Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

So aan die einde van elke jaar rondom my verjaardag is die verlange na my ma soms oorweldigend. Dit maak dat ek sukkel om te sluk as ek aan haar dink en die trane dam gereeld en onverwags op. Ek skryf dit meesal toe aan “daai tyd van die jaar” of “die hormone gaan alweer bonkers”.
Jy sien, ek het my ma presies 41 jaar geken toe sy weg is. My verjaardag en die Kerstyd het vir ‘n lang ruk daarna hulle bekoring vir my verloor. Ek, wat kinderlik opgewonde was oor die vooruitsigte van ‘n verjaardagkoek, presente en blink liggies in winkelsentrums hier rondom Novembermaand.
Dit het gemaak dat ek vir ‘n lang ruk na Ma se dood nie oor haar kon praat nie. My stem was stom, my hart te klein om al die seer te verwoord. Ek was ook soms kwaad vir haar en dit het nie veel gehelp om haar dood op ‘n ordentlike manier te verwerk nie. Sy was ‘n asmalyer en ‘n kettingroker wat baie sleg na haarself omgesien het. Ander se kwale en skete het altyd eerste gekom. Sy het haarself verwaarloos en was brandmaer. Teen die einde was een hoesbui te veel vir haar tengerige gestel en kon sy nie meer die Godgegewe asem in haar longe inkry nie.
Maar gelukkig met die tyd kom die aanvaarding. Mense raak soms die simpelste goed kwyt as hulle nie regtig weet wat om te sê nie – ek noem dit die hallmark woorde. Dinge soos, “tyd sal die wonde genees” of “sy is nou op ‘n beter plek en ken geen pyn meer nie.” Dit het my aanvanklik kwaad gemaak en later koud gelaat. Op ‘n dag het dit egter begin sin maak.
Dit was op daardie dag wat ek Mossie ontmoet het…
Sowat vier maande na Ma weg is, gewaar ek vir die eerste keer die mossie op die stoep. Hy het tot by die oop voordeur gehop-hop en in die deur sy sit gekry. Ek het ‘n paar keer nader gekom maar hy het net so meter of wat teruggehop en dan weer nadergekom. Vreemde dingetjie, het ek gedink. Wat soek hy nou eintlik?
Ek het maar die ordentlike, menslike ding gedoen en ‘n paar broodkrummeltjies in sy rigting gegooi. Hy het so hier en daar na een gepik maar dit was duidelik nie sy tipe cousine nie want ek moes dit later maar gaan opvee.
So het ek en Mossie begin gesels. Hy, rustig in die sonkolletjie van die oop voordeur en ek op ‘n stoel in die sitkamer waar ek hom kon sien. Om uit te vra na sy welstand het vir my te veel geklink of ek besig was om die albasters te verloor. So begin ek hom toe maar vertel van Ma en hoe ek haar mis. Haar lekker tee en klipharde koekies, haar deurmekaar-pratery en alewige bekommernis oor die kinders en kleinkinders, die kersgeskenke wat al van November af onder die kersboom versamel, die noot in jou hand as jy wegry na ‘n kuier by haar. Jy weet, die dinge wat mens opgaar in jou kop en vir jouself hou omdat jy dink niemand sal verstaan wat jy wil sê nie. Die gesprek was redelik eensydig maar my luisteraar was geduldig – vir so 5 minute. Ek was spyt toe hy sy vlieg kry en my alleen los met net gedagtes.
Maar die volgende dag was hy terug en ons het die gesprek hervat. Ek het met Mossie begin praat asof dit Ma was wat daar gesit het. Ons sessies het seker vir ‘n dag of twee daarna nog aangehou. Soms net ‘n paar minute, soms ‘n bietjie langer. Dit was egter genoeg om my sisteem skoon te kry en my sê te sê.
Toe is Mossie vort. Weg. Soos Ma. Sonder ‘n groet, sonder ‘n laaste kyk na my kant toe. Maar ek was dankbaar vir ons kort verhouding. Ek het begin genees.
Dit was rondom daardie tyd dat my beplanning begin het om Italië te besoek. Rome, Venisië, Florence, die katedrale, die bootjies op die water. Ma se droomplek. Ma wat soms gemymer het oor die Taljaner van haar jongdae en voor Pa op die toneel verskyn het. Die Taljaner wat oupa weggejaag het omdat sy dogter nie ‘n uitlander sou trou nie.
Ek dink nie Ma was spyt oor die verloop van haar lewe nie want sy en pa het meer as 50 mooi maar harde jare saamgeswoeg, geleef, liefgehê, gelag en kinders grootgemaak. Maar Italië was ‘n plek waarheen sy in haar drome gevlieg het, tussen die groen Toskaanse wingerde, geboue van ‘n ander era en klein straatkafeetjies met olyfolie en rooiwynkraffies op die tafels.

So het ek Ma se droom gaan leef. Ek het die geskiedenis gesien, die Dawid-beeld in al sy naaktheid, die hoewe van die Romeinse soldate se perde gehoor in die straatjies, die bruggies oor die baie kanale in Venisië oorgesteek in verwondering en Chianti wyn geproe in Sienna.

In Rome het ek ‘n kleinerige kerkie ontdek, effe uit die pad van die hoofstroomtoeris. Dit was magies, seerkry-mooi en oorweldigend, maar tog so bekend. Na ‘n paar minute van net stilsit en staar na die grootsheid en heiligheid, het ek die rakkie teen die muur gesien waar die tientalle kersies brand. Ek het soontoe geloop en vir Ma ‘n kersie aangesteek.
En vir haar Taljaner. En ek het jammer gesê dat my oupa so lelik was met hom.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Ma se droom
AG EK HET HEERLIK GELEES AAN HIERDIE NOSTALGIESE STUK... Ja my Ma is al 5 1/2 jaar weg en steeds loop die verlange erg, veral met die verjaarsdae, die dag wat sy oorlede is en dan die Kersgety.... vir my word die verlange erger al groei die rou wonde so klein bietjie op n slag toe... ek gesels maar steeds daagliks so in die gedagte met haar.... *Drukkie*
3 jaar 9 maande 3 weke 4 dae 1 uur oud



Arhoma Gedigte

deur Aná Niem

Ses verhalende gedigte voorgedra: Identiteit, Hierdie kind, Uiterste Wil, Alleen-vrou, Leer van sukses, Lobola. Hierdie CD is die ideale geskenk vir iemand met diepte.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar