Kortverhale

Titel: HELP!
Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende



 Daar het ek gestaan bykans naak en met net my onderbroek om die noodsaaklikste te bedek! Nooit sou ek kon droom dat ek in so ’n haglike en hopelose situasie kon beland nie. Die eintlike probleem was nie my naaktheid nie. Dit was my weerlose toestand in die naderende skemer van ’n winterdag langs die see, met die naaste dorp en moontlike hulp meer as twee kilometer daarvandaan.

Die ironie van alles was dat dié dag in alle opsigte normaal en soos die meeste ander dae begin het. Dit was wel winderig en koud met ligte reënbuie, wat met tussenposes soos grys gordyne oor die huise van die kusdorpie en die see se onstuimige branders geswiep het. Ek en my vrou het vanaf die ontbyttafel oor die winterlandskap uitgekyk en soos gewoonlik die dag se program gespreek.

“Jy sal seker nie vandag die wasgoed kan doen nie,” het ek half onnodig gevra.

“Vir seker nie. Dit sal maar moet wag tot die weer opklaar,” het sy berustend gesê.
 “En jy sal ook nie jou stappie langs die see kan inkry nie.”

“Wel, ek sal maar sien hoe dit later in die dag lyk,” het ek met hoopvolle oë op die wolke geantwoord.

“Jy weet, hierdie lopery van jou sal haas moet end kry,” het sy nadenkend laat hoor. “’n Man van jou jare kan nie so alleen rond flenter nie.”

“ Sjoe, Vrou, ek doen dit al vir jare en nou het jy skielik ’n probleem daarmee,” het ek verbaas beswaar gemaak.

“Kyk, jy lyk nou wel nog na ’n man van sestig, maar op jou ouderdom van vyf en sewentig kan jy maklik iets oorkom,” het sy in haar siening volhard.

“Nou wat kan ek sodanig oorkom? Ek is fiks en gesond en het die selfoon om hulp te ontbied as iets wel sou gebeur.”

“Ek sê maar net, my man. ’n Mens moenie teen jou beterwete teenspoed staan en uitnooi om te gebeur nie.”

Hierdie gesprek was dalk ’n voorbode van wat daardie dag verder sou inhou. Teen laatmiddag het die wolkbedekking ligter geraak en die winterson het plek-plek begin deurbreek. Dit was genoeg rede vir my om tog nog voor donker ’n stappie in te kry. Die lug was skoon en vars na die reën en ek het diep teue daarvan ingeasem terwyl ek teen ’n stywe pas my gewone koers langs die see aangepak het. Die roete is eintlik niks meer nie as ’n smal sand en gruispad wat met groot klippe besaai is. Dit word meesal as ’n viertrekroete gebruik, wat al slingerend tussen die beboste duine seelangs loop. Gedurende die somermaande word die pad wel ook deur fietsryers en drawwers gebruik, maar in die winter is dit meesal verlate met slegs enkele vissermanne wat af en toe van die rotse af ’n lyn natmaak.

Ek was dus heel verras om ’n paar kilometer uit die dorp ’n gehawende Ford-bakkie teen te kom. Die stotterende geluide van sy antieke enjin was reeds van veraf hoorbaar. Bo die geraas daarvan kon ek ook stemme onderskei. Namate dit nader gekom het, was die stemme meer prominent. Toe die voertuig eindelik om ’n draai te voorskyn kom, kon ek twee persone agterop die bakkie onderskei. Hulle het luidrugtig met mekaar gesels en tussendeur bulderend gelag. Ek het, soos my gebruik was, enkele treë buite die smal pad gaan staan sodat die voertuig kon verbykom. Dit het egter met ’n gesug en geroggel van die enjin al wiegend op uitgediende skokbrekers langs my tot stilstand geruk. Die bestuurskajuit het nie enige vensters gehad nie en daar was ook ’n vierde persoon voor langs die bestuurder.

Toe die enjin afgeskakel word, het ek vir die eerste keer ’n benoude gevoel in my binneste ervaar. Die voorkoms van die vier manne was glad nie gerusstellend nie. Hulle was ruwe karakters met bebaarde gesigte en lang slordige hare. Die bestuurder, met net ’n vuil onderhemp teen die koue, ’n groot boepens en ’n ontbrekende voortand, was ooglopend die leier van die ongure viertal. My beklemming het verder verdiep toe almal van die bakkie afklim en om my stelling inneem asof hulle my soos ’n gogga van nader wou bestudeer. ’n Suur walm van goedkoop wyn het om hulle gehang en almal was duidelik erg besope.

“Goeie middag,” het ek benoud gegroet. “Kan ek dalk help,” het ek bygevoeg net om die spanning te verlig.

“Yes, ou toppie, ek dink jy kan ons moer baie help,” het Boepens met ’n krakerige stem geantwoord en liggies heen en weer in sy dronkenskap gewieg. Die ander drie het hulle koppe instemmend geknik en uit oop monde gelag asof alles ’n hengse grap was.

“Wel, ek sal probeer,” het ek onseker gesê en onopsigtelik ’n bietjie weggeskuif van die verstikkende drankwalm.

“Luister, Oompie, dis nie ’n case van try nie. Doen dit net en make it snappy,” het Boepens beveel en ’n luide wynwind opgebreek.

“Doen wat?” het ek verward en beangs gevra.

“Empty jou pockets en strip! Ons het nie die heeldag tyd nie, demmit.”

Selfs in my geskokte toestand kon ek steeds nie glo dat ek so blatant in die helder daglig op ’n openbare pad beroof word nie. Voordat ek egter kon beweeg of iets doen, het een van die ander drie die kierie uit my hand geruk en dit selfvoldaan bevoel en bekyk. ’n Ander een het die kep van my kop af gegryp en dit vir homself opgesit. Ek het innerlik gebewe van skok en skrik en onoortuigend met my hande op my sakke geklap om te probeer aandui dat dit leeg was.

“Jou cellphone, magtig! Dink jy ons is stupid,” het Boepens geblaf.

Daar gaan my enigste hulplyn, het ek met groeiende angs gedink en met dom vingers in my sak gevroetel om die foon uit te haal. Dit is blitsig by my afgeneem en toe het Boepens na my warm leerbaadjie gewys. Dié het hy ook gretig uit my hande geruk en dadelik oor sy vuil onderhemp aangetrek. Ek was te oorbluf om eens beswaar te maak en het soos ’n zombie ook my langmouhemp, waterdigte stapstewels en wolkouse uitgetrek. Tussendeur het een van die ander ook my horlosie van my arm en my trouring van my vinger afgepluk. Ek het gehoop dat dit genoeg sou wees, maar is spoedig ook van my warm langbroek en onderhemp vervreem.

Teen daardie tyd het die ysige seebries reeds veroorsaak dat ek geen gevoel in my vingers gehad het nie en dat my tande van die koue opmekaar geklapper het. Ek kan nie onthou dat ek al ooit in my lewe so koud gekry het nie! Vaagweg het ek in my afgestompte brein tog nog gedink dat die dronk rowers my darem naby die dorp sou aflaai. Hulle was egter reeds terug in en op die bakkie voor ek presies geweet het wat aan die gang was. Die enjin het ’n paar keer gehoes en gestotter voor dit aan die gang gekom het.

“Thanks vir jou hospitality, ou Toppie,” het Boepens geskreeu voor hulle in ’n rookwolk van die uitlaatpyp weggetrek en om die volgende draai verdwyn het. Die twee agterop die laaibak het wragtig nog die vermetelheid gehad om vir my te waai tot hulle buite sig was.

My werklike dilemma het eers behoorlik tot my deurgedring toe die geluid van die bakkie finaal weggesterf het. Ek was reeds halfpad verkluim en ’n digte misbank het intussen van oor die see ingerol en die laatmiddag voortydig verdonker. Daar was geen manier hoe ek sonder ’n selfoon hulp kon ontbied nie en met my sagte wit voete kon ek weinig vordering maak op die skerp klippe van die gruispad. Al kon ek die pyn en marteling van die lopery nog op ’n manier uitstaan, sou dit my vele ure neem om die dorp te haal. Teen daardie tyd sou ek reeds sterwende van blootstelling aan die elemente wees. Die heel ergste gedagte was egter dat my vrou my nie voor oor ’n verdere halfuur sou begin mis nie en dan eers ’n soektog op tou sou sit. Daar was dus nie sprake van enige hulp van elders voor die verloop van nog ’n uur nie!

Ek was gevolglik net op myself en my Skepper aangewese. As ek heelwat jonger en sterker was, was daar dalk nog ’n sprankie hoop. My liggaamskragte het egter teen ’n skrikwekkende tempo afgeneem en in die skemer kon ek met my swak oë beswaarlik sien waar en hoe om op die ongelyk en klipperige pad te probeer stap. Ek was só verskriklik koud dat dit al minder voelbaar was en ek het slegs nog met moeite rasioneel probeer dink. Ek het wel besef dat die volgende fase van blootstelling en verkluiming ’n koma sou wees, wat dan ook genadiglik die einde van my marteling sou inlei. Ek was só afgestomp en ver heen dat ek nie eens paniekerig of emosioneel oor my haglike situasie was nie.

Met ’n desperate inspanning het ek my oë na die donker wolke opgehef. “Here help my asseblief. Stuur asseblief vir my hulp as dit u wil is,” het ek skor geprewel.

Daarna het ek rondgekyk vir ’n plekkie waar ek op die nat grond kon gaan sit om die einde af te wag. Met dié kykery het ek skielik ’n donker voorwerp enkele treë verder in die skemer onder ’n bos direk langs die pad raakgesien. Ek was te afgestomp om my veel daaraan te steur, maar dit was of iets my gedring het om ondersoek in te stel. Ek het pynlik vorentoe gehink-en-pink en ’n bewende, gevriesde hand na die donker ding uitgesteek. My gevoellose, blou-koue vingers kon egter nie vasstel wat dit was nie. Ek het dit darem regkry om die gevoellose hand as ’n haak te gebruik om die voorwerp onder die bos se takke uit te sleep.
Dit was, van alle dinge, ’n jas! ’n Ou verslonsde jas! In my half bewustelose toestand het dit my lang oomblikke geneem om te besef dat redding daar vlak voor my op die grond gelê het. Wonderbaarlik het ek krag van êrens gekry om met ’n yslike gesukkel en gestoei my van kop tot tone in die jas toe te wikkel. Ek het nie eens probeer om my arms in die moue te steek nie. Onmiddellik kon ek voel hoe warmte stadigaan begin om na my ledemate terug te vloei.

Maar voor ek daaroor opgewonde kon raak, het daar ’n tweede verrassing voor my onder die bos gelê. ’n Paar ou, uitgetrapte sandale met breë leerbande. Dít was meer as net ’n redding uit die koue, dit was beskerming vir my voete, voete om mee uit die moeilikheid te stap! Met ’n gesukkel het ek die skoeisel onder die bos uitgesleep en dit op ’n manier, half gebukkend en half knielend, aan my voete vasgemaak gekry. Toe het ek styf-styf en stadig, strompelend begin om in die dorp se rigting terug te stap. In my hart het ek woordeloos gejuig en gejubel en die Here gedank dat Hy my noodgebed wonderbaarlik verhoor het.

Hoe lank ek geloop het, weet ek nie. Dit het soos ure gevoel, want ek moes voetjie vir voetjie my weg in die donker tussen die los klippe deur baan. Genadiglik het die ou jas my ledemate, tesame met die stap bewegings, al losser en warmer gemaak. Ek het einde ten laaste die dorp se ligte dofweg deur die ligte misreën op ’n afstand gesien. Juis toe het die teenspoed my weer getref. Ek het oor ’n groot klip in die donker gestruikel en baie hard met moederaarde kennisgemaak. Omdat ek in die jas verstrengel was, kon ek myself nie beveilig deur met my hande die val te versag nie. My kop het gevolglik van die rotse langs die pad getref, wat my heeltemal bewusteloos gelaat het.

Die soekgeselskap, wat my vrou georganiseer het, het my daar in die middel van die pad gekry en hospitaal toe gehaas. Dit was voorwaar salig om in ’n warm snoesige bed onder helder dakligte in die ongevalle-afdeling tot myself te kom. ’n Dokter in ’n wit oorjas het oor my gebuk en my pols en bloeddruk gemeet. Hy was duidelik opgewonde en in sy skik dat ek my bewussyn herwin het.

“Wonderlik, Oom. Hoe voel jy?” het hy belangstellend gevra en my ooglid opgetrek en met ’n liggie daarin geskyn.

“Wel, ek moet sê dis baie lekker hier in die warm bed."

 “Ek sal dit glo. Dis nogal vrek koud daar buite,” het hy gemoedelik saam gesels. Ek kan net nie verstaan hoe op aarde oom geen teken van erge blootstelling aan die elemente toon nie. Behalwe die knop op jou kop, waar jy geval het, is jy in ’n puik gesondheidstoestand. Selfs jou sagte wit voete het absoluut geen letsels van die skerp klippe oorgehou nie!”

“Dis ongetwyfeld te danke aan die warm jas en sandale wat my gered het,” het ek lomerig verduidelik. Die dokter se wenkbroue het ten hemele opgeskiet en hy het my oopmond aangestaar.

“Maar, Oom, jy het net ’n onderbroek aangehad en jou voete was kaal toe hulle jou gekry het!?”


***********************

































Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Help
Heng dis so lekker om weer een van jou werke te lees wat jy so bloemieng goed geskryf het. Behalwe dat dit lekker-lees was, was dit ook n ophef van geloof en glo in God se wonderwerkende krag en verhoring van gebed! Puik Piet!!!
2 jaar 9 maande 2 weke 2 dae 23 ure oud


Help
wow.. so gebeur daar elke dag wonderwerke vir die wat glo... Dankie vir hierdie kosbare deel ek het heerlik gelees!
2 jaar 9 maande 2 weke 3 dae 19 ure oud



Dans van die Vlammevers

deur Evelyn van der Merwe

100 Gedigte met inspirasie, humor en ‘n kykie na die ou dae.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar