Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

"Jou familie is maar stil vanjaar, behalwe nou vir die krismiskaart van gister," sê Stefaans waar hy uitgestrek voor die televisie lê. Die boksers op die grootskerm voor hom slaan mekaar verwoed en en hy oe en aa so nou en dan, maar ook net as sy oë
oop is.

"My neef moes dit maar seker gelos het om dit voor krismis te pos toe die posgelde opgegaan het. Sy gewete het hom dalk agterna gery dat die ding nou eers hier opgedaag het," sê Cherrie verdedigend en poets haar naels terwyl sy fronsend na sy kant kyk. "Jy was maar lekker ongeskik gewees met hom verlede winter."

Hy grinnik en vryf oor sy maag: "Dit lyk nogal snaakserig; dié krismisvader met sy swart boot op die koedoe se lyf geplak, so asof hy lus het vir jag."

Sy staan op en gaan staan hande-op-die-heupe voor hom: "Is nie net mý familie wat stil is nie! Wanneer laas het jou ou oom van Johannesburg gebel; die een wat so knaend die vars lug in die springbokkampie wou kom inasem nadat jy plaas toe gekom het?"

Stefaans krap ingedagte aan die stoppels op sy ken. Daar is nie meer baie springbokke in dáárdie kampie oor nie, veral nie nadat al sy vriende van die dorp verlede winter naweek na naweek hier kom jag het nie. Gmff, en nie één het eers ietsie nat vir die keel saamgebring nie; alles moes uit sý wynkelder kom. Hy kry 'n skewe glimlag; eintlik is dit maar net 'n geërfde wynkelder. Nooit geweet sy ou oom Stefanus was só ryk nie! Maar dood is dood, en erfgoed is...; wel, daar om te geniet te word! "My goggatjie," flikflooi hy na haar kant toe: "Hoe lyk dit dit? Wil jy nie so 'n bietjie by my kom lê en TV kyk nie; net so tot etenstyd?"

Cherry blaas hard op haar naels wat sy klaargeverf het en skud haar kop: "Ek het te veel dinge om te doen. Ek het nie tyd vir 'n gelê-ery nie." Sy kyk vieserig na hom: "Vanaand moet jy wragtag bad. Ek ruik jou armholtes tot hier. Dankie tog ek slaap in my eie kamer!"

Hy vlieg regop, wys dreigend met sy vinger: "Ek laat g'n só met my praat nie. Jý moet onthou, Sussietjie, waar jou brood die jêm vandaan kry!" Sy wip haar en loop stywerig, met kort treëtjies weg. Hy hoor hoe 'n deur iewers hard toegeklap word en dan sug hy. Dis nie maklik om 'n miljoenêr te wees nie, dink hy, en skuif-skuif rond op die breë bank om weer 'n lekker-lê te kry. En die plaaswerkers wat al jare vir sy oom gewerk het, bedank so een vir een. Hulle dingese, vies hy hom weer as hy aan ou Jakob se woorde vanoggend dink.

"Jammer Meneer, maar ek kannie verder hie' bly nie. Dinge lopie lekker mee' vi' onse mense hier oppie plaas nie, Meneer. Oumeneer het darempies so nou en dan slaggoed gegee en rookgoed ôk; én skoene ôk as die oues nie meer saam met die voete wou draf'fie. En Oumeneer het gehoor as ons praat van siek skaapgoed en jakkalasse wat vang..! Sorry Meneer, ma' ek gaan sommer al vandag, Meneer."

Die telefoon lui en hy sukkelsoek tussen al die leë bierbottels deur om die handtelefoon raakgevat te kry. " 'Allo," sê hy, en kry 'n grinnik oor sy gesig as hy die stroopstemmetjie aan die ander kant van die telefoonlyn hoor. "Jaaa, dit is die grootbaas vannie plaas wat praat. Mmm, dít klink goed; lekker-lekker, my ding!"   Hy sit regop; vryf oor sy bleskop en druk die lang hare bo sy ore waarmee hy dit probeer wegsteek, met 'n geoefende hand oor die kaal gedeeltes plat. "Ek is reg vir jou, Koek....,", maar hy sluk haastig sy laaste woord in, want Cherry staan in die deur. Sy wys-vra na haar oor en mond.

Kortaf praat hy verder: "Koedoes? Ja, hier is baie. Ons kan later weer praat: totsiens," en druk verlig die telefoonknoppie. Hy draai na haar:" Die ouens begin al pryssoek vir koedoes. Hulle moet maar weer bel as my kop kan dink."

Cherry gaan sit in die leerstoel naby die televisie en maak haar oë toe. Nè, dink sy; koedoes, so ewe: eerder Koekie, Koekie Harmse! Sý, wat Cherry is, is g'n vandag se kalfie nie, en dáárdie poppie gaan dit nog uitvind: sy laat nie ander se vingers in háár goudpot toe nie! Toe-oog sit sy vir 'n oomblik; loer dan met skrefie-oë na die man wat homself weer op die bank uitstrek: Blink Stefaans deesdae; nie meer ou Stink Stefaans met die oliekop en vuil hande uit die onderdorp nie. Sy het haar kaarte baie goed gespeel; net jammer sy ryk ou oom se hart kon die gevryery nie hou nie. Sy sug; sy moes vroeër aan die ouman se testament laat verander het voordat hierdie lamsak alles kom erf het. Die verloofring aan haar vinger beteken niks nie: Stefaans is taai om tot trou te kom, en party dae wonder sy of dit wel wys sal wees.

"Stefaans," sê sy en gaan sit by hom op die bank, "Ek dink dit is tyd dat ons 'n lekker groot ete hier op die plaas hou en al die bure ook nooi. Wat dink jy?"

Dit neem nie té veel mooipraatjies van haar om hom te oorreed nie; hy is lankal lus vir 'n uithang saam met sy vriende, en ook met al die nuwe poppies op die dorp wat skynbaar so gewillig en plesierig deurnag kan kuier (so hoor hy maar as hy skelm met die manne daar gesels). Cherry hou hom soos 'n valk dop vandat sy dié ring aan haar vinger gekry het; maar ai, hy móés dan die ouman op sy sterfbed belowe dat hy, wat Stefaans is, vir ten minste 'n jaar lank aan haar verloof sou bly. En dié tyd is amper-ampertjies verby.

"Ek sal self mý gaste kies en ook sommer nooi; die res kan jy maar oor besluit," sê Stefaans en gaap. Háár oë op sý lys van genooides is nie welkom nie.

'n Dag later staan Cherry ingedagte in die eetkamer langs die geelhouttafel. Dis 'n reuse familietafel, groot genoeg vir sestien mense om by aan te sit. Sy vryf saggies met haar hand oor die goedversorgde blad. Amper hartseer dink sy, dis heeltemal té kosbaar vir Stefaans se vriende. Sy frons; nee wat, skuur toe met hulle, en al die ander genooides ook! G'n gespog, soos Blink Stefaans dit wil hê met al die spoggerige erfgoed nie: sommer net gewone borde en eetgerei, en iets soos potjiekos wat direk uit die groot, swartpotte geskep kan word.

Opgewonde beplan sy die geleentheid: die skeerskuur word in groot geheimhouding skoongemaak en afgewit; lusernbale vir sitplekke word vroegoggend, terwyl Stefaans nog slaap, deur die werkers uitgepak. Hulle kinders blaas vir haar 'n klomp balonne op wat soos vir 'n vrolike kinderpartytjie van die dakbalke in bondels kleur afhang en hulle lag klaphandjies-bly oor die pak lekkers waarmee sy dankie-sê.

Mieta, die kok wat vir langer as twintig jaar op die plaas werk, gee Cherry raad met die spyskaart: "Juffrou moet laat Tommie skaapslag en dan kan ek...!" Cherry los dié beplanning verder in haar bekwame hande; sy self sorg net dat al die nodige bestanddele op die plaas kom; ook sonder dat Stefaans 'n snuf in die neus kry wat sy beplan. Hy is egter heel vrygewig met sy tjekboek: "Sorg jy dat daar genoeg kos is dat al die mense dik kan kom; ek wil nie hoor ek is so vrekkerig soos oom Stefanus nie!"

'n Dag voor die ete ry Cherry weer dorp toe vir die laaste aankope. Sy is taamlik haastig toe sy weer terugkeer plaas toe met die klomp bakke roomys agterin die kattebak. Tussen 'n digte doringruigte naby die plaaspad se afdraai, spring 'n koedoe onverwags voor haar motor in. Sy swenk woes, en trap dan vir die vale rem; die motor tol in die rondte en beland in 'n dieperige sloot net langs die pad. Geskok sit sy en huil, steeds met albei haar hande aan die stuurwiel geklou en haar bene wat soos jellie voel.

Daar is 'n harde klop aan die motorruit en sy kyk op in die bekommerde gesig van
Johannes Barnard: "Is alles reg?" vra hy en maak die deur oop; hy help haar uit die motor en hou haar regop toe haar bene onder haar meegee. "Dêmmit," swets hy bo haar kop, "Ek het al hoeveel keer vir Stefaans gesê om van die doringbome hier na-aan die pad uit te kap. Die koedoes boer hier en het 'n hele paar lelike ongelukke veroorsaak." Hy hou aan met praat; sommer oor allerhande dinge en snaaksighede ook. Eers toe sy na 'n rukkie lag oor iets wat hy vertel het, sê hy:" Ek dink jy's nou o.k."

Cherry besef skielik dat sy arms nog al die tyd om haar lyf was en sy beweeg verleë weg van hom. "Baie...um; dankie...; um, dit was rêrig gaaf van jou," sê sy en loop na die motor toe. Hulle bekyk saam die motor: gelukkig is daar geen skade nie, maar die sloot is net te diep om weer terug te kan stoot.

"Ek kan jou huis toe neem," sê hy, "Óf jy kan saam na my plaas toe gaan om die trekker te gaan haal...!" Vir 'n oomblik kyk sy twyfelend na sy bakkie en weer na hom. Hy lag tergerig:" Komaan, jy kan darem sekerlik jou ou buurman vertrou; ek's mos 'n hele paar jaar al wewenaar en die mense hier rond sal nie waag om oor mý doen en late te skinder nie!"

Cherry kom laatmiddag eers weer terug op die plaas. Stefaans lê en slaap voor die televisie: leë drankbottels lê oral gestrooi op die mat. Verlig pak sy vinnig haar aankope weg en gaan hoor gou eers by Mieta hoe dit met die kos se voorbereiding gaan: "Juffrou hoef niks te worry nie; alles is reg vir môre!"


Blink Stefaans doen sy naam gestand met die aankoms van sy vriende laatmiddag: hy pronk soos 'n pou en vertoon aan die jong poppies al die kosbaarhede op die plaas wat sy ou oom Stefanus met groot moeite oor baie jare versamel en bewaar het. Die wynkelder word ook hulle kuierplek en die meisies wat om die nekke van Stefaans se vriende hang, se gelag word al harder en skeller. Cherry kom staan net na agt in die groot deur en wink Stefaans nader: "Die eintlike kuierplek vanaand is in die skuur, weet jy dan nie?" Sy mond val oop en hy wil-wil net protesteer, maar sy draai om na sy vriende en sê ewe vriendelik: " Die ete word reeds bedien...; in die skuur, waar die res van jou gaste ook is, Stefaans!"

Stefaans is vir 'n oomblik stil. Sy tong struikel effens as hy dan praat: "Iss reg so, Sá-ma-joor; onss kom nou-nou, hoor!" Hy het soos blits die voordeel wat die gaste in die skuur bied, raakgesien en vryf sy hande opgewonde teenmekaar. Met Cherry se uitloop by die deur, soek sy oë deur die raserige groep mense. "Kom Koekie, " roep hy na die meisie met die lae hals wat hand om die lyf by 'n jongmannetjie staan. Sy fluister iets in sy oor; hy glimlag en gee haar 'n stootjie in Blink Stefaans se rigting...

Cherry sien toe 'n kamerlig in die huis aangeskakel word; ook die gordyne wat vinnig toegetrek word. Sy gaan staan by 'n groepie vrouens wat gesellig sit en gesels: "Nog nagereg vir iemand?" Hulle skud almal kop; beduie tevrede na hulle mae en sy glimlag: "Sal ons nou gaan?"

In die ruim sitkamer bewonder al die vrouens die antieke meubels, die pragtige skilderye en muurbehangsels, en dan neem Cherry hulle na 'n groterige kamer: "Hierdie vertrek was liewe Stefanus se heiligdom. Sy instapkluis is hier ingebou en al sy plaasbeplanning het hy hier gedoen. Maar hy was ook baie, baie veiligheids-bewus gewees." Cherry loop na die eenkant van die vertrek. Teen die muur is 'n hele paar skerms gemonteer en sy skakel 'n rekenaar aan. Terwyl die skerms een na die ander in werking kom, verduidelik sy waar en wat die kamera-oë alles kan optel. Die vrouens begin skielik giggel en Cherry hou op praat; net haar oë glinster effens!

"Ek gaan dons hom sommer nou op!" bulder 'n stem langs haar. Verskrik draai sy om: Johannes Barnard staan met sy vuiste gebal na die skerm waarop Blink Stefaans, Koekie en sý dubbelbed heel duidelik, té duidelik vertoon!

Cherry gee 'n snikkie, en al die vrouens kloek nou simpatiek om haar saam: "Hoe durf hy jou so verneuk en verneder, die luis! " Sy gee nog 'n paar snikkies en Johannes se gewillige arms vou beskermend om haar. In haar gedagtes flits ou Stefanus se laaste sin van sy testament rakende die verlowingsvoorwaardes: "Indien my susterskind, Stefaans Naude, in hierdie tydperk van verlowing, soos bo genoem, aan my liewe vriendin, Cherry Thomas, hom sou skuldig maak aan 'n verhouding van watter aard ook al, met 'n ander vrou, verval sy erflating geheel en al en bemaak ek al my roerende en onroerende eiendom aan Cherry Thomas...!"




Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

ek hoop sy bewaar dit wat nog oor is . . . skerp! *lag* en baie goed geskryf.
9 jaar 5 maande 3 weke 4 dae 15 ure oud


hehehe
Lekker vertel storie!
Hoeka gewonder hoe jy vir Blink Stefaans gaan uitsort.
Mens mag nooit ooit, 'n Cherry onderskat nie.
9 jaar 5 maande 4 weke 15 ure oud


"Agter (die val) van elke man" Rina, ek geniet jou skryfsels. Lag!
9 jaar 5 maande 4 weke 1 dag 2 ure oud


Blink Stefaans
'n Heerlike pê-wê-lekkerte !
9 jaar 5 maande 4 weke 1 dag 4 ure oud



n Vergane Era

deur neels claasen

n boek met verhale en staaltjies uit die skrywer se eie eie spoorwegloopbaan



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar