Kortverhale

Titel: Anna
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Anna se hart voel swaar, seer. Dit het weer gebeur. Sy leer nooit haar les nie. Verlede jaar was dit so. Vier jaar gelede was dit so, en wragtig, nou weer. En elke keer beleef sy die pyn van voor af. Elke keer is die emosie meer intens. Mens sal nou dink dat sy immuun sal raak teen die tyd, maar nee, sy lê nog snags wakker en wonder hoe dit kon gewees het.

Sien, Anna raak vir elke bakatel halsoorkop verlief, elke keer. En elke keer loop sy ‘n bloutjie en met ‘n gekneusde ego. Dan slaap sy nie, eet sy nie vir dae aaneen. Sy praat met niemand nie en isoleer haar geheel en al. Anna het geleer die liefde is ‘n nare ding. Jy druk hom dood, maar as jy weer kyk is daar ‘n uitloopsel. Dis wat nou weer met Anna gebeur het.

Vier jaar gelede het Andries haar gelos. Net so, sonder om te verduidelik. Anna was gebroke. Soveel so dat sy in die hospital beland het – post-traumatiese stress. Anna het vreeslik gehuil. Toe het Anna ‘n eed geneem: nooit weer sal sy toelaat dat haar hart op haar mou gaan sit nie. Toe sy uit die hospitaal kom, het sy opgepak en die stad agter gelaat. Sy wou nooit weer teruggaan nie. Sy wil nie weer daardie pad loop nie. Anna het druipstert op die plaas aangekom. Haar ma was bekommerd, want alhoewel Anna goed gelyk het, was sy stiller, haar oë agter in haar kop, haar hare vaal en kleurloos. Haar ma het haar maar gelos en geglo die plaaslug en boerekos sal Anna weer laat opstaan. Die dae het weke geword en die weke maande. So het vier jaar verbygegaan en Anna het weer opgestaan.

Een aand op ‘n kontrei boere-opskop ontmoet Anna vir Kallie. Pragtige seun van nuwe intrekkers in die distrik. Eers steur Anna haar nie aan die man nie. Sien, sy hou nog vas aan haar innerlike belofte: geen man sal weer haar so leer ken nie. Maar Kallie was gedetermineerd. Hy wou haar beter leer ken. Haar ma het die situasie dopgehou, gesug en melktert gebak vir elke kuier van Kallie, want sien, hy was dan so ‘n ordentelike mannetjie en hy was lief vir melktert. Anna het haar ma betig en gesê sy mors haar tyd. Sy wat Anna is, stel nie belang nie. Maar toe Kallie nie nee vir ‘n antwoord vat nie, het Anna maar ingegee en toegelaat dat Kallie kom kuier. So het sy die melktert saam met hom begin geniet en later toe tog ook sy sêgoed. Kallie was wel belese, so slim en Anna het na ‘n paar maande aan sy lippe gehang. Haar ma kon sien hier kom ‘n ding, want Anna het begin blom. Sy het ook spraaksamer geword. Tot daardie aand in Julie.

Dit was koud en Anna het vuur in die koolstoof gemaak. Die kombuis het vinnig warm geword en soos gebruiklik het haar ma se melktert op die tafel gestaan. Anna het ‘n gevoel gehad dat Kallie vanaand die groot vraag gaan vra. Hy het haar mooi gevra dat haar ma ook by moet wees as hy vanaand kom kuier. Anna se hart het gefladder. Uiteindelik gaan die liefde by haar deur instap om te bly.

Kallie het kom kuier, maar hy was die hele aand gespanne. Anna kon sien daar is iets wat vreet. Die melktert was nie so lekker vanaand nie en Anna het in afwagting gesit. Haar ma het probeer om die geselskap op dreef te kry, maar te vergeefs. Kallie het net die aaklige frons op sy voorkop gehad. Uiteindelik kon Anna dit nie meer hou nie. As hy dan die groot vraag wil vra, wat is dan nou so moeilik? Sy sê toe reguit vir Kallie om te praat. En toe praat Kallie, en hoe langer hy praat, hoe meer tuimel Anna se wêreld inmekaar. Die hitte in die kombuis het verander in ‘n koue wat nie eens by die Suidpool aangetref word nie. Anna kon dit nie glo nie. Hier gebeur dit weer, net soveel erger. Een van die buurdorp se dogters was in die ander tyd.

Anna het teruggetrek in haar dop en met niemand gepraat nie. Weereens het sy opgepak en die keer ver weg gegaan, so ver dat haar ma nie heeltemal seker was of die plek wel op die landkaart is nie. Anna het ver suid getrek, see toe. By die see het Anna met niemand gemeng nie, net lang ente met die strand langs gestap. Soms het dit gereën, soms het die wind gewaai, maar Anna het gestap. Dit was asof sy die blou in haar gemoed wou wegstap. Die somer het gekom en gegaan en langs die see het Anna in afwagting gewag op die winter. Daar was nog nie weer ‘n somer in haar hart nie, maar die keer was dit anders as die ander kere. Haar oë het droog gebly. Anna het nie gehuil nie.

Die winter het aangebreek en Anna het besef die mense op die vissersdorpie praat agter hulle hande as hulle haar sien. Sy het geweet hulle praat oor haar, die vreemde vrou wat maar net nie uit die wind en die reën kan bly nie. Dit het haar nie gepla nie. Laat hulle praat. En toe gebeur die onvermydelike.

Anna het in die winkel gehoor die sardyne loop by die kromming. Almal skep sardyne by die ponde. Sy moes dit beleef. Dalk kry sy ook ‘n paar sardyne gevang om huistoe te vat. Dis toe dat Anna afsit na die kromming. Die mense was verbaas om haar te sien, maar sy het haar kop hoog gehou. Dit was toe sy besig was om sardyne in haar emmer te skep dat sy bewus geword het van die liggaam langs haar. Toe sy opkyk, sien sy hom. Die blou oë, die deurmekaar kuif, die stout laggie soos ‘n skoolseun. Hy was so opgewonde oor die sardyne, nes ‘n kind wat ‘n nuwe speelding gekry het. Anna wou nie erkentenis aan die gevoel gee wat in haar opstoot nie, maar sy kon nie die lewensvreugde in hom miskyk nie. Sy uitgelatenheid was aansteeklik en voor Anna haar kon kry, het sy saam gelag vir die sardyne wat glibberig deur haar hande glip.

Dit was die begin van baie koffies. Willem was soos ‘n stout kind en het Anna se hart laat lig voel.Vars vis is oor die kole gebraai en wanneer die skuite terugkom van die see, was Anna op die kaai om hulle in te wag. Van ver af kon sy Willem se stout lag oor die branders hoor. Stadig maar seker het die plantjie weer ‘n blommetjie aan gekry. Anna het uiteindelik vir haar ma geskryf dat sy weer gelukkig is. Anna het ook al hoe minder in die reën en die wind langs die see gestap. Die mense het haar nou op sonnige dae gesien en sy het selfs een of twee geselsies met hulle aangeknoop. Haar oë was helder en haar vel bloesend. Anna was gelukkig. Maar toe bars die bom. Willem moet vir drie maande in Irak vir ‘n sekuriteitsmaatskappy gaan werk. Dit het Anna nie gepla nie. Sy sou mos hier wees as hy terugkom. Maar hy gaan nie terugkom nie, want sy Russiese vrou wag vir hom in Praag.
Anna het gehuil.

En so het die dae in weke verander. Anna het haarself toegesluit en met niemand gepraat nie. Sy het ook nie meer langs die see geloop nie, nie eens as dit gereeë het of die wind gewaai het nie. Die weke het maande geword en die mense het weer agter hulle hande gepraat. Maar die keer was die mense simpatiek teenoor Anna. Hulle het alles gedoen om haar uit die huis te kry, maar niks het gehelp nie. Hulle het kos aangedra en dit op die stoep gelos, net om die volgende keer die vorige kos netso te kry. Anna het weer nie geëet nie. Toe hou die mense op praat. Hulle hou op kos aandra, want hulle het gesien niks het gehelp nie. Sien, Anna was in rou. Dit was asof daar dood in die familie was. En so het Anna vergete geraak. Sy kon net sowel nie daar gebly het nie.

En toe, eendag waai die wind verskriklik. Almal het geskrik, want so erg het die wind nog nooit gewaai nie. Dit was asof daar iets uitwaai vanaf die see. En toe sien almal haar. Anna. Sy het op haar stoep gestaan soos ‘n standbeeld en die wind omhels. Toe tree sy van die stoep af en begin teen die wind in beur, see toe. Die mense was verstom en bang. Hulle het nie geweet wat Anna se geestestoestand was nie. So het Anna al langs die see geloop, vooroor gebukkend, want die wind was sterk. Maar so het die mense ook een na die ander agter haar aangeloop. Tree vir tree het hulle ook gebukkend teen die wind gebeur en Anna in die oog gehou. Anna het ver geloop en toe omgedraai. Dit was asof sy in ‘n dwaal was. Haar oë was leeg en haar bleek gesig het spookagtig gelyk. Sy het haar nie gesteur aan die mense nie, en die pad terug huistoe gevat. Op haar stoep het sy gaan staan, terug gekyk oor die see, en die deur agter haar toegemaak.

En toe het die wind opgehou waai en die lug was skoon. Oor die see het ‘n vars briesie gewaai. Die kinders het uitbundig in die strate gespeel en wasgoed het op die draad gewapper. En by Anna was die vensters oop en die geur van beskuit het uit die huis gestroom. Anna was terug. Dit maak nie saak op watter reis sy was nie, sy was terug. Die mense het dit gesien en geglimlag. Sien, Anna het in hulle harte gekruip en hulle het haar aanvaar as een van hulle. Anna het weer in die winkel verskyn en geselsies aangeknoop. Sy het weer langs die see gaan loop wanneer die son geskyn het. Maar tog het almal opgemerk daar is nog iets verkeerd. Al was Anna weer in hulle midde, was haar oë steeds leeg. Die seer het haar binne doodgemaak. Maar niemand het iets gesê nie. Almal was net te bly Anna was by hulle.

En toe gebeur die onvermydelike. Eendag, toe Anna van die winkel af kom, was die gestalte op haar stoep. Van ver af het sy hom gesien en nie geweet of sy moet omdraai nie. Sy het nie geweet of sy sterk genoeg was om hom te sien nie. Al wat in haar gedagtes was, was die verraad. Willem het na haar gekyk en daar was seer in sy oë ook. En so het hulle na mekaar gekyk, sonder om te praat. Anna het die deur oopgesluit en ingegaan. Willem het haar nie gevolg nie want sien, Willem het nie geweet of Anna hom haat nie. Anna het weer uitgekom met twee glase gemmerbier. In stilte het hulle gedrink. En toe vertel hy haar.

Die huwelik was ‘n fout. Die egskeiding was ‘n verligting. Die terugkoms was onseker. Anna het geluister. Stadig het haar oë begin blink. Anna het kwaad geword, baie kwaad. En toe vertel sy hom.

Die maande van haar selfopgelegde gevangenisstraf. Die donker hond wat haar agtervolg het. Die leë aande in haar eie geselskap. Die skaamte om ander mense in die oë te kyk. En Anna praat. Willem was stil. Sy oë het net nog leër geraak.

Net so skielik as wat Anna begin praat het, net so skielik het sy opgehou. En toe lig die wolke in haar kop. Sy het gevoel hoe sy beheer kry en...

Anna het gelag.

Naomi Maritz
© 25 April 2012



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Anna
Anna het op 'n manier ook in my hart gekruip en ek kon nie help om haar te vol nie! En toe Anna lag het ek ook gelag. Jy het potensiaal om baie goeie verhale te skryf. Wel gedaan!
7 jaar 11 maande 1 dag 3 ure oud



ENGELE EN ROWERS

deur Piet Schoombie

Vier-en-twintig lekker lees kortverhale, sketse en artikels oor uiteenlopende temas en situasies.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar