Kortverhale

Bladsye:
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Die televisieskerm flikker voor my oë en asof in ‘n droom sien ek die wrakstuk met die onmiskenbare rooi en blou strepe op die water. Air France vlug 447, Rio de Janeiro na Parys. 1 Junie 2009.

Jy was op daardie vlug. Jy met jou wye glimlag en groot persoonlikheid, ruim hart en ongelooflike intelligensie. Jy wat nog so baie gehad het om te gee. Soveel jare nog gehad het om ‘n impak te maak. Soveel jare nog jou kinders kon opvoed en sien hoe hulle in jou voetspore volg.
Maar nou is jy weg, en hulle haal die omhulsel van jou laaste skans teen die elemente, uit die water. Een vir een vir een. Ek hoor die aanbieder se stem. Geen oorlewendes. Reuse storm oor die oseaan. Geen noodsein is uitgestuur nie. Soeke na die “Black Box” het begin. Meer ondersoeke gaan volg.

En ek wonder.
Wat was jou laaste gedagtes? Het jy geweet die einde is ‘n paar kilometer ver toe jy jou vasgord in die stoel? Nee, hoe kon jy! Jy wat elke maand oorsee moes reis. Dit het tweede natuur geword vir jou. Ek weet, want ek het jou geken. Het self heelwat van jou vlugte bespreek, jou paspoort in my hande gehad, jou reëlings en jou werkslewe was my agt tot vyf vir soveel jare.

Toe die onafwendbare by jou insink, was jy bang? Het jy gebid? Het jy gedink aan die familie, vriende en kennisse in Suid Afrika? Was daar tyd? Het jy gehuil? Waaroor?

Jy het geleef, elke dag, elke uur, voluit. Soos net jy kon. Die natuur en veld was jou ontvlugting van die kantoor en raadsale van ons industrie. Maandae het jy sonverbrand met ‘n reuse glimlag ingestap. Die lewe was ‘n lied vir jou. Veral na jou dogtertjie se geboorte. Sy was jou ewebeeld en sy het jou laat smelt soos roomys. Dit was jou woorde. Ek het gesien hoe jy verander, elke dag soos wat sy groter geword het. Jy het ‘n dringendheid in jou stap gehad. Jy wou tuis wees. Jy wou haar gaan vashou en dophou. Jy wou niks mis nie.
Hoe moeilik moes dit nie vir jou gewees het, daardie laaste oomblikke…toe jy besef sy moet sonder jou voortgaan? Jy sou nie daar wees as sy haar eerste kêrel huistoe bring nie. Jy sou nie sien hoe sy in haar eerste motortjie wegtrek nie, of buig oor die boeke met haar matriekeksamen nie. Jy sou haar nie in haar mooiste oomblikke sien nie. Nie haar sluier oplig en in haar donker oë kan kyk voordat sy omdraai na haar nuwe lewe nie. Die vreugde van ‘n kleinkind sou jy nie smaak nie.

En ek wonder. Het jy geweet watter invloed jy op ander gehad het? Op my gehad het? Watter goeie leier jy was en hoe mense jou bewonder het? Ek wens jy kon die diens bywoon wat ons vir jou gehou het. Dit was ‘n viering van jou lewe. Eerlikwaar. Jy sou trots gewees het. Almal was daar en daar was amper nie plek vir almal nie.

Toe die laaste beeld van die skerm verdwyn en die vertrek donker word, staan ek op en vee die trane af. Ek wens die wrakstukke kon praat. Ek wens dit kon vir my vertel dat jy okey was. Dat dit nie seer was nie. Dat jy vrede gemaak het met wat gaan kom. Dat jy dalk vir ‘n flietende oomblik ook aan my gedink het. Dat jy onthou het, en dat jy geglimlag het. Daardie wye glimlag wat jou oë laat ophelder het.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Air France
Baie dankie vir jou pragtige bydrae tot die BOUVAL EN WRAK projek.
3 jaar 10 maande 3 weke 5 dae oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


    Geborg deur :

    Van ons ander lede

    picture

    Kompetisies

    Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

    picture

    Nuusbriewe

    Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

    picture

    Winkel

    Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar