Kortverhale

Bladsye:
Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende




“Pieter, dit is nou al ‘n maand nadat my pa jou met die sambok bygekom het. Ons sal nou ‘n plan moet maak, my heupe begin rond raak.” Pieter krap vervaard deur sy hare. “Nellie, hoe dink jy gaan ek lyk as ons vir jou pa moet sê ons wil nie net trou nie, ons moet!. Jy ken jou pa!” Die rowe van die sambokhale na die partytjie op die plaas, begin nou eers afval, en die swelling…. Uhm…. kom ons los daardie gedeelte van die anatomie eers met rus. Dink jy nie ons moet maar skelm gaan trou en hulle dan later vertel nie. As daardie verdomde klomp bobbejane van Gerhard nie losgekom het nie, het ek al ‘n maand gelede die ja-woord gevra.” Nou weet ek nie so mooi nie. Wat doen ons as jou pa nee sê……..en binne die volgende paar maande… Dan slaan hy my dood met die sambok!"

Nellie kyk bekommerd na Pieter." Ek dink ek moet met my ma  praat, sy het altyd ‘n plan. Nie dat sy vreeslik opgewonde gaan wees nie. Die susters van die kerk gaan somme maak, en sewe maande is nie nege maande nie. Ek glo darem sy sal kan voorbrand maak vir die ouers-vra. Wat sal jou ouers van die skielike troue sê.?” “Nee wat, my ma moet nou maar aapstuipe kry as sy wil. Ek is mos al mooi groot. Pa weet ek, glo aan die wette van die natuur. Ek is toevallig ook ‘n bietjie vroeg gebore” Hy lag en krap haar hare deurmekaar. Kom hier jou mooiste vroumens dat ek jou kan vashou. Dit is daardie dans op die maanverligte strand se skuld. Onthou jy? Ek kon my hande…… “Shuss Pieter, jou besering is nog nie van so ‘n aard dat jy enigsins kan toelaat dat jou bloeddruk styg nie. Netnou sit ons nog met gebarste are saam met die swelling”! Pieter lag uit sy keel. “Nee wat my pop, ons moet die horing maar by die…. ek bedoel die bul maar by die horing vat en deurdruk. Omdraaikans is daar nou nie meer nie”

“Pappatjie”…. Mieta se stem is fluweelsag. Neels voel ‘n vars briesie oor sy beswaarde gemoed gaan as hy sy vrou Mieta se mooi stem hoor. As hy dáárdie stemtoon hoor, word hy so sag soos ‘n soetryp perske en verlaat al sy bloed sy brein. “Ja my ou poppie, wat soek my ou vroutjie nou weer?” “Nellie het gebel. Sy en Pieter kom die naweek kuier. Pieter wil met jou kom praat.” “Waaaat?? Neels se hart gee ‘n ruk. ‘n Beklemmende gevoel pak sy keel beet. As daardie mannetjie hom wat Neels is moet kom konfronteer oor die loesing met die sambok. Sy brein hardloop nou paaie. O genade nee ….. dit is nie die loesing nie. Dit gaan verseker oor die skade wat die bobbejaantjie se vasgryp veroorsaak het. Pieter se nageslag is daarmee heen. Hy sien in sy geestesoog hoe word sy plaas opgeveil vir regskostes. Neels begin sweet, hy sluk swaar en probeer kalm bly. Hy gee ‘n droë hoesie. “Mieta, jy sal vir Gerhard moet bel en uitvind wat is daardie advokaatvriend van hom se nommer. Ons kan nie broek op die knieë gevang word nie. Mieta praat rustig voort. “Stadig ou man stadig, jou hart. Kyk hoe sweet jy. Wag ek gaan haal gou vir jou ‘n glas water. Neels roep haar agterna. “Liefie gooi sommer so twee vingertjies van die Bols brandewyn by. Vir die senuwees en……… “ Hy steek halfpad vas. Bols Brandewyn!! Nou voel Neels naar oor sy hart. Goeie hemel…. Dít is die rede vir Pieter se besoek! Hy twyfel nou nie eers meer nie. Nou verstaan hy hoekom Mieta die Saterdag oggend voor sy terug stad toe is, naar geword het. Die wete dat die plaas onder haar ouers uitverkoop gaan word. En dit omdat haar pa nie sy verstand gebruik het nie. Sommer links en regs begin slaan het en nie seker gemaak het die bobbejane se hok is gesluit nie. Hy vat ‘n groot sluk aan die drankie. “Vrou, waaroor…. Hy hoes weer, en sluk nog ‘n teug. Waaroor sê Nellie, wil Pieter kom praat? Ek het hom mos om verskoning gevra oor die onverdiende loesing! Mieta grinnik onderlangs. “Die tyd sal leer my man”.

“Naand oom.” Pieter steek sy hand uit na Neels. “Naand Pieter, kom sit”. Nellie vat haar pa om sy lyf en soen hom. “Hallo Pappatjie, het jy verkoue? Hoekom is jy so hees? Mieta kom die sitkamer binne Na ‘n oor en weer gegroet gaan hulle sit. Neels wag op die doodskoot. Hier gaan jare se swoeg en sweet nou vanaand in die koffers van die regsmense. Hoe hy op ‘n staatspension vir homself en Mieta gaan sorg weet hy nie. Alles is darem nie verlore nie. Daar is nog die bobbejaanplaas van Gerhard, dalk kan hulle daar ‘n skuilingkie gaan opslaan. “Oom Neels”, Pieter se stem ruk hom terug tot werklikheid. Ek weet nie hoe om die saak te benader nie, maar …..” Neels val hom in die rede. “Wat is die bedrag wat jy as skadevergoeding wil hê. Sal ek en die tannie darem ‘n paar stukkies van die meubeltjies vir ons kan hou?” “Pa… skadevergoeding, meubels….waarvan praat pa? Nellie is heeltemal uit die veld geslaan. Sy wonder, ‘het ma dan nie vir pa voorberei nie’? Voordat sy iets verder kan sê, praat Pieter. “Nee oom dit is ek wat vir oom sal moet betaal en ek het nie genoeg plase om vir oom lobola vir Nellie te betaal nie. As dit oom en tannie se goedkeuring wegdra, vra ek hiermee om Nellie se hand.” Neels verstik en hoes amegtig …. Tussen die hoesbuie deur sê hy: “Trou………. jy sê julle wil trou? My magtig man hoekom sê jy nie so nie! Mieta gaan haal die Bols vir hierdie droë keel, ons het iets om te vier.” So tussen die geklink van glasies, wonder Neels nog steeds oor die besering. “Pieter, sê net vir oom, wanneer is die troudatum, het julle al besluit?” Nellie val hulle laggend in die rede. “Volgende naweek pappa en mag ons maar die stoor vir die onthaal gebruik? … en die bobbejane is nie genooi nie hoor!


Mieta loop nadenkend op die stoep uit. “Neelsie, dink jy nie ons tweetjies moet so ‘n dag of twee net bietjie afvat en see toe gaan nie. Dit gaan ‘n groot troue wees en harde werk lê voor. Ons slaap sommer in ‘n Bed en Ontbyt en eet wanneer ons miskién honger raak” Sy lag skalks. Neels se oë blink toe hy opkyk. “Jy verstaan my darem maar goed na al die jare, vroulief. Dit is ‘n wonderlike plan. As ek so na al die lyndrade kyk wat Ferdinand die bul gebreek het en al die koeie en verse is dragtig, wonder ek of ek nie van daardie pilletjies by Gerhard moet kry nie. “Neels!” Hou vir jou in! Sy loer na sy skoot. Wat maak jy met die sambok?” Neels gaan ongestoord voort. “Ek skryf.” Mieta lag. “Ek sien so, maar hoekom op die sambok…. en wat skryf jy?” Sy gaan sit langs hom en hy gee haar ‘n drukkie op die boud en sê: Jy is darem maar ‘n voorslag, my vrou. Al die tyd doodstil gebly! Ek moet jou toegee, jou strategie het uistekend gewerk. Die dans in die stoor, dit was toe nie Nellie en Pieter se eerste dans saam nie. Ai ai, die kinders van vandag, kan hulleself ook nie inhou nie!” Hy knipoog, stadig en betekenisvol vir Mieta. “Ek verstaan nou ook Nellie se naarheid” Mieta lag sag. Haar oë het daardie snaakse kyk in wat sy hart laat bons “Jaa toemaar oupa!” Hy tel die sambok op. Kyk tevrede na sy handewerk. “Ek sal vir “Twee Plase” eers gaan wegsit. As dit ‘n kleinseun is, sal oupa hom van die waardes van ‘n sambok leer.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

---
Nota: Jou kortverhaal is op Forum geregistreer vir deelname aan die Februarie 2014 kompetisie!
6 jaar 1 maand 3 weke 4 dae 10 ure oud


koors
hierdie was nou n voltreffer opvolg op die vorige een!! absoluut puik.. het lekker gelag.. sien al ou neels se groot bekommernis diep plooie op die voorkop trek ... hehehe
6 jaar 1 maand 3 weke 4 dae 16 ure oud


nellie en pieter
Ag oom Neels met sy kop wat so koers vat. Die bobbejane is nie genooi nie is die kern van jou verhaal, dis mos waar die moles vandaan kom. En Nellie in die ander tyd, hahaha. Uitstekend geskryf!
6 jaar 1 maand 3 weke 4 dae 20 ure oud


Koors
Baie lekker gelag en gelees. Jy mag maar skryf.
Ek kyk uit vir nog.
6 jaar 1 maand 3 weke 4 dae 22 ure oud


hahahaha ...

As ek so na al die lyndrade kyk wat Ferdinand die bul gebreek het en al die koeie en verse is dragtig, wonder ek of ek nie van daardie pilletjies by Gerhard moet kry nie ... [* Jy mag maar kortverhale skryf Ffeerg xuoreL! Jou vertelling 'lewe'!]
6 jaar 1 maand 3 weke 5 dae 5 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


    Geborg deur :

    Van ons ander lede

    Dagboek van die tuinvoëls

    deur http://www.woes.co.za/

    Spesiale gevalle van interaksie wat tussen die tuinvoëls onderling asook met ander wesens plaasgevind het.



    picture

    Kompetisies

    Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

    picture

    Nuusbriewe

    Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

    picture

    Winkel

    Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar