“Môre môre Lien”…Bets is skoon uitasem van opgewonderheid. “Ek het groot nuus” val sy met die deur in die huis. “Môre buurvrou, nou toe, kom sit solank, die tee is nou nou gereed, laat ek hoor.” Lien haal botterkoekies uit die koekiefles en Bets stop dadelik een in haar kies. “Pieter is al vroeg vanoggend hier weg om ‘n reuntjie by ‘n teler te gaan haal. Gigi is op hitte. Verbeel jou, die man vra ‘n fortuin vir een keer se dek, ek hoop net die poedel weet wat hy doen want ons het ‘n waglys Kaap toe en terug, vir die kleintjies.” So tussen die kou en teedrink roem Bets op die hond se kampioen voorgeslagte en besonderse bloedlyne. “Ek meen nou, ‘n pedigree soos Gigi is baie gesog en haar kleintjies gaan ‘n stewige bedrag inbring.”
Lien kyk af na Blikperd. Hy staan ewe kordaat met sy kort krom beentjies en stokkerige bruinswart haartjies langs haar. Oortjies gespits, kop effe skeef, so asof hy so tussenin ook na Bets se vertelling luister. Sy swart ogies is blink in afwagting op elke stukkie rou vleisie wat na sy kant toe kom. Terwyl Lien die vleis afwas, oortollige vet afsny en die vleis en uie in die ysterpot pak, kry hy die meevallertjies om sy metabolisme aan te help. Bets babbel voort, die stamboom van Gigi gaan draai duskant Saudi Ariabië se prinsdom en mis die Britse koninshuis, net-net. Arme blikperd, ook maar goed hy verstaan nie alles nie, dan het haar hond ‘n minderwaardigheids- en selfbeeldkompleks ontwikkel. Sy voorsate is van alle denkbare honderasse wat daar bestaan, vandaar sy unieke voorkoms. Met voorplantingsgene is hy uitstekend geseënd, daarvan getuig die omgewing se woedende bure. Hulle het al gedreig om ‘n skaap-rek in te span, sou hulle hom in die hande kry.
Sy sit die ysterpot op die stoof. Die heerlike geur van gebraaide lamsvleis en uie vul gou die lug. Lien skuif die vleis eenkant toe in die pot, gooi ‘n koppie water in die pot, toe ‘n koppie rou rys op ‘n hopie en pak die pot verder vol groentes en klein aartappeltjies. Bo op kom groen, rooi en geel peper skywe, vars pietersielie, seldery, ‘n handvol rosyntjies, sout, growwe swart peper en worcestersous. Glasdeksel op en siedaar, Krap in die Pot gaan oond toe. Bets blaas die aftog toe die heerlike geure van die oond se kant af begin uitkom. “Nouja buurvrou, dankie vir die geselsie en tee, Pieter is seker al terug en die kombuis wag ook nog vir my”. Lien gaan sit, skink ‘n koppie tee, skud haar kop en glimlag. Die buurvrou darem, anderste soort mensie!
Vir twee maande lank is daar verslag oor Gigi se dragtige toestand gedoen. Oor vele koppies tee, word daar gegis oor hoeveel klein hondjies sy gaan kry. Die verkoopsprys van die hondjies word tot ‘n fortuin aangepas soos die tyd aanstap en die stamboom nog wyer draaie wêreldwyd maak. Soos die gewoonte is op ‘n winters Saterdag, is Lien weer besig met voorbereidings om die Krap in die Pot aanmekaar te sit toe buurman Pieter ingestorm kom. “Lien jy moet kom help, Bets is in ‘n toestand, Gigi het kleintjies gekry en daar is fout”. Uitasem kom sy by Bets se huis aan. Bets is in trane. In die mandjie lê Gigi met ‘n tevrede hondemoedertjie uitrukking en rus. Aan haar spene drink ses bruinswart miniatuur blikperdjies. Tongetjies rooi omgekrul om die moederslekkerte en met hulle krom beentjies pomp hulle links-regs-links-regs die moedersmelkies in hulle bekkies. Nekkies effens gebuig, koppies beweeg soos trotse perdekoppe vorentoe en agtertoe, tot afgryse van Bets!
Dat Blikperd gehoor en verstaan het van Gigi se stamboom is vir Lien nou seker! Hy het maar net sy vaderlike plig gaan doen om die bure se hond van die regte gene te gaan voorsien om sodoende ‘n bydrae te kon lewer tot die ellelange stamboom! Goeie buurmanskap is mos maar om die lekker Krap in die Pot resep uit te ruil dan nie?
(19/6/2013)
Lees ander kortverhale deur Ffeerg xuoreL
E-pos my as kommentaar gelewer word
Rapporteer foute/ongewenste inligting rakende die kortverhaal
Stuur e-pos aan vriende aangaande hierdie kortverhaal
Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae
deur Spannie
Hierdie baie kontroversiele vraag van ons tyd rakende die hantering van die menslike liggaam na afsterwe word onomwonde en baie duidelik aan hand van die Skrif en geskiedkundige bronne uiteengesit in hierdie volledige studiestuk. Liggaamsverbranding is baie duidelik 'n suiwer heidense gebruik en streng verbied in die Woord. Vloeiend geskryf, met baie interessante gegewens uit die geskiedenis van ons tyd is hierdie 'n boek wat mens moeilik neersit na jy begin lees het. 'n Moet vir elke ernstige gelowige van ons tyd.