Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Koos Lourens stap stadig na die lokoloods in Bethlehem toe nadat hy aangeteken het vir trein 72 Bloemfontein toe. Vir n paar oomblikke gaan staan hy voor die lokoloods om die toneel voor hom in te drink. Blasend in sissend staan die lokomotiewe soos jong resiesperde, reg om weg te spring. Met haar blink lyf en met n rook kolom by die skoorsteen uit staan sy 2878 en wag om vir die laaste keer pad te vat.

Twee lyne in die loods is egter dood, daar staan n paar elektriese eenhede, vooruitgang is besig om in te haal, nie net vir stoom nie maar ook vir die klas 15E lokomotiewe wat jare lank hier gestationeer was.

Die eerste klas 25NC lokomotiewe, wat oortollig tussen Beaufort-Wes en de Aar geraak het is reeds hier en het die meeste klas 15E lokomotiewe vervang.

Gisteraand toe hy afgeteken het moes Koos hoor dat sy geliefde 2878 se beurt aangebreek het: “Koos more jou laaste dag met 2878. Oormore kom jy met 3401 terug van Bloemfontein af”.

Toe hy by die huis gekom het het Hantie sommer dadelik aangevoel dat daar groot fout is, Koos het nie veel gepraat nie. Dit is eers later wat hy haar vertel het dat dit die einde van die pad vir 2878 saam met hom is.
Hantie het goed geweet hoe voel Koos en al wat sy kon doen is hom styf teen haar vasdruk. Daarna het sy, nadat sy die kinders in die bed gesit het stil haar foto album gaan haal. Saam het hulle na al die fotos van 2878 wat sy geneem het gekyk. Saam het hulle in hulle harte afskeid geneem van 2878. Hulle het met groot deernis na hulle troufotos gekyk, veral na die twee wat by 2878 geneem is. Die loko het daardie dag baie sorg aan die dag gelê om haar blinkend skoon te kry en het die passers spesiaal n leertjie gemaak waarmee sy kon opklim om langs Koos voorop te kon gaan staan vir die foto.

Koos se hart is seer toe hy vir die laaste keer sy kosblik op die voetplaat van 2878 sit, inklim, sy stoker groet, en dan sy ghriespomp en oliekan neem om die wiele gou te gaan ghries en die oliepotte vol te maak. Hy en 2878 kom immers al n paar jaar saam en was haar uitmuntende toestand, wat hulle deur harde werk bereik het, sy trots.

Toe Koos klaar is en inklim gaan sit hy op sy sitplek. Vir die laaste keer gly sy oog oor die blink kopermeters en die peilglase. Sy stoker is ook reg en die stoomdrukmeter se naald staan bewend op 210 kpa.

Koos gee haar omstellerwiel drie draaie regs, maak die remme los en trek die regulateur effens oop. Blasend en sissiend begin 2878 vorentoe beweeg tot by die rangeersinjaal waar Koos stop om uit te bel. Nadat hy met die seinhuis gepraat het gaan die rangeersinjaal dadelik op en met die regulateur nou meer oop hardloop 2878 haastig stasie toe om deur die terrein te gaan. Hulle moet n paar minute wag tot trein 72 van Durban af met sy elektriese eenhede op platform een tot stilstand kom. Nadat die eenhede afgehaal is kom haal die rangeerder hulle om hulle voor aan 72 te gaan koppel, vir oulaas.

Met n ligte stampie koppel hulle voor op trein 72 en begin die werksaamhede in alle erns om reg te maak vir die pad Bloemfontein toe. Die vuurkisdeure staan wyd oop en met ritmiese slae hoor jy klein Piet se graaf in die kolewa skraap as hy n graaf vol kole skep. Met ritme swaai hy om en skiet die kole in die brullende vuur in die vuurkis in. Eers langs die kante, dan die hoeke en dan in die middel. Die injekteur roggel soos dit water in die ketel inpomp.

Koos is intussen besig om rem op die trein te skep en begin die vakuumnaalde stadig opkruip.Die kondukteur word gegroet toe hy die vrag vir Koos kom gee en sommer die A-order Slabberts toe ook vir hom gee.

Half tien gaan die sinjale voor Koos op en kan hulle vertrek. Klein Piet se vuur is reg en word die vuurkis deure toegestoot Met n harde blaasgeluid blaas die veiligheidsklep af Klein Piet kyk terug en langs die trein staan die stasievoorman en gee vir hulle n groen vlag

“Right away oom Koos” kom dit van klein Piet af en Koos gee n lang fluit. Omstellerwiel word drie draaie gegee en die silinderkrane oopgetrek. Die sandkas hefboom word oopgetrek om bietjie sand op die spore te gooi vir vastrap en dan weer toegestoot.

Koos trek die regulateur effens oop en as hy voel sy vat die vrag word die regulateur nog n entjie oopgetrek.
Blasend en sissend kom 2878 in beweging om Bethlehem stasie vir die laaste keer te verlaat. Met die eerste blaf deur die skoorsteen word die silinderkrane toegestoot, die regulateur nog verder oopgetrek, en begin hulle spoed optel. Die silinderstoomdrukmeter se naald ruk op 150 kpa en die stoomdrukmeter bewe op 210 kpa..

Die blawwe volg al vinniger op mekaar en gee Koos die omstellerwiel so een en half draai terug en trek die regulateur nog bietjie oop. Voor hulle duik die roetesinjaal op. Hulle kontroleer sinjale en dan wieg 2878 se groot lyf vir die laaste keer oor die wissels om af te draai op die Bloemfontein lyn.

Voor hulle huis staan Hantie en kyk hoe die trein verby beweeg. Koos groet met die fluit en sy waai voor sy die huis ingaan..

Oor die wissels begin die klim teen die Retiefsnek Barnea bank uit. Dit is n lang klim om n draai by die steenoonde verby en vir klein Piet is dit agter die graaf bly om met ritmiese bewegings die vraatsige vuur te voer.

Vir die motoriste wat op die pad langs die spoor verby ry is dit vir n paar oomblikke n fees van koppelstange voor die wiele verby en n rooksuil wat die lug ingepomp word wat oor die trein bly hang.

Op die voetplaat sit Koos met sy hand op die regulateur, lê so half skuins by die venster uit om die spoor voor hom dop te hou. Die trek is swaar en die spoedmeternaald luier op 40 kmpu. Om die draaie word terug gekyk of die rytuie almal volg maar vir oulaas bring 2878 haar kant teen die bank uit.

Na veertig minute se harde klim word die afdraende gevat Slabberts toe. Vir klein Piet is dit tyd om solank die vuur te begin krap om die klinkers en as te laat deurval aspan toe. Die vakuumnaalde bly op en af hardloop soos Koos kort kort rem om die spoed af te bring. Slabberts kom in sig en gee Koos n kort fluit om die stasiemeester se groen vlag te erken waar hy by die wissels staan om hulle in te laat in die stasie in. In die uiwykspoor staan n goederetrein vir hulle en wag, klaar met n 25NC vooraan

Hulle kom tot stilstand onder die waterkolom en klein Piet is dadelik op die kolewa om die groot kraan oop te draai om die kolewa weer vol water te maak. Dan is hy weer met sy vuurysters besig om die vuur te krap en dan moet hy kort kort n paar grawe kole ingooi om die vuur aan die gang te hou.

Koos is besig om die groot trekwiele se koppelstange te ghries en die oliepotte vol te maak terwyl Piet met die take doenig is. Daarmee klaar word die as in die aspan met die spraypipe dood gespuit voordat dit in die asput laat val word.

Uiteindelik is die kolewa vol water en kan klein Piet die kraan toemaak. Dadelik terug in die kajuit word die injekteur aangesit en skraap sy graaf ritmies in die kolewa soos hy graaf vir graaf kole opskep en dan met n omswaai beweging in die vuurkis inskiet

Koos gaan sit op sy sitplek en sy oog gly oor die meters en peilglase. Die blower loop voloop om n trek oor die vuur te bring en na vyf minute klap die witveer as 2878 begin afblaas.

“Ja Piet, jou laaste dag van graaf gooi. Van more af is dit wieletjies draai want dan het ons mos n meganiese stoker’, merk Koos op. Piet glimlag maar net.

Tyd om te ry en Koos kyk terug. Van agter af kom die groen vlag, hy het sommer die order by die stasiemeester gevang toe hulle ingekom het, en met n lang fluit erken Koos die groen vlag.

Omstellerwiel drie draaie vorentoe en die regulateur word oopgetrek. Fyn luister vir gly en as hy voel sy vat vas nog n bietjie ooptrek. Met die eerste blaf nog ooptrek, n slag toestoot as sy wil gly om die gly uit te haal en dan weer ooptrek. Die blawwe deur die skoorsteen rol oor die omgewing wn dan die omstellerwiel een en half draai terug en vol oop begin die klim weer teen n bank uit.

In die trein geniet die passasiers die pragtige natuur wat die Oos-Vrystaat bied. In die verte, helder afgeteken teen die blou lug, rys die Malutiberge. Vir Koos voel dit kompleet of die Malutis ook vandag afskeid neem van 2878 wat nou tot anderkant Modderpoort op die gesigs einder sal wees.

Die dag gaan verby. Terwyl die passasiers hulle reis geniet gaan die werksaamhede op 2878 se voetplaat onverpoos voort. Toe hulle op Ficksburg onder die waterkolom tot stilstand kom is dit middagete tyd in die eetsalon. Kelners beweeg heen en weer om die passasiers te bedien in hulle swart uniforms met spierwit baadjies. Geurige vleis en groente word bedien met n heerlike nagereg terwyl die dakwaaiers in die eetsalon lui draai en onder die ete deur kan hulle hulle verlustig in die pragtige natuur as die trein weer teen Imperani berg begin uitklim om die teen oorgestelde passasiers trein, 71, op Gumtree te gaan kruis.

Die stasies gaan een na die ander verby, Gumtree, Clocolan, Tweespruit, Marseilles, Modderpoort, thaba Nchu en stop hulle vir die laaaste keer op Sannaspos.

Na Sannaspos is die eerste stop in Bloemfontein stasie en nou plat wêreld sonder stop op die voorstedelike stasies, blits die tren haastig deur die voorstedelike stasies. Met n spoedmeternaald wat kuier op tagtig gly Lynchfield, Melorane en de Bloem later verby. Nou al donker, verlig Bloemfontein se ligte die horison. Spoedig wink die eerste groen lig van n kleurlig sinjaal voor hulle
Nog so twee groenes en dan begin Koos rem as hulle die stasie nader en die platform aanwyser platform vier aanwys om trein 72 krullend oor die wissels tot platform vier toe te laat.

Vir die laaste keer trek 2878 met haar blink lyf op platform vier in waar n hele mensemassa wag vir passasiers om hulle af te haal.

Tien ure van harde werk is agter die rug en het die einde nou feitlik aangebreek.

As hulle tot stilstand kom is die rangeerder dadelik by om hulle los te maak. Nou is dit uithardloop as die rangeersinjaal op 45 gaan. Oor die wissels is dit weer wag vir sinjale om hulle loko toe te vat.

Toe hulle in die loko kom is die loodsman dadelik by om 2878 in ontvangs te neem. Dit is of Koos traag is om uit te klim, die groot hartseer oomblik het aangebreek, vir oulaas gly sy oog oor alles en toe hy uiteindelik uitklim staan hy so n paar oomblikke langs haar met sy hand op die handreling Sag in sy gedagtes groet hy haar; “Vaarwel my ou maat. Jare lank het ons saam geloop maar nou is dit die einde. In my gedagtes en in Hantie se fotoalbum sal jy altyd deel van ons wees”.

Toe Koos opkyk is dit vir die loodsman of daar n traan in Koos se oog is, seker maar n muggie of n stukkie steenkool wat in sy oog gekom het.

Koos vra net: “Is 3401 al hier, ek moet more met haar terug gaan”.

Die loodsman skud sy kop: “Sal nou nou hier wees. Is oppad van Kimerley af om oorgeplaas te word’.

Koos tel sy blik op en stap aan roosterkantoor toe om te gaan afteken en daarna rukamers toe te gaan om te gaan kos maak en te gaan slaap. More is weer n harde dag voor en dit met n lokomotief wat hy eers moet leer ken.

In die ruskamers is dit bietjie gesels terwyl hulle kos maak en is die onderwerp nou 3401. met die afskeid klaar verby is dit of daar nou n opgewondenheid begin heers oor hulle nuwe ysterperd.












Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Afskeid
Ai, ek gaan jou pragtige stories en insettinge mis. Hier het ons vriende ontdek en soms het al jou kenisse tot binne-in ons verbeeldingwereld ingeklim en kon ons saam lag en huil.

Sterkte my vriend!
1 jaar 6 dae oud


Afskeid
Baie goeie verhaal wat ons huidige omstandighede hier op woes ook verbeeld. Ek hoop voorwaar daar wag vir ons 'n 3401!
1 jaar 6 dae 11 ure oud


Afskeid
Baie dankie dat ek so bevoorreg kon wees om jou werk te deel. Net soos 2878 uit diens ontrek word so gebeur dieselfde met ons wanneer die tyd ryp is. Voorspoed vorentoe!!!
1 jaar 1 week 4 dae 18 ure oud


***
Dankie, Neels. Ek ditto Corina.

Terloops -- ek sien die Britte het nou weer die "Flying Scotchman" gerestoureer. Dit was glo die eerste lokomotief wat >100 myl/h [160 km/h] kon trek. Groete.
1 jaar 1 week 5 dae 20 ure oud


afskeid van 'n staatmaker
Ek het hierdie reis saam met die stoomtrein nou regtig geniet. *snik* Stem saam met Corina.
1 jaar 2 weke 18 ure oud


Dankie Neels
Ek het jou stoomtreinstories baie geniet!

Elke keer as ek hulle lees, kom daar weer 'n knop in my keel oor nog 'n nostalgiese era wat vir altyd verby is.

Mag jou stories van krag tot krag gaan . . .

1 jaar 2 weke 1 dag 12 ure oud


afskeid van n staatmaker
Baie dankie vir jou pragtige bydrae tot die AFSKEID projek.
1 jaar 2 weke 1 dag 16 ure oud


2878
my hart is ook nou seer oor 2878 en oor al my vriende hier op Woes. Groet is nooit lekker nie. Dankie vir jou wonderlike spoorwegstories Neels, ek het so baie uit al jou vertellings geleer. Moet nooit ophou skryf nie!
1 jaar 2 weke 1 dag 18 ure oud


AFSKEID
So kom alles tot stilstand wat soms net as vanselfsprekend geword het, maar daar is altyd weer nuwe uitdagings aan die soom van die onbekende horison.
1 jaar 2 weke 2 dae 2 ure oud


AFSKEID
Vir my was Woes n platform waar ek al my ou spoorwegstories kon deel en n vergane era van stoom kon laat voortleef. daarom plaas ek hierdie werk as die gepaste afsluiting van die tyd wat ek saam met Woes was en waar ek geleer het om ook ander kortverhale te skryf
1 jaar 2 weke 2 dae 3 ure oud



Wanneer die vyeboombot

deur adnama

Gedigte uit die hart. Soms vir daardie blou dae en soms om mens net weer te laat dink oor die doel van die lewe.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar