Donderdag, 7 Desember 2012
Berta staan by die venster in haar plaaskombuis, verkyk haar aan haar jongste wat buite besig is met die vrugtebome. Die somer is hier. Dit is skaars agt-uur en sy voel die hitte al klaar onder haar blaaie. Berta hou vir Wouter dop en wonder wanneer haar baba so groot geword het. Sy draai weg van die venster om vir hom koeldrank te gaan ingooi en vat dit vir hom. Wouter staan kaal bo-lyf en werk. Telkens wanneer hy die graaf in die grond druk, bult die spiere op sy bors en bo-arms. Here, my seuntjie is dan ’n man!, dink Berta. “Wat kyk Ma my so?” onderbreek hy haar gedagtes. Berta hap na die naaste antwoord: “Ag, ek kyk sommer hoe gemaklik jy met die graaf werk. Ek sukkel my altyd morsdood.” Wouter steek die graaf vas in die grond, leun op die handvatsel en neem die koeldrank by haar. “Wat verwag Ma? Ma is ’n vroumens!”
Berta probeer aan die gang kom met haar dagtakies in die huis, maar haar gedagtes bly buitekant by haar seunskind. Sy wonder wanneer Wouter ’n meisie huistoe gaan bring. Sy het al gesien hoe die girltjies op die dorp vir hom flikkers gooi, maar Wouter is as aan. Dan wonder Berta of Wouter en sy gay oom nie dalk iets in gemeen het nie, maar sy skud die gedagte vinnig af en vat vir hom nog ’n koeldrank. Sy vra hom sommer ook wanneer hy van plan is om ’n meisie huistoe te bring. “Wanneer sy die moeite werd is om huistoe te bring.", mompel Wouter.
Berta word bewus van ’n stofwolk wat om die draai aankom. “Wie kom nou weer hier aangejaag?”, vra Wouter. In die naderende stofwolk word twee polisie voertuie sigbaar, verminder spoed en draai by die plaaswerf in. “Hulle soek seker weer een van die plaasvolk.”, antwoord Berta en voel ’n krieweling teen haar rug afloop. Sy stap na die tuinhekkie toe, Wouter gaan aan met sy werk by die vrugtebome. Die stof hang om hulle toe sy die hekkie oopmaak. Twee polisiemanne en ’n speurder stel hulself voor aan haar. Berta vra waarmee sy hulle kan help. Die speurder sê hulle is opsoek na Wouter du Toit. Die krieweling in haar nek sak af en word ’n lamheid in haar knieë. Sy roep vir Wouter en hy kom nader. “Ja, ma?”, antwoord hy en vee sy vuil hande aan sy broek af toe hy die drie mans sien. Die speurder se woorde sny soos ’n mes deur haar hart. “Meneer Du Toit, ons het ’n lasbrief vir u inhegtenisname. U het die reg om...” Verlam staar Berta na die toneel wat voor haar afspeel. Sy kry dit net-net reg om te vra waarvoor hulle dan vir Wouter aresteer. “Verkragting, mevrou.”, antwoord een polisieman. “Is jy séker van jou feite?”, vra Berta hom. “Mevrou, moenie my bevoegdheid bevraagteken nie. Ek kan u arresteer vir dwarsboming van die gereg.” Vlieg jy en jou korrupte gereg in julle peetjie, dink Berta en wonder dan of mens vir jou gedagtes ook gearesteer kan word. Sy wil haar kind gryp en styf teen haar vasdruk sodat hulle nie naby hom kan kom nie, maar sy doen dit nie. Sy staan gevries in tyd. Haar lyf is lam en al haar sintuie is dood. Alles behalwe haar oë en hulle sien hoe haar kind in die polisie motor gelaai word. Die stof wat netnou gaan lê het, slaan weer op toe die voertuie wegtrek en terugry waarvandaan hulle gekom het. Berta bly steeds net kyk, want dis al wat sy kan doen. Sy sien haar seun se gesig agter in die polisie motor. Sy kom stadig by en raak bewus hoe die ysterhand van die gereg haar hart uit haar lyf ruk en in die stofpad agter die polisie voertuig aansleep.
Soos die stofstreep in die pad af verdwyn, kom die lewe stadig in Berta se lyf terug. Haar voete sleep toe sy terug stap huis toe. In haar kop probeer sy sin maak van alles wat nou net gebeur het. Here, kán my kind verkrag? Het hy al ooit aan ’n vrou gevat? Hy is dan so skaam. Here, waar is U? Berta kry koud en warm tegelyk, haar tande klap op mekaar soos sy bewe. Hoe nou? Wat moet ek doen?, wonder sy. Berta dwaal op en af deur al die vertrekke van haar huis. Skielik voel als vir haar vreemd. In haar slaapkamer, kry sy haar selfoon. Sy bel haar beste vriendin, Wouter se suster. Toe Berta haar dogter se stem hoor, bars die trane uit haar oë. “Wat’s fout, ma?”, kom die bekommerde stem van die ander kant af. “Die polisie het vir Boeta gearesteer vir verkragting.”, stotter Berta deur die snikke en trane. “Wat? Ma? Is hulle bedonnerd? Wouter sal nooit so iets aanvang nie! Dit móet ’n fout wees.”
Die gesprek met haar dogter laat Berta effens bedaar. Sy ry polisiestasie toe. Die dorp is gewoonlik 25km vêr, maar vandag voel dit of sy 25 dae aan die stukkie pad ry. Sy ruk die motor ’n paar keer vrek, want die lamheid in haar bene is nog nie weg nie. In die dorp gekom, sleep sy haar geestelik verwonde liggaam by die polisiekantoor in. Oral sit mense op bankies en wag. Berta wil nie wag nie. Sy stap tot by die toonbank. Vir die konstabel agter die toonbank sê sy haar kind is gearesteer vir verkragting. Daar daal ’n doodse stilte oor die vetrek. Baie koppe draai in Berta se rigting. Nog twee polisiemanne kom na die tralie-toonbank aangestap. Seker om te kyk hoe lyk ’n verkragter se ma van naby. Berta vra of sy meer inligting oor die saak kan kry. Sy wil weet wie die meisie is wat die klag gelê het, waar het dit gebeur, wanneer het dit gebeur en waar is Wouter nou? Die konstabel agter die toonbank weier om enige inligting vir haar te gee. Berta word opstandig. “Ek is die jongman se má! Ek het sekerlik die reg om te weet wat aangaan en wat my nou te doen staan!” Die konstabel agter die toonbank antwoord haar aspris kalm: “Mevrou, beteul uself. U seun het ’n baie ernstige misdaad gepleeg. Hy en sy medepligtige is in die selle en hulle sal in aanhouding bly tot en met hulle eerste hofverskyning.” Berta se brein wil nie al die inligting verwerk nie. Selle. Medepligtige. Hofverskyning.
Berta vra die konstabel of sy haar kind mag sien. Hy sê hy sal die beampte wat aan die saak werk, gaan roep. Hy draai om, loop weg en na wat vir Berta soos ’n ewigheid voel, kom hy terug met ’n ander konstabel. ’n Bekende polisieman op die dorp, almal noem hom Van Tonder. Berta voel effens verlig oor die bekende gesig, maar haar verligting sit vinnig om in ongemak toe sy die grynslag op die man se gesig sien. Berta vra vir Van Tonder of sy vir Wouter kan sien. Sy sien hoe hy sy skouers terugtrek en die glimlag op sy gesig breër word. “Nee. Hy moet eers verklarings aflê en daar moet bloedtoetse gedoen word.” Berta gaap hom aan. “Bloedtoetse vir wat?”, vra sy dom. “Dis prosedure, mevrou.”, glimlag Van Tonder terug. Prosedure se moer en joune ook!, dink Berta. Sy vra Van Tonder wie die meisie is wat verkrag is. “Mevrou, dis konfidensieële inligting, ons mag dit nie bekend maak nie. Die slagoffer se regte moet beskerm word.” Slagoffer se gat en joune ook!, dink Berta. Sy vra hom hoe lank Wouter in die selle moet wees. “Tot met sy eerste hofverskyning. Dan moet ons maar kyk of hy borg kry.” Berta staar net na Van Tonder. Sy weet nie wat sy mág doen of sê nie. Dan sê hy uiteindelik: “Jy kan vanaand na sewe vir hom kos en siggarette bring.” Baie dankie, u hoogheid!, dink Berta, maar sy antwoord hom nie. Van Tonder gee sy kaartjie vir Berta. “Jy kan my enige tyd bel as jy iets wil weet of vrae het.” My goeie moer, ek kan jou bel maar jy wil nie nóu my vrae beantwoord nie!, wil Berta vir hom skree. “Dankie.”, antwoord sy eerder, neem die kaartjie by hom en draai om. Skielik is daar ’n skare mense agter haar. Waar hulle vandaan gekom het, weet Berta nie. Sy beur deur die spul tot buite. Dit voel vir Berta of almal se oë net op haar is.
Toe Berta buite kom, brand die son te warm en te skerp op haar kop. Sy weet nie waar sy haar motor parkeer het nie. Skielik vat ’n hand aan haar skouer. Berta draai om en kyk in die oë van ’n kort kleurling vroutjie Sy dra ’n polisie-uniform. Haar oë lyk moeg. “Is jy Wouter se ma?”, vra sy. Berta knik net. “Ek is Rodney se ma. Kan ons praat?” Berta wonder wie Rodney is en waaroor die vrou wil praat. Sy spoor haar motor op en beduie vir die polisievrou daarheen. Die twee vroue gaan sit in die motor om te gesels. Die polisievrou sê Rodney en Wouter is beide gearesteer vir verkragting. Uiteindelik!, dink Berta. Iemand wat dalk my vrae se antwoorde ken. Die polisievrou sê Wouter en Rodney is vriende van skooldae af. Vaagweg onthou Berta dat Wouter al van ’n Rodney gepraat het. Berta vra haar of sy weet wanneer dit gebeur het en wie die meisie is. “Mevrou, dis nie ’n meisie nie. Dis ’n ou wynkop meid! Dis ’n liegstorie. Ons ken haar al jare. Wouter en Rodney was by ’n kuierplek, die vrou was ook daar. Sy het hulle vir ’n lift gevra. Hulle het haar by haar huis gaan aflaai en toe na my huis toe gekom.” Berta luister verslae na die polisievrou se woorde. “Rodney sê hulle het gesukkel om haar uit die kar te kry. Sy wou nie self uitklim nie. Hulle het haar gesleep-dra tot by haar voordeur en haar daar gelos. Sy is ’n ou moeilikheidmaker. Die kinders het niks aan haar gedoen nie. Mevrou, dis ’n scam dié. My kind is nog ’n baba. Hy is maar negentien jaar oud.” Die polisievrou se woorde ego deur Berta se kop. Berta vra haar wat hulle moet of kan doen. Die polisievrou is self nie seker nie, maar sy vra Berta se selfoonnommer sodat sy haar kan bel sodra sy nuus het. Sy gaan vra of sy nagskof kan werk, want sy wil ’n ogie oor die kinders hou sodat die groot manne hulle nie seermaak nie. Berta voel hoe haar reeds stukkende hart begin bloei. Sy vra die polisievrou of sy weet wanneer die kinders in die hof moet verskyn. “Mevrou, ek dink môre.” Goeie God, hou my vas!, dink Berta. Hoe moet ek die stukkie van die dag wat oor is en die donker nag wat voorlê, verby kry met my kind in die polisieselle?
Sewe uur is Berta terug by die polisiekantoor met ’n mandjie vol goed vir haar kind. ’n Warm baadjie, kos, koeldrank, siggarette en sy Bybel. Van Tonder is nog aan diens. Hy vat die mandjie en pak die items stuk vir stuk uit. Fok, gaan die donner nooit huis toe nie., vererg Berta haar. Daar is ’n gekap en geraas in die polisieselle. Berta bewe, haar hart klop in haar ore en sy bid dat dit nie Wouter is wat so staan en raas nie. Van Tonder begelei haar deur die aanklagkantoor, by die agterdeur uit en oor die binnehoffie na die polisieselle toe. “Gevangene Du Toit, kom na vore!”, roep Van Tonder. Berta se binnegoed trek saam. Wouter se gesig verskyn agter die tralies. Die geraas duur voort. Berta is dankbaar om te sien dis nie haar seun wat so lawaai nie. Dan breek Van Tonder se woorde die oomblik: “Jy kan bly wees jy’s nie my kind nie. Ek sou jou fluks op jou herrie gegee het.” Berta probeer hard om hom te ignoreer. Haar arms gaan deur die tralies om haar kind se lyf. Sy druk haar seun so styf teen haar vas dat die tralies haar borste kneus. Berta huil. Wouter huil. Berta probeer hom troos. Sy sê sy weet hy’s onskuldig, verseker hom dat hy hier sal uitkom en dat hulle saam deur hierdie ding sal kom.
Om haar kind agter tralies te sien en om hom daar te los, is die seerste seer wat Berta nog gevoel het. Sy weet nie hoe sy terug by die huis gekom het of hoe die nag weer dag geword het nie. Sy sit op haar bed met gister se klere aan haar lyf. Haar trane is op en haar lyf is styf. Sy moet hierdie dag met al sy take aanpak, maar hoe? Berta loop kombuis toe, sit die ketel aan en dan die radio. “Carpe Diem! Gryp die dag!”, sê die radiostem. Berta se binnekant ontplof. Gryp jou dag en vlieg in jou moer! My kind is in die tronk! Sy klap die radio van die kas af dat dit teen die muur in stukke spat. My kind is in die fokken tronk!
Agtuur bel Berta die polisiekantoor om uit te vind hoe laat die kinders in die hof moet wees. Die konstabel aan diens sal uitvind en haar terugskakel. Nege uur bel Berta weer, nog steeds geen antwoord nie. Sy skakel Van Tonder se nommer. Hy groet haar oorvriendelik, sê hy sal uitvind wat aangaan en haar laat weet. ’n Paar minute later kry sy ’n SMS. Dis Rodney se ma wat vra dat sy haar moet bel. Die polisievrou se stem is vol trane. “Mevrou, ons moet praat, maar ek kan dit nie oor die foon doen nie.” Berta is binne minute by die polisiekantoor. Die polisievrou wag reeds buite by die parkeerarea en klim in toe Berta langs haar stilhou. Sy vertel sy’t Van Tonder oor die foon hoor praat met iemand. Die seuns gaan eers Maandag in die hof verskyn. Hy’t gesê die knape sal die naweek agter tralies deurbring. Hy sal daarvoor sorg. “Mevrou, daai man voel niks vir ons kinders nie. Hy wil hulle in die selle hou. Mevrou moenie sê ek’t dit vir jou gesê nie, ek sal my werk verloor. Mevrou, die kinders kan nie die naweek in die tronk wees nie. Hier kom vreeslike mense in, hulle sal ons kinders seer maak.” Berta vra wat hulle kan doen. “Mevrou, as ons ’n lawyer kan kry wat aansoek doen om bail, kan hulle meskien uitkom, maar ek het nie geld vir ’n lawyer nie.”
Net voor twaalf loop Berta by die prokureur in. Hy hoor haar storie aan en hy is bereid om te help, maar dan moet hy dadelik met die staatsaanklaer gaan praat, want dis Vrydag en die hof maak half vier toe.
Drie uur bel die prokureur vir Berta om te sê die kinders het borg gekry. As sy voor half vier die borg betaal kan hulle uitkom, anders moet hulle sit tot Maandag. Berta gaan trek die geld en reël met die prokureur om haar kind in die hof te verdedig. Sy betaal die borg by die landroskantoor en gaan gee die kwitansie af by die staatsaanklaer. Toe Berta haar seunskind weer sien, kom die lewe terug in haar lyf. Wouter hou haar styf vas en hulle trane loop. Van Tonder sê: “Jy moet jou ma waardeer.” Berta het nie krag oor om hom te vloek of verwens nie. Sy is net so bly om haar kind weer te sien en om hom vas te hou.
Terug by die huis, het Wouter lank gebad. Berta het die klere wat hy aangehad het buite op die werf verbrand. Sy het by die vuur gestaan tot daar net warm as oorgebly het. Berta wou die afgelope vier-en-twintig uur se gebeure sien doodbrand. Ondanks die swaard wat nou oor Wouter se kop hang, voel Berta rustig, want haar kind is weer tuis. Sy is verbaas om te sien dat sy die dag en al sy dinge oorleef het, maar besef dan, dis net genade van Bo.
Vrydagaand, 19:00
Berta se selfoon lui. Dis Van Tonder. Hy sê hy het ’n goeie woordjie by die staatsaanklaer vir die kinders gedoen, anders was hulle vanaand nog in die selle. Hy klink snaaks, dink Berta en dan weet sy hoekom. Van Tonder is gesuip. Die bliksem. Berta sê dit het niks met sy goeie woordjies te doen nie, dit was als die prokureur se werk. Sy vertel hom sy weet hy wou die kinders vir die naweek in die selle hou. Stilte. Van Tonder sê niks. Berta weet sy het hom geklap met die waarheid.
’n Uur later lui Berta se foon weer. Weer Van Tonder. Sy tong sleep erg. “Daai seunskind van jou gebruik dwelms en ek gaan hom vastrek.” Berta sê hom sommer reguit hy praat stront. “Ek sê jou, jou kind gebruik dwelms en ek gaan hom nail. Hy hang saam met die verkeerde pelle uit en ek gaan hulle almal nog nail.” Berta weet van beter as om met ’n dronkmens te redineer. Sy sê vir Van Tonder hy moet maar doen wat hy moet doen.
’n Halfuur later lui haar foon weer. Weer Van Tonder. Berta druk die foon dood en sit dit sommer af. Ek sal môre as die son skyn en jy nugter is, met jou praat., dink Berta. Sy gaan kruip agter Wouter se rug in. Sy sit haar arm om hom, hou hom vas. “Ek is lief vir jou.”, fluister sy in haar kind sê oor. Sy lyf begin ruk soos hy snik. “Ma, ek het nie daai meid verkrag nie. Ons het haar net uit die kar gehelp tot voor haar deur. Dis al. Ek het haar nié verkrag nie.” Berta hou hom nog stywwer vas. “Ek weet my kind. Ek weet.” Toe slaap hulle.
Saterdagoggend
Berta ry in die dorp rond. Haar oë soek na “die vrou”. Berta soek haar in elke bruin vrou wat sy op straat sien. Sy weet nie wát sy vir die vrou gaan vra of sê nie, maar sy soek haar. In die winkel waar Berta gewoonlik haar kruideniersware koop, kry sy vir Van Tonder. Met die moed en durf van ’n verwonde ma, stap sy op hom af. Hy wil nog glimlag en vriendelik wees, maar Berta kyk hom vas in die oë. “Adjudant Van Tonder, my seun gebruik nié dwelms nie. My seun het nié die vrou verkrag nie. Jou seun is nog klein en hy dra nog doek, maar hy moet ook groot word. Jy kan hom ongelukkig nie in ’n glaskas grootmaak nie. Hy gaan ook ’n jongman word. Hy gaan dalk ook vriende hê wat nie jou goedkeuring wegdra nie, maar ek sal vir jou en jou seun bid. Ek sal bid dat die Here julle genadig sal wees en dat sou jou seun dalk eendag in dieselfde situasie beland waarin mý seun nou is, daar nie ’n polisieman soos jý sal wees wat hom wil onreg aandoen nie. Jy is niks beter as ek nie. Jou uniform maak jou nie bo die reg verhewe nie en net omdat jy in die polisiemag is, beteken nie dat jou seun nooit in die moeilikheid sal kom nie.” Berta draai om en stap weg.
Maandagoggend, 08:00
Berta en Wouter sit in die prokureur se kantoor. Hulle moet nege uur in die hof wees, maar kom gou by mekaar om te konsulteer. Die prokureur vra vir Wouter of hy skuldig is aan verkragting. “Nee oom, ek het die vrou net ’n saamry geleentheid gegee.”, antwoord Wouter. Die prokureur sê hy het dalk goeie nuus. Op een van die buurdorpe is ’n soortgelyke geval. ’n Jongman van Wouter se ouderdom het ’n vrou ook ’n saamry geleentheid gegee en hy is ook aangekla van verkragting. Dit kan dalk wees dat jongmans geteiken word oor die een of ander rede. Na die konsultasie, vra Wouter vir Berta om nie saam hof toe te gaan nie. Dit voel soos ’n skop in Berta se wind. Sy wil graag daar vir hom wees, hom ondersteun. Wouter sê: “Ek weet Ma ondersteun my en dat Ma hier is vir my, maar ek wil nie hê Ma moet in die hof wees nie. Ma het nie hierdie nonsens nodig nie.” Dis moeilik, maar Berta respekteer sy wense en ry terug huis toe. Wouter bel heelwat later om te sê die saak is uitgestel, sy kan hom maar kom haal.
Die dorp en gemeenskap is klein. Die nuus van die verkragting en arestasie versprei vinniger as ’n veldbrand deur droë gras. In die dae wat volg, is dorp toe gaan ’n marteling vir Berta. Sy word bekyk, bevra en beskinder. Party mense skinder sommer kliphard: “Dis die een seun wat gearesteer is se ma.” Berta bly net stil. Op ’n keer vererg sy haar. “Is dit waar wat ek van jou seun gehoor het?” en Berta kap terug: “Ek weet nie wat jy gehoor het nie en ek stel ook nie belang nie, maar jy moenie jou ore so maklik uitleen nie. Op ’n dag maak die kraaie nes daarin!” Tussendeur die dorp se gekyk en geskinder, soek Berta steeds na “die vrou”. Wouter en Rodney verloor beide hul werk. Hulle is gebrandmerk as verkragters. Misdadigers. Here, ek wens ek kan hierdie ou dorpie soos ’n ou mat oprol met al sy skinderbekke daarin en verbrand.,dink Berta.
Een maand later
Hofdag.Senuweedag. Dis hoog somer, maar Berta bewe soos ’n riet. Sy kan nie saam met Wouter hof toe gaan nie, want dit is sy wens. Berta bly tuis. Sy bly op haar knieë. Die hofsaak word weer uitgestel met ’n maand. Die prokureur bel. Hy sê die seun op die buurdorp is onskuldig. Die klaagster het ’n vals klag gelê. Die seun se ouers het ’n klag teen die klaagster ingesit. Die prokureur vermoed Wouter en Rodney is geframe.
Nog ’n maand later
Hofdag. Senuweedag. Biddag. Die hofsaak word weer uitgestel.
’n Identiket van ‘n jongman verskyn in die plaaslike koerant. Hy word gesoek vir verkragting. Dis bekende en gesiene mense in die gemeenskap se kind. Dankie Here, my kind se gesig het nie die koerant gehaal nie., bid Berta. Sy sit nog en kyk na die koerantberig, toe die prokureur bel. Hy vertel van nog ’n man wat deurgeloop het. “Berta, daar is ’n vendetta teen blanke jongmans in die omgewing. Iemand betaal die vrouens om te hike en as dit ’n blanke man is wat haar oplaai, moet sy na die tyd ’n klag van verkragting gaan maak. Daar sal niks kom van Wouter se saak nie, want die polisie het nie bloedtoetse laat doen van hulle nie.” ’n Warboel van emosies maak nes binne Berta. Sy is kwaad en verlig op dieselfde tyd.
Nog ’n maand later
Weereens, hofdag. Senuweedag. Berta bewe nie meer nie, maar sy bly steeds bid. Die saak word weer uitgestel.
Op ’n dag lui Wouter se selfoon. Berta hoor hoe hy met iemand praat. Hy kom na ’n rukkie opgewonde terug. Berta kan nie onthou wanneer laas sy haar seun sien glimlag het nie. “Ma, die saak is teruggetrek. Dis ’n onwaar storie. Ek het ma mos gesê ek het dit nie gedoen nie.” Berta het nie woorde om haar vreugde te beskryf nie. Die dankbaarheid dat haar kind onskuldig is, is dieper as die diepblou see. Sy het lus en klim op die dak en gil: MY KIND IS ONSKULDIG! FOK JULLE ALMAL WAT HOM VEROORDEEL HET!
Drie jaar later
Baie mense het al van die gebeure vergeet, maar die letsel sit steeds soos ’n eelt in Berta se hart en sy weet in Wouter sin ook. Wanneer Berta in die dorp kom, soek sy nog “die vrou”. Berta weet steeds nie wat sy vir haar gaan sê nie en of sy ooit in staat sal wees om iets te sê nie. Maar sy bly soek.