Kortverhale

Titel: VENUS
Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende



Myra sit en mymer op die sonstoep. Sy moet vanaand met haar seun Neels praat. Hierdie sogenaamde sielkundige manier van kinders opvoed! Sy weet darem nie. Sy skud haar kop meewarig en roer haar swart soet koffie om en om. Haar gemoed ‘n warboel. Sy soek in haar gedagtes na die regte woorde om vanaand se uittrapsessie te formuleer. Haar skoondogter kan haar so maklik opruk as sy wat Myra is iets oor die kinders se gedrag durf sê, maar so kan dit nie verder in hierdie huis gaan nie. Vernaamlik Oelie se optrede. Die kind is net tė bekkig na haar sin. Waardes en goeie taalgebruik, dit is die boustene van opvoeding wat sy by haar kinders vasgelê het. Soms sommer so met die plathand ingebou as sy die plaks “ore oopmaak” nie dadelik in die hande kon kry nie. Sy kou aan ‘n botterkoekie, vat ‘n slukkie soet koffie en besluit finaal, die tongsambok moet vanaand subtiel ingespan word. Inmeng wou sy nooit, maar die nageslag moet so ‘n bietjie in die bek geruk word. Of Neels en Sandra nou daarvan gaan hou of nie.

Sy ruk soos sy skrik toe Oelie agter haar skree “Ouma, jy moet inkom, die weerlig slaan jou nog opslag hier op die stoep dood. Kan ouma nie die weerlig sien nie? Lyk my ouma word nog blind ook” Myra vervies haar bloedig. “Is dit nodig om so te gil Oelie? Ek is nie doof nie!” Oelie lag. “Nie doof nie? Net baie doof ouma, stokdoof soos ‘n kwartel.” Myra is nou boos. Sy spring so vinnig as wat haar rumatiekknieë haar toelaat op. Wat praat die kind van katel? Sy stort van die koffie toe sy die beker hard op die tafel voor haar neersit. Wil die japsnoet haar nou al beveel om bed toe te gaan? Bid jou aan! Die vermetelheid! Sy hoor vir Oelie in die gang afstorm. “ Leana, Hier kom ouma, ek gaan haar vra om my te help met die planete en buiteruim. Ek mag mos nie in daardie boek van jou wat jy wegsteek kyk nie. Leana gryp vir Oelie aan sy hare en ‘n gestoei breek uit. Sy gil woedend. “Jy moet uit my kamer bly, hoor jy! Klein seuntjies krap nie in meisies se goed nie. Oelie ruk en skreeu en probeer ‘n hou inkry toe Myra die sitkamer inkom. Sy  praat ferm. “Stop dit dadelik, wat gaan hier aan? ”

Oelie skop nog so ‘n laaste hou na sy suster en toe storm hy op Myra af. “Ouma, ouma, Leana wil my nie help nie. Kan ouma my help? Ag toe ouma? Met hierdie beurtkrag wil ouma tog nie in die donker kamer gaan sit nie, netnou loer iets met ‘n groot oog uit die ruimte vir ouma.” Myra se mond voel skielik droog. Sy ril aan die gedagte. Met die nuutste tegnologie, wie weet wat nie dalk wel daar van bo af kan loer nie. Neels en Sandra behoort in alle geval binne die volgende paar minute tuis te wees en kan dan oorneem. Sy dink aan die katel-toe-storie en wil-wil daarteen besluit. Oelie se bruin ogies blink. “Asseblief ouma?”. Hy vra so mooi dat Myra besluit om maar die aftog te blaas. Die kleinkind maak haar moeg. “Wat weet ouma van die buitenste ruim. Het ouma al daar vakansie gehou?” Myra gaan sit. Haar gedagtes gaan terug na haar skooljare. Warm geslaande hande en agterstewes en durf jy by jou ouers gaan kla, het jy summier nog ‘n pakslae as bonus gekry. Kokend van agter, kort duskant opstyg. Dit is die naaste wat sy ooit aan ‘n vakansie in die buitenste ruim gekom het. Sy glimlag. “Oelie, in ons dae het ons nie die tegnologie gehad wat julle vandag het nie. Ons moes maar in die dorp se biblioteek gaan soek en oplees en onthou. Daar was nie fotostaatmasjiene, rekenaars en al hierdie modern hulpmiddele nie.” Oelie kyk haar afwagtend aan. Hy vergeet heeltemal om hard genoeg te praat en die woorde mooi uit te spreek sodat ouma goed kan hoor. “Weet ouma iets van die nege planete en dat mans van Mars en vrouens van Venus afkom.” Myra snak na haar asem. “Oelie, wie leer vir jou sulke lelike goed. Vrouens wat van ‘n….. wat afkom? Goeie genugtig kind, hoe oud is jy?” Oelie is nou heel uit die veld geslaan. “Nege jaar, ouma” ….. “En julle leer sulke goed in die skool”? Oelie knik sy koppie. Heel verskrik oor sy ouma se reaksie en praat nog sagter. “Ja ouma en ook by Leana, sy het so ‘n Venus boek wat sy wegsteek”.

Myra spring vervaard op, asvaal en skoon naar van skok. “Waarheen is die jeug oppad. Nou het ek alles gehoor. Nee Oelie, ouma kan jou nie help nie. Van voortplanting in die buitenste ruim het ons nie op skool geleer nie. Neels…..Neeeeels, waar is jy en Sandra? Bel sommer vir dominee ook. Tegnologie en buiteruimtelike …… genade nee….!”



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

kommentaar
great geskryf!!
5 jaar 10 maande 3 weke 4 dae 22 ure oud


Ano
Venus
Whahahaha! Ons het ook 'n dowe ouma... Nou verstaan ek waarom sy ons soms so snaaks aankyk!
5 jaar 10 maande 3 weke 5 dae 5 ure oud


Venus
Baie dankie vir jou pragtige bydrae tot die Buitenste ruimte projek
5 jaar 10 maande 3 weke 5 dae 9 ure oud


Ek en Myra
Of ons twee ooit die wêreld gaan verstaan?
(Maar ek het van daai stokkies ontdek wat jou gehoor beter maak as jy dit insteek -- vierrekkies noem hulle dit of soiets.)
Mooi beskrywing van die ,generasie-sprong'. Dankie.
Onvermydelik.
GvT
5 jaar 10 maande 3 weke 5 dae 18 ure oud



Die winkende Dood

deur neels claasen

die verhaal van n tienermeisie wat in dwelms se kloue beland het



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar