Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Dis warm in die gevangenisdienshuisie. Maar dis niks in vergelyking met hoe hoog die gemoedere en warm die humeure van ma en dogter loop nie. Die sewentienjarige het haar voete uitmekaargeplant, staan hande in die sye en met haar kennetjie prominent na vore.

“Wel ek sê vir Ma, ek het vir Peet lief en ek gaan met hom trou, maak nie saak WAT Ma of Pa se nie!”

“Anna, jy is maar sewentien en nog nat agter die ore. Alhowel dit vir my lyk of dit nie die enigste plek is waar jy nat is nie. Hoe dit ookal sy, ek en jou Pa sal dit nooit toelaat nie! Jy weet jou Pa is benewens hoofbewaarder ook ‘n leke pastoor, en wat dink jy sal die gemeente se as jy op so jeugdige ouderdom wil gaan staan en trou? “

“Nee ma, dis Ma wat nie verstaan nie. Ek is klaar met matriek. Ek het goed geslaag. Ek het goed gedoen in atletiek en akademies en ma-hulle geen rede gegee om julle vir my te skaam nie. Inteendeel, Pa het altyd met sy skrander dogter loop en spog. Maar liefde vra nie toestemming nie, hy bekruip jou soos ‘n dief in die nag. En Peet is darem al een-en-twintig en Adjudant Pieterse sê hy het ‘n goeie toekoms voor hom.”

“Ha, wat vir ‘n toekoms miskien? Op die oomblik is hy nog ‘n doodgewone likkewaan. Dit gaan hom nog jare en baie studies vat om ‘n ordentlike rang te bekom. En waarvan lewe julle in die tussentyd? Jy sal gou uitvind dat liefde en koue water nie al die gaatjies vol maak nie!”

“Ek sal gaan werk ma. Ek is slim en gewillig en kan hard werk. Ons sal okay wees. Want vir Peet wil ek hê. Al die meisies loop sulke strepe agter hom aan. As ek hom nie nou myne maak nie, gaan ek hom verloor. En dit sal ek nooit toelaat nie. Hoor Ma my? Nooit! Nooit!”

“Wel my kind, ek en jou Pa al nooit ons toestemming gee nie. Jy is nog minderjarig en basta.”

Woedend gooi sy die astrante lyfie met die jeugdige, maar vol kurwes rond. “Wel ek sal vir Ma wys! Ek sal hom kry. Come hell or high water!”

“Anna, ek verbied jou om hom weer te sien. Jy is gehok vir die volgende twee weke!”

Haar groen oë flitsend, draai sy haar rug op haar ma en storm uit die vertrek uit na haar kamer toe waar sy haar snikkend op haar bed gooi. “Ek sal hulle wys!” dink sy. “So maklik gee ek nie op nie.”

 

Vir die volgende maand of twee verloop dinge oënskynlik rustig. Anna bring nie weer die onderwerp op nie en dit lyk of sy elke aand rustig in haar kamer deurbring met ‘n boek. Haar ouers sien ook nie meer vir Peet by die huis rondhang nie en die Ma slaak ‘n sug van verligting. Blykbaar het haar rebelse dogter die lig gesien. Min wetend dat Anna elke aand sodra hulle slaap by haar venster uitklim en in Peet se kamer by die enkelkwartiere insluip vir ‘n nag van passie. Die jong man lyk party oggende maar half bleek om die kiewe, maar die adjudant skryf dit maar toe aan laataand studies.

En toe bars die bom: “Ma, ek is swanger met Peet se baba. Gaan Ma-hulle nou toelaat dat ons trou?”

Nou hier in die laat sewentigs was moet-trou nog die in ding. Die enigste manier om die skande darem so effe te verminder was om die twee oortreders so gou as moontlik voor die magistraat te kry en daarna te maak of jy nie sien hoe die nydige outannies die maande op hul vingers aftel nie. En sou daardie baba nou op sewe maande haar - of sy verskyning wou maak, is die jong aanstaande mammie vir ‘n maand of drie weggestuur familie toe. Iewers ver weg van die nuuskierige oë.

Maar eers dokter toe om seker te maak. “Dametjie, gaan daar in die badkamer in en piepie vir ons in dié botteltjie.” So gesê, so gedaan. Triomfantelik bring sy die botteltjie terug. Drie dae later kom die uitslag: Swanger.

Inderhaas word die reëlings getref. Twee woedende pare ouers en ‘n paar vriende woon die klein geselligheid by. Die paartjie en Anna se getroude vriendin Miemie is die enigstes wat glimlag.

“Ek wonder darem wat Anna sou gedoen het as ek nie vir haar daardie uriene monstertjie gegee het nie,” dink Miemie en verskoon haarself om die hoogswanger blasie te gaan ledig.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Z
As jy nie sterk is nie moet jy slim wees. Goed geskryf.
4 jaar 6 maande 3 dae 6 ure oud


Waar ;n wil is
Dis nou regtig ;n versasende einde!

Het dit geniet
4 jaar 6 maande 3 dae 20 ure oud



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar