Kortverhale

Titel: TINNITUS
Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Marie staar dokter van Zyl geskok aan. Krap weer met haar vinger in haar oor. Die gejeuk wil nie ophou nie en die dreuning en gesuis nog minder. Volgens die jong japsnoet van ‘n doktertjie wat pas op die dorp aangekom het, is dit tinnitus. Bid jou aan dat die kind nog die woord verkeerd uitspreek ook. Kon hy nie maar net in leketaal gesê het dat dit klem in die kaak is nie? Dink hy sy is ‘n nurse? Sy skud haar kop en staan op. “Dankie dokter, ek verstaan. Die uitspuit van die oorwas kan vir eers ook maar bly. Ek sal weer ‘n afspraak maak.” Marie se kop maal. Goeie genade, dokter het gesê daar kan niks aan die toestand gedoen word nie. Sy haas haar na buite Sy luister nie eers verder na die doktertjie se storie nie. Sy is nou heeltemal deurmekaar. Tetanus….. van alle dinge! Klem in die kaak! Dit is mos doodsake. Die skielike beklemming in haar keel en sweet wat op haar liggaam uitslaan moét eenvoudig net ‘n teken wees dat die dood haar ingehaal het. Vandag slaan haar kakebeen nog die kunsgebit uit haar kop uit as die pes haar oorval. Sy het al gesien hoe lyk so ‘n aanval as die honde neerslaan. Sy tel spoed op, reguit kar toe waar Piet in die koelte onder die boom geparkeer het. So in die draf, pla haar gewete haar. Dit kom nou van skinder. Dit is nou haar straf. As sy maar liewer niks van Mieta se voorkind teenoor Bybie genoem het nie. Sy dink aan haar ma wat altyd gesê het. “Marie, skinder is jou ding, en jy gaan nog in groot moeilikheid kom oor daardie los tong van jou. Jy het mos die vermoë om elke storie so ‘n hupstootjie te gee met ‘n stertjie wat jy aanlas.” Marie raak kortasem. Hier sit sy nou met ‘n kakebeen wat gaan toeslaan met skuimbolle om haar mond. Plaas dat sy liewer stilgebly het.

“Vrou?”… Piet skrik toe hy vir Marie sien. Sy is wasbleek en die sweet stroom van haar af. Sy val behoorlik in die kar. “Wat sê die doktertjie?” vra hy bekommerd. “Tetanus …my man. Daardie mediese woord vir klem in die kaak.”
“Waaat?... goeie genugtig vrou dan moet ons vir die hospitaal jaag. Die distriksgeneesheer moet ingekry word. Wat se treurige kwaksalwer is dit dat hy nie die ambulans laat kom het nie” Piet is nou self uitasem van skok. “Maak toe die kar se deur, met so-iets word daar nie gespeel nie. Dit is ‘n afgryslike dood om te sterf.” Piet skakel die kar aan . Die agtsilinder Dodge bakkie vlieg donderend met ‘n stofwolk agterna, die hobbelrige hoofstraat af. Marie is meer teen die dak as op die sitplek. Verkeerstekens bestaan nie meer nie. Piet skop die petrol weg. By die kruising sit hy die kar se hoofligte aan en lê op die toeter. Hy mis die padskraper wat waterslote toestoot rakelings. Dit is toe dat die Dodge se voorwiel ‘n boulder van ‘n klip tref en die kar heel uit koers gooi. Teen tagtig myl per uur styg die bakkie op. Marie slaan teen die vloer neer en bly lê. Piet het sy hande vol om die kragtige bakkie onder beheer te hou. Hy bokspring soos ‘n steeks donkie. Hy skop remme vas maar met die grondpad wat pas geskraap is kon hy net sowel op ‘n seepbaan gewees het. Die bakkie beur skuins-skuins voort en die draai kom nader. Hoe Piet die kar op twee wiele om die draai gekry het is net genade van bo. Toe die bakkie uiteindelik tot stilstand kom, vrek hy in sy spore. Gelukkig is die hospitaal ‘n paar honderd tree weg en Piet sleep vir Marie uit die kar. “Hardloop vrou, die tyd is min”.

Dokter Bakker frons. “Tinnitus?..... Hy lag. “Tannie Marie het verstaan tetanus. Hy luister… en antwoord. “Kollega daar was beslis ‘n groot misverstand. Ek sal vir hulle verduidelik. Die twee is so pas vir skok behandel maar ek wou net seker maak van die diagnose. Gelukkig kan die situasie darem nou ontlont word want die twee is in ‘n toestand. Dankie ….. ons gesels weer.”

Oppad terug plaas toe sit Marie doodstil, sy praat nie ‘n woord nie. Piet begin sommer baie van die jong doktertjie hou. Dit is die eerste keer in jare dat hy nie ‘n radar "ry hier, ry daar" of soos hy dit noem, ‘n back seat driver in die kar het nie.




Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Tinnitus
Gesuis of dreuning in ore :)
5 jaar 8 maande 4 weke 8 ure oud


tinitus
Baie goed geskryf maar wat is tinnitus? of mis ek iets?
5 jaar 9 maande 2 dae 14 ure oud


Tinnitus
Dit was nou lekker lees uit die boonste rakke.
5 jaar 9 maande 2 dae 19 ure oud


Tinnitus
Tops !

Het dit geniet
Thanks
5 jaar 9 maande 2 dae 20 ure oud


Ano
Tinnitus
Hehehe, en sy het verseker ook nie weer geskinder nie! Lekker gelees, dankie :-D
5 jaar 9 maande 2 dae 21 ure oud


tinnitus
Ek het hierdie skrywe werklik geniet en kon die tweetjies sommer so voor my sien. Wel gedaan
5 jaar 9 maande 3 dae oud



Weerkaatsing van my hart

deur Elzabe Young Heyns

'n Mens se hart gaan deur seisoene, net soos 'n mens dit elke dag buite ervaar. Een dag is dit somer, die volgende dalk winter. 'n Storm en miskien dan weer 'n sonskyndag. Almal het van tyd tot tyd nodig om jou hart oop te breek, die gevoelns en emosies vry te laat en te ontleed; en dan ... gevul te word met die bevryding en aanvaarding van omstandighede en situasies in jou lewe.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar