Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Die son skyn warm deur die kamervenster. Lodewyk draai om in sy bed en wonder of hy vandag moet opstaan. Hy hoef eintlik nie op te staan nie, want hy het niks om te gaan doen nie. Hy het geen verantwoordelikhede teenoor enigiemand nie. Om alleen te wees is vir hom 'n keuse. Met die laaste gedagte raak hy weer aan die slaap...

Net voor middagete raak Lodewyk weer wakker. Hy word bewus van die hongerte oor sy maag en staan traag op. Hy gaan na die badkamer en kyk na homself in die spieël. Sy lang rooi baard het nog nie 'n enkele gryshaar in nie. In sy familie wys die ouderdom nie vinnig nie, en op agt en dertig voel hy nie oud nie. Sy blou oë getuig van hartseer. "Hoe lank nog?" wonder hy.

Nadat hy homself gebad het, stap hy na die kombuis en begin vir hom 'n groot laat-ontbyt aanmekaar slaan. Sy ma sou dit 'n "English breakfast" genoem het. Hy is glad nie skaam toe hy moet besluit hoeveel repe spek om vir homself gaar te maak nie, geld is nie 'n probleem nie en hy het in elk geval nog nooit sy sente omgedraai sedert hy hier woon nie.

Nadat hy gesmul het aan sy maaltyd, gaan sit hy op die stoep van sy houthuis en staar oor die vertes van die see. Sy gespierde bolyf skyn goudbruin in die warm son. 'n Tortelduif kom sit op die rand van die balkon se houtreëling. Toe hy die huis teen die skuinste gebou het, het hy verseker dat die balkon hoog genoeg gelig is, sodat hy tot ver oor die see kan uitstaar. 'n Mens hoor net die sonbesies se skel geluid en die gekoer van die tortelduif, wat Lodewyk ondersoekend aankyk. Die tortelduif wag elke dag net tot hy op die stoep kom sit en dan kom sluit sy by hom aan. Sy verseg om weg te vlieg voordat hy opstaan en in die huis ingaan. En dan wens hy hy het vlerke gehad om saam met haar weg te vlieg. Dit verbyster hom eintlik dat die duif altyd hier aankom wanneer hy op die stoep kom sit. Het sy dan nie 'n maat nie? As sy kon praat sou sy seker haar diepste hartsgeheime met hom gedeel het.

Lodewyk staan op en loop af na die strand toe. Hy voel hoe warm die sand onder sy voete is, en stap instinktief na die see se waterlyn. Hy begin draf op die klam sand en asem die vars lug tot diep in sy longe. Nadat hy omtrent veertig minute gedraf het, draai hy terug. Hier is dit net hy en die natuur. En die alleenheid. Hy het eintlik geen benul aangaande die wêreld gebeure nie. Hy lees nie 'n koerant nie, besit nie 'n televisiestel nie en luister nie na die nuus op sy radio nie. Die buite-wêreld gaan hom nie aan nie. Die gedruis van die branders is vir hom ewe aan die gedruis in sy gemoed.

Die opstand in sy gemoed woed nou al vir vyf jaar lank. Al wat hy ooit begeer het, was geluk en vrede. En dit was nie vir hom beskore nie! Daarom het hy besluit om hom van alles en almal te distansieer.

Gelukkig kom daar nooit iemand op hierdie afgeleë strand nie. Dit is soos sy eie eiendom - wat hy vir homself toege-eien het. Hy het al gewonder wat hy sou doen as iemand dit ooit sou waag om 'n voet op 'sy' strand te sit. Dan laat sy gedagtes hom eintlik ril. 'n Mens kan hom eintlik vergelyk met 'n leeu wat sy beheerarea afgemerk het en wat enige indringer sal verskeur. Hy het sy kleim afgesteek op 'n afgeleë strand waar hy alleen kan wees. Die stadslawaai is vir hom soos 'n vae gedagte. Nooit wil hy weer deel daarvan wees nie.

Die eerste paar jaar van sy self opgelegde kluisenaarskap, was nogal moeilik. Hy het in die verlede vir mense gesê dat hy nooit alleen sal kan wees nie. Hy het selfs gespot en gesê dat sy nuwe verloofde reeds aan sy sy sou wees wanneer hy sy vrou begrawe. Maar hy is eintlik, ongeag van wat mense gedink het, soos 'n tortelduif wat in sy lewe net een maat sal hê - tot die dood hulle skei! Hy het geglo dat hy daardie maat ontmoet het en dat hulle vir altyd bymekaar sou wees. Min het hy geweet hoe anders dinge sou uitwerk. Dat hy nou alleen sou wees.

Hy kan die dag wat hy haar ontmoet het, nog soos gister onthou...
Dit was 'n helder somersoggend in die Jakaranda stad. Hy het op 'n drafstap na die naaste kafee geloop om melk en brood te gaan koop om vir homself ontbyt te maak, voordat hy moes gaan werk. Hy het te vinnig om die hoek van die winkelkompleks gekom en hy het haar onderstebo geloop. Hy het self sy balans verloor en het op haar geval. Op daardie oomblik was hulle gesigte so naby aan mekaar dat hy haar asemhaling teen sy gesig kon voel. Hy het vir 'n oomblik verstar op haar bly lê en kon die hitte van haar liggaam onder hom voel. Sy hele liggaam het skielik soos jellie gevoel. En dit het beslis nie enigiets met die onverwagte botsing te doen gehad nie. Haar vars reuk het hom onverhoeds betrap en sy hart het in sy keel geklop.
Sy het hom met 'n sagte glans in haar oë aangekyk en het gevra: "Gaan jy nou so op my bly
lê? Ek is nogal haastig - weet jy!" Die hees klank van haar stem het hom onmiddellik opgeval. Hy het verleë opgespring en het haar hand in syne geneem om haar op te help. Haar ferm greep het hom verbyster. Hulle het mekaar vierkantig in die oë gekyk en vir 'n oomblik het dit gevoel of daar 'n onsigbare band tussen hulle was. 'n Mens kon die stilte met 'n mes sny. Hy het besef dat dit 'n oomblik soos die was, waaroor daar gewoonlik in boeke geskryf word.
"Ek is baie jammer! Ek het nie..." het hy begin. Sy het hom in die rede geval en het gesê: "Dit maak regtig nie saak nie! Sulke dinge gebeur maar. Dit is die verloop van die lewe." Sy het hom aan die arm geneem en het hom 'n sagte drukkie gegee - as teken dat alles in orde was. Daarna het sy omgedraai en deel van die mense op die sypaadjie geword.
Die res van die dag kon hy aan niks anders dink nie. Hy het hom telkens verbeel hy voel weer haar asemhaling teen sy gesig. En elke keer sien hy weer haar helderblou oë in sy gedagtes!

Die volgende dag is hy inderhaas na die plaaslike hospitaal se ongevalle afdeling, nadat hy 'n onuithoudelike pyn in sy regtersy ondervind het. Hy het verneem hy het nierstene en is onverwyld in die hospitaal opgeneem.
Hy was nog half bedwelm van die inspuiting wat hy vir pyn gekry het, toe hulle hom later die middag in die teater ingestoot het. Skielik het hy na sy asem gesnak. Bokant een van die maskers het hy dieselfde blou oë van die vorige dag gesien. Sy het dieselfde sagte uitdrukking in haar oë gehad. Dit was haar taak om hom onder narkose te plaas. Hy het haar ferm hande teen sy arm gevoel. "Jy moet lekker slaap," het sy met haar hees stem gesê - net voordat hy weggeraak het...

Lodewyk het later in sy hospitaalbed wakker geword en sy gedagtes was net by haar. "Wat is die kanse nou dat hy haar twee dae na mekaar op sulke onwaarskynlike plekke sou raakloop?(letterlik en figuurlik)," het hy gelê en wonder. Die onstuimigheid van sy hartklop toe hy haar in die teater opgemerk het, het hom bygebly.

Omstreeks tien uur die volgende dag het die uroloog hom uit die hospitaal ontslaan. Met die moderene tegnologie kon hulle die nierstene met lasarstrale stukkend skiet en het dit op daardie stadium vir Lodewyk gevoel of hy perdfris was. Die pyn wat hy die vorige dag in sy regtersy ondervind het, was toe net 'n vae gedagte. Al waaraan hy toe kon dink, was twee helderblou oë(soos twee poele aanloklike water op 'n warm somersoggend), 'n warm asemhaling teen sy gesig
(soos 'n welkome warm windjie wat die winterkoue verdryf), die verruklike vars reuk(soos die van 'n blomtuin) en 'n hees stem(soos die van 'n engel).

Hy was alleen in die hysbak oppad na die grondverdieping, toe dit op die derde verdieping oopgegaan en sy binnegestap het. Sy het haar wit oorjas aangehad en haar stetoskoop het om haar nek gehang. Haar blou oë het hom onmiddelik vasgevang. Hy moes sy oë behoorlik van haar blik wegskeur om na haar naamplaaitjie te kyk en te lees: "Dr Linda Malan". Haar glimlag het duidelik die kuiltjies langs haar mondhoeke beklemtoon, toe sy haar hand na hom uitsteek en sê: "Noem my Linda, ten minste lê jy darem nie vandag bo op my of op 'n teatertafel nie!" Hy het haar hand in syne geneem en homself aan haar voorgestel. Haar ferm handdruk van die vorige dag, het nou in 'n warm sagte handdruk verander. En haar vroulikheid het hom betower. "Lus vir koffie?" het sy gevra. En hy het onverwyld ingestem.
Hulle het vir bykans 'n uur in die hospitaal se kafeteria gesit en gesels, asof hulle mekaar al vir
jare geken het. Dit was asof hulle op die aarde geplaas was, met die uitsluitlike doel om mekaar te
ontmoet. Hulle het dieselfde belangstellings gehad en om alles te kroon, het hulle in dieselfde woonstelblok gewoon, sonder dat hulle van mekaar se bestaan bewus was. Voordat sy die tafel verlaat het om haar rondtes in die hospitaal te doen, het sy hom genooi om dié aand by haar te kom eet.

Stiptelik om agt uur het hy aan haar woonsteldeur geklop. Toe sy die deur oopmaak, het hy hoorbaar na sy asem gesnak - en hy kon die goedkeuring in haar oë sien. Haar lang blonde hare het losweg oor haar skouers gehang. Haar oë het nog blouer gelyk en haar glimlag het haar helderwit tande vertoon. Sy het 'n skouerlose ligblou kniehoogte rok aangehad. Sy oë het na haar bene beweeg en haar kuite se soepel vorm het hom opgeval. Haar kaal voete was vir hom pragtig (eintlik was hulle volmaak).
Hulle het 'n geurige maaltyd by kerslig geniet. Die rooiwyn wat sy voorgesit het, het vinnig na sy kop gegaan (of was dit haar magiese teenwoordigheid wat hom so bedwelm het?) Sy was beslis die vrou van sy drome. Aan die einde van 'n verruklike aand het sy hom saggies op sy lippe goeienag gesoen. En haar reuk het by hom gebly totdat hy veel later in sy bed aan die slaap geraak het.

Na daardie aand het hulle as 'n gereelde instelling vir mekaar kos gemaak en hulle het oor en weer gekuier. Hulle het onafskeibaar geword en is presies drie maande na hulle ontmoeting in die huwelik bevestig.
Hul huweliksnag het hulle saam in 'n hotel deurgebring. Omdat sy haar nie kon losmaak van haar verpligtinge by die hospitaal nie, het hulle maar besluit om presies 'n jaar later 'n laat wittebroods vakansie te neem.
Lodewyk was oorstelp oor die volmaaktheid van hul liefde en hul tyd saam. Elke dag was vol van nuwe beloftes. Hulle kon nie genoeg van mekaar kry nie. Hulle het nader en nader aan mekaar beweeg. Elke dag wanneer sy klaar haar pasiënte gesien het en wanneer hy klaar gewerk het, het hulle hulle na mekaar gehaas.
Haar swangerskap het die volmaaktheid van hul liefde bevestig. Dit was eintlik die seël op hul liefdesband.

Soos hulle ooreengekom het, het hulle presies 'n jaar nadat hulle getroud is, op hulle wittebroods vakansie vertrek. Gelukkig was haar swangerskap in 'n vroeë stadium en kon hulle per vliegtuig na 'n bekende tropiese eiland reis.
Hulle verblyf was idillies en hul liefdesreis het daagliks voortgeduur.

Tot daardie dag - die dag voordat hulle huistoe moes vertrek. Sy het solank vir hom gewag in die restaurant waar hulle middagete sou geniet het, terwyl hy vir haar 'n spesiale geskenkie gaan koop het. Die twee wit porselein duiwe, wat onafskeibaar aanmekaar verbind was, was vir hom die versinnebeelding van hul liefdesband. Hy het dit vir haar gekoop en die eienares van die winkel het dit in 'n satyn doekie toegedraai. Oppad terug na die restaurant waar sy vir hom gewag het, het hy die Here gedank dat Hy hierdie wonderlike vrou vir hom gegee het en vir die volmaaktheid van sy lewe.
Die volgende oomblik was daar 'n oorverdowende slag wat die aarde geruk het. Die impak van die slag het hom van sy voete af geruk en hy het soos 'n vrot vel deur die lug getrek. Toe hy tot verhaal kom, het hy gesien sy linkerhand was stukkend gesny. In sy hand het die twee porselein duifies in afsonderlike stukke gelê.
Hy het hom na die restaurant gehaas. Toe hy daar kom, was hy met afgryse vervul. Waar die voordeur 'n rukkie vantevore was, was net een groot gaping. Orals het stukkende mense verstrooid gelê. Hy het naarstigtelik rondgekyk en toe sien hy haar, waar sy skuins onder 'n tafel lê. Hy het langs haar gaan kniel en sy het haar bloeiende hand op haar maag gesit. Haar gesig was pik swart en verskroei. Haar blou oë het na hom gekyk en hy kon die vrees daarin sien. Hy het haar bloeiende hand in syne geneem en het dit styf vasgedruk. Hy het vooroor gebuk en het haar op haar verskroeide lippe gesoen. 'n Traan het oor haar wang gerol en hy het vir oulaas in haar oë gekyk voordat sy hulle vir altyd toegemaak het. Lodewyk het hartverskeurend begin huil terwyl hy haar lewelose liggaam styf in sy arms vasgedruk het. Daarna het hy een van die porselein duifies in haar
linkerhand toegevou.

Die volgende oomblik word Lodewyk deur 'n hees stem uit sy gedagtewêreld tot die werklikheid teruggeroep. Hy knip sy oë om seker te maak hy sien reg. Sy staan daar in haar ligblou somersrok en haar bruingebrande bene glinster in die son. Haar lang blonde hare hang losweg oor haar skouers. Haar volmaakte kaal voete vang dadelik sy oë. Sy kom nader gestap en steek haar hand na hom toe uit om haarself voor te stel. "Hi, ek is Lana," sê sy. Hy kyk met ongeloof na haar helderblou oë. "Jy sal my nie ken nie, maar ek is Linda se tweeling suster,"vervolg sy. "Ons is by geboorte van mekaar geskei en sy het nie van my bestaan geweet nie. Ek het self ook nie
geweet dat ek 'n aangenome kind was nie, en het dit eers by my aanneem ma verneem toe sy op sterwe gelê het. Ek het eers onlangs uitgevind dat ek 'n tweeling suster gehad het. Met my navrae om haar op te spoor het ek van die bomontploffing en van haar dood verneem. Dit het altyd vir my gevoel asof daar 'n gemis in my lewe was. Ek het jou kom opsoek omdat jy die enigste oorblywende skakel met haar is. Ek hoop nie jy gee om dat ek gekom het nie!"
Lodewyk skud sy kop en nooi haar na sy huis toe. Hy is verstom oor die feit dat sy op 'n haar na na Linda lyk. Toe sy met haar linkerhand beduie sien hy die klein tatoeëermerk van 'n duif op die rugkant daarvan.
Met hulle aankoms op die stoep van sy huis, kom die tortelduif vanuit die niet nader gevlieg. Sy gaan sit op Lana se linkerskouer en begin saggies koer. Die tortelduif kyk na Lodewyk en gaan sit op sy linkerskouer. Dit is die eerste keer dat die duif dit waag om naby hom te kom. Só asof sy geweet het sy moes tot vandag wag.
Lodewyk verstaan skielik en kyk hemelwaarts."Dankie liewe Heer," prewel hy. Hy kyk in Lana se blou oë en sy hartseer vervaag. Sy vat hom aan die arm en hy voel haar ferm greep. Toe sy glimlag sien hy die kuiltjies langs haar mondhoeke.
Die tortelduif vlieg weg op haar laaste vlug...




Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

EENSAAM
Gerhard mens, dit was die heel lekkerste en boeiendste storie wat ek in 'n lang tyd gelees het!! Ek wens jou geluk!
8 jaar 3 dae 12 ure oud


Opvolg
Dankie vir al die terugvoer. Ek sal werk aan die opvolg.
8 jaar 3 dae 21 ure oud


Gerhard
Dit was heerlik om jou verhaal te lees. Opvolg?
8 jaar 4 dae 2 ure oud


Oulik verby...
Dit was nou 'n lekker lees storie. Baie goed geskryf. Ek het geniet om te lees.
8 jaar 4 dae 7 ure oud


Wat 'n storie!!
Hier sit ek nou met 'n knop in my keel en wonder of selfs daai pragtige tweeling sus werklik 'n plaasvervanger kan wees. Ek weet mos dat wanneer twee siele wat bestem is, mekaar ontmoet, dit vir Ewig is. Agge nee, skryf 'n Hfstk 2 Seblief!
8 jaar 4 dae 8 ure oud


Agter die eensaamheid
Mal oor stories wat so eenvoudig lekker geskryf is en soveel menslikheid in het. Niks dramaties of so onmoontlik dat dit moeilik is om te glo nie. Net maar die werklikheid.
8 jaar 4 dae 9 ure oud



IN DIE AANSLAG OP DIE KLEUR VAN ONS VELLE VAL ONS BLOED OP DIE GROND

deur http://www.woes.co.za/

FIKTIEWE VERHAAL WAT DIE ONGELYKHEDE VAN ONS VERLEDE EN HEDE BLOOTLê.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar