Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Die voertuig se bande sing op die Weskuspad. Verby Velddrif tot by Elandsbaai. Dan draai hy weg Leipoldtville, Graaffwater (of Grawater soos die Weskusters hom noem) toe. Ek was lanklaas daar. Maar ek is hier met 'n doel. Die Sandbergpad wat net voor Graaffwater regs afdraai is deesdae geteer. Nogals. Ek onthou dat ek en my pa op hierdie einste pad eendag 'n reuse koperkapel sien kom het uit die veld uit, bo-oor die pad, sonder dat die bakkie hom trap. Blitsig. Kronkelruggie hol getrek soos hy beweeg.
Hierdie Sandveld was my pa se grootwordwêreld. As kind het ons gereeld hier kom kuier by my ouma en my pa se oudste broer, Koos, wat die boerdery verder gevat het. Ouma het 'n manier gehad om 'n storie doer agter die sandwalle waar die werkershuisies staan, te loop haal en hom dan verby te vat grondpad toe, teen die rantjies uit tot by die grootpad Lambertsbaai toe. En dan was sy eers by die inleiding.
My twee neefs en oom Koos boer nou saam hier. Die manne het baie uitgebrei. Die plaas is mooi. Sandveldgroen is 'n anderste groen. Eintlik moet jy sê ggggggroen want almal brei hier.
Baie het verander, maar alles is nog dieselfde hier. My twee neefs kom groet my toe ek stop by die aartappelstoor. Ons drink koffie en hulle moan soos boere maar doen. Die reënt is min nog vanjaar en die aartappels het rolblad en verwelksiekte. My pa se taal. Ons gesels lekker, maar my tyd is min en hulle weet ek is hier om vinnig te groet, te loop kyk, en dan verder te gaan. Hennie sê later:" Jong, ek wil nou nie ongeskik wies nie, maargg as jy viergguurggg in Clanwilliam moet wies, da' moet ons nou rggggy." Ons ry. Ek volg sy bakkie in die stofpad verby oom Hennieboy se huis tot by die plaasopstal. Dié se geraamte van dertig jaar terug staan nog net so, net opgedollie hier en daar.
Die memories spoel soos 'n tsunami oor my. Dassiejag. Trekker ry. Skaap skeer. Ons stap huis toe en oom Koos kom aangestap. Hy is die enigste van die drie broers wat nog lewe. Sy stem is diep, sterk:"Mirrgggag jong, kom in. Kom ons sit sommerggg in die kombuis. Stap voor." Ek gaan in en groet my tannie wat besig is om waterblommetjies skoon te maak. My oom gaan sit waar ouma altyd gesit het. Die ou is stiller as wat ek hom onthou, maar die geselskap vorder darem met Hennie se hulp. Hennie jaag ons weer aan:"Dié man moet rgggy, ga' pa hom loep wys of ga' ek?" Oom Koos vat sy sleutels en sê ons moet ry.
Sy bakkie vat die spoor en dis asof sy tong losser kom. "Jong, ek mis jou pa. ". En hy gaan aan en vertel stories van dié twee manne se kaskenades toe hulle jonk was. Ek lag maar ek lag ook nie, want die bakkie vat ons al nader. Ons klim 'n randjie uit en daar staan hy en uitkyk op die ruwe sandveld. My hart hol oorhoops en die emosie maak dat ek nie praat nie. Ons stop. "Gaan kyk jy, ek drrgggaai solank die bakkie om. Vat jou tyd." Ek doen. Die Vissers van Brandenburg het 'n pragtige gedenksteen vir Hentie opgerig. Dis waar hy op sy gelukkigste was. In die veld. Ek neem 'n paar foto's terwyl die trane maar loop. Klim later terug in die bakkie. Oom Koos kyk dié kant toe en ek kyk dáái kant toe. Hy huil dié kant toe en ek dáái kant toe. Ons ry terug. Begin praat oor sy gesondheid wat so goed hou. Dat hy die gelukkige een was. Hy vertel dat hy moes gewig verloor het en maar weer bietjie opgetel het. Banting werk nie vir 'n aargggtappelboerrg nie. "Jong, mens kan mos nie loop staan en honger doodgaan nie!" Ek lag. Hard. Uit my maag uit. Want hoe loop staan mens?
Terug by die huis groet ek. Ry terug. Dis swaar om te "loop staan" en ry as jy wonder wanneer en óf jy weer hierdie sandpad waar jou pa se spore lê, gaan sien.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

die laaste groet
Baie dankie vir jou pragtige bydrae tot die DROOGTE projek.
4 jaar 3 maande 1 week 4 dae 13 ure oud



drafstap deur my gemoed

deur helna

ek noem my bundel drafstap deur my gemoed, want ek wil hê jy as leser moet saam my daagliks voel wat ek voel en ek glo ek gaan jou aanraak...



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar