Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

My hart klop vinniger terwyl ek na die voordeur met sy loodglas patrone stap. Twee weke gelede was my gemoed anders toe ek hierdie voetpaadjie uitgeloop het. Daardie dag het ek vir Nick kom oplaai vir ons eksamen wat pas begin het. Hy het vroeg die oggend ‘n sms gestuur om te vra dat ek hom moes optel. Nick se ma is al jare dood, en sy pa het soos gebruiklik al vroegoggend gaan werk, en ek was een van die min matrieks wat al ‘n lisensie en my eie motor gehad het.

Soos gewoonlik het ek in die pad stilgehou en getoet dat hy moet uitkom. Toe hy na ‘n ruk nog nie verskyn het nie, het ek weer getoet, maar is weer met stilte begroet. Ek het uitgespring en na die voordeur gestap. Ek het nie geklop nie (want ek is hier welkom soos ‘n eie kind) en het die deur oopgemaak en die gang na hom afgeroep: ‘Nick, roer jou man. Ou Swannie gaan ons gatte skop as ons laat is.’

Ek het gewag vir sy gebruiklike vlymskerp antwoord, maar daar was net stilte. Sy kamerdeur was op ‘n skrefie oop, en toe ek nader stap het ek die bloed gesien. Dit het in ‘n dun straaltjie in die groefies van die vloerteëls in die gang af geloop. Toe ek die deur oopmaak, het Nick op die vloer gelê, met sy oë nog oop en bloed wat uit sy kop loop. Sy pa se pistool het enkele sentimeters van sy vingerpunte die prentjie voltooi. Dis ‘n prentjie wat oor en oor in my kop afspeel.

‘n Paar dae later het die polisie bevestig dat dit selfmoord was. Dit was net Nick en sy pa, oom Martin, wat die kode van die wapenkluis geweet het. Sy vingerafdrukke op die pistool en die hoek van die patroon in sy skedel was genoeg bewys dat hy vir sy eie dood verantwoordelik was. Hy het geen brief gelos het om hierdie sinlose optrede te verduidelik nie, en daar was vooraf geen tekens en neigings tot selfmoord nie. Aand na aand het ek aan die slaap geraak terwyl ek probeer uitpluis of daar nie iets is wat ek misgekyk het nie; een of ander teken of ongelukkigheid. Maar aand na aand moes ek aan die slaap raak sonder ‘n greintjie lig in die duisternis van die dood.

Oom Martin was verpletter. En dag na dag het die afsku in my gegroei omdat Nick dit so bewerk het dat ek, wat sy beste vriend was, op sy dood moes afkom.

Vanoggend het oom Martin my gebel en gevra ek voor skool gou ‘n draai by sy huis moet maak. Met die opstap na die voordeur merk ek die fyn detail in die tuin op; die rante van die gras wat netjies omgekap is, en die roosbome wat perfek bokant die nuwe lote gesnoei is. Die kontras van die lavender wat wild groei, maar tog netjies in ‘n ry die voetpaadjie vorm tref my. ‘Was dit altyd so?’ wonder ek.

Oom Martin groet my van die stoep af. Hy staan agter een van die pilare ‘n sigaret en rook. Nick het dit gehaat as hy in die huis rook, en het hom ‘n jaar gelede oortuig om dit eerder op die stoep te doen. Op die oog af lyk hy heeltemal in beheer van homself, maar toe hy agter die pilaar uittree en hand skud, sien ek die ware mens in sy stukkende oë. Hy nooi my nie om te sit nie. Ek vermoed my teenwoordigheid krap net ‘n klomp emosies oop wat hy so gou moontlik wil vergeet.

‘Ek het gisteraand op hierdie nota afgekom’ sê hy en druk ‘n verfrommelde stukkie papier in my hand. ‘Dis die enigste iets wat ek tot nou toe kon opspoor wat Nicklaas self geskryf het. Dit was tussen twee boeke op sy boekrak vasgedruk.’ My hande bewe toe ek dit oopmaak. Daarin staan in Nick se klein, netjiese handskrif geskryf: ‘Na my dood moet Jean asseblief my laptop kry.’ Niks meer nie. Ek draai die papiertjie om en weer om en kyk of daar nie nog iets daarop geskryf is nie. ‘Daar’s niks meer nie,’ antwoord oom Martin terwyl hy my bewegings dophou. Hy buk en tel die laptop op wat netjies in sy swart sak gebêre is en langs die voordeur staan. ‘Die polisie het dit ‘n week gelede reeds deurgegaan opsoek na moontlike redes vir sy...’. Sy woorde stol in sy mond. Hy kan nog nie die woord ‘dood’ of ‘selfmoord’ oor sy lippe kry nie. ‘Hulle het niks gekry nie, en daarom het ek hulle ook nie ingelig oor hierdie brief nie. Maar miskien kry jy daar iets wat ons kan help. Of dalk wou hy net hê dat die rekenaar ‘n goeie eienaar kry wat dit sinvol kan gebruik.’

Dis op die punt van my tong om te sê dat ek my eie rekenaar het, maar ek keer my woorde. Ek kan aanvoel dat die besoek afgehandel is. Ek groet en stap kar toe.

Ek is seker dat Nick iewers op die rekenaar vir my ‘m boodskap gelos het. Ek gaan later die middag deur al die files. Na twee ure het my soektog niks opgelewer nie. Hy het internettoegang gehad, maar al sy e-posse wat gestuur of ontvang is vertel niks nuuts nie. En buiten enkele skoolwerkstukke en take is daar net games op die rekenaar. Moedeloos sak ek terug en vryf oor my oë. Miskien wou hy tog maar net sien dat die laptop ‘n goeie eienaar kry.

Later die aand blaai ek weer deur die files. Elke dokument het ‘n naam wat bestaan uit die tema van die werkstuk asook die onderwyser vir wie dit gedoen is. Ek lees deur elke werkstuk, en kan nie help om te lag vir sy skerp humor in sy Afrikaanse kortverhale wat hy vir Swannie gedoen het nie. Dit is geen wonder dat hy altyd sulke goeie punte gekry het nie.

Ek is op die punt om vir die aand halt te roep toe die titel van ‘n werkstuk my aandag trek: ‘Suid-Afrika en haar diversiteit, meneer du Toit.’ ‘Wie de hel is meneer Du Toit?’ wonder ek. Die enigste Du Toit is die een wat wiskunde gee, en sy is ‘n vrou. Ek word yskoud. Jean du Toit. Die werkstuk is vir my bedoel. En dis twee dae voor sy dood geskryf.

Aanvanklik staan daar net ‘n klomp gewone goed oor Suid-Afrika. Die bevolking, die etniese verskeidenheid, die tale wat ons praat, en die inwoners se herkoms en streke waar ons onsself mettertyd gevestig het. En daar, op bladsy 5, is daar ‘n opskrif met die titel: ‘seksuele voorkeure’. Maar dis ‘n brief gerig aan pastoor Niemand waarin Nick hom raad vra. Want Nick was gay, en niemand behalwe ek het dit geweet nie. En pastoor Niemand. En ek weet hoe die ding vir Nick gepla het. Ek het hom eendag gesê dat hy sy pa moet vertel, maar hy’t geweier. Gesê sy pa sal dit nooit verstaan nie. Dit was sy eie idee om na die pastoor te gaan.

Sy brief op bladsy 5 is ‘n reaksie op ‘n vroeër gesprek met die pastoor. Hy skryf: ‘Ek is bly as u ook dink dat my pa nie die gay-ding lekker sal kan hanteer nie. Daarom sal ek u raad volg en hom nie vertel nie. Ek sou graag anders wou wees. Straight, soos my vriende en pa. Daarom sal ek enigiets doen om so te kom. Ek is bly u het probeer om die ‘gay-duiwel’ uit my te dryf, en ek probeer regtig hard om met ander oë na meisies te kyk. Maar hulle doen niks aan my nie. In die dag gaan dit nog goed, maar snags as ek gaan lê, dan dink ek net aan mans. Ek wens daar is ‘n manier wat ek gehelp kan word. Soms wonder ek tog of ek nie vir my pa moet sê nie? Maar miskien is u reg as u sê dat hy my gaan weggooi. En ek wil hom nie seermaak nie. Hy het geen ander familie nie. So dalk is dit dan goed dat hy nie weet nie.’

Ek sit onbedaarlik en huil terwyl ek die brief lees. Ek het die heeltyd so gehoop en gebid dat hy nie sy lewe geneem het oor die gay-ding nie. Ek het so gebid...

Oom Martin bel die volgende dag en vra of ek iets op die rekenaar gekry het. Ek sê: ‘Nee, dis net skoolgoed’. Hy vra dat ek moet kom kuier, en later die middag sit ek saam met hom op die stoep. Dis ‘n heelwat rustiger man as die een van die vorige dag. Sy oë het ‘n effense glimlag, en hy bied my ‘n sigaret aan. Hoe het hy geweet dat ek rook?

Hy praat oor Nicklaas. Hy kon nooit vat kry aan die verkorte naam Nick nie. Hy praat oor sy goeie humorsin, sy liefde vir diere en rugby, en sy trane wanneer hy snags na sy ma verlang wat in sy laerskooldae al dood is. ‘Ek het so gehoop daar is dalk iets op die rekenaar wat meer kon vertel van sy dood,’ sê oom Martin en kyk betekenisvol na my. Ek suig haastig aan my tweede sigaret, maar antwoord hom nie. ‘Het jy geweet hy was gay?’ vra oom Martin op ‘n doodnormale stemtoon. My oë rek en ek stik aan die sigaret. Selfs al wou ek, kan ek hom nie antwoord nie. Sy oë lag vir my onbeholpenheid, terwyl hy nog ‘n sigaret aansteek.

‘Wanneer het hy dit vir oom vertel?’ vra ek toe ek uiteindelik weer my asem terugkry. ‘Hy het nie’ antwoord oom Martin. ‘Ek het so gewens hy wou, want ek het dit die afgelope twee jaar al vermoed. En toe kom pastoor Niemand ‘n week voor sy dood hier aan met die nuus. Hy vertel toe met groot bravade dat hy die duiwel uit hom gedryf het en dat Nicklaas weer skoon is.’

Ek voel die koue sweetstraaltjies langs my warm slape afloop, maar durf nie my hand lig en dit afvee nie. Die sigaret hang doelloos tussen my vingers. Oom Martin gaan doodluiters voort asof hy terugvoer gee oor die afgelope Sondag se nagmaal: ‘Ek vra die pastoor toe of dit dieselfde duiwel is wat ook in die pastoor was toe hy op die matriekkamp saam met daai blonde Lindi die nag in verdwyn het. Hy weet mos nie daai meisiekind en Nicklaas was ook groot pêlle nie, en dat ons al sy stories ken nie.’ Oom Martin gee ‘n skalkse lag. ‘Dit het die pastoortjie ‘n rukkie geneem om sy doodskleur op hierdie einste stoep af te skud en sy normale velkleur terug te kry. Hy is toe haastig hier weg, en ek het niks weer van hom gehoor nie.’

Daar is vir ‘n oomblik ‘n stilte tussen ons terwyl ek my regmaak vir die onvermydelike vraag wat gaan volg. Maar toe oom Martin dit vra, was ek nog lank nie gereed nie. ‘So wat dink jy; het Nicklaas selfmoord gepleeg omdat hy gay was?’

‘Nee’ dink ek. ‘Hy’t selfmoord gepleeg omdat niemand hom geloof, hoop, en liefde gegee het nie.’ ‘Bliksem’ sê ek hardop voordat ek kon keer. Oom Martin kyk na my in die hoop dat ek nog iets gaan sê. Enigiets wat hom kan help verstaan. Na ‘n lang ruk kyk hy teleurgesteld weg. ‘En jy sê daar is niks op daai rekenaar nie?’ pleit-vra hy met ‘n sagte stem.

‘Niks nie oom,’ sê ek terwyl ek die laaste sigaret uit die pakkie aansteek. ‘Absoluut niks nie.’



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Bl 5.....
......is hartseer. Maar die feit dat bl 6 'blank' is, is 'n groter seer.
9 jaar 9 maande 3 dae 9 ure oud


Bladsy 5
"The show must go on."
Het die stukkie geniet waar die pastoortjie bietjie op sy neus kyk!
Seker maar my rebelse sy....

Groetnis.
12 jaar 5 maande 2 dae 10 ure oud


dit is 'n uitstekende stuk vertelling met 'n waarskuwing aan baie oor wat in ons siek samelewing aangaan.
12 jaar 5 maande 3 dae 11 ure oud


bladsy 5
'n ongelooflike akkurate worsteling wat tieners beleef en baie goed oorvertel. voorwaar 'n storie wat ek nie sommer sal of wil vergeet nie.
12 jaar 5 maande 4 dae 6 ure oud


Aangrypend!
12 jaar 5 maande 4 dae 10 ure oud


Welgedaan.
12 jaar 5 maande 4 dae 12 ure oud



Katarsis

deur http://www.woes.co.za/

Katarsis, ’n versameling gedigte deur 3 skrywers, tribalmoon, Berg en Chenél Pieterse-Boyle in Afrikaans, bevat ’n uiteenlopende versameling gedigte wat ’n ryk diversiteit van temas en denke byeenbring.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar