Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Die huurmotor laai ons by die hawe af. Ons het min bagasie, net 'n groterige sportsak en natuurlik ook my smuktassie. Die res van ons bagasie vir ons drie wekelange Europese toer het ons by die hotel in Athene gelos. Vir 'n vier dae plesiervaart tussen die Griekse eilande het mens mos nie veel nodig nie, het ons gereken. Ons gaan seker die meeste van die tyd in ons baaiklere wees...
Ons stap na die kaai waar die boot, volgens die inligting wat ons reisagent vir ons in Suid-Afrika gegee het, op ons wag. Ons kyk rond vir die kleinerige passasiersbootjie wat ons op die brosjure in die agent se kantoor gesien het. Daar is egter net 'n reuse passasierskip langs die kaai - een van daardie drywende hotelle wat mens in flieks sien. Dit is 'n miernes van bedrywighede met portiere met swaargelaaide bagasietrollies en mense wat opgewonde na mekaar roep. Ons staan effens verdwaas rond. Waar sou ons bootjie dan wees? Manlief sit ons sportsak neer, beduie vir my om net hier te wag en verdwyn met ons kaartjies na die kaartjiekantoor. Kort voor lank is hy terug.
"Dis ons skip daardie." Hy beduie met die kaartjies in die reuse, luukse ark se rigting.
"Kan nie wees nie!" Ek betrag nou die gevaarte met 'n gevoel dat iemand ons 'n streep getrek het.
"Jip!" Hy tel ons sportsak op. "Dis ons bootjie." Hy begin daarheen aanstryk; ek soos 'n skoorvoetende kind agtena.
Ek kyk na die bagasie wat gereed staan om aan boord geneem te word: verskeie klein bergies bypassende bagasie, van die groot moderne weergawe van 'n koffer, al die pad na die klein oornagtassie, alles in dieselfde tapisseriemateriaal of duursame harde plasiekafwerking. Dit lyk vir my soos 'n buiteluguitstalling van 'n duur bagasiewinkel. Kan mense sowaar dan nie eers vir vier dae sonder die volledige inhoud van hul klerekaste klaar kom nie, wonder ek in die stilligheid.
Ek hoor oral om my die klank van Amerikaanse stemme. Ja, gesels ek met my self, dis natuurlik die spul Amerikaners se bagasie - alles altyd beter en groter!
Ons stap met ons skamele bagasietjies die lang opdraende uit om aan boord te gaan. 'n Jongman in 'n deftige swart en wit uniform ontmoet ons bo, waarna 'n meisie met 'n netjiese swart pakkie by hom oorneem en ons inlig waar ons kajuit is. Ons klim in 'n hysbak saam met 'n klomp vreemdelinge. Vier stoppe na benede klim ons uit en loop met 'n lang gang af terwyl ons die kajuitnommers bekyk. Uiteindelik vind ons ons kajuit, nogal met ons name daarop: Mr and Mrs Jan Vermaak. Dit lyk my ek gaan vir hierdie vier dae die naamlose vrou van Jan Vermaak wees! Ons maak die deur oop en gaan in. Ons staan half verdwaas in ons tuiste vir die volgende vier dae. Dis baie klein, met twee ingeboude beddens wat haaks kop teen kop staan met 'n bedtafeltjie in die hoek, 'n ingeboude blad en 'n ingeboude klerekas teen die ander muur. Daar is ook 'n piepklein badkamertjie met net 'n stort, wasbakkie en toilet. Die ronde patryspoort is amper op die watervlak buite. Ek kom tot verhaal.
"Nou ja, hier is ons, kom ons maak onsself maar tuis." Ek neem die sportsak by Jan, sit dit op die bed en begin ons paar kledingstukkies in die kas pak: blou jannas vir hom en vir my, drie gholfhemde en een bont katoenhemp vir hom, vier T-hemde vir my, een denimkortbroek vir hom en een vir my; twee bont katoenoorslaanrompe vir my, een denimbaadjie vir hom, een ligte trui vir my, een swembroek vir hom, een swembroek en sarong vir my, nagklere vir ons albei. Een paar tekkies en twee paar sokkies vir hom, dieselfde vir my. Die sportsak is leeg en ek bêre dit bo in die kas. Die smuktassie kom in die badkamertjie. So ja!
Jan sit op 'n bed die pakkie brosjures en skeepspamflette wat hy op die ingeboude blad gekry het en deurkyk. Hy bars uit van die lag.
"Wat is nou so snaaks?" wil ek weet. Hy hou 'n pakkie papier met die skip se embleem voor op na my toe uit.
"My poppie, ons het probleme!" is al wat hy sê.
Ek neem die papiere by hom en lees. Dit is die program vir die vier dae, asook die spyskaarte vir die aandetes vir die vier dae aan boord. By elke aandspyskaart is daar ook die kleredragaanbevelings vir die geleentheid. Ek voel hoe ek koud word, daardie selfde gevoel wat 'n student kry as hy besef dat hy die verkeerde vak vir die eksamen geleer het. Nou verstaan ek die hope bagasie van die ander passasiers!
"O genade, my ou man, wat maak ons nou?"
Ek gaan sit lam op die ander bed. Skielik neem hierdie avontuur nagmerrie-afmetings aan. Die kleredrag vir elke aandete is netjies-informeel. Die laaste aand is die gala-aand, dan is dit formeel en blink! As jy nie volgends hierdie voorskrifte geklee is nie, sal jy nie in die eetsaal toegelaat word nie.
Ek kyk in my geestesoog deur ons klerekas (dalk het 'n goeie fee gou 'n draai daardeur gemaak?) en weet: ons gaan elke aand honger slaap. Hoekom het die reisagent ons nie gewaarsku nie? Dan kon ons darem die regte klere gebring het!
"Ek sal met die personeel gaan praat, ek is seker hulle sal verstaan as ek ons posisie aan hulle verduidelik." Jan staan op en stap vasberade uit. Na 'n hele rukkie is hy terug. Ek sit in afwagting, gretig om te hoor wat hy uitgerig het.
"Ons sal regkom met wat ons het vir die eerste drie aande, maar vir die gala-aand sal ons iewers klere moet koop," kondig hy aan. “Hulle stel voor dat ons gaan kyk wat die skeepsboetiek ons bied.”
Ek dink dadelik aan ons beperkte begroting, met ons ongunstige wisselkoers is die geldjies maar mi n. En dan is daar nog allerhande fooitjies wat ook in berekening gebring moet word. Ek sug diep. Trane brand agter my oë.
"Ag Santjievrou, moenie dat dit jou lekkerte steel nie, ons maak 'n plan! Ons is nou hier, kom, dan gaan verken ons die skip.” Hy hou sy hand na my toe uit. “Sy gaan seker amper vertrek. Kom ons gaan boontoe."
Ek staan op; hy is reg, ons is nou hier, ons kan net so wel die tyd geniet. Wat is 'n ou klereprobleempie nou?
Ons gaan met die hysbak terug na die vlak waar ons aan boord gegaan het, net betyds om die skeepshoring te hoor blaas. Statig begin die skip die hawe verlaat, die dek vol opgewonde passasiers wat vir bekendes op die kaai waai. Ons bestudeer die pamflet met die skip se uitleg wat ons van die kajuit af saamgebring het. Vier restaurante, verskeie dameskroeë, koffiekroegies, 'n ontspanningsdek met jaccuzis, saunas, twee swembaddens – een warm en een koud. Daar is ook 'n bioskoop, 'n teater, 'n klereboetiek, 'n skoonheidsalon, 'n kliniek, twee sitkamers en die formele eetkamer waar ons elke aand sal eet as deel van ons reispakket.
“Kom ons gaan kyk eers na die ontspanningsdek,” stel Jan voor.
Dit is indrukwekkend met luukse dekstoele oral. Daar is reeds baie mense wat swem, in die son lê en bak en kuier of dekspeletjies speel. Ons gaan sit op dekstoele en beskou die bedrywighede. Kort voor lank is dit tyd vir middagete en ons gaan soek iets ligs en bekostigbaars om te geniet. Selfs die goedkoopste kos vreet 'n gat uit ons begroting.
Ons dwaal verder rond. Ek verkyk my aan die mense. Daar is iets van elke soort: die bruingebrande, goudbehangde, effens-middeljarige rykes, die tipiese blekerige middelklas toeriste soos ons, die skamelgeklede, uitbundige jongklomp, die vreemdgeklede eksentriekes...
Gou is die middag verby en is dit tyd om reg te maak vir aandete. Uitgedos in ons “netjies-informele” klere: Jan in sy jannas, vrolike bont hemp en donkerblou tekkies, ek ook in my jannas, wit t-hemp, en tekkies, my sarong soos 'n stola om my skouers, klim ons in die hysbak. In die eetsaal word ons plekke by 'n lang tafel aangewys. Gou is die tafel vol vreemdelinge. Ons stel onsself aan die mense om ons voor. Oorkant ons sit 'n Amerikaanse paartjie, weerskante van ons sit Britte en Duitsers. Almal is Engels magtig en gou gesels ons lekker. Ek vertel van ons klerefiasko en maak 'n groot grap daarvan.
“But honey, you are more than welcome to borrow one of my evening dresses, I packed seven!” bied die Amerikaanse vroutjie aan. “I'm sure one of them will fit you!” en sy meet my met haar oë. Ek meet terug en wonder of sy nie dalk 'n bril moet kry nie. Ek is sekerlik 'n kop langer en nie naastenby bolangs so goed bedeeld as sy nie.
“Thank you so much, but I really want that new dress my husband has promised me!” probeer ek om nie ondankbaar vir haar gulhartige aanbod te klink nie. Hoe kan ek nou 'n wildvreemde vrou se rok leen?
“Sure, I understand completely, honey,” knipoog sy, “but if you don't find anything you like, you just tell me!”
Na 'n onrustige nagrus in die vreemde bed, voel ons albei bietjie vaal. Ons gaan eet 'n ligte ontbyt. Daarna gaan ons na die boetiek om klere vir die gala-aand te soek. O wee, die boetiek hou net ontspanningsdrag aan: T-hemde, golfhemde, informele langbroeke en kortbroeke vir mans, capribroeke, T-hemde en bandjietoppies vir dames. Die verkoopsdame trek haar skouers op vir ons dilemma en raai ons aan om op Mykonos, ons eerste stop, te gaan klere soek.
Laatoggend gooi die skip anker buite Mykonos se hawe en word diegene wat aan wal wil gaan, met 'n groot motorboot gehaal. Ons het net een ding in gedagte: kleresoek! Ons stap by elke klerewinkeltjie in. Ook hier is ontspanningsdrag die rakke vol en die paar winkeltjies wat aanddrag verkoop, is heeltemal te duur vir ons.
“Ag nee, Janneman, hier gaan ons nie reg kom nie! Wat gaan ons doen?” Dit is etensuur en ek val moeg en gefrusteerd op 'n stoeltjie by 'n straatkafeetjie neer.
“Kom ons eet eers iets, Santjie. Dalk kan ons 'n plan bedink terwyl ons eet.” Jan probeer so kalmerend as moontlik klink. Ons kyk deur die spyskaart, snak na ons asems vir die pryse en bestel die heel goedkoopste gereg wat hoofsaaklik uit brood bestaan. Gelukkig kry ons vanaand weer ‘n goeie aandete, troos ek myself. Meteens kry ek ‘n gawe gedagte.
“Ek weet: kom ons soek vir my ‘n eenvoudige, effekleur dagrokkie, dan dollie ek dit met ‘n swart sjaal en blink skoene op! En jy kan mos vir jou ‘n netjiese donker langbroek en ‘n wit langmouhemp kry, dan dollie jy dit met ‘n strikdas op!” ‘n Groot verligting spoel oor ons albei. Nou kan ons Mykonos geniet.
Laatmiddag pak ons ons inkopies op ons beddens uit. Myne is ‘n baie eenvoudige laventelblou slooprokkie, ‘n wasige swart stola met ‘n silwerdraad hier en daar en wit Griekse sleutelpatone om die rand, en swart blinkleer sandale. Jan s’n is ‘n middernagblou langbroek, ‘n wit langmouhemp, ‘n swart strikdassie en netjiese swart skoene. Dit is die duurste klere wat ons nog ooit gehad het en hoogswaarskynlik ooit sal hê. Maar ons is reg vir die gala-aand!
Die volgende paar dae geniet ons terdeë. Die Griekse eilande is asemrowend mooi en ons geniet die Griekse kos en bouzouki-musiek. Aan boord geniet ons die luukshede wat die skip ons bied (natuurlik nie die wat ons beursie te ernstig raak nie!). Saans na ete gaan ons na ons “goedkoop” kajuitjie heel onder in die skip terug en voel soos Aspoestertjie na die dans.
Vir die gala-aand dos ons onself in ons duur uitrustings uit. In die hysbak begroet ‘n voorsmakie van wat ons te wagte kan wees: mans in aandpakke, dames in uitspattige aandrokke en hope juwele. Ons maak onsself maar in die hoekie klein en wag totdat almal uit is voordat ons uit die hysbak klim. Ons sit, soos die vorige aande, weer aan ‘n ander lang tafel met ander tafelgenote, almal in hul formele aanddrag uitgedos. Ek kyk na Jan en knik.
“Wel my ou man, liewer 'underdressed' as 'overdressed', né?” troos ek ons albei.
Terug in Suid-Afrika by ons geliefdes, vertel ons met kleur en geur van ons vaart tussen die Griekse eilande en dra ons duur Griekse klere net wanneer ons gaan uiteet.



Spaar Geld op Versekering


Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons Premium+ lede

Meeste premium+ werke gelees in die laaste 7 dae
(2014-11-21 17:00:00 - 2014-11-28 17:59:59 )

Meeste kommentaar op premium+ werke vir die laaste 7 dae

Nuutste premium+ kortverhale

Van ons ander lede

Gebroke Harts Gebede

deur Anze Bezuidenhout (Anetjies)

Gebroke Harts Gebede is ‘n digbundel oor die einas van die lewe. ‘n Soeke na liefde op ‘n stormagtige pad. Mag hierdie bundel vir die leser ‘n pad na herstel aanwys. Die diepe besef dat jou krag van Bo kom. Ja jy is tot alles in staat deur Christus wat jou krag gee.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar