Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Toe Marelle die middag na werk tuiskom, is haar ma vort. Sak en pak.

Die notatjie in haar oumenshandskriffie op die kombuiskas is vol verwyt. “Ek het ‘n huurmotor bestel om my stasie toe te neem. Ek weet nie hoe ek hierdie vernedering sal oorleef nie. Wat moes sus Anna en sus Henna en die res van die familie nie van my en my koeksisters gedink het nie!”

Marelle staan verslae. Hoe is dit moontlik dat haar ma se oorlede susters nog steeds vanuit die graf oor haar regeer!

Haar ma was die jongste van vyf kinders. Die twee oudste broers was al getroud en het hul eie jong gesinne gehad toe hul ouers kort na mekaar gesterf het.. Sy het in die sorg van haar twee susters, Anna en Henna, beland. Twee foutvinderige en ongenaakbare oujongnooiens wie se hande vir niks verkeerd gestaan het nie. Hulle het haar minderwaardig laat voel en ‘n onnatuurlike houvas op haar gekry. Haar ma se hele bestaan was daarop gerig om hul goedkeuring te verkry.

Marelle was ‘n laatlammetjie – die jongste van drie dogters. ‘n Nalatigheidslammetjie. En haar ma was skaam oor haar. Wat moes sus Anna en sus Henna nie van haar dink omdat sy op veertigjarige leeftyd toegegee het aan vleeslike drange nie! Marelle het van kleins af verwerp gevoel deur haar ma.

Haar ma het egter een groot talent gehad: Sy kón koeksisters bak. Hulle en haar twee ooms met hulle gesinne het elke Kersfees by tant Anna en tant Henna deurgebring. En elke jaar het haar ma koeksisters gebak en saamgeneem. Dit het aan haar haar plekkie in die son verseker. Marelle en haar sussies en haar pa mag tydens die bakproses ook net elkeen enetjie kry om te proe - die wat die lelikse uitgekom het. Die koeksisters was in smaak, tekstuur en voorkoms haar ma se trots. Dis altyd die oggend vroeg voor hulle vertrek het gebak. Dan in netjiese lae, geskei met waspapier, in bierbokse gepak en die hele dag in die yskas gehou om behoorlik koud te word. Hulle moes dan deur die nag ry, sodat die bokse met die koeksisters op die pakplek onder die agterste ruit van hulle ou Plymouth kon koud bly. Daar mag nie onnodig gestop word langs die pad nie. Marelle was nog nie in die skool nie. Sy het tussen haar twee hoërskoolsussies op die agtersitplek gesit. Die ou motor het genoeg ruimte tussen die voorste en die agterste sitplekke gehad vir klein Marelle om sommer so in die ry die piepiepot te gebruik as sy nie langer kon knyp nie.

Na haar pa en die twee tantes se dood, het Marelle se ma meer ontspanne en aanvaardend jeens haar geword. Sy het selfs sover gekom om soms uit haar eie vir ‘n week of twee by Marelle te kom kuier. Sy het die kleinkinders geniet en het oënskynlik lekker gekuier. Tot gisteraand.

Hulle het na ete in die sitkamer sit en gesels. Marelle se oudste seun het gevra: “Het Mamma-hulle ooit vir Ouma van die petalje met die koeksisters in Oupa se Plymouth vertel? Marelle het geantwoord: “Nee, ons was te bang! Maar ek skat ek kan haar maar nou vertel.”

Marelle vertel laggend aan haar bejaarde ma hoe haar twee susters een keer skelmpies op pad ‘n paar koeksisters uit die boonste laag van een van die bokse gevroetel het. Net toe rem haar pa onverwags en van die koeksisters val binne-in die halfvol piepiepot. Marelle moes dit suutjies daar agter haar ma se sitplek in die donker motor uit die pot vis en afskud en die sussies het dit weer sorgvuldig terug in die boks teruggeplaas.

Marelle se ma het nie saam gelag nie. Sy het die sitkamer woordeloos en woedend verlaat.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Ag "shame"
Hoe MOES ouma nou voel. Ek het die storie baie geniet.
7 jaar 8 maande 3 weke 2 dae 18 ure oud


Souterig...
Dankie Elise vir 'n lekker storie.

Met so min publieke geriewe in SA dink ek baie mense ry nog steeds met die piepot in die kar -- seker nie meer veel met koeksisters nie...
7 jaar 8 maande 3 weke 3 dae 13 ure oud


O wee!
Lekker storie! My ma was ook altyd só oor haar koeksisters - almal moes presies ewe petit en ewe donker gebak wees, en net die enkeles wat sou waag om te donker te word of hulle beentjies te laat losdraai in die kookolie het na ons kant toe gekom.
7 jaar 8 maande 3 weke 3 dae 22 ure oud


As soet....
Wat 'n ramp...ai, wie sou weet behalwe hulle, maar die gedagte is aaklig vir die wat geweet het...
7 jaar 8 maande 3 weke 4 dae 19 ure oud


Ai-jai-jai
Dankie vir die lekkerlees storie, Elize!
7 jaar 8 maande 3 weke 4 dae 22 ure oud


Mooi storie
Ag ek lees altyd lekker aan jou stories. Ek het die een geniet, dankie. Wonder net, (hoe het daai potjie so halfvol gebly? daai tyd was die paaie maar oes en die karre het soos bokwaens gery!)
7 jaar 8 maande 3 weke 5 dae 14 ure oud


Lekker storie die...
Dankie Elize, ek het heerlik aan jou storie gelees!
7 jaar 8 maande 3 weke 5 dae 20 ure oud


hmmm
Sout van die aarde...Die Ma van Marelle.
7 jaar 8 maande 3 weke 5 dae 21 ure oud


Soet-sout-suur
Pragtig man, pragtig. Lekker maklike leesstof! Jy het geen idee in hoeveel opsigte ek my met jou storie vereenselwig nie! Ek hoop tog so dat een van, of albei, die twee ou susters 'n souterige koesister gekry het!!
7 jaar 8 maande 3 weke 6 dae 1 uur oud


Ouch!
Elise, dis pragtig! Ek kon my omtrent inleef in die storie, aangesien ek self lief is vir koeksisters bak. Ek sou ook pad gevat het. Lol.
7 jaar 8 maande 3 weke 6 dae 3 ure oud


Is dit? . . . is dit?


. . . . dan die rede hoekom 'koeksisters' 'koek-sisters' genoem word?
7 jaar 8 maande 3 weke 6 dae 4 ure oud


Soet . . . ?
Ooooo Maggies ! Ag nouja
Geheime is maar geheime.
Mooi!
7 jaar 8 maande 3 weke 6 dae 8 ure oud



Bothaville in the Second Anglo Boer War

deur Francis Gillieron

CHRONICLE OF BOTHAVILLE'S ROLE IN THE SECOND ANGLO-BOER WAR



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar