Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Liefste Pappie

Vandag het Dirk my plaas toe gevat om afskeid te gaan neem van Pappie. Dis my helderste beeld wat ek van Pappie saam met my dra - op die plaas, tussen die goue waaiende grassade, hemel-hoog-en-rivier-breed bome en die blou-en-groen boomryke koppies aan die noordekant ....

Ek het gewonder hoe ons toegang tot die plaas gaan kry as daar nie mense naby is nie want die huis is mos maar ‘n redelike entjie met die plaaspad op tot aan die voet van die koppie en ons het nie vooraf ‘n afspraak gemaak nie. Geluk of bestiering ... Pappie se ou regterhand en vriend was daar en hy het vir my en Bianca steeds herken. Ek wens Pappie kon ou Jonas se bewoë glimlag sien. Hy het gespog met sy hemp wat hy aangehad het, een wat Pappie nog self vir hom gegee het. Ai Pappie, ek was hom so dankbaar toe hy sê ons kan opstap met die plaaspad en as ons die huismense sien, moet ons sê hy het ons toestemming gegee om op die plaas te gaan stap. Ons het ons motor voor die hek gelos waar Jonas ‘n ogie sou hou terwyl ons die plaaspad-van-herinnering sou stap ...

Elke stukkie pad en elke oogbeeld het ‘n prentjie van Pappie in die onthou-kamers van my hart uitgehaal. Die oomblik toe ek die wuiwende grassade sien met die bome en berge soos ‘n raam aan die agterkant, het my hart ‘n ruk gegee. Dit was asof ek Pappie steeds daar kon sien. Pappie se trotse gesig en blink oë as Pappie vir my beduie het van die boorde, die voëls, die berge, die bome, die verskillende grassade. Pappie was daar, met elke tree wat ek gegee het op my onthou-pad, was die herinerringe ‘n intense nabyheid.

Alles het verander Pappie, die plaas is nie meer soos toe Pappie se hand daar was nie. Die hele plek is verwaarloos. Dit was so hartseer om dit te sien. Baie dele waar die boorde en groentetuine was, is net lang bosse waaroor jy skaars kan sien. Van die tuin het bittermin oorgebly. Die eende se dam is toegegroei met bosse en die westelike plaashek, sinkdam en paadjie teen die berg op, is onbereikbaar. By die swembad en lapa aan die voet van die koppie waar Pappie so baie tyd spandeer het om dit mooi te maak en te onderhou, is daar nou geen tekens van al Pappie se harde werk nie. Ons boomstompe wat ons uit die veld gaan haal het, pryk nog steeds langs die swembad en by die braaiplek. Ons was nie binne die huis nie, die plaas self was genoeg vir ons. Met ‘n oorvol gemoed het ons weer die pad terug begin stap. Ek het by ons gunsteling boom gaan staan, daar waar Pappie my altyd van al die planne en drome vir die plaas vertel het. Ek het teruggekyk na die opstal, die koppie, die ander berge wat blou vertoon, die boorde en die grassade. Op ons pad terug was daar ‘n groot swart vlinder en baie kleiner wit en geel vlindertjies.

Ek het ‘n handjievol grassade gepluk op die plekkie waar ons altyd gestaan het om te kyk hoe die grassies wieg. Dirk het vir my ‘n klomp grassade met wortels en al uitgehaal sodat ek dit in ‘n pot in ons tuin kan plant en só my eie stukkie van die plaas naby my kan hê. Toe ek verby die laaste grasvelde loop om af te draai in die rigting van die pad wat na die plaashek lei, het my hart gebreek Pappie. Ek het vir ‘n laaste keer omgedraai, teruggekyk en gevoel hoe die stukke van my hart op die grond val. Plaas Naboomfontein anderkant Naboomspruit was nie meer ‘my pa se plaas’ nie ...

Pappie ... mens kan nie terugloop op die spore van die verlede nie want dis nooit weer dieselfde as voorheen nie ...

Ek het Jonas gegroet, ‘n foto van sy trotse maar hartseer glimlag geneem waar hy in Oupa se hemp gestaan het, hom ‘n geldjie in die verrimpelde ou hand gestop en teruggeklim in die motor.

Ek het my wange sopnat gehuil Pappie, my onthou-kamers weer volgepak en toegemaak en en die weemoed, verlange en rustigheid het deur my binneste voel spoel. My handjievol grassade sal by ons troufoto staan in die sitkamer en my grassade met wortels sal ek plant en vertroetel in ‘n pot waar ek dit kan sien in my tuin ... ‘n Deeltjie van Pappie en ons mees gelukkigste tye ooit ...

Ek dink weer aan Dozi se ‘song’ wat ek op Pappie se dankdiens gespeel het toe hulle die kis ingedra het ....

“Ons is maar net grassade my kind
In die wind verwaai my kind ... “

Pappie, vandag was mý hart se begrafnis en dankdiens, dit was afskeid, dit was ‘n “reality check” sodat ek kan begin besef Pappie kom nie terug nie. My hart is so bitterseer en vol verlange ...

Pa se dogter
22/3/2009





Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

RANGEERWERF

deur Johann P. Boshoff

Hierdie selfpublikasie, met die volledige titel RANGEERWERF: DIE WAARHEID GELIEG, bestaan uit nege (9) homofiliese kortverhale met sterk biografiese inslag opgeneem. Dit is 'n rangering deur die lewe.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar