Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Doef!

Ek skrik wakker met een groot slag. My slaapbeneuwelde verstand kan nog nie fokus op wat so pas gebeur het nie. Het ek gedroom? Wat was dit wat my wakker gemaak het? Stadig maar seker begin my brein fokus en ek kom tot verhaal. My oë, nog dik van die slaap, sukkel om oop te gaan. Dit is ‘n groot stryd tussen my lyf en my kop om te sê ek moet net weer wegraak in daardie salige rus. DOEF!

Ek voel veilig hier waar ek en Kietsie ons self kom tuis maak het en ‘n snoesige plek vir ons ingerig het. Iewers deur die nie-diggetrekte gordyne, speel die straatlig se lig teen ‘n gedeelte van my kamer muur. Ek vryf die slaap uit my oë en maak hul oop. My oë begin gewoond raak aan die omgewing, maar ek lê nog doodstil. Iets of iemand is hier saam met my in my woonstelletjie! Ek draai stadig om en bespied die kamer, maar sien niks ongewoons nie. Alles lyk nog net soos ek dit die aand gelos het voor ek gaan slaap het. Maar wat was daardie geluid?? DOEF DOEF!

Stadig swaai ek die duvet van my af en gooi my bene oor die rand van die bed. Ek staan so sag as moontlik op en loop na my japon toe en trek dit aan. Ek gaan beslis nie die vyand bibberend aanpak nie! Ek kyk rond wat ek in my kamer het en sien my skool hokkiestok, waar ek dit gegooi het gisteraand toe ek my kas probeer reg pak het. Dankie tog ek het die ding nog gehou, dink ek by myself. Ek klou die stok verbete vas en begin kat-voet beweeg na die deur.

In die gangetjie gaan staan ek eers stil. Die geluid kom van iewers voorentoe. Soos ‘n wafferse pro, hou ek my hokkiestok, gereed om wat ookal voorkom te verslaan. Ek trippe trappe trone op die bal van my voete vorentoe…verby die toilet en badkamer. Die kombuis is volgende en ek voel hoe my asem begin jaag en my hart sommer woes in my keel klop. Nou hou ek daai hokkie stok slag gereed. My neus kom eerste om die draai en dan die res van my. Ek bekyk elke dingetjie in die klein kombuisie, maar sien alles is nog in orde en netjies soos ek hou van my kombuis. DOEF! Nee, die geluid kom uit die eetkamer.

Ek beweeg nou sag, maar hou die stok reg… Jou simpel vroumens, as dit ‘n spook is, sal die ding mos nie werk nie!, dink ek amper hardop. Maar sê nou dis ‘n inbreker, redeneer ek met myself, dan kan ek mos hard slaan en hoop ek tref die vabond goed!

Ek beweeg nou in “stealthmode” tot op die hoek van die gangetjie. Ek druk my lyf teen die muur vas, haal ‘n slag diep asem om my hartklop te laat bedaar, wat nou woes klop asof ek en die hele wêreld daar buite dit kan hoor. Dis nou of nooit nie, sê ek vir myself in my gedagtes. Jy moet regmaak en hard slaan, maan ek myself. Een.. twee… drie! DOEF kom die geluid amper reg langs my.. so asof iemand klop om in of uit die kas te kom….ek klou daai stok nou so styf vas, my hande brand eintlik. Elke spier snaarstyf gespan en reg vir aksie. Ek beweeg met ‘n spoed om die hoek en gee een onaardse ninja gil en wil net slaan … maar daar is niemand voor my nie! Met die stok half in mid-air, staan ek verbaas. Dan laat sak ek die stok stadig en kyk in ongeloof voor my.

Kietsie het homself in ‘n ander bloedgroep ingeskrik. Sy ogies staar my stokstyf aan, hare pen orent en die bekkie so halfpad oop. Kompleet soos daardie advertensies waar iemand op ‘n kragdraad trap en alles vlieg op en jy sien net rook en sparks. Ek skrik so groot, want ek dog Kietsie het ‘n hartaanval gehad of dalk ‘n beroerte gekry met die dat ek hom so laat skrik het. Van pure skok hol ek na die kat en wil net CPR op hom begin toepas, toe die lewe weer deur die katliggaampie sypel. Ek sak net daar langs Kietsie neer en begin giggel van die skok. Na ons albei bedaar het van die skok, was dit nou my taak om vas te stel wat die geuild, wat eweskielik opgehou het, veroorsaak het.

Ek probeer in die half donker soek na iets wat ek nie weet wat om na te soek nie, toe ek weer DOEF hoor. Ek draai om, net om Kietsie te sien ‘n rubberballetjie met sy poot haak en dan die ding gehop te probeer kry, toe dit hard teen die kas vasrol en terug rol na hom toe. Hy kap-kap met sy een pootjie en daar hop die balletjie reg teen die kas vas. Die speletjie het hom natuurlik geamuseer en hy het ‘n hele ruk lank so gespeel.Van pure moedeloosheid, tel ek Kietsie op en vat hom saam kamer toe. Jou vabond, jy het my so groot laat skrik!, vermaan ek hom. In sy eie bedjie sit ek hom en klim terug in my bed. Kort voor lank, was ons albei droomland toe.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

kamerjas!
En jy het nog wraggies tyd om eers jou kamerjas aan te trek!

Einde 1997 sien ek matriekvraestelle na vir die Wes-Kaapse Onderwysdept. Ons werk by die Universiteit van Wes-Kaap en gaan tuis in die Steve Biko studentewoning. My kamer is op die derde verdieping in 'n hoekie afgesonder van die ander. Die kamer het 'n Yale-slot wat ek snags van binne sluit. Die 2de nag skrik ek wakker net toe my deur deur oopgaan en 'n lang swartman binnekom. Ek besef dadelik niemand sal my hoor as ek roep nie en vloog stilswyend uit my bed gereed om dan maar te veg. Ek het 'n lang, spierwit nagrok aangehad en my kortgeknipte krulhare het in alle rigtings gestaan. Toe ek so verwoed op hom afstorm, retireer hy, draai om en hol omkyk, omkyk teen die trappe af en skreeu aanhoudend: "Sorry! Sorry! Sorry!" Miskien was dit die student aan wie die kamer gedurende die kwartaal behoort het, want hy het 'n sleutel gehad. Maar ek wonder tot vandag nog of hy my dalk vir 'n spook aangesien het! (Die volgende dag het een van my manlike kollegas vir my 'n slot aan die binnekant kom insit).
8 jaar 3 maande 1 week 8 ure oud


Doef!
oulik :-)
8 jaar 3 maande 1 week 9 ure oud


Spook
Ek slaap alreeds swak!
Nou is dit nog erger!
8 jaar 3 maande 1 week 9 ure oud



Gebroke Harts Gebede

deur Anze Bezuidenhout

Gebroke Harts Gebede is ‘n digbundel oor die einas van die lewe. ‘n Soeke na liefde op ‘n stormagtige pad. Mag hierdie bundel vir die leser ‘n pad na herstel aanwys. Die diepe besef dat jou krag van Bo kom. Ja jy is tot alles in staat deur Christus wat jou krag ~ Anze Bezuidenhout



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar