Kortverhale

Bladsye:
Titel: Bosbrand
Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Die gedagte het die eerste keer by hom opgekom toe hy ‘n program op TV gesien het wat oor die verwoesting en lewensverlies, as gevolg van die verskriklike bosbrande in Australië, gehandel het. Uit daardie eerste los gedagtes het sy plan dan ook geleidelik beslag begin kry.

Maar, die saadjie het eintlik al sewe maande tevore ontkiem. Dries moes, namens sy vrou, Cornelia, ‘n besending tuisgemaakte seep en krale by die “Curio Shop” op die dorp gaan afgee. Dit was ‘n werkie wat hy gehaat het. Nie soseer oor die dorp toe ryery nie, maar bloot omdat hy keelvol was vir seep en die reuk van seep. Dit was oral. In rou vorm in die buitekamer en spens, in potte op die stoof in die kombuis, in gegote blokke op die kombuistafel, in gesnyde en verpakte vorm op die eetkamertafel. Net waar hy gekyk het was seep in alle stadiums van ontwikkeling. Ja, hy weet goed dat die seepmakery hulle inkomste aansienlik aangevul het, maar kon Cornelia nie maar liewers ‘n minder morsige en reuklose aktiwiteit loop kies het nie. Daar was die krale ook, maar die aftrek was wisselvallig. Om die een of ander duistere rede het die toeriste van haar organiese seep gehou en daarom was dit dag vir dag, week vir week en maand vir maand hulle hele huis vol. As hy deesdae aan Cornelia gedink het, dan sien hy haar in daardie vormlose oorpak van haar en hy kry die reuk van boerseep. Ook g’n wonder hulle huwelikslewe het feitlik tot stilstand gekom nie – die reuk van boerseep het geen seksuele prikkeling ingehou nie.

Pine Hills was ‘n skilderagtige dorpie, geleë tussen golwende heuwels wat oorgroei was met dennebome. Omdat daar gedurende die somermaande ‘n misterieuse mistigheid oor die plekkie gehang het, het dit ‘n soort van romantiese bekoring vir die toeriste ingehou. In die wintermaande was dit minder so, omdat dit nie so baie gereën het nie en dat daar gedurende die droër jare die gevaar van bosbrande was. Pine Hills was egter ook die tuiste van ‘n kommune moderne hippies wat uit kuns en musiek ‘n bestaan probeer maak het. Hulle ongekunstelde en sorgvrye leefwyse was uniek met ‘n kenmerkende Pine Hills-karakter. Daarom dat tuisgemaakte aandenkings uit die omgewing dwarsdeur die jaar populêr gebly het. Plaaslike enterpreneurs soos Cornelia en hyself, het op die sykante van die hippies se gewildheidsgolf saamgery. Cornelia en haar organiese boerseep met baie meer sukses as wat hy met sy skilderytjies reggekry het. Die winkel was in die hoofstraat en het behalwe vir die magdom aandenkings ook ‘n gesellige en baie gewilde koffiewinkel gehuisves.

Die dag toe Dries daar stilhou om Cornelia se seep en krale af te lewer was die winkel abnormaal besig. Twee busse vol oorsese besoekers het pas daar stilgehou en almal was op soek na snuisterye om huis toe te neem. Terwyl Dries moedeloos na die mensemassa gestaan en kyk het, kon hy nie anders as om haar raak te sien nie. Sy’t eenkant gestaan en met ‘n skalks glimlag die bedrywighede gadegeslaan. Hy’t haar in haar laat twintigs geskat, bruingebrand met los blonde hare wat oor haar skouers gehang het, ‘n styfpassende denim en batebeklemtonende wit katoenbloes.

Sy moes opgemerk het dat hy na haar staan en kyk, want sy stap oor na hom toe waar hy met die pakkaas in sy hande gestaan het.

“Jy ook een van die handwerkers?” Daar was iets amper spottends aan haar uitdrukking.

“My vrou se skeppings.”

“Klink nie asof dit jou juis beïndruk nie. . .”

“Sogenaamde organiese seep. Ek haat die reuk daarvan.”

Sy’t spontaan gelag. Dit was soos die eerste lentereën; ongeforseerd en baie welkom. “Dis gewone boerseep. Ek’s self nie juis gaande oor die reuk daarvan nie. Dit maak skoon, maar dis omtrent dit. Is jou vroutjie s’n die met die impregnasie van dennenaalde?”

“Impregnasie?”

Sy’t weer gelag en hy’t al hoe meer van haar gemaklikheid begin hou. “Ja, dis soos boerseep wat met dennenaalde bevrug is.”

Hy kon nie help om vir haar beskrywing te lag nie.

“Lewer af jou seep dat ons kan gaan koffie drink. By the way, my naam is Kelly, Kelly O’Brian. Jy’s seker daardie famous Dries Vermaak. Ek het een van jou skilderye aan my sitkamermuur.” Weer daardie lekker spontane en saamlag lag.

Hy kry ‘n gaping tussen die mense en lewer sy vrou se skeppings aan die regte persoon af. Hy maak seker dat sy teken vir ontvangs, want hy weet hoe presies Cornelia met die boekwerk is. “Maak maar later reg, ek’s bietjie haastig,” sê hy nadat hy die bewys van aflewering by haar gekry het.

Hy kry vir Kelly in die koffiewinkel by ‘n tafel vir twee. “Ek het sommer klaar bestel. Koffie en ‘n toasted ham en kaas. As jy nie daarvan hou nie, dan wil ek nie met jou kuier nie.”

Hy’s baie later daardie dag eers huistoe en as Cornelia ‘n probleem daarmee gehad het, het sy dit nie laat blyk nie. Dit was egter maar net die begin van baie kuiers bymekaar in daardie einste koffiewinkel.

Die plasie teen die berg was Cornelia s’n. Sy het dit ‘n paar jaar na hulle troue van haar pa geërf en Dries is voortdurend daaraan herinner dat, as dit nie vir haar pa se huis en geld was nie, dan sou hy lankal sonder heenkome gewees het. Ongelukkig was dit ‘n feit, want Dries se skilderytjies was maar baie gemiddeld en as dit nie vir die bestaande afsetmark op Pine Hills was nie, dan’t hy sweerlik niks verkoop gekry nie. Hy het nie die temperament gehad om vir ‘n baas te werk nie en juis daarom het sy afhanklikheid van Cornelia hom baie kwesbaar laat voel. As hy kon, dan sou hy van haar geskei het, maar daardie skuif sou die kos uit sy mond en die dak oor sy kop weggeneem het. Daarom dat hy haar geteem en die reuk van boerseep met ingehoue wrewel verduur het.

Drie maande later het Dries vir Kelly die berghut gaan wys. Die hut was op die grens van Cornelia se grond en was jare gelede gebou as wegbreekplek vir die gesin. Dit was ten volle toegerus met slaapplek, kombuis en heerlike sitvertek waar in die winter vuurgemaak kon word in ‘n gemesselde klipkaggel. Ongelukkig het nie Cornelia of haar ma baie van die plek gehou nie en het die ou man dit vir homself as werkplek ingerig waar hy met elektronika gesit en eksperimenteer het. Dries het die plek na die ou man se dood gedeeltelik as ateljee begin gebruik maar omdat dit so eenkant was, het die stilte en eensaamheid van die plek hom gou gevang. Met Kelly as geselskap het die plek al hoe meer potensiaal begin toon omdat hulle mekaar se liggame in vrede kon ontdek en herontdek. Kelly het baie gehou van die nuwe reëling, maar het al hoe meer begin skimp vir ‘n meer permantente verbintenis.

Dit was in daardie tyd dat Dries aan sy planne gestalte begin gee het.

Dit was ‘n baie droë jaar en daar was meer as genoeg droë materiaal onder die bome om, as die wind en omstandighede reg was, ‘n bosbrand van onmeetbare gevolge te kon laat ontketen. Die bos en nabygeleë omgewing was egter ontoeganklik vir kampeerders of piekniekgangers en daarom was die maak van oop vure ook verbode. Die omgewing is verder deeglik gemonitor vir brande vanaf drie voltyds bemande uitkykpunte. Daar was egter ‘n skuiwergat in die moniteringsproses. In die rivier wat aangrensend was aan die bosgebied, was daar ‘n eiland in privaatbesit. Die eiland was digbegroei met reuse dennebome, natuurlike bos aan die oewers en baie ou hout en droë brandbare materiaal. Die eienaar van die eiland het die bosbouowerhede op sy eiland verbied en het niks gedoen om die moontlikheid van brande op die eiland te bekamp deur die droë materiaal uit te kap of te laat verwyder nie. Gelukkig het niemand egter ooit op die eiland gekom nie, maar ongelukkig was die eiland ook nie sigbaar vanaf die bemande monitorpunte af nie

Dries het begin om ‘n kampplek in die middel van die eiland oop te kap, kompleet met vuurmaakplek, leë drankbottels, leë blikkies en oorblyfsels van eetgoed, ens. Hy’t selfs ‘n paadjie vanaf die onsigbare kant van die eiland af oopgetrap om die indruk te skep dat die plek in gereelde gebruik was. Van sy braaivleisplek by die huis het hy begin om as en kole eiland toe te neem om die indruk te skep dat mense al baie kere daar vuurgemaak het.

Die res van sy plan het berus op ‘n vuur wat spontaan, in die middel van die nag sou ontstaan en vinnig genoeg sou verprei om die brandweerspanne onkant te kon vang. As die wind gaan waai soos hy daardie tyd van die jaar behoort te waai, gaan hulle huis direk in die pad van die voortsnellende vuur wees.

Om daardie vuur spontaan te laat ontstaan het hy gebruik gemaak van sy oorlede skoonpa se werkswinkel en inligting wat hy van die internet af afgelaai het. Die apparaatjie wat hy gebou het, was binne-in die dop van ‘n selfoon ingebou en sou op ‘n bepaalde oproep van hom af, die ontsteking verskaf wat droë gras, takkies en blare op die eiland aan die brand sou laat raak. Die droë materiaal was meer as genoeg om die dennebome te laat vlamvat wat op hulle beurt, aangehelp deur die wind, die vuur na die bosgebied sou laat versprei.

Tussen sy beplanning en gewerskaf deur het hy steeds seep vir Cornelia aangery en andersins vir Kelly in die boshut gelukkig gemaak.

Dries het sy apparaat opgestel, toegepak onder genoeg droë hout en geduldig gewag vir die wind om te draai.

Dit was ‘n Sondagmiddag laat toe die wind gedraai het. Dries het net gewag totdat Cornelia aan die slaap was toe hy haar met die kombuismes toetakel. Sy was egter nie geneë daarmee om sommer net daar en dan boedel oor te gee nie. Dit het in ‘n deperate geveg om haar lewe ontaard. Sy’t gekeer en geskop en gekrap met alles wat sy gehad het. Die gevolg was dat, toe Cornelia ten einde laaste haar laaste asem uitblaas, Dries met twee vieslike en diep krappe oor sy wang gesit het.

Hy’t nie eers probeer om sy aandeel aan haar dood te verbloem nie, want, so het hy gereken, as daardie wegholbrand in al sy geweld die grasdakhuis gaan tref, dan was daar maar min wat enigsins herkenbaar sou kon oorbly.

Hy’t die krapplekke ontsmet en met sy klein bakkie rivier toe gery. Dit was net voor twaalf. Hy’t gewag tot een-uur en toe die nommer geskakel. Vir ‘n rukkie het hy gedink dat iets verkeerd geloop het, maar toe die vlamme op daardie eiland opstaan, toe’t hy geweet hy moet padgee. Met ‘n draai het hy by die hotel op die dorp aangekom met die storie dat hy in die berghut aan die werk was toe die brand uitbreek. Die pad na sy huis was deur vlamme versper en hy’t met die agterpaaie dorp toe gejaag.

Op daardie stadium het niemand tyd of lus gehad om na sy verhaal te luister nie, want almal was aan die hardloop om brandbestryaksies van die grond en aan die gang te kry. Dit was ‘n geloei van sirenes en voertuie wat in aller yl met brandslaners in die rigting van die brand op pad was.

Dries het by die kroegtoonbank gaan sit en ‘n whisky bestel. Sy plan het gewerk. Vrae oor die krapmerke aan sy gesig het hy weggepraat met ‘n storie oor takke wat hom in die donker gekrap het soos hy by sy bakkie wou uitkom.

Dit was by daardie selfde kroegtoonbank waar Sersant Prashad hom vyf dae later opspoor.

Toe hy die sersant herken het hy met gemaakte hartseer na die sersant gekyk en die glas geledig.

“Groot skade en veeverlies gewees,” sê die sersant. Dries skud sy kop in kwansuise meelewing.

“Twee persone het hulle lewe ook in hierdie tyd gelaat,” gaan die sersant ongesteurd voort.

Dries sit regop. “Twee persone?”

“Tragies, ja,” sê die sersant. “Die een, ‘n vrou, het in haar motor doodgebrand toe die vlamme haar op die pad oorval het. Miskien ken jy haar? Kelly O’Brian.”

Dries verbleek merkbaar en hy beduie vir die kroegman om sy glas vol te maak.

“Kelly O’Brian? Is jy seker, Sersant?”

“Doodseker. Sy was op pad van daardie berghut van julle af. Het jy geweet sy was daar?”

Dries skud sy kop, die naarheid op die punt om hom te oorweldig.

“En die ander persoon?” kry hy dit skor uit.

“Jou vrou. Maar sy’s vermoor en die moordtoneel genadiglik ongeskonde. Omdat julle huis in ‘n holte sit en die vuur so verwoed deur die wind aangejaag is, het dit mooi bo-oor die huis gespring.”

Dit lyk asof alle lewe uit Dries getap is. Hy sit vooroor gebuig oor die toonbank, die glas onaangeraak.

Sersant Prashad staan op. “Meneer Vermaak, ek dink jy moet saam met my na die aanklagtekantoor toe kom.”



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Bosbrand
Boontjie kry sy loontjie Dries. Ek het lekker aan die storie gelees.
4 jaar 9 maande 1 week 5 dae 3 ure oud


Vuur
Luide applous vir hierdie treffer!!!
4 jaar 9 maande 1 week 5 dae 23 ure oud


Bosbrand
Baie dankie vir jou pragtige bydrae tot die Vuur projek
4 jaar 9 maande 2 weke 2 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


    Geborg deur :

    Van ons ander lede

    Weerkaatsing van my hart

    deur Elzabe Young Heyns

    'n Mens se hart gaan deur seisoene, net soos 'n mens dit elke dag buite ervaar. Een dag is dit somer, die volgende dalk winter. 'n Storm en miskien dan weer 'n sonskyndag. Almal het van tyd tot tyd nodig om jou hart oop te breek, die gevoelns en emosies vry te laat en te ontleed; en dan ... gevul te word met die bevryding en aanvaarding van omstandighede en situasies in jou lewe.



    picture

    Kompetisies

    Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

    picture

    Nuusbriewe

    Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

    picture

    Winkel

    Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar