Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende



Annie kyk met deernis na die geboë figuur onder die doringbome. Die vuurjie knetter vrolik en die keteltjie sing beloftes van warm soet stomende koffie. Hendrik is besig om die appelkooskonfyt blikkie om te klink, die oortjie is reeds vas gesoldeer. Die jêm blikbekertjie is amper gereed vir gebruik. Hy is op ‘n spesiale missie vandag. Annie se gedagtes reis op stowwerige Namibiese paaie van jare gelede. Al met die treinspoor langs. Blikbekers, blikborde en erdebakke was deel van die daaglise gebruik. Die porseleinkoppies en pierings en borde was spesiale eetgerei en weggepak.

Gedurende die depressiejare moes sy en Hendrik noodgedwonge die plaas in Upington distrik verlaat en hy het by die spoorweë as ploegbaas voorman gaan werk om liggaam en siel aanmekaar te hou. Om ses kinders te versorg en magies vol te kon hou, was dit die enigste uitweg. Hy was ‘n boer in murg en been en het nie opleiding vir enige ander werk gehand nie. Hy was bevoorreg om ‘n werk te kon kry. Hendrik en Annie word toe verplaas na Kuibis , ‘n spoorweg halte
naby Karas in Namibië. Die halte was die sylyn vir stoomtreine. Boorgate het gelukkig darem vir genoeg water in die droë woestyngebied gesorg. Daar was ‘n skool, waar meester Van Niekerk wat as onderwyser/skoolhoof sy plek met die rottang goed volgestaan het. Vanaf Sub A (graad een) tot standerd vyf (graad sewe) was almal in een klas. Die gemeenskappie het bestaan uit agt blanke gesinne in ag huise waarvan sommige “blikhuise” (tydelik) en van sinkplaat gebou was. Hier in nêrens, met bitter min geriewe het Annie en Hendrik ‘n heel paar jaar gewoon en moes hulle hulle lewe aanpas na omstandighede. Dit was swaarkry jare.

Annie staan peinsend, die verlede ‘n tafereel van herinneringe.

Die blanke werkers is al vroegdag saam met Hendrik met die pomptrollie op die smalspoor uit vir herstelwerk aan die spoorlyn. Hy het sy blikbeker, erdefles met koffie, soetsuurdeeg toebroodjies in ‘n sak op sy rug. Watersak oor die skouer. Dit gaan ‘n lang dag wees, stukkie vir stukkie moet die spoorlyn nagegaan en herstel word. Dan moet hulle ook nog binne skedule werk, betyds van die spoor af wees voordat die volgende trein weer stop om water te tap.

Annie stap swaar na die koolstoof die skielike pyn in haar rug laat haar frons en na haar asem snak. Na sewe geboortes ken sy kraamtekens. Haar angs lê vlak, die kind voor klein Annie haar jongste dogter, is vroeg dood. Hierdie agste kind maak nou planne om te kom. Sy is half verward, dit is te vroeg! Die vroedvrou is in Keetmanshoop en sy sal dit nie betyds kan maak vir die bevalling nie en Hendrik is op die lyn uit. Sy haal diep asem, hoe het haar ma haar geleer? Nood leer bid en armoede leer bene kou! Vandag sal sy hierdie noodsituasie self moet hanteer met baie bid! Sy skuif die ysterpot op die koolstoof, maak dit vol water uit die emmers op die kombuis wastafel. Stook die stoof met ekstra kole en skuif die soppot op die agterste plaat. Die soetsuur reuk van die aartappelsuurdeeg wat in ‘n erdebakkie gis vir vanaand se brood knie, maak haar naar. Die pyne volg nou vinniger op mekaar. Die ouer kinders is in die skool en die twee kleintjies plas saam met die ander kleingoed op die spoorlyn onder die watertenk in die oorloopwater wat ‘n poeletjie gevorm het.

Sy gaan haal handoeke, waslappe en koerantpapier. Onder die kassie waarop die primus stofie staan is daar nog ‘n halwe bottel brandspiritus. Die pricker (oopsteker van die primus) val op die vloer toe sy met haar hand in die kassie soek. Sy los dit, het nie krag om laer te buk nie. Die vorentoe buig stuur nuwe golwe pyn deur haar liggaam. Voel voel vat sy eers die parafiekan raak, skuif dit weg en kry uiteindelik die bottel brandspiritus in die hande. Gelukkig kry sy ‘n stukkie tou in die kas, dié word in ‘n erdekommetjie gesit en die spiritus oorgegooi. Die pyn is nou feitlik onuithoudbaar. Sy loop terug kamer toe, sit die koerantpaper op die vloer langs die bed. Sy sit die skerp naaldwerkskêr in ‘n blikbekertjie met kookwater op die vloer langs die erdekom vol warm water en bakkie met gesteriliseerde tou, neer Een van die kleingoed, Edward kom huilend by die agterdeur ingestrompel, pikswart modder oog en trane wat strepe trek oor die besmeerde gesiggie. Daar is nie tyd vir troos en skoonmaak nie. Sy stuur die kind om skool toe te hardloop en haar oudste dogter Gerty te gaan roep om ‘n oog oor die kinders te kom hou en vas te vat. Meester sal verstaan.

Op haar knieë, in haar hande, word Arthur gebore. Sy maak sy gesiggie skoon, lê hom eers op die vloer langs haar op die koerantpapier neer. Hy gee sy eerste asemteug en huil met ‘n skril stemmetjie….. Sy bid: “Dankie Heer hy is volmaak”…… haal die spiritus deurdrenkte tou uit die erdekommetjie, bind vier vingers bokant die kind se lyfie die naelstring af, toe vier vingers verder weer ‘n stewige knoop met die tou. Die naaldwerk skêrtjie kou girts girts tussen die twee afgebinde toutjies, deur die naelstring. Sy draai vir Arthur met ‘n handoek toe, sit hom op die bed en wag vir die nageboorte. Gerty klop uitasem aan die deur. “Mamma is jy ok?” “Ja my kind, hou ‘n oog oor die kinders. sorg dat Edward en Klein Annie eers buite bly.” Gerty gil :”Mamma wie huil so?....... “Dit is jou nuwe boetie, Arthur, hou jy net die fort ek is nou nou by julle.” Annie staan op, draai die nageboorte in die koerantpaper toe. Hendrik moet dit diep gaan begrawe waar die honde dit nie kan uitkrap nie. Sy was vir Arthur, trek hom aan en sit hom in die hout wiegie. Toe versorg sy haarself. Intussen het die skool uitgekom en die nuus versprei soos ‘n veldbrand….. boetie Arthur is gebore!

Toe die son begin sak, hoor sy die bekende tjier tjier van die pomptrollie op die spoor soos dit naderkom. Sy sit op ‘n stoel by die kombuistafel met Arthur op haar skoot. Sy ogies toe, rustig, aan die bors, blonde donshaartjies kiertsregop, blink gewas. Die sop en brood is gereed op die tafel vir aandete. Blikbekertjies staan blink in ‘n ry, vol warm vars melk. Sy hoor hoe die kinders skree:”Pappa pappa ons het ‘n boetie! Sy naam is Arthur!” Hendrik stap die kombuis in, in sy hand hou hy ‘n bossie veldgrassies vas, spesiaal vir haar gepluk langs die spoor. Sy sien die liefde en deernis en ook bekommernis in sy oë toe hy afbuk, na sy seun kyk en haar soen. “Dankie vir my seun my vrou, hoe voel jy?” Sy glimlag : “Alles reg my man, ‘n paar benoude oomblike gehad, maar ons spaar darem die geldjies vir die vroedvrou” Hy lag, loop na die koolstoof, skink vir haar ‘n blikbekertjie vol swart koffie, roer vier lepeltjies suiker in en sit dit voor haar op die tafel neer.

Annie skrik toe die agterdeur oopgaan en Hendrik glimlaggend en trots met die nuwe appelkoos jêm blikbekertjie vol veldblommetjies in sy hand voor haar staan. Hy gee haar ‘n drukkie en soentjie en sê: “Hierdie een is spesiaal vir my vrou, dankie vir ‘n leeftyd plus, die liefde van my hart”

Sy wonder of hy haar gedagtes kon lees.









Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Baie dankie
'n Nederige baie baie dankie aan al die lesers, vir die saamlees, die raaklees en toekenning van WOES. Dit is vir my 'n groot eer.
7 jaar 9 maande 3 dae 23 ure oud


Pragtig!
Wat 'n pragtige storie en so goed geskryf!
7 jaar 10 maande 10 ure oud


Blikbeker en Pomptrollie
Storie-mooi storie.
Thanks
7 jaar 10 maande 14 ure oud


blikbeker
Blikemmer dit was nou vir jou oulik. Lekker gelees dankie.
7 jaar 10 maande 18 ure oud



Maanvrug

deur Maangodin

Die, nou al berugte, eerste erotiese Afrikaanse roman.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar