Kortverhale

Titel: LENTE LUS
Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende


Die ysige kaapse mannetjieswind vat vat aan haar binneboud. Die fyn kantbedekking bewend in gevaar teen die aanslag. As die garetjies dalk verys kan die stukkie lap losruk … en dit sal nou nie opsetlik wees nie, wél die natuur se skuld - iemand moet skuld kry - nie dat sy sal teëstribbel nie. Ou Petrus se boedel lyk aansienlik. Petrus se warm asem teen haar nek maak stoomwolkies wat die motorruite donsig toewasem. “Maak toe die venster” fluister sy, en skop haar skoene uit.

Petrus skuif sy kruisbande reg. Die broek wat net net te styf oor sy drommetjie span, beur verwoed om af te skuif. Dit sal ‘n neukery afgee met die weduwee hier langs hom. Die gebeendere is nie meer so soepel nie en ‘n man moet ‘n dame ordentlik benader. Eers saf maak. Hy wil nou nie te oorgretig lyk nie maar hy sal darem nog vir oulaas ‘n laaste drie wil druk voordat die eindfluitjie vir hom blaas. Toets of sy manlikheid dan nou finaal deur die aarde se aantrekkingskrag geaffekteer is al dan nie. Ai tog, waar is die jare….. dit was juis dié goedjies wat hulle so kuis voorgedoen het wat die maklikste omgeklits was. As hulle die woord “ek het jou lief” hoor, het hulle kerkklokke hoor lui. Bruidstabbertjies gesien en dan het hulle die broekie sommer self uitgetrek en heel gewillig gekerm “moenie, moenie”……. Hy lag aan die gedagte dat juis hierdie vrome dames vandag die grootste sedeprekers is. Voorkindertjies wat die oumas na menopouse as laatlammetjies in die lewe gebring het. Duur agterstraat aborsies. Weggooi-kinders op die kerk se stoep. Diep in die argiewe van vergetelheid begrawe. Opsetlike Altzheimers. Nog later het die tehuise vir ongehude moeders oorgeloop van “verkragtings-babas”. “Vroeggebore eerstelinge” wat dit kort na die huwelik darem gemaak het, en ‘prematuur’ tussen drie en ‘n half en vier kilogram geweeg het, se geboortedatum saam met die troudagdatum was ‘n probleem om te onthou. Datums te verwarrend. Enige navrae sou ‘n aantasting van ouma se eer en waardes wees. Dalk hulle verborge geraamtes lewe gee, met ernstige getraumatiseerde sielkundige gevolge. Die stilte was gehandhaaf en oupa het alle datums vergeet ten einde die lewe te behou. Sou hy dalk per ongeluk die datums korrek aandui, sou sy lewe nie ‘n duit werd gewees het nie. ‘n koekroller kan ‘n man se harsings baie enstig verpulp.

Die weduweetjie raak woelig. Sy soen Petrus soentjie vir liefderyke soentjie op sy bles. Elke soentjie ‘n miljoen Rand belegging vir die toekoms. Knibbel aan sy ore en streel hom dat elke grys borshaar stokstyf orent staan. Haar rooi lippies fluister die soetste woorde en Petrus se kop raak heel deurmekaar. Sowat van ‘n vrou! Hy wonder of hy dit sou oorleef het as hy haar raakgetrap het as jongman, dan was hy dalk op ‘n jeugdige ouderdom al in ‘n nissie by die kerk.

Mark draai stadig met sy kar by Lovers Hill, in. “Ag nee man, wat soek die mense hierdie tyd van die nag in die storm hier?” Terleurstelling duidelik in sy stem. Carissa lag. “Presies wat ons twee hier kom soek! Mark skree ontsteld,“My magtig dit is dan my outop se kar! Liefie, hier is moeilikheid sy kar is gesteel, hy sal nooit so laat uit wees nie. Bel jy solank die polisie ek gaan die vuilgoed vanaand vastrap. Dit is die laaste kar wat hulle gaan steel!” Mark trek sy kar amper geruisloos op die sypaadjie en skakel die ligte af. Op die agterste sitplek kry hy die bofbalkolf in die hande. Hy loop siedend kwaad, beurend teen die loeiende wind nader. Gelukkig sal die rowers hom nie kan hoor naderkom nie. Vanaand is die aand dat Carissa sal sien wat in hom steek en pa dividende ontvang op die geld gespandeer op sy karateklasse wat met eindelose kritiek afgeskryf was as “ ge-rondspringery….. ‘n man moet sy vuiste gebruik”. Gelukkig is dit pikdonker en gaan hy die rowers verras. Hy gaan nie ‘n kans waag nie, die boewe dra almal vuurwapens. ‘n Verrassingsaanval gaan sy strategie wees. Mark tel die bofbalkolf op en slaan met al sy krag. Die slag van die bofbalkolf tref die ruit aan die bestuurderskant van die kar. Glasstukke spat en hy sien ‘n figuur in die donker. Duik vorentoe en kry hom om die nek beet en ruk die donker figuur deur die venster. Halfpad sit die man vas. Mark hoor vaagweg ‘n gebrul maar hy hou. Sy beste karate greep om die nek word toegepas maar hy kry die booswig nie deur die venster nie. Sy lyf is te rond en hy sit vas en skop soos ‘n perd. Mark slaan hom verwoed op die agterkop, as hy bewusteloos is kan hy die ander booswig aanpak wat nou gillend aan die boef wat halfpad deur die venster hang, se bene rem. Uitendelik het hy om op die grond. Die polisie serenes laat hom nog brawer optree. In die lig van die aankomende motors trap hy die figuur op die gorrel vas en pen hom. Tot sy verbystering sien hy ‘n half kaal vroumens in die ligstreep. Sy hardloop vir dood. Haar kant onderkleertjies fladderend in die stomwind, kaalvoet en met ‘n paar kruisbande om die nek.

Volgens die nuusberig in die koerant is ‘n onbekende senior burger en sy vriendin verkeerdelik aangesien as booswigte. Die polisieondersoek duur voort.

Petrus staar verbysterd in die spieël. Dit is nie taai bloed wat hy probeer afvee nie maar lipstiffie op sy bles. Hy is dankbaar dat hy vir Mark aangemoedig het om liewer tennis te speel. Sou hy aangegaan het met karate, was hy wat Petrus is, vanaand ‘n Avbob geval. En die weduwee……. Nouja, of sy nog môre in die dorp sal wees is ook ‘n ope vraag. Sy is glo die hoofstraat in en anderkant uit.

Om oud te word is nie om te vergeet hoe dit voel om weer jonk te wees nie, dit is om lentelus te beproef. Hy sal net ‘n beter spot volgende keer moet kry!



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Lente lus
Haha, ag het ek dit nou terdee geniet. Dankie vir hierdie lekker lees verhaal, jy skryf kostelik.
7 jaar 4 maande 2 weke 2 dae 10 ure oud


Lente lus
Ja nee...jy skryf altyd 'n reuse kinkel in die kabel. Regtig baie genotvol..
7 jaar 4 maande 2 weke 2 dae 12 ure oud


Ano
Lente
hahaha! Oulik, baie oulik! Lekker gelees, dankie :-)
7 jaar 4 maande 2 weke 2 dae 14 ure oud


Lentelus
Weereens 'n treffer uit jou pen. Jy mag maar. Dankie vir die lekkerlees bydrae.
7 jaar 4 maande 2 weke 3 dae oud


***
Baie komiese verhaaltjie -- lekker gelag, dankie Fx!
7 jaar 4 maande 2 weke 3 dae 12 ure oud


Lus
Ek het jou kortverhaal nogal geniet en enduit gelees! jy het n verbeelding wat skrik vir niks.
7 jaar 4 maande 2 weke 3 dae 12 ure oud


Lus
Defnitief is Mark na dese onterf!!
7 jaar 4 maande 2 weke 3 dae 19 ure oud


sorry
Mark . . .!
7 jaar 4 maande 2 weke 3 dae 19 ure oud


Lente lus
Ek dink daai maak moet een helse pak slae kry

Om arme oom Petrus van 'n wandeling deur die poorte tot binne die parradys te ontneem!
(Of is dit nou die 'paddadys" ?)
Kan self nie mooi onthou nie . . .
Weet net die een se bek sit so
en die ander sin só

Whaaaaa!
7 jaar 4 maande 2 weke 3 dae 19 ure oud



Kodeks

deur Nini Bennett

Nadat nini Bennett bekroon is as kortverhaalskrywer (RAU-Mardene Marais Prys) en as jeugverhaalskrywer (The International Room to Read Children's Book Competition), debuteer sy met 'n digbundel, Kodeks. Sy was een van die vyf debutante wat genooi is om die Versindaba-fees te Stellenbosch (2011) by te woon. Veral die literator Charles Malan het die bundel hoog aangeskryf.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar