar en sit dit op die skewe houttafel neer.

“Met ‘n klip doodgegooi langs die pad. Is hierdie mes van jou skerp?” Hy merk op dat sy eintlik ‘n baie aantreklike meisiemens is.

Sy kyk weg. “Nie juis nie . . .”

“Wou jy dus my nek daarmee afgesaag het . . .?”

“Ek sou as dit nodig was.”

“Is jy alleen hier?”

“Nee. My jonger boetie is in die kamer langsaan . . . hy’s siek.”

“Is . . . was hierdie julle huis?”

“Nee, ons is verdryf van daar waar ons gebly het. Die soldate het gekom en al’s gevat. Die vrouens is verkrag . . .”

“Jy ook?”

“Nee, ek en Janusz, dis nou my boetie, ons was in die veld. Ons het gaan bessies pluk en het alles van vêr af gesien.”

“Is jy nie bang so alleen nie? Dis rowwe tye en mense se lewens is nie veel werd nie.”

“Natuurlik is ek bang. Ek is ‘n vrou en wat kan ek doen as hulle my . . . my wil gebruik. Is jy ook soos hulle daar buite?”

“Ek is ‘n boer, nie ‘n soldaat nie. Ek het gaan veg omdat ek moes, nie omdat ek wou nie. Wat nou gaan gebeur ná Prins Bartosik se dood, weet ek nie. Ek boer op sy grond.”

“Is jy getroud? Kinders?”

“Ek was, maar Maryla is aan die koors dood. Daar was nie kinders nie.”

“Ek’s jammer om te hoor . . .”

“Dankie, maar dis ook al amper ‘n jaar gelede. Die lewe gaan aan en wag nie vir ons hartseer om verby te gaan nie.”

“Dis waar. My ma en pa is ook aan die koors dood. Gelukkig was daar ‘n tante wat ons ingeneem het . . .”

“Het die soldate haar ook . . .”

“Hulle het haar net doodgemaak. Sy was te oud vir hulle speletjies.”

“Het jy ‘n pot wat ek kan gebruik om die vleis in gaar te maak?”

“Daar is ‘n pot by die vuurherd, agter die emmer.”

Hy haal die haas uit die leersak en gaan by die agterdeur uit. Dit reën steeds, alhoewel nie heeltemaal so hard nie, maar dit is heelwat kouer. Die binnegoed het hy reeds uitgehaal daar waar hy die haas doodgemaak het. Die mes, wat hy uit die skede agter aan sy belt trek, is vlymskerp en, omdat hy weet wat hy doen, is die vel in oomblikke af en die haas met ‘n paar behendige hale uitmekaargehaal.

Die stukke vleis word saam met ‘n paar aartappels uit sy sak met sout en water in die pot gesit waarna hy dit aan ‘n haak oor die vuur ophang. Hy merk op dat die hout aan die min kant is en dat die vuur alreeds effens laag brand.

“Is hier nog hout hier êrens?” vra hy aan die meisie wat intussen by die tafel gaan sit het en hom met haar gesig op haar hande dophou. Daar was iets in haar oë wat hom gepla het.

“Die hout wat ek gebruik het was maar hier gewees, maar daar moet seker nog hout in van die ander vertrekke ook wees. Ek weet net nie of dit sal droog wees nie.”

Hy stap deur die opening na die volgende vertek. ‘n Gebreekte deur is teen die opening staan gemaak. Hy stoot dit uit sy pad uit.

Meeste van die dak was hier beskadig en die reën val in strome deur die opening. Agter teen die oorkanste muur is dit relatief droër waar die gebreekte oorblyfsels van meubels op ‘n hoop lê. Iemand wou dit beslis vir vuurmaakhout gebruik. Hy steek in sy spore vas toe hy iets, wat soos ‘n bondel lappe lyk, naby die buitedeur sien lê. Hy stap nader en sien dat dit ‘n mens is, ‘n dooie mens. Sy keel was afgesny en die bloed wat nie weggespoel het nie, was gekoek om sy nek en op sy baadjie. Die bloed is egter relatief vars en op die oog af is die ou nie té lank vantevore vermoor nie. Die meisie of iemand anders? Hy begin die stukke gebreekte meubels na die vuurhert toe dra waar hy dit opmekaarpak. Toe hy klaar is, sleep hy weer die gebreekte deur voor die opening.

Terwyl hy van die hout op die vuur pak, praat hy in die meisie se rigting.

“Hoe lank is julle al hier?”

“Ons het gistermiddag eers aangekom. Hoekom?”

“Nee, ek vra omdat die vuurmaakhout amper klaar is.” Die ou daar buite is beslis vermoor is in die tyd wat hulle alreeds hier was. Was dit hulle of sluip daar nog ander karakters buite in die reën rond?

“Dis seker maar opgebruik deur die vorige inwoners. Ek het maar dít gebruik wat hier binne was. Ek het nog nie nodig gehad om verder na hout te soek nie. Dis jy wat wou kook en groot vuur maak.” Dis amper asof sy hom verwyt.

Hy trek sy skouers ongeërg op. “Jy’t nie dalk, vandat julle hier was, enigiemand anders hier rond gesien of vreemde geluide gehoor nie?”

“Ek het niemand gesien of niks gehoor nie . . . nee, wag, daar was vroeër iets hier buite, maar ek dink dit was ‘n wilde dier - ‘n jakkals of ‘n ding. Waarom vra jy?”

“Hier buite lê ‘n dooie man, sy keel is afgesny.” Hy hou haar gesig dop om te kyk hoe sy reageer. Haar skrik is eg.

“Dooie man? Is jy seker?” Sy wurg die vraag uit en kyk met groot oë na hom.

“Ek kom uit ‘n oorlog uit. Ek weet hoe lyk ‘n dooie mens. Hy’s ook nie baie lank dood nie. Ek vermoed dit moes iets te doen gehad het met daardie geluid wat jy vroeër gehoor het. . .” Hy kan sien sy’s baie op haar senuwees.

“Die dooie, lyk dit soos iemand wat geld kon gehad het?”

“Nee, meer soos ‘n rondloper. Sy klere is stukkend en sy hare en baard duidelik onversorg. Hoekom vra jy?”

Sy huiwer voordat sy antwoord. “Daar’s iemand wat na my soek. Ek het iets van hom gevat, iets baie waardevols.”

“Nou hoekom sou jy so-iets wou doen?” Hy roer die inhoud van die pot ‘n slag om. “Wat is dit wat jy gevat het?”

Sy verdwyn in die vertek langsaan en kom ‘n rukkie later terug met ‘n voorwerp wat in ou lappe toegedraai is. Sy draai die lappe af en sit die voorwerp op die tafel neer. Dit is die lang been van ‘n ornamentele kruis van goud met inlegsels van gekleurde edelstene. Die dwarsbalk ontbreek egter omdat hy duidelik kan sien waar dit vasgeheg was.

“Is dit nét soos jy dit gevat het? Jy’t nie dele daarvan intussen verkoop nie?”

“Ja, dit was soos dit op sy tafel gelê het. Wat is dit?”

“Dit lyk asof dit oorspronklik die eiendom was van die kerk, en as ek dit nie mis het nie, het ek iets soortgelyks in die St. Stanislaus katedraal in Statek gesien. Beslis gesteelde goedere. Wie was die man?”

“Ek weet nie, maar hy’t in ‘n groot huis aan die einde van die dorp gewoon. Ek was op soek na kos nadat ek my boetie in ‘n vervalle ou huis daar naby gelos het. Dit was nadat ek aan sy agterdeur geklop het dat hy oopgemaak en my ingenooi het. Die kombuis het na kookvleis en vars brood geruik en hy’t gesê hy sal vir my iets inskep om te eet. Maar voor hy dit gaan doen was daar eers iets wat ek vir hom moes doen. Dis toe dat daar ‘n harde klop aan sy voordeur was en hy my vir ‘n rukkie alleen gelos het. Lank genoeg om te kyk wat onder sy tafeldoek weggesteek was. Dit was dié ding. Sonder om te dink het ek dit gegryp, by die agterdeur uitgeglip en die pad gevat. Hy’t vreeslik gevloek en geskel en ‘n rukkie later het ek gehoor hoe hy agter my aan hardloop. Maar, daardie ou was heeltemaal te dik om my te vang. Ek is mos soos die wind. Hy’t nog ander goed ook agter my aan geskree wat nie baie vriendelik geklink het nie.”

“Toe nou maar, juffrou wind. Dit sou jou nie baie gebaat het as dit nie was vir daardie klop aan die voordeur nie. Hoe lank gelede was dit?”

“Ek weet dit maar alte goed. Julle mans het net mos een ding op die brein.” Sy snork minagtend. “Hoe lank terug? Dit moet al amper ‘n week wees.”

“Was dit die dorp hier naby, Górski-potok?”

“Nee, dit was in Wieża.”

“Dan’s dit beslis nie die ou wat jy besteel het nie; hulle sou nie so vêr kom soek het nie. Wat my pla is nie die dooie kêrel nie, hy’s skadeloos. Ek is meer bekommerd oor die persoon of persone verantwoordelik vir sy dood.”

“Dink jy hulle is nog altyd hier buite . . .?”

“Hier buite of dalk in een van die ander geboue . . .” Hy staan op. “Ek dink ek moet ‘n draai gaan loop. Dalk verras ek iemand daar buite.”

Sy gryp hom aan die arm. “Jy kan my nie alleen hier los nie, asseblief . . .” Vir iemand wat kort tevore sy keel met ‘n stomp mes wou afsaag het sy abnormaal benoud geklink.

Hy draai na haar toe. “Is daar dalk iets wat jy my nie vertel het nie?”

“Ek’s bang, dis al.” Kortaf asof sy die vraag wil systap. “Daar buite lê ‘n dooie en jy wil my en my arme ou boetietjie alleen hier los.” Die amper selbejammerende verkleinde verkleinvorm wat sy gebruik beantwoord sy laaste vrae.

Hy trek sy arm los. “Ek gaan in elkgeval deur die plek stap. Dis goed om te weet wat om jou aangaan.”

Dis skielik asof sy in ‘n ander wêreld is. Sy’t by die tafel gaan sit en staar na die vuur sonder om verder te praat.

Hy trek sy jas aan en stap uit in die reën. Dit is duidelik dat die vervalle geboue asook buitegeboue totaal verlate is. Daar is ook geen teken van enige spore in die nat grond nie. Die enigste teken van iets anders behalwe homself is twee natgereënde voëls wat onder ‘n stukkie dak, styf teenmekaar, teen die gietende reën sit en skuil. Hy loop heeltemaal om die werf en kyk al die geboue deur. Daar is niemand.

Toe hy uiteindelik die modder van sy stewels afskud en die warm vertrek ingaan, is daar geen teken van die meisie nie. Hy wou net die deksel van die pot aflig toe hy haar in die deur van die slaapkamer gewaar. Sy kyk met groot wilde oë na hom en toe sy praat, is dit nie haar stem wat hy hoor nie. Dis ‘n diep stem wat klink asof dit vanuit ‘n hol voorwerp uit kom.

“Wat soek jy hier, vreemdeling? Hoekom het jy nie maar liewer verbygehou nie?” Daar was ‘n mes in haar hand, ‘n mes met bloed oor die lem en hef. Daar was bloed aan haar hand en rok ook. Sy kom vasberade na hom toe aangestap, in haar oë was wilde waansin. Hy’t iets daarvan in die oorlog ook gesien . . .

Hy weet dat om met haar te praat niks aan die situasie gaan verander nie. Hy besef ook dat die persoon in die kamer langsaan nie haar broer was nie; waarskynlik iemand wat tydelik die plek van haar broer moes inneem. Toe sy in ‘n oomblik van nugterheid besef hy’s nie haar broer nie, het sy hom doodgemaak. Dit was in ‘n sekere sin ‘n magtelose handeling van selfverdediging, ‘n reaksie op ‘n trauma waarteen sy haarself nie vroeër kon verdedig nie.

Met ‘n onaardse gil storm sy meteens op hom af - ‘n gil wat klink asof dit uit die dieptes van die hel kom en wat die hare op sy lyf orent laat staan.

Hy’t dit gesien kom en al wil hy nie, het hy geen keuse nie. Die geweld waarmee hy die swaar vuuryster van onder af na vorentoe swaai stuit haar nie net in haar spore nie, maar dit breek terselfdertyd haar nek. Met ‘n sug sak sy inmekaar en, voordat haar slap liggaam in ‘n bondel op die grond inmekaarsak, was sy reeds dood. Hy kyk nie weer na haar nie omdat hy homself haat vir dit wat hy gedoen het maar ook omdat sy werklik ‘n pragtige kind was. Dit grief hom veral dat hy dit op daardie manier moes doen, maar die verdomde oorlog en die onmenslike wreedheid wat daarmee saamgaan het baie mense, onder andere hierdie arme mensie, in hulle gees geknak.

Dit is ook die rede waarom hy op pad is huis toe. Hy kan nie langer met die waansin van hierdie sinlose geweld saamleef nie. As daar maar wenners uit die stryd kon tree was dit ‘n ander saak, maar op die ou einde is almal van hulle verloorders.

Hy skep van die haasbredie uit die pot en gaan sit eenkant by die tafel en eet – op ‘n plek vanwaar hy nie die gebreekte liggaam kon sien nie. Dit klink miskien onvanpas, maar hy het die krag uit die kos nodig en op die slagveld was dit algemeen – jy’t geëet wanneer jy die kans kon kry.

Na hy die laaste van die bredie uit die pot gekrap en geëet het, draai hy die gebreekte kruis in die lappe toe en sit dit in sy leer knapsak. Pater Lorenz sal baie bly wees om sy verlore kruis terug te kry.

En dan het hy werk om te doen. Hy’s nie verniet die Swart Prins nie.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Waansin
Sjoe, nou het ek lekker gelees, dankie baie mooi vertelling
6 jaar 5 maande 1 week 4 dae 11 ure oud


Waansin
Wow.. jou storie het my teen my sin ingetrek! Baie goed geskryf!
6 jaar 5 maande 3 weke 3 dae 20 ure oud



Wie Praat Nou? Boek 1 - ʼn Gids na die wêreld van Geestelike Energie

deur Thalita Goosen

Wie Praat Nou? Boek 1 - 'n Gids na die wêreld van Geestelike Energie - is die eerste van 'n reeks opeenvolgende boeke wat vanuit 'n geestelik/wetenskaplik/sielkundige denkrigting onderrig. Hierdie reeks boeke is gemik op daardie mense wat gereed is vir 'n hoër Waarheid en reguit antwoorde.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar