Kortverhale

Titel: 50 jaar
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Die lewe is ’n tapisserie van oomblikke. Ons tapisserie is 50 jaar groot. En lank.

Meeste tapisserieë wat ek al gesien het, vertoon een oorkoepelende toneel – bv. ’n jagtog met jagters, honde, iemand wat ’n beuel blaas, ’n bloesende meisie met ’n mandjie vol veldblomme, of dalk ’n piekniek onder skadubome, of die tapisserie beeld ’n groot veldslag van die roemryke verlede uit, met pronkende perde waarop manne sit in veelkleurige gewade en hoedens op die kop met veer pluime en vêr, op die agtergrond, grofgeskut, aan die skiet, met rookwolke.

Dit beeld egter nie die gru van ’n veldslag uit nie, die bloed, die derms, die verbande om arms en hoofde en bene – dit is nie geskikte tonele vir ’n tapisserie gemaak deur ’n skare vroue in ’n groot saal, teen ’n muur, met naalde en prieme en bondels veelkleurige gare. Met min vergoeding en die werkers meestal halfblind weens die veeleisende werk. Om hulle hande en vingers is repe growwe materiaal gedraai omdat sommige se vingers al begin bloei het.

Nee. Beslis nie daardie dinge nie.

Net die mooie en die goeie en die noemenswaardige oomblikke, wat, heel tragies tog, almal aan die begin van mens se lewe, huwelik, loopbaan en so meer, voorkom. Dit is al wat in ’n historiese tapisserie hoort. Want - daarna raak dinge meer gekompliseerd, meer ewekansig, meer deurweek met pyn, woede, vrees, ongeërgdheid, verdoeming, teleurstelling.

Ag, nou ja. Laat ek tog nie hier suur raak nie. Onthou die dinge wat mens se bloed laat tintel het, wat jou die beste waartoe die lewe in staat is laat beleef het.

Sit jy behoorlik, gemaklik, liewe leser? Reg so. Laat ek begin (onthou, net die nice bits.!)


Dis vroegoggend, somer, Margate, die hotel. Eergister getroud, het die eerste nag by haar ouers deurgebring, in die vrykamer (!) Betasting, streling, gemompelde versekerings van onverganklike liefde. En albei ingestel daarop om nie te veel tekens van ’n gebrek aan ervaring te laat deurskemer nie.

Maar, nou. Die hotel in Margate. Sondagoggend, so teen vyfuur die oggend. Die eerste strale van die son het van die blink Indiese oseaan opgestaan en by ons venster in geskyn. Sy het pienk nagklere aan. ’n Gepofte broekie, deurskynende jurkie, haar hare is argeloos met groot spelde bo-op haar kop vasgekeer. Die sagte ronding van haar borste loer genoeglik deur die dun materiaal. Ek herken hulle. Van laas nag.


Ons huur ’n woonstel op die elfde verdieping van ’n woonstelblok naby die strand in Durban. Ons het gaan muurpapier koop vir die sitkamer muur. ’n Blatante, arrogante patroon in swart en goud. Mens skrik as jy die sitkamer binnekom. Die muur se boodskap is brutaal en ongehoord. En ons bewonder ons handewerk.


Ons eet saam met vriende in ’n hotel op die voorstrand. By kerslig. In die Sjinese restaurant. Die groot vensters kyk uit op die baai. Rye liggies van skepe wat teen die kaai vasgemeer lê. Dit weerkaats in die swart water, dommel ongestoord op die lae deining.

Die kelner bring nog wyn. My vriend vertel ’n riskante grappie. Die twee jonggetroude vrouens (hulself al jare lank vriendinne) probeer hul bes om blosend te reageer op die tref deel van die grap. Ons twee manne sit breë bors, ek drink rooiwyn op sy spitsvondigheid.


Ons het ’n huis laat bou, dis pas klaar. Ons het vandag ingetrek, nou’s dit aand. Ons sit kaalbas op die leiklip vloer en eet wegneem kos. Ons is vasbeslote om vanaand, die eerste in ons huis, op die koue klipvloer seks te hê. Waarom verdomp nie!?

Dit het nogal goed gewerk. Haar kaal boud het egter ’n skerperige nerf van die leiklip raak gelê. ‘n Druppel of twee bloed op die melkwit, gladde vel. Ek soen die druppels weg en sy streel dankbaar oor my hare.


Ons eersteling, ’n blonde bondel oulikheid, klouter in die nanag op ons bed. Hy’s bang vir ’n monster in sy klerekas. Hy mag dit nie doen nie – in ons bed kom lê nie. Ma se vaste reël. Die boek oor kinder opvoeding lê klem daarop, ouers het ’n ongestoorde slaapkamer lewe nodig. Goed vir die huweliksverhoudinge en so meer.

Sy is wakker toe hy opklim. Sy wys vinger teen die lippe hy moet nie geluide maak nie. Draai haar rug na my en koester hom teen haar maag tot hy aan die slaap raak. In die grys vroegoggend dra sy hom na sy kamer toe. Trots daarop dat pappa niks daarvan weet nie.


Ons hou partytjie by die Winklers. Duitse immigrante. Hulle probeer Afrikaans aanleer en praat dit na vyf jaar heel vlot, maar met ’n dik Duitse aksent. Hy is groot en blond. Helder blou oë.

Ek betrap hulle in die spens, in ’n omhelsing verstrengel. Sy hand op haar kaal boud, haar rok eenkant oor sy arm gebondel. Ek trap versigtig agter uit, dan gang af terug na die jolyt. Ek besluit om nie seergemaak te wees nie. Dis mos maar hoe dit op die soort partytjies gaan. Toe ons terug ry huis toe, praat ek min. Sy vra waarom ek nors is. Ek antwoord haar nie. In ons bed lê ek lank wakker en staar die donker in. Uiteindelik, ’n paar uur later draai ek om na haar en sy na my. Ons maak angstige, roekelose liefde en ons het albei daarna koors. Warm gloede golf heen-en-weer oor ons gesigte, nekke. Ek vee met my wysvinger oor haar voorkop, dan om na haar wang en ontdek daar trane.


Sy leer haar seuntjie om te sing:

“Siembamba, mamma se kindjie
siembamba ... “

Hy probeer en, tot my verbasing, sing hy, nootvas.

Sy leer hom klap-klap speel. Sy handpalms teen hare.
Hy lag uitgelate. Haar oë blink, sien ek. Die gesig van ’n engel, in ’n Caravaggio skildery, wat vir Cupido vermaak.


Die foto is van ’n klas vol jong kinders. Std twee of drie, skat ek. Sy is hul onderwyseres. Sy het ’n uitklok rok met rooi blommetjies aan, staan met een been en voet na vore geplant. Die pousering van ’n model. Een met ’n modieuse bloedrooi mond. Lank, slank en elegant. Ek verkyk my aan haar.

Okei, Ek was toe verkeerd. Die volgende is nie nice nie. Ver daarvandaan. Maar, ter wille van die volledigheid dan? ...

Ons is afgetree. Begaan oor stoelgange en seer knieë. Haar oë is leeg, stil, soos ’n swembad met helder water. Sy kan nie meer haar taal gebruik nie, sy weet nie wie ek is nie. Verloor gewig. Twee keer per maand neem ek haar haarkapper toe, daarna sit sy langs my in die motor. Haar digte bos hare met strepies grys daarin, is elegant gekap. Haar mond is oop, asof sy wil glimlag.

Die dokter verduidelik dit aan my. Alzheimer se siekte. Hy beskryf die stadiums van die siekte, die genadeloosheid daarvan, die hopeloosheid daarvan. Hy reken sy het nie veel meer as ’n jaar of twee nog om te lewe nie.

Maar hy weet nie ons is aankomende week vyftig jaar getroud nie. Hy weet ook nie dat ek ’n bottel sjampanje sal koop en in my sitkamer, op my stoel terug geleun, alleen sal sit, in die stilte van ons huis. na sy gaan slaap het.


En ’n heildronk sal drink oor vyftig jaar en die herinneringe van lank gelede.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

50 Jaar
Frans van Zyl, hierdie is 'n hartroerende verhaal, en goed geskryf. Ek huil nou sowaar my hart uit.
5 jaar 9 maande 3 dae 15 ure oud


---
** L A G ** "Sit jy behoorlik, gemaklik, liewe leser? Reg so. Laat ek begin (onthou, net die nice bits.!)"

50 jaar getroud is beslis iets om gevier te word. Deesdae is 5 'n rekord (Dalk nog korter? 5 Weke? Dae?)

Dis hartseer Alzheimer (Jy's darem maar baie lief vir haar nê! Die haarkappers en die amper`glimlag)
6 jaar 3 dae 4 ure oud


O
Ek kon nooit oor die spens tafereel kom nie, nie eers 25 jaar later nie ........jy is 'n baie beter man as ek...........
6 jaar 3 dae 6 ure oud



Vader, vergeef

deur http://www.woes.co.za/

'n Geestelike digbundel met 46 Gedigte wat begin by sosiale kommentaar oor die euwels in ons samelewing en dan oorgaan na storiegedigte gebaseer op ware verhale van gebedsverhoring.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar